6

Leermeesters: “My swart speurders”

 
 

 

Met die eerste oogopslag kom Charles soos ’n tipiese konserwatiewe Afrikaner voor.

Hy was soos die meeste Afrikaners van sy tyd aanvanklik ’n aanhanger van die Nasionale Party-regering en het nooit die party se rassebeleid bevraagteken nie. Sedert die 1980’s het hy egter die Konserwatiewe Party ondersteun. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy “Nee” gestem het in die referendum van 1983 oor die driekamerparlement nie, ook in 1992 toe die regering gevra het om met die onderhandelings en hervormingsproses vir ’n nuwe grondwet voort te gaan.

Uit die staanspoor het dit my egter opgeval dat daar ’n teenstrydigheid is tussen Charles se politieke oortuigings en sy alledaagse verhouding met mense van verskillende rasse. Swart mense vind maklik aanklank by hom. Menigmaal moes ek eers wag sodat hy ’n geselsie met ’n vreemde swart kassier of petroljoggie kon klaarmaak. Charles praat met alle mense as gelykes en sonder enige pretensie. Die spontane blydskap van swart oudkollegas om weer van hom te hoor was ’n openbaring.

Daar was sedert die stigting van die Suid-Afrikaanse Polisie in 1913 segregasie tussen rassegroepe. Aparte opleidingsentra is mettertyd gevestig met wit rekrute wat in die polisiekollege in Pretoria opgelei is. Swart rekrute is eers in Benoni en later by Hammanskraal noord van Pretoria opgelei, terwyl bruin rekrute in Bishop Lavis in die Kaap en Indiërs in Durban hul opleiding ontvang het.

Die koloniale nalatenskap van swart polisiemanne wat nie dieselfde regte as hul wit eweknieë gehad het nie, is in die apartheidsjare voortgesit. Tot in die 1970’s het anderskleuriges eiesoortige rangstrukture gehad, wat ondergeskik was aan die range van wit mense. Hul salarisskale was ook laer as dié van wit polisiemanne. Eers in die vroeë 1980’s is dieselfde blou uniforms wat hul wit kollegas reeds dekades lank gedra het aan swart polisiemanne uitgereik. Voorheen het swart en bruin polisiemanne kakiekleurige uniforms gedra. Eers aan die begin van die 1970’s is sommige swart, bruin en Indiërpolisiemanne met vuurwapens toegerus. Voorheen is swart polisiemanne met knuppels en soms met spiese bewapen.

Swart polisiemanne is in die ou bedeling ná werk terug na hul tuistes in die townships en hul wit kollegas na hul huise in die wit woonbuurte. Die verskillende rasse in die polisiemag het ook nie buite werksverband juis sosiaal gemeng nie. Die polisiekantiens is landswyd ywerig deur wit polisiemanne besoek, maar nie deur hul kollegas van ander rasse nie.

Tog praat Charles met groot deernis van swart speurders wat harde bene saam met hom gekou het. Hy verwys wel paternalisties na hulle as “my swart speurders”, selfs al was hulle heelwat ouer as hy en met ’n hoër rang. In sy kop het hulle waarskynlik altyd sy ondergeskiktes gebly, ongeag die waardering wat hy vir hulle het. Hy sonder drie kollegas uit: Solly Rangwaga, Solly Mngadi en Elias Mbaimbai.

“Hulle het uiteenlopende persoonlikhede gehad, maar was al drie gebore polisiemanne wat nie net vir polisiewerk geleef het nie, maar belangrike leermeesters vir my was. Solly Rangwaga was meer as tien jaar ouer as ek toe hy my onder sy vlerk geneem het nadat ek van Vereeniging na Moord-en-roof oorgeplaas is. Hy, Miekie de Swardt en AO Oosie Oosthuizen was seker van my grootste leermeesters. Rangwaga was ’n hardekwas wat nie sommer deur iemand gehiet en gebied kon word nie – ’n ondersoeker van formaat. Hy was bang vir niks en het nie geskroom om hardhandig op te tree nie.”

Rangwaga het Charles eenkeer ook uit ’n potensieel lewensgevaarlike situasie gered. Hulle het op ’n middag in Mindalore, Krugersdorp, stilgehou by twee verdagte wit mans wat sakke gedra het. Hulle kon nie bevredigende antwoorde aan Charles gee oor waar die juwele in die sakke vandaan kom nie en hulle is vir verdere ondervraging na die kantore van Moord-en-roof geneem.

In ’n hoek van Charles se kantoor het ’n swaar domkrag gestaan van ’n polisievoertuig wat daardie dag vir ’n diens geneem is. Toe hy vir ’n oomblik sy rug op die twee verdagtes draai, het een die domkrag opgetel en was op die punt om Charles daarmee oor die kop te geslaan. Rangwaga het blitsig inbeweeg en die man met ’n vuishou katswink geslaan. Charles glo dat hy noodlottig of minstens baie ernstig beseer sou gewees het as Rangwaga nie daardie dag tot sy redding gekom het nie.

Hy maak ook ’n ander veelseggende opmerking: “In Moord-en-roof het die swart speurders geweld gebruik teen wit misdadigers wanneer dit noodsaaklik was, lank voordat dit in ander afdelings van die polisie aanvaarbaar geword het.”

Charles het ewe veel respek vir sy kollega Solly Mngadi gehad.

“Hy was intelligent en het van die hoogste punte in sy sersanteksamen in die land behaal. Hy was altyd in moderne klere uitgedos, met hoed en al, wat ons ander sleg by hom laat afsteek het. Hy was ’n doring onder die vroue en dit was waarskynlik ook sy ondergang. Hy was nietemin ’n staatmaker in gevaarlike situasies.”

Charles beskryf die derde kollega, Elias Mbaimbai, as “een van daardie uitsonderlike mense wat met sy forsheid en bedaardheid gesag afgedwing het sonder dat hy probeer het”.

“Hy was ’n statige en trotse Venda wat benewens sy moedertaal ook Afrikaans, Engels, Zoeloe, Sotho en ander tale vlot kon praat. Hy was een van die beste getuies wat jy vir ’n saak in die hof kon roep.

“Ek dink nie hy het enige erg aan verspotheid gehad nie. Hy het nooit gerook en gedrink nie. Terwyl ander oorboord kon gaan met ondersoeke in sjebeens, het hy dit vermy. Hy was altyd netjies in ’n pak klere of minstens ’n baadjie en ’n das geklee, dikwels tot ons frustrasie as ons nagtelike operasies in Soweto se hole gaan uitvoer het. Hy was ook nie ’n man vir geweld nie, hoewel hy sy man kon staan.

“Hy was ’n diep gelowige wat vir jare by my aangehou het om saam met hom na Venda te gaan sodat ons siele daar in ’n meer gewas kon word. Daardie tyd het dit vir my as ’n NG lidmaat net té vreemd geklink. As ek nou daaraan terugdink, is ek spyt dat ek nie saam met hom gegaan het nie, al was dit net uit erkenning teenoor hom.

“Reeds in die begin van ons verhouding het ek deelgeneem aan die stokvel wat hy gestig het. ’n Stokvel is ’n soort klub onder swart mense waarin ’n groep lede elke maand ’n geldelike bydrae maak en elkeen ’n beurt kry om ’n maand se bydraes (oorgooigeld) te ontvang. Ek en Elias het daarmee voortgegaan selfs nadat ek die polisie verlaat het.”

Die moord op Brigitta Walker

Saam met Rangwaga en Mngadi sou Charles verskeie sake suksesvol oplos. Een daarvan was die moord op die 28-jarige Brigitta Walker, wat in November 1973 deur Die Vaderland beskryf is as “waarskynlik een van die grusaamste wat Suid-Afrika nog beleef het”.

Haar moordenaar het haar eers verkrag en toe haar keel afgesny, waarna hy haar liggaam met kap- en snywonde vermink het. Daar was soveel wonde aan haar liggaam dat daar aanvanklik nie bepaal kon word hoeveel keer sy gekap en gesny is nie. Kol. Barry van den Bergh, die afdelingspeuroffisier van die Wes-Rand, het teenoor die verslaggewer van Die Vaderland opgemerk: “Dit was die lelikste toneel wat ek in my lewe nog gesien het. Die moordenaar was nie net bloeddorstig nie, maar ook ’n sadis . . .”

Brigitta se ingenieursman, Peter, het op haar verminkte lyk op die mat in die sitkamer afgekom toe hy die aand by hul huurhuis op ’n kleinhoewe by Sandspruit, noord van Muldersdrift, aangekom het. In die slaapkamer langsaan het die egpaar se nege maande oue baba onbedaarlik in sy wiegie gelê en huil. Hy het die hele dag geen kos of iets te drinke gehad nie.

Peter se eerste instink was om sy babaseuntjie na veiligheid te neem. Hy het nie geweet of die moordenaar(s) nog daar naby in die donkerte was nie. Hy het met die baba na sy skoonouers in Northcliff gejaag, van waar hy die polisie gebel het. Hy is terug na die moordtoneel waar hy en die eerste speurders gelyktydig aangekom het. ’n Groot groep speurders, onder wie Charles, het die moordtoneel deur die nag gefynkam. In die dae ná die moord het die speurders alle leidrade dag en nag opgevolg.

Volgens alle aanduidings is Brigitta reeds vroeg die oggend oorval. Hul bed was nog onopgemaak en die gordyne steeds toegetrek. Die moordenaar moes die Walkers se bewegings goed geken het. Hy het die afgeleë ou gewel-plaashuis na alle waarskynlikheid ’n geruime tyd lank dopgehou. Hy het geweet dat die jong vrou ’n maklike prooi sou wees sodra haar man weg is.

Slegs kleinerige items soos ’n radio, Brigitta se polshorlosie en R10 kontant is vermis, wat daarop gedui het dat roof net ’n bymotief was. Haar ander juwele het onaangeraak agtergebly. Die wreedheid waarmee die moord gepleeg is, het gedui op ’n uiters gevaarlike boosaard met afwykende gedrag.

Hoofstuk%206_Moord%20was%20grusaamste%20nog%20clipping.psd

Omstandighede het ’n Zoeloeman met die naam Alfred Hlongwane die verdagte gemaak – kort voor die moord het hy op ’n naburige hoewe gewerk, maar hy het daarna skielik verdwyn. Hlongwane is al vantevore aan diefstal skuldig bevind en sy besonderhede was dus op die polisie se sentrale rekords. Die speurders kon hom dus met behulp van vingerafdrukke positief met die moordtoneel verbind. Inligting van beriggewers het aangedui dat hy na Zoeloeland uitgewyk het.

Wat dryf ’n mens tot so ’n sinnelose daad?

Hlongwane is veertig jaar gelede heel waarskynlik nie aan ’n behoorlike sielkundige evaluasie onderwerp nie en ons sal nooit weet wat hom tot sulke optrede gedryf het nie. In latere soortgelyke gevalle het sielkundiges gevind die primêre rede is die doodmaak van die slagoffer en dat ekonomiese gewin sekondêr is. Die oorsaak kon diepgewortelde antisosiale impulse gewees het. Met die pleeg van die daad kon Hlongwane ook ’n vreemde seksuele selfvervulling gehad het. Komplekse faktore soos onderdrukte rassehaat kon ook ’n rol gespeel het.

Hlongwane het kenmerkende rituele snymerke gehad wat horisontaal oor sy voorkop aangebring is. Dit het hom maklik uitkenbaar gemaak. Die polisie het hom onverpoos gejag.

Charles, toe nog ’n speurderkonstabel, is in bevel van Mngadi en Rangwaga na die destydse Natal gestuur om Hlongwane vas te trek. In daardie stadium het hy reeds ’n hegte band met sy twee kollegas gehad.

’n Week lank was hul polisiemotor die drie mans se enigste tuiste. In die nag het hulle beurtelings observasie gehou van moontlike skuilplekke van Hlongwane en bedags navrae gedoen. Hulle het bitter min geslaap en daar was nie tyd vir luukses soos stort en skeer nie.

Hul deeglike ondersoekwerk het gou vrugte afgewerp en hulle kon betroubare inligting oor Hlongwane se bewegings kry. Die drie speurders het die net al stywer om Hlongwane begin span, maar al was hulle kort op sy hakke het hy daarin geslaag om hulle elke keer net-net te ontglip. Toe dit te warm vir hom word in Natal het Hlongwane na die Witwatersrand teruggekeer. Charles-hulle kon nietemin inligting aan die Wes-Randse Moord-en-rooftak deurgee oor waar Hlongwane hom moontlik bevind.

Die drie speurders het skaars teruggekeer toe hy op ’n hoewe buite Pretoria vasgetrek is.

Hlongwane is aan moord en roof skuldig bevind en ter dood veroordeel. Hy is later in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.

Die Koeëlbende en William Khumalo

Swart speurders soos Rangwaga en Mngadi het uit eie reg ’n goeie reputasie opgebou. Die sogenaamde Koeëlbende het tussen Desember 1970 en April 1971 ’n skrikbewind van moord, roof en onsedelike aanvalle in die noorde van Johannesburg, aan die Wes-Rand en op Vereeniging gevoer.

Dié swart bende se aanvalle op vroue het groot opslae gemaak. Die pers het hulle die Koeëlbende gedoop omdat hulle nie geskroom het om sonder waarskuwing op hul slagoffers te skiet nie. ’n Groot taakmag, wat uit 70 lede van die Brixtonse en Wes-Randse Moord-en-rooftakke bestaan het, is saamgestel om die gevreesde bende vas te trek. ’n Deurbraak het gekom nadat die twee Sollys op eie houtjie inligting opgevolg en die leier van die bende vasgetrek het.

In ’n ander geval was speurders van die Wes-Randse Moord-en-rooftak in die vroeë sewentigerjare ’n geruime tyd lank op die spoor van William Khumalo, ’n uiters gevaarlike misdadiger wat onder meer vir twaalf gewapende rooftogte en vyf gewelddadige verkragtings gesoek is. Hy het uitdagende boodskappe gelaat dat hy nooit lewend gevang sal word nie en daarop uit was om enige speurder dood te skiet wat hom durf aanvat.

Die twee Sollys het Khumalo se spoor na Ventersdorp gevolg en die hulp van Miekie de Swardt en Charles ingeroep toe hulle vasgestel het waar sy skuilplek was. Op Ventersdorp aangekom, het die twee wit speurders gemeen hulle sou meer sukses behaal deur leidrade te volg van twee van Khumalo se meelopers, wat volgens inligting intussen per trein na Soweto gevlug het. Die twee Sollys het egter voet by stuk gehou en uiteindelik het hulle Khumalo in sy skuilplek in die swart woonbuurt van Ventersdorp vasgetrek en doodgeskiet.

Toe ek Charles vra oor beweringe dat daar in die ou bedeling meer aandag aan wit as aan swart moorde gegee is, was hy gereed met ’n antwoord: “Dis onwaar dat daar groter aandag gegee is aan blanke moorde en dat die moorde in minderbevoorregte gebiede verwaarloos is. Wat gebeur het, is dat blanke speurders oorwegend aandag gegee het aan blanke moorde en swart speurders aan swart moorde. Dit was net ’n logiese en praktiese werkwyse. Die aantal vonnisse waarin die doodstraf opgelê is in sake wat deur swart speurders ondersoek is, getuig van hul sukses. Niemand het in hul pad gestaan nie. Die wit koerante het net nie veel publisiteit daaraan verleen nie. Daar is nie ’n verskil tussen wit en swart misdadige gespuis nie.”

Op my vraag of swart moordenaars voorheen makliker die doodstraf gekry het as wit moordenaars, soos dikwels aangevoer is in die veldtog om die doodstraf afgeskaf te kry, het Charles geantwoord: “Baie meer swart moordenaars het die doodstraf gekry omdat daar eenvoudig baie meer swart as blanke moordenaars was vanweë die groter swart getalle in die bevolking. Daardie gemeenskappe het ook meer geweld as in die wit gemeenskappe beleef.”

Swart beriggewers

Die twee Sollys het Charles ook geleer hoe om ’n onontbeerlike netwerk van swart beriggewers op te bou. Saam met Rangwaga het Charles later een van die grootste netwerke van beriggewers in die speurdiens gehad. Een sakboekie alleen wat bewaar gebly het, toon die name van 128 swart en wit beriggewers.

“As jy misdaad aan die Witwatersrand wou bekamp, was dit nodig om wit en swart misdadigers se leefwyse te verstaan. Die meeste gewoontemisdadigers leef in ’n ander wêreld as gewone mense. Hulle is altyd verdagtes by nuwe misdade en dis daarom nodig vir speurders om op die hoogte te bly van hul doen en late. In Soweto en die ander townships moes jy bereid wees om met ’n selfversekerde houding in die middernagtelike ure saam met twyfelagtige karakters in ’n obskure sjebeen ’n bier te drink, as jy hul vertroue wou wen.

“Uiteindelik was dit slegs moontlik om die misdaadwêreld te infiltreer deur ’n goeie netwerk van beriggewers op te bou. Beriggewers is dikwels die enkele, heel belangrikste skakel in die oplossing van ernstige misdaad. ’n Wit speurder kon dit nooit in Soweto en die townships op sy eie doen nie. Ons swart speurders was in daardie opsig onontbeerlik.”

Charles wys ook daarop dat dit vir speurders baie belangrik was om hul beriggewers goed op te pas en hulle teen vervolging van geringer misdade soos paswetoortredings en, in die geval van sjebeens, teen klopjagte van die drankafdelings te beskerm.

“Ons het ons daardeur soms die gramskap van ander polisie-eenhede op die hals gehaal. Vir ons het dit natuurlik daaroor gegaan om veel ernstiger misdade soos moord en roof op te los, wat nie altyd deur die ander eenhede ingesien is nie. Dit was ’n groot frustrasie wanneer ander afdelings genadeloos toegeslaan het op die onwettige sjebeens en kleiner daggasmokkelaars wat deel van ons beriggewer-netwerk was en daardeur ’n belangrike bronnebasis beduiwel het. Inspekteurs van Bantoe-administrasie, wat instromingsbeheer moes toepas en die paswette moes afdwing, het dikwels ook probleme veroorsaak. Dan was dit altyd ’n groot gesukkel om die situasie tot voordeel van die beriggewers op te los.”

Die beriggewers is op grond van die belangrikheid van die inligting wat hulle verskaf het ruim vergoed uit ’n spesiale fonds. Daar was selfs sangomas onder hul beriggewers. Volgens Charles het vals sangomas, wat slegs daar was vir die geld, uitstekende beriggewers gemaak omdat misdadigers hulle meestal besoek het voordat hulle ’n misdaad sou pleeg.

“Rowers en inbrekers soek meestal die dienste van ’n sangoma wat hulle met moetie immuun moet maak wanneer hulle die misdaad pleeg. Een van die eerste dinge wat ons gedoen het wanneer swart rowers vasgetrek is, is om die moetieband om hul middellyf of bene, wat by die sangoma gekry is, van die verdagte af te ruk. Dit laat hulle gewoonlik heeltemal weerloos voel. Weg is die magiese beskerming wat hulle glo onsigbaar maak. Gewoonlik was dit ’n dun leerbandjie met ’n sakkie waarin die moetie gehou is.”

Ander beriggewers was meestal twyfelagtige karakters wat self in die onderwêreld beweeg het, maar nie gehuiwer het om ander vir geldelike gewin in die rug te steek nie. Min beriggewers het edele motiewe. Om ’n beriggewer van die polisie te wees kan ’n lewensgevaarlike manier wees om ’n inkomste te verdien. ’n Verklikker is ’n gedoemde verraaier in die misdaadwêreld.

“As ’n beriggewer se identiteit op die lappe kom, is sy doodvonnis geteken. Ons het ons beriggewers te alle tye in die openbaar vermy en so klandestien moontlik met hulle te werk gegaan,” sê Charles.

Een van Charles se beriggewers was Lourence Oupa Mogorosi, ’n kwaaijong wat sy jintelman-pa grys hare gegee het. Mogorosi se pa, ’n hardwerkende sakeman van Soweto wat sy ondernemings uit niks opgebou het, het hom van ’n jong ouderdom af gehelp om ’n taxi-onderneming in Dobsonville op die been te bring in die hoop dat sy seun kalmer sou word, want sy rustelose geaardheid het hom alewig met die verkeers- en polisiebeamptes laat bots.

Nadat hy in die vroeë 1970’s die eerste keer met Charles te doen gekry het, het Mogorosi ’n soort bewondering vir dié wit speurder ontwikkel. Lourence se pa het eenkeer aan Charles genoem hy dink sy seun het ’n diepe hunkering gehad om ’n polisieman te word.

Taxibestuurders het met allerlei mense te doen gekry en as hulle hul ore op die grond gehou het, kon hulle ’n belangrike bron van inligting wees. Mogorosi kon boonop maklik met twyfelagtige karakters meng.

In ’n taamlike kort tydjie het Mogorosi een van Charles se belangrikste beriggewers geword. By verskeie geleenthede was sy beloningsgeld meer as Charles se maandelikse salaris. Charles het hom ook beskerm so goed hy kon. Mogorosi het egter nie ag geslaan op Charles en van die swart speurders se waarskuwings dat hy nie openlik met Charles moes kontak maak nie. Inteendeel, hy het gereeld sy opwagting by Charles se huis in Witpoortjie gemaak, soms op ongeleë tye. Dikwels was dit net om te gesels. Hy het altyd gesê dat niks slegs met hom sal gebeur nie.

Hy het ’n sprankelende persoonlikheid gehad wat gemaak het dat mense maklik van hom gehou het. Selfs Charles se vrou, Dorothy, kon nie help om aan hom geheg te raak nie.

Dit was dus vir Charles ’n groot skok toe Mogorosi se uitgebrande lyk aan die einde van 1974 in die bagasiebak van ’n voertuig in Dobsonville gevind is. Mogorosi se moord is nooit opgelos nie. Hierdie keer het al die leidrade doodgeloop ten spyte van Charles se verbete pogings om die saak op te volg.

“Genadiglik is sy pa voor sy moord oorlede en dié smart gespaar,” sê Charles.

Miskien was dit net toeval, maar kort ná die 1976-onluste in Soweto het al twee Sollys terugslae in hul persoonlike lewens gehad. Solly Rangwaga het in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal beland. Ná sy ontslag het hy by sy ma in Ga-Rankuwa gaan bly waar hy kort daarna gesterf het.

“Ek het eers ’n maand later daarvan te hore gekom,” sê Charles. “Ek kon dus nie sy begrafnis bywoon nie.”

Só ’n opmerking sê inderdaad baie oor Charles se verhouding met sy swart kollegas. In die apartheidsjare het min wit mense ooit swart mense se begrafnisse bygewoon.

Kort daarna het Solly Mngadi ook ná ’n kort siekte gesterf.

“Ek kon darem sy begrafnis bywoon,” sê Charles. Daar was gerugte dat Mngadi deur ’n jaloerse vriendin vergiftig is.

Voor die 1976-onluste het swart polisiemanne nog aansien in hul gemeenskappe gehad. Daarna het die gesindheid teenoor hulle drasties verander.