image

image

A staan vir Attie Aap

wat aanhou g-a-a-a-a-a-a-a-a-p

as hy saans al die skape

van die man op die maan

lê en tel om te kan slaap.

Nog woorde:

appelliefie en appelkoos;

akkedis en akrobaat;

albaster – aha, Afrika!

image

image

B staan vir Bella,

sy’s ’n bielie van ’n beer!

Met haar ronde boepmagie

slaan sy woerts BOLLEMAKIESIE

oor die brandweerman se leer.

Nog woorde:

bobbejaan en bokmakierie;

bokkoms en blomkool;

bakbene en besems!

image

image

C staan vir Charlie Cheetah,

hy’s lekker laf

waar hy met sy rugbybal

en cowboy-hoed

deur die strate van Calvinia draf.

Nog woorde:

Celsius en Cecile;

cheddarkaas en Coca-Cola.

image

image

D staan vir Dirk Donkie

wat elke dag dawerend

langs die draad

staan en sing:

“Ooo, die donkie is ’n wonderlike ding!”

Nog woorde:

drieling, driehoek en driewiel;

dolfyn, donderweer en

drommedaris …

’n diamant!

image

image

E staan vir Erik Eland

wat heel goed weet

dat hy elke liewe dag

een REUSEPEER

te veel

eet!

Nog woorde:

eekhoring, eetlepel en eendbekdier;

elmboog, elders en enkel …

’n engel!

image

image

F staan vir die fraaie Fienie Flamink,

die lieflike wyfie

met die fietse pienk lyfie

en die krullertjies in haar kuifie.

Nog woorde:

fluitjie, fluweel en flikker;

frommel, frikkadel en framboos …

Februarie!

image

image

G staan vir gawe Grietjie Gans

wat so lekkerlyf giggel

as sy die GOGGABIE-BOOGIE

in haar goudgeel rokkie dans.

Nog woorde:

gogga, grapjas en galjoen;

geelrys, glinster en glips …

’n gemmerbroodman!

image

image

H staan vir Hendrik,

die hinkepink haas,

wat ’n hoenderhen wil hê

om ’n honderd haastige paaseiers

net vir hom te lê.

Nog woorde:

hooimied en hommelby;

heuning en helikopter;

hanswors en hartedief!

image

image

I staan vir Ina Inkvis.

Sy sit haar RINGE aan,

skud haar vinne los

en dan sing en rinkink

sy in die inkswart see.

Nog woorde:

Italië en ivoor;

ietermago en indoena.

image

image

J staan vir Joos,

die jolige jakkals van oom Koos.

Die twee jakker oral waar hulle gaan,

van Johannesburg tot in Japan!

Nog woorde:

jakaranda, jasmyn en Januarie;

jonk, jeuk en juwele;

jellievis en Jeep!

image

image

K staan vir Kobus,

die kielierige krokodil.

As olifant sy slurp in die water steek,

kriewel

hy van kop tot tone soos

hy gril!

Nog woorde:

koljander, koggelmander en kalbas;

krabbel, kraaines en krummel …

en kyk, ’n koeksister!

image

image

L staan vir Lourens,

’n liewe, lawwe leeu.

Hy lag hom elke dag slap

vir die likkewaan se flou grap.

Nog woorde:

lietsjie, lemoen en lepel;

lantern, luiperd en lappies laventel!

image

image

M staan vir Miemie,

die mooie muise-ma.

Sy vat haar kleine muisies

elke Maandagmôre vroeg

vir melk en malvalekkers

na die mallemeule toe.

Nog woorde:

moerbeie, mielies en mikroskoop;

madeliefie, mamba, matroos …

en maanskyn ook!

image

image

N staan vir Nina,

die singende nagtegaal.

Sy gaan haar nege towernote

hoog uit die hemel haal

om vannag nog in die nartjieboom

die klanke soet te sing.

Nog woorde:

Noag, nommer en noord;

narsing, naald en nag!

image

image

O staan vir oom Okkie Olifant –

hy mag net met tant Otjie Potjie trou,

as hy ook leer om net soos sy,

sy groot, vet lyf morsjors te hou.

Nog woorde:

orgidee, orkes en orkaan;

otter, oorbel en oseaan!

image

image

P staan vir prinses

Petronella Pikkewyn,

wie se pienk pantoffels

haar arme plat pote

die hele ent pad

laat pyn.

Nog woorde:

papier, papegaai en pampoen;

piesang, poedel en poeding!

image

image

Q staan vir Quintin Quetzal,

wat van ver

uit die woude in Suid-Amerika,

een van sy

lang,

goudgroen

stertvere

aanstuur vir sy ouma Quarta,

in haar huisie bo

in die berge van Qwaqwa.

Nog woorde:

Q-boot, quiche en Quasimodo.

image

image

R staan vir Ronnie Renoster –

dié rakker is ’n rustige reus

al dra hy twéé horings,

soos nare groot dorings

op sy rimpelrige neus.

Nog woorde:

rommel, rondawel en rampokker;

ridder, rapport en radys;

resep en rondomtaliedraai!

image

image

S staan vir die skaam Skillie Skilpad –

en weet jy wat?

As ek net saggies aan hom vat,

pieps hy my skielik

PAPSOPNAT!

Nog woorde:

sprokie, spookasem, springbok;

sambrele, sterre …

en stroop ook!

image

image

T staan vir Trompie Tarentaal –

In die taxi tokkel hy

op sy blikkitaar

met net een enkele

flentersnaar.

Nog woorde:

towenaar, toffie en toktokkie;

teddiebeer, telefoon en toebroodjie …

klein tinktinkie!

image

image

U staan vir arme Ursula Uil

wat u-u-u-ure lank

in die donker

langs die kuil

saam met die vuil ou muil

sit en “hoe-hoe-hoe” huil.

Nog woorde:

unie, uniform en universiteit.

image

image

V staan vir Vollie Verkleurmannetjie,

die vent met die vreemde knoppiesjas.

Vyftig vrot vlieë op sy

VERJAARDAGKOEK

sal hom regtig goed pas!

Nog woorde:

vrede, vroetel, verjaar en verlep;

vonkel, viool, vaatjie en valskerm!

image

image

W staan vir Willem Walvis

wat wil weet

of ’n walvis

ook waatlemoen mag eet.

Nog woorde:

wekker, wêreld en westewind;

wimpers, wiskunde en winter …

kyk, die wolke!

image

image

X staan vir die zZz

in Xander se naam –

wat ook klink soos die zZz

van sy bont xilofoon.

Maar X klink soos EKS

as hy vir X-STRALE

hospitaal toe moet gaan.

Nog woorde:

xilofoon en xerofiet;

Xhosa.

image

image

Y staan vir Ysie Ysbeer

wat al te bly

op Vrydae

saam met my

al in die rondte

op sy ysskaat se gly.

Nog woorde:

ystervark, Ysland, ysterhand …

ysige ysreën!

image

image

Z staan vir Zizi die Zambezi-haai

wat zzzzzzzirts

soos ’n warrelwind

kan tiekiedraai!

Nog woorde:

Zoeloe en zoem;

Zimbabwe en zombie!