“Heléne, jou ma is op die foon!” roep haar ouma iewers in die gang.
Heléne skrik en sit haar hareborsel vinnig neer. Sommer kaalvoet draf sy sitkamer toe.
“My ma?” vra Heléne net om seker te maak sy het reg gehoor.
Ouma Hannie knik, haar oë groot. Heléne verstaan daardie uitdrukking maar te goed. Haar ma kan nogal intimiderend wees as sy die dag wil. Haar ouma sit haar hand oor die spreekbuis. “Sy sê jou selfoon is af,” waarsku sy saggies.
“Môre, Ma,” groet sy koel.
“Heléne, is daar ’n rede hoekom jou selfoon afgeskakel is? Ek het al hoeveel keer gebel en boodskappe gelos.”
“Jammer, maar ek is nie lus om met mense te praat nie. Is daar fout?”
“Nee, maar ek is bekommerd. Jy het gesê jy sal bel as jy op die plaas aankom.”
Dit was vier dae gelede en Charmaine bel nou eers agter haar aan. Besef haar ma dit ooit? Sy ruk haar vinnig reg. “Jammer, ek wou bel, maar die sein is baie swak. Maar noudat ons praat, ek het veilig gery en is reeds lekker ingeburger.”
“Ek het intussen na my dagboek gekyk en as jy wil, kan ek en jy vir ’n maand Europa toe gaan. Jy hoef nie op die plaas weg te kruip nie.”
“Ek kruip nie weg nie, Ma. Ek wou eintlik al lankal vir Ouma-hulle kom kuier het.”
Haar ma klink nie gelukkig met die feit dat Heléne haar rojale aanbod van die hand wys nie en hulle groet ’n rukkie later. Heléne sit die foon terug op die mikkie.
“En?”
Heléne glimlag. “Sy klink darem nie te omgekrap nie.”
“Ek is bly, want ek was net bang sy klim in haar kar en kom soek jou. Nie dat ek gaan kla as sy kom kuier nie,” sê haar ouma vinnig voordat Heléne dalk aanstoot neem.
Heléne is egter nie vies nie, eerder verlig. Haar ma weet nou sy is veilig en gaan heel waarskynlik nie gou weer bel nie.
“Verskoon my, Ouma, ek moet gaan skoene aantrek.”
Heléne loop vinnig terug na haar kamer. Haar ma het haar nogal verras, om die minste te sê. Sy is nie gewoonlik oor haar bekommerd nie. Maar die omstandighede is seker maar buitengewoon.
Heléne prop die krultang uit en skud haar blonde krulle los. Dis die eerste keer vandat sy op die plaas is dat sy soveel moeite met haar hare doen, maar die tyd wat sy daaraan bestee het, was die moeite werd. Haar hare lê krullerig teen haar gesig en ver verby haar skouers. Haar blou oë lyk groot en misterieus met die donkergrys oogskadu wat sy vir die aand aangewend het. Die blink pienk lipstiffie komplementeer die res van haar kundig gegrimeerde gesig. Sy lyk elegant en elke sentimeter die stadsmeisie wat sy is. Tevrede met haar voorkoms trek Heléne haar kort malvalekkerpienk leerbaadjie aan en swaai haar aandsakkie oor haar skouer.
“Hoe lyk ek, Ouma, reg vir die okkasie?” vra sy toe sy haar grootouers in die sitkamer opspoor.
“Jy lyk pragtig. Maar jy maak vanaand ’n groot fout, Heléne. Môre trap elke hubare man ons voordeur se drumpel plat. Teken jy maar my woorde iewers aan.”
“Ek hoop nie so nie. Ek gaan beslis nie gou weer in ’n man belangstel nie.”
“Nie eens in ’n aantreklike ou soos ek nie?”
Heléne se wange word amper dadelik warm. Sy draai haar kop. Sy het David sowaar nie in die hoek van die vertrek gesien staan nie. Hy sit die tydskrif neer en sy oë terg haar openlik. Sy voel aan dat haar ouma en oupa ook in haar antwoord belangstel. “Naand, David, ek het jou nie raakgesien nie. Nee, ek is jammer, nie eens al lyk hy soos jy nie. Hoe gaan dit met Ramaja?” vra sy aspris en hoop die gedagte aan sy spermskenkerbul vee die glimlag van sy bakkies af.
Maar dit gebeur nie. Hy neem haar voorkoms in, van haar bos krulle tot by haar Guess-jean en bruin stewels van krokodilleer. Sy voel onverklaarbaar teleurgesteld dat die tergliggies in sy oë nie plek maak vir bewondering nie. Skielik voel sy afgehaal ondanks al die moeite wat sy gedoen het.
Oupa Silas frons. “Hoe is dit dan dat jy so in David se Afrikanerbul belangstel?”
“O, ek vind David se bees fassinerend. Van die eerste oomblik af.”
“Gmf, ek het nie besef jy stel in beesboerdery belang nie. Net môre leer ek jou alles wat ek weet,” sê haar oupa beïndruk.
“Hou op klets, ons gaan laat wees,” jaag ouma Hannie hulle aan.
“My oupa kan voor sit,” sê Heléne vinnig toe David die bakkie se voordeur vir haar oophou.
“Ag nee wat, Heléne, sit jy voor. Dan kan ek jou ouma se hand hier agter sit en vashou.”
“Moenie jou stuitig hou nie, Silas,” sê haar ouma, maar glad nie kwaai nie.
“Is Oom gemaklik?” vra David besorg toe hy agter die stuur inskuif.
“Dankie, seun, ek is.”
David maak die deur toe en skakel die bakkie aan. Heeltemal teen haar sin moet sy vir David Erlank ’n regmerkie langs sy naam gee. Lukas se grootouers leef albei, maar sy het hom nooit so besorg oor een van hulle gesien nie. As sy mooi daaroor dink, was hy ook nie juis mal oor sy eie ouers nie. Wat David se optrede dus merkwaardig maak, is dat hy nie eens familie van haar oupa-hulle is nie.
Die Jouberts se plaas is ’n goeie tien kilometer anderkant die dorp. Toe hulle langs ’n ry motors en bakkies stilhou, begroet die reuk van braaivleis hulle. Agter die huis is ’n groot lapa omring deur ’n yl grasperk. Wat haar dadelik opval, is dat die plaasopstal en tuin nie naastenby so goed versorg word soos haar oupa-hulle s’n is nie.
Karin loop hulle dadelik tegemoet en soos in die winkelsentrum, soengroet sy almal, Heléne ingesluit. “Mensig, ek het nie besef ’n mens kan so deftig in ’n denim en stewels lyk nie. Baie welkom hier by ons. Kom, laat ek jou sommer dadelik aan ’n paar van die manne gaan voorstel.”
Heléne wil eers wegrem, maar haar ouma du haar liggies teen die rug aan. “Gaan solank, ons kom.”
Karin mik reguit vir die twee mans langs die vuur.
“Ouens, dis oom Silas en tannie Hannie se kleindogter, Heléne. Dis my neefs, Hannes en Hano. Soos jy kan sien, is hulle ’n tweeling.”
Heléne se hand verdwyn in die eerste groot hand en sy moet erken dat sy lanklaas sulke groot mans gesien het. Sy voel skoon klein en baie vroulik toe sy hulle openlike bewondering opmerk.
“Kan ek vir jou iets gaan haal om te drink?”
“Kan ek vir jou ’n stoel kry?”
Heléne lag. Dalk is dit presies wat sy nodig het – ’n bietjie skadelose bewondering om haar gekneusde ego van die grond af op te tel.
“Dankie, jy kan maar vir my en die tante ’n stoel nadertrek, Hannes,” sê haar oupa langs haar.
“Naand Oom, Tante. Hano, kry vir die mense stoele,” beveel Hannes sy broer.
“Gaan haal jy die stoele, ek is nog besig om te groet,” is Hano se antwoord.
“Ek sal die stoele gaan haal,” sê David kortaf, seker bang dat dit in ’n volskaalse stryery tussen die twee broers kan ontaard.
“Terwyl die manne die stoele uitsorteer, stap ons kombuis toe. Kom, tant Hannie.”
Die kombuis is vol vroue. Die een maak slaai terwyl ’n ander een broodjies smeer. By die stoof staan ’n baie groot vrou en pap roer, en Heléne sal nie verbaas wees as die dame die tweeling se ma is nie.
