7

Soweto brand

“Dit het vir my gevoel dat ons nooit die stryd kan wen nie. Ek het begin neerslagtig word. Dit was nie waarvoor ek by die polisie aangesluit het nie. Ek het in my eie land soos ’n vreemdeling begin voel. Ons was skielik gevangenes in ons eie land.”

Charles Miller

Die toneel wat Charles en sy vier makkers die oggend van 17 Junie 1976 begroet het toe hulle die hoogtetjie op die Roodepoort-Dobsonville-pad na Soweto oorsteek, kon net sowel ’n greep uit ’n oorlogsrolprent gewees het. In die winter is Soweto altyd met ’n wolklaag rook bedek. Na die vorige dag se onluste het daar nou, so ver hulle kon sien, onnatuurlike donker rookwolke uit brandende geboue en voertuie die lug in getrek. Vir Charles het dit “soos die oordeelsdag” gelyk.

Hy, Willie van den Berg, die twee Sollys en Elias Mbaimbai het verby uitgebrande wrakke van vragmotors gery, terwyl groepies jeugdiges orals op straathoeke gestaan het. Moontlik het die twee wit en drie swart polisiemanne in hul ongemerkte motor en siviele klere soos verslaggewers gelyk, want die opgewonde jeugdiges het hulle nie juis aan die speurders gesteur nie.

Toe hulle kort daarna in ’n polisie-padblokkade inry, het ’n omgekrapte offisier hulle ernstig berispe omdat hulle sonder begeleiding deur gepantserde voertuie in die gevaarsone rondry. Hy het hulle dadelik na die Dobsonville-polisiekantoor gestuur om hul bevele te ontvang.

Daar aangekom, is kamoefleeruniforms, haelgewere en R1-gewere aan hulle uitgereik. Die kamoefleerdrag was bedoel om as bosdrag in die destydse Rhodesië en die Caprivi te dien. Die uniforms het aan polisielede ’n militêre voorkoms gegee, wat heelwat kritiek in die pers uitgelok het. Daar was egter nie op so ’n kort kennisgewing alternatiewe onlustedrag beskikbaar nie.

Daarmee het ’n onaangename tyd vir die vyf speurders begin. En dit sou ’n geruime tyd voortduur.

Die Soweto-opstand het die regering onkant betrap. Sowat 10 000 skoolkinders het op 16 Junie die strate van Orlando-Wes in Soweto ingevaar. Die polisie het die optog probeer keer, maar is met klippe bestook en het daarna met traangas op die skoolkinders losgetrek. Toe die betogers nie wou uiteengaan nie, is op hulle geskiet.

Chaos het uitgebreek en die jeugdiges het motors omgekeer en vragmotors aan die brand gesteek. Biersale en winkels is geplunder en daarna aan die brand gesteek. Talle mense het daardie dag gesterf en die onluste het gou landswyd versprei.

Die onmiddellike vonk vir die opstande was die feit dat die regering Afrikaans as onderrigmedium in swart skole wou afdwing. Die Cillié-kommissie, wat later die oorsake van die onluste ondersoek het, het egter bevind dat Engels in die praktyk steeds in die meeste skole in Soweto as onderrigmedium gebruik is en dat die ware oorsake veel dieper as die taalkwessie gesoek moet word. Dit het onder meer gelê in die weerhouding van politieke regte aan swart mense, in die tuislandbeleid, die afdwing van paswette, in armoede, in die mislukking van die administrasierade wat beheer oor die swart woonbuurte uitgeoefen het en in die afwesigheid van enige swart verteenwoordiging in die nywerheids- en die versoeningsrade waar loon- en ander geskille opgelos moes word. Die opkoms van swart militêre magte in die koloniale buurstate en daaropvolgende onafhanklikwording van Mosambiek en Angola het die klimaat ook gunstiger vir die opstande gemaak. Die onluste was teen apartheid gerig, maar in ’n sekere sin moes Afrikaans die prys betaal.

Charles en sy nabye kollegas was onbewus van die dieperliggende griewe van die swart gemeenskap. Hulle het daarna ook grootliks oningelig oor die saak gebly. Die meeste oudpolisiemanne met wie ek gepraat het wat destyds die onluste beleef het, het weinig begrip getoon vir die oorsake daarvan en het die oproeriges se optrede sterk afgekeur. Hulle het die grootskeepse vernietiging van eiendom en lewensverlies as ’n sinnelose misdaad beskou en het ook geglo die meerderheid van inwoners van Soweto het nie die onluste goedgekeur nie. Dit was hul beskouing dwarsdeur hul polisieloopbane en is met die hernieude opvlamming van onluste in die 1980’s verder ingeskerp.

Polisiebeamptes se taak was om bevele sonder enige teenspraak uit te voer. Daar is nooit amptelik met hulle oor die onrus of die moontlike redes daarvoor gepraat nie. Hulle moes stedelike onrus, met sy wortels in politieke ontevredenheid, beveg, maar in 1976 was hulle glad nie daarvoor opgelei nie.

Soek die belhamel – en skiet hom

Die polisie was boonop hopeloos onvoorbereid op die omvang en intensiteit van die onluste.

“Almal, veral ook die veiligheidspolisie, is met hul broeke op die knieë gevang,” reken Charles. Die omstandighede waaronder die polisiemanne moes werk, het gevolglik veel te wense oorgelaat.

Aanvanklik het Charles se groep weke lank diens verrig sonder enige blaaskans. Toe hulle uiteindelik toegelaat word om elke vierde dag huis toe te gaan, was dit net vir die nag. In Soweto moes hulle in die kantore van die Protea-polisiekantoor in hul eie slaapsakke op die vloer slaap. Hulle is gedurig in die aand uitgeroep en van slaap was daar nie veel sprake nie.
 

hoofstuk%207_clipping%201.jpg

“Net sodra alles in ’n sekere gebied onder beheer was, vlam die onluste weer op ’n ander plek op. In die begin het dit gevoel of die onlusstokers in skofte werk, só min slaap het ons gekry.”

Die winter van 1976 was bitter koud, of dalk het dit net vir die polisiemanne so gevoel omdat hulle so gereeld in die nagkoue moes werk. Geriewe vir was en bad was daar nie juis nie.

“Eenkeer is ’n paar van ons na ’n supermark in ’n blanke gebied om kosvoorraad te koop. Ek kon agterkom dat ons vir die ander mense in die winkel onaangenaam moes geruik het toe hulle wye draaie om ons begin loop. Wanneer ek by die huis gekom het, het ek heel eerste lank onder ’n warm stort gaan staan, terwyl Dorothy dadelik die stinkende kamoefleerdrag in die was gegooi het.”

Die polisiemanne moes self sorg vir kos, wat gou in ’n ongesonde dieet van wegneemetes soos slaptjips en witbrood ontaard het.

“Bykans elke dag het ons by die swart vroue op die spoorwegstasies stilgehou om mielies te koop wat hulle oor oop vure in konkas gerooster het. Die mielies was nie vars nie en is seker van die somer oorgehou, maar het darem vir ’n ruk die hongerte gestil. Terwyl ons vir die mielies gewag het, kon ons ons halfgevriesde hande oor die oop vure in die konkas warm maak.”

Boonop het Charles, ’n nie-roker, ’n longaandoening gekry nadat hy giftