Fotoseksie |
Speurder van formaat: William Charles Miller, wat vir die grootste deel van sy loopbaan aan die Wes-Randse Moord-en-rooftak verbonde was. Vir die eerste agttien jaar van sy lewe was Charles bekend as Fredrich Wilhelm “Salsie” Salzmann.
Charles as ’n jong konstabel.
Speurders uit ’n vergange era: Van links is Jan Nortjé, Oosie Oosthuizen, Nick Jacobs (wat in 1986 deur bendelede doodgeskiet is) en Charles. Die foto van hierdie groep Wes-Randse Moord-en-roofspeurders is in die laat 1960’s geneem.
Die hulp van Charles se swart kollegas was in talle ondersoeke onontbeerlik. Van links is Charles, Elias Mbaimbai, Solly Mngadi, Solly Rangwaga en Willie van den Berg in die 1970’s afgeneem.
Charles aan die werk in sy kantoor by Moord-en-roof in Krugersdorp.
Die flambojante bankrower Rory Tracy of “Buck Rogers”, soos die koerante hom gedoop het, by een van sy hofverskynings met Charles in die agtergrond.
Charles (tweede van regs) het Jaap le Roux (links van hom), sy latere bevelvoerder, al as konstabel ontmoet. Le Roux het ’n groot invloed op sy loopbaan gehad.
Charles en sy vrou, Dorothy.
Dié foto van Charles en sy kollega Jaap le Roux is geneem by ’n geselligheid in Nelspruit wat hulle onder die dekmantel bygewoon het. Dit was deel van hul ondersoek na die Krugersdorpse tonnelroof. Hulle het hulle as verkoopsmanne voorgedoen.
Moordtoneel: Wilson (Oupa) Mkhize maak uitwysings aan maj. (later kol.) Blackie Swart (links agter Mkhize) en ’n tolk op die toneel van die moord op die 73-jarige Petrus Boshoff, ’n voormalige stadsklerk van Germiston. Mkhize het die doodstraf daarvoor ontvang.
Die balju se relaas van Joseph Phiri se teregstelling vir die moord op Heather Shaw.
Joseph Phiri doen uitwysings in die huis in die Muldersdrift-omgewing waar hy Heather Shaw vermoor het. Die forse Elias Mbaimbai is aan hom vasgeboei terwyl maj. (later kol.) Blackie Swart notas maak.
Die Israeliese reeksverkragter Matty Cohen word deur een van sy slagoffers op ’n uitkenningsparade geïdentifiseer. Hierdie vrou was op die punt om flou te val en daarom het die man links van Cohen haar aan die arm gevat. Dit het later in die hofsaak ’n geloofwaardigheidsprobleem oor die parade geskep.
Cohen het sy hare vir daaropvolgende uitkenningsparades gesny in die hoop dat hy nie uitgeken sal word nie.
Die 28-jarige Cinthia Bossenger se bebloede lyk voor haar werkplek by die Flora-kliniek in Constantiakloof, Roodepoort, is die grusame getuienis van haar kêrel, Gert Botha, se gewelddadigheid.
’n Ooggetuie wys hoe Tinus van der Merwe in ’n knielende posisie buite die balju se kantore in Krugersdorp ’n laaste, koelbloedige skoot op sy vervreemde vrou, Sanet, afgevuur het in nóg ’n passiemoord.
Die halfontbinde lyk van Jan Swanepoel is in die bagasiebak van sy motor in die Blougat-natuurreservaat buite Krugersdorp gevind.
Jan Swanepoel se stiefbroer en moordenaar, Johan Pretorius, wys na die bult in die Blougat-natuurreservaat waarby hy die motor waarin sy broer se lyk was, wou afstoot.
Charles het gereeld saam met die span van die Radio Hoëveld-helikopter gevlieg om observasies vanuit die lug te maak. Hier staan hy saam met die verkeersaanbieder Eric de Boer (middel).
Die moord op hierdie man, ene Kleynhans, in Luipaardsvlei aan die Wes-Rand in Februarie 1990 was ’n keerpunt vir Charles en sou by hom bly spook.
’n Gewonde Charles en sy seuntjie Lionel by die begrafnis van maj. Jaap le Roux, sy vriend en kollega, wat in ’n skietery met die misdadiger Bokkie Taute noodlottig gewond is.
Bewaker van die landsgrense: Charles as bevelvoerder by die Buffelsdrift-grenspos in die hedendaagse Limpopo – vir hom ’n uiters frustrerende tyd.
Charles op sy afskeidsfunksie in 1992 by lt.genl. Krappies Engelbrecht. Engelbrecht het sy diepe misnoeë uitgespreek oor die gebrekkige erkenning aan Charles deur die polisiebestuur.
Charles en AO Jakes van Niekerk by die regspan wat hulle in die moordsaak verdedig het. Van links is adv. Danie Joubert, Van Niekerk, die staatsprokureur Sybrand Botes, Charles en adv. Barry Roux.
’n Spotprent van Charles met ’n veelseggende opskrif wat ’n kollega geteken het toe Charles in die Sandton-kliniek opgeneem was.
Charles en sy oudkollegas vandag: Van links is sers. Mossie Mostert, Charles, AO Nick van der Merwe en AO Jakes van Niekerk.
Moord-en-roof was nie vir sissies (of engeltjies) nie. Soos sers. Mossie Mostert se tatoeëermerk wys, was dit amper soos ’n leefwyse om deel van dié eenheid te wees.