Karin stel Heléne aan haar ma, Kobie, voor – die ou dame wat die slaai maak. Laasgenoemde vee haar hande eers aan haar voorskoot af voordat sy Heléne hartlik soengroet of sy haar al jare ken. “Welkom, hartjie. Namens ons almal hier in die kombuis wil ons net sê ons is baie jammer om van jou verbreekte verlowing te hoor en dit so te sê voor die kansel. Dit kon nie ’n lekker ervaring vir jou gewees het nie. Maar dis goed dat hy eerder nou kop uittrek as later ná die troue.”
Heléne voel hoe die bloed uit haar gesig dreineer. Sy prakseer ’n niksseggende glimlag op haar lippe. “Dankie vir die simpatie, ek waardeer dit. Kan ek asseblief die badkamer gebruik?”
“Natuurlik kan jy. In die gang af, tweede deur aan jou linkerkant.”
“Dankie. Stap saam, Ouma wil mos ook die fasiliteite gebruik, nie waar nie?” Sy haak by haar ouma in en glimlag. Haar ouma het geen keuse as om saam te loop nie. Buite hoorafstand steek sy vas.
“Ouma, weet almal hier dat ek voor die kansel in die steek gelaat is?”
Ouma Hannie knik en haar oë is groot van onskuld. “Ek is jammer, Heléne, maar ek en Oupa glo nie in leuens nie. Almal weet ons het net een eie kleindogter en dat sy volgende Saterdag sou trou. Hoe verduidelik ons dan jou teenwoordigeheid op die plaas ’n week voor die troue?”
Heléne voel lus om haar hande in die lug te gooi en haar oë te rol. Gaan haar vernedering dan nooit ophou nie? Maar haar ouma is nie vir haar vernedering te blameer nie. Lukas du Plessis is. Wat maak dit in elk geval saak as ’n paar vreemdelinge van haar troudebakel weet? Die helfte van Johannesburg weet dit teen hierdie tyd.
Heléne sug en ontspan. “Toemaar, Ouma, dis nie die dood van Katryn nie. Dit is die waarheid, ek kan dit nie ontken of wegsteek nie. Ek moet net my kop hoog hou.”
“Ek is so bly jy is nie kwaad nie, want toe ek vanoggend met Kobie praat, het sy gesê sy gaan spesiaal vir Hannes en Hano nooi. Hulle is seker die twee hubaarste boere in die kontrei. As hulle jou nie geval nie, is daar nog haar suster se twee seuns.”
“Ouma, ek het nie Klein Begin toe gekom om ’n plaasvervanger vir Lukas te vind nie. Wat ek nou nodig het, is om goeie vriende te maak wat my kan help om van alles te vergeet, nie om my lewe met ’n verhouding te kompliseer nie.”
“Natuurlik is jy reg en ek is jammer as ons dalk voor op die wa was. Dis net dat ek en Oupa jou seer wil minder maak, maar nie weet hoe nie.”
Heléne voel lus om te huil. Sy het nie eens soveel simpatie van haar ma ontvang nie. Selfs haar pa was maar redelik versigtig om kant te kies. Dalk omdat hy die enigste een was wat die werklike rede vir die verbreekte verlowing vir homself kon uitwerk. Dalk het hy nog altyd heimlik gedink sy is presies soos haar ma. Sy simpatie lê dan waarskynlik by Lukas en nie by haar nie.
“Is jy oukei? Jy het skielik bleek geword.”
“Ek makeer niks. Eintlik is ek lus om partytjie te hou. Kom ons gaan terug na die ander mense toe. Daai twee boerseuns is dalk net wat ek vanaand nodig het.”
Haar ouma lag verlig en ingehaak loop hulle saam by die voordeur uit.
Dit lyk nie juis of haar stadsvoorkoms die manne afskrik nie, want sy het geen tekort aan geselskap nie. Haar ouma en oupa glimlag kort-kort, en dis net David wat nie heeltemal gelukkig lyk nie. Toe hulle langs mekaar by die kostafel staan, gee hy vir haar ’n bord aan en sy skouer skuur liggies teen hare toe hy na die slaai reik.
“Dit lyk of die twee boertjies die skoot hoog deur het.”
“Hoor jy my kla? Dis eintlik lekker om bederf te word, en ek wed jou nie een van die twee gaan van my verwag om ’n hek oop te maak nie. Wie weet, miskien ontmoet ek tog die regte man vir my hier tussen die boere.”
Sy is hoogs tevrede met die diep en ontevrede frons tussen David se oë. “Ek dag jy sê jy soek nie man nie?” vra hy snedig.
Sy skud haar kop in openlike misnoeë. “Dit was net ’n grappie. Nie almal droom oor sterk boerseuns en kom platteland toe om een te vang nie. Jitte, jy dink seker ek is dom én oppervlakkig. Vervlaks, man, ek het ’n week gelede nog gedink ek gaan met die man van my drome trou!” Haar sê gesê, loop sy weg om haar tussen die twee Joubert-broers tuis te maak.
Hano bring later vir haar ’n lang glas met groen koeldrank en baie ys. Dit het ’n vreemde smaak, maar omdat dit lekker koud is, gee sy nie om nie. Elke keer wanneer sy opkyk, vind sy David se broeiende oë op haar en dit spoor haar aan om net vriendeliker en waaghalsiger te wees. Sy kan net nie verstaan hoekom hy so omgekrap met haar is nie. Is die hele idee nie om ’n lekker ontspanne aandjie uit te hê nie? Eintlik het die man nie ’n baie aangename persoonlikheid nie. Hoekom het sy dit nie vroeër besef nie?
“Hoe lyk dit met nog ’n glasie koeldrank?” vra Hano toe hy later haar leë glas neem.
“Hoekom nie?”
David staan dadelik op en loop tot voor haar. “Kom ons gaan dans.”
“Dans?” Die keer is dit haar beurt om te frons. Sy het nie eens besef die musiek is ’n bietjie harder gedraai en ’n hele paar paartjies dans onder die lapa nie. Dis seker omdat sy heerlik lighoofdig voel. Genoeg om sy hand te vat sodat hy haar kan optrek.
Dis nie die eerste keer dat sy op die maat van boeremusiek dans nie en dit neem haar terug na haar varsitydae toe sokkiejolle die inding was. Die enigste probleem is dat haar voete nie so lekker byhou nie en sy amper twee keer in David se arms struikel.
“Jammer, ek het duidelik verleer om te dans,” lag sy op in sy gesig. Haar hande druk teen sy bors.
“Ek dink ons moet ’n entjie gaan stap voordat jy ’n gek van jouself maak.”
“’n Gek? Is dit nie ’n bietjie kras gestel nie? Ek … my voete …” stamel sy onsamehangend.
David trek haar aan haar hand van die dansbaan af en die donker agter die lapa omvou hulle dadelik.
“Jou voete makeer niks. Hano het jou ’n sopie witblits ingejaag, en ’n tweede glasie van sy koeldrank sou jou nie net hoenderkop gemaak het nie, maar ook ’n liederlike kopseer besorg het. Dis te sê as jy nie voor die tyd sou opgooi nie.”
“Maar die koeldrank was nie onaardig nie, en ek het gehoor witblits is hondsleg.”
“Dis omdat dit met groen koeldrank en baie ys verdoesel is.”
Haar oë raak aan die donker gewoond en hulle is nou al ’n hele entjie weg van die lapa. Die musiek is ook heelwat sagter. Skielik voel sy skrikkerig om saam met David die donker in te verdwyn – nie dat sy iets het om te vrees nie. David is die laaste man wat haar in die donker sal bespring. Sy probeer haar vingers uit syne losmaak, maar hy laat haar nie toe nie.
“Ontspan, Heléne, ek ontvoer jou nie. Ek wil jou net iets wys wat stadsjapies soos jy nie baie sien nie.”
“En wat is dit?”
“Die wonder van biljoene sterre bokant jou kop.”
Heléne lig werktuiglik haar kop en trek haar asem in. Die hemelruim is donker, maar besaai met ontelbare skitterende sterre.
“Dis pragtig. Jy is reg, ek het dit baie lanklaas aanskou.”
Geleidelik raak sy bewus van die naggeluide om hulle. Krieke, ’n nagvoël en ’n geluid wat sy nie ken nie. “Wat maak so?”
“’n Padda, piepklein maar met ’n reusestem.”
Sy trek die lug diep in haar longe. As sy die tipiese plaasreuke ignoreer, is die lug nogal vars en skoon. Haar sintuie verskerp almal en sy is skielik intens bewus van David se nabyheid, sy hand om hare en sy warm lyf so na aan haar. Sy verstaan nie die emosies wat deur haar spoel nie. Die vreemde hunkering dat David sy arms om haar moet sit en haar onder die wonderskone hemelruim teen sy bors koester. Dit moet Hano se drankie wees wat so ’n uitwerking op haar sinne het en dít kan sy nie toelaat nie, dink sy beslis.
“Ek voel beter, dankie, ons kan maar teruggaan.”
Hopelik is dit net sy wat van die effense heesheid in haar stem bewus is. Sonder om haar hand te los lei hy haar terug lapa toe. Net voor hulle die ligkol betree, los hy haar hand.
“Waarheen het jy verdwyn?” vra Hannes.
“Ek het nie lekker gevoel nie. Jou broer het my blykbaar witblits gevoer.”
“Die klein donner! Wag, laat ek met hom gaan afreken.”
Sy wil Hannes nog keer, maar hy is reeds op pad kombuis toe. Sy roer haar skouers. Dis nie haar probleem nie.
“Oupa, ons kan maar huis toe gaan as julle wil,” sê sy toe sy hulle langs die vuur opspoor.
“Dis reg so, ons het ook klaar gekuier.”
Hulle groet hulle gasheer, en ouma Hannie belowe sy sal Heléne bring om te kom kuier. Heléne is egter nie so seker dat dit gaan gebeur nie. Vanaand was dalk net ’n voorsmakie van die gawe mense wat vir haar ’n man wil soek. Dat dit ’n rebound kêrel gaan wees, maak blykbaar nie saak nie.
“David, dis halfelf. Ek dink nie jy moet nou huis toe ry nie,” sê haar oupa toe hulle almal veilig terug by die huis is.
“Dis nie nodig …”
“Moenie met die oom stry nie. Kom, Heléne, ons gaan maak die ander kamer vir hom reg,” sê haar ouma beslis.
’n Rukkie later kry hulle David en haar oupa in die sitkamer. David sit op sy hurke en is besig om die kaggel aan die brand te kry. Het haar ouma dan nie gesê dis laat nie, hoekom nou ’n kaggel begin stook? Toe sien sy dat daar vir haar en haar ouma ook elkeen ’n glasie op die koffietafeltjie wag.
“Net ’n bietjie sjokoladelikeur voor ons gaan slaap. Jou ouma se gunsteling,” verduidelik haar oupa.
“Ouma, van al die likeurs is dit ook my gunsteling.”
“Sowaar?” sê haar ouma, beïndruk omdat hulle nog iets in gemeen het.
“Die partytjie was lekker, baie dankie dat julle my saamgeneem het.”
Haar oupa knik. “Ek weet net nie wat daar agter die huis aangegaan het nie. Dit het vir my soos ’n vuisgeveg geklink. Het jy dit ook gehoor, Hannie, net voordat ons gery het?”
Heléne se oë skiet waarskuwend na David en hy glimlag effens. “Seker maar die mampoer wat die manne so luidrugtig gemaak het, Oom.”
Silas draai sy kop na Heléne en sy gesig is onskuldig. “Dis seker wat gebeur het. Die goed het ’n slegte gewoonte om ’n man sy inhibisies te laat verloor. Jou ouma se pa het mos ook van die goed in sy stoor gestook en dis hoe jou ouma my gevang het.”
“Silas! Jou oupa praat nou bog. Ek het hom beslis nie met ’n brousel gevang nie.”
Almal lag en Heléne se hart verwarm. Dit voel of sy al weke deel van hulle lewe is en nie net vier dae nie. Dis of sy ná ’n lang afwesigheid huis toe gekom het, of dit is waar sy waarlik hoort. Die liefde wat haar grootouers vir mekaar en vir haar het, is amper tasbaar. Sy skud haar kop om die vreemde gewaarwording af te skud. Alkohol het nie ’n goeie uitwerking op haar sinne nie. Dit maak haar deurmekaar en verward, en karring aan goed wat sy nié wil voel nie. En dit maak vergete jare se seerkry in haar binneste los. Ná haar ouers se egskeiding kon sy nooit waarlik weer iewers tuis voel nie. Nie eens toe sy haar eie huis gekry het, het dit soos ’n hawe vir haar gevoel nie. ’n Plek waarnatoe sy graag wil terugkeer nie. Seker omdat daar niemand was wat daar vir haar gewag het nie. Geen verwelkomende stemme, reuke of kombuisgeure nie. Net ’n klinies skoon huis. Mooi, met alles wat haar geld en goeie smaak kon koop, maar daar was niks wat dit waarlik hare gemaak het nie. Vervlaks, voel sy sowaar lus om te huil? Wat noem hulle dit? O ja, dronkverdriet, en dit sal nie deug nie. Heléne ledig nogtans die glasie, maar dit onderdruk nie haar emosies soos sy gehoop het nie.
Ouma Hannie staan op. “Silas, kuier julle nog ’n rukkie. Ek gaan inkruip.”
Die vertrek is nou heerlik warm en Heléne is onwillig om haar ouma se voorbeeld te volg en te gaan slaap.
“Heléne, jy het vroeër vanmiddag gesê jy wil meer van beeste af weet. Was jy ernstig?”
“Ja, ek is,” sê sy effens uitdagend toe sy in David se rigting kyk.
“Dan gaan ek jou môre ná kerk my kudde wys. Nag julle, ek gaan ook inkruip. Nee, David, sit nog ’n rukkie. Dis nie nodig dat julle nou al gaan slaap nie. Heléne, jy het my vanaand ’n trotse oupa gemaak. Nie een van die meisies daar kon by jou kers vashou nie.”
“Dankie, Oupa en lekker slaap.”
Die stilte wat agterbly toe haar oupa uit is, is net vir ’n paar minute ongemaklik. David gooi nog stompe op die vuur en die droë hout vat amper dadelik vlam. Sy kyk na die mesmeriserende vuurtongetjies wat aan die hout lek en die spanning sypel uit haar lyf.
David tel sy glasie op en maak hom langs haar op die bank tuis. Iets in haar skram dadelik weg, maar sy besef dis kinderagtig om so verskrik te voel.
“Vertel my meer van jou lewe in die stad, Heléne. Is jy gelukkig daar?”
“Natuurlik is ek gelukkig. Dit gaan baie goed met my besigheid en ek kry ten minste twee keer per jaar die geleentheid om oorsee te gaan.”
“Waar woon jy?”
“Ek het ’n huis op ’n gholflandgoed.”
“Woon jy alleen of het jou verloofde die huis met jou gedeel?”
Sy kyk vinnig na hom, maar sy gesig is niksseggend. Net sy oë is belangstellend. Sy het nie geheime om weg te steek nie en roer haar skouers, geïrriteerd met sy skielike en ongevraagde belangstelling. “Nee, hy het nie by my gebly nie. Dankie tog daarvoor. Dit sou die situasie net vererger het. Ons sou ná die troue besluit het waar ons gaan bly – my plek of syne. Daar was nie haas om te besluit nie.”
David kyk haar lank en nadenkend aan, sodat sy ongemaklik begin voel.
“Is jou hart gebreek?” vra hy sonder emosie in sy stem.
“Natuurlik …”
“Heléne, ek soek ’n eerlike antwoord,” val David haar in die rede. Sy wil haar vererg, maar sy weet goed wat hy eintlik bedoel. Het sy Lukas so lief dat sy lus voel om haar polse te sny?
“Wat ek wou sê voordat jy my so ongeskik in die rede geval het, is dat ek hom natuurlik liefgehad het, anders sou ek tog nie met hom wou trou nie. Maar ek is ook nugter genoeg om te weet dat geen man, of mens, my lewe werd is nie. Ek is nie van plan om vir altyd oor hom te treur nie. Beantwoord dit jou vraag?”
“Dit is presies wat ek wil weet.”
David maak haar glasie tussen haar vingers los en vul dit sonder om te vra. Dis te laat in die nag om haar vir sy vrypostigheid te vererg.
“Hoekom het jou verloofde jou regtig gelos, Heléne?”
Haar kop ruk op en die glasie in haar hand kantel gevaarlik. “Ek … dit het niks met jou uit te waai nie,” sê sy en druk haarself regop. David se hand skiet uit en hy hou haar beslis terug.
“Ek weet dit het nie, maar ek weet ook dat hoe gouer jy daaroor praat, hoe gouer gaan jy daaroor kom. Jy moet die feite dissekteer en in die oë staar, anders gaan die seer nooit genees nie. Is dit nie die rede hoekom jy in die eerste plek hier is nie, om dinge te verwerk en klaarheid te kry?”
Hy is reg, sy weet sy moet daaroor praat. Sy leun terug teen die kussing met haar oë op die vuur. “Nou goed, ek sal jou vertel, maar net sodat jy eens en vir altyd kan ophou om my te teister.” Dapper draai sy haar kop en kyk hom onverskrokke aan. “Lukas wil nie met iemand soos sy aanstaande skoonma trou nie. Dit was min of meer die verskuilde boodskap wat ek gekry het.”
Daar is ’n rukkie stilte terwyl David die brokkie inligting prosesseer. “Dis ’n geldige rede.”
Heléne trek haar asem in. Woede vlam dadelik in haar op. “Wat! Jy kies sowaar sy kant. Weet jy ooit hoe lyk my ma?”
“Nee, maar ek het gehoor sy is ’n beeldskone vrou vir haar ouderdom.”
“Presies. En die perfekte vrou vir my stiefpa. ’n Beter gasvrou kry jy nie in die hele Johannesburg nie. Sy het tot ’n paar jaar gelede haar eie skoonheidshuis gehad wat sy vir miljoene verkoop het. Sy dien in verskeie rade, was al genomineer vir Sakevrou van die Jaar en tans is sy voorsitter van een van die grootste welsynsinisiatiewe in die land.”
“Wow, nou stem ek definitief saam met jou ekskêrel. Ek sal ook nie met haar getroud wil wees nie.”
Heléne spring op en al is sy lank, troon sy nie bo hom uit nie. “Wat bedoel jy daarmee, David?”
“Die prentjie wat jy skilder, is tog te pragtig. Sy klink na ’n fantastiese mens, maar dit sê nie watse tipe vrou sy is nie.”
Hy verwar haar totaal. “Wat is die verskil? Mens … vrou … dis tog dieselfde ding.”
“Nee, dit is nie. Die mens is wat jy sien, die gesig wat jy voorhou, maar die vrou is die een wat jy ís as jy jou huis se voordeur toetrek. Die vrou wat jy is as jy alleen saam met jou man of jou minnaar is.”
David se stemtoon krap haar nou behoorlik om. Dit is nie nodig dat hy soveel klem op die woorde lê nie. Sy is nie ’n moroon dat sy nie die strekking van sy woorde kan verstaan nie. Diep binne haar weet sy presies wat hy bedoel, en dis juis omdat elke pyltjie die rooi kol tref dat sy so op die verdediging is. Lukas het dit meer as duidelik gemaak dat hy dink sy is net so ’n koue en passielose vrou soos haar ma.
“Jy weet nie waarvan jy praat nie. My ma is ’n wonderlike mens én ’n wonderlike vrou en ma. Sy het my goed oor die lewe geleer wat ander meisies jare neem om te snap. Moenie van ’n man afhanklik wees nie. Moenie van hom verwag om ’n dak oor jou kop of kos op jou tafel te sit nie. Bemagtig jouself sodat jy dit alles self kan doen, en soek daarná vir jou ’n lewensmaat. Dan aanvaar jy die goed wat hy jou kan bied.”
“Met ander woorde, behou beheer oor jou lewe. Moet nooit jou lewe in die hande van ’n man sit nie?”
“Presies. En ek kan hoegenaamd niks verkeerd daarmee sien nie.”
“Nee, daar is seker niks mee verkeerd om so te redeneer nie, maar ek dink jy loop ’n klomp ander goed mis.”
“Soos wat?” vra sy uitdagend.
David skud sy kop. “Al verduidelik ek nou aan jou, dink ek nie jy gaan verstaan nie. Ek dink jy sal nie wíl verstaan nie.”
David staan op en krap die kole uitmekaar sodat die vuur gouer uitbrand. En al wat sy kan doen, is om toe te kyk. Een deel van haar persoonlikheid wil hê hy moet sy saak ordentlik verduidelik, terwyl die ander deel haar waarsku dat dit dalk nie so ’n goeie idee is nie. Sy het vanaand reeds te veel van haarself ontbloot, en dit terwyl sy nie eens weet of sy David met daardie inligting kan vertrou nie. Vir al wat sy weet, gaan hy sy pelle hiervan vertel. Dis mos ’n ou grappie onder mans. Kyk na die skoonma as jy wil weet hoe jou vrou eendag gaan uitdraai. Dat dit nie ’n waterdigte stelling is nie, maak nie saak nie.
“Gaan jy nie slaap nie?”
Sy sit haar glas op die tafeltjie neer. Toe loop sy sonder ’n woord by hom verby en laat hom agter om die ligte af te sit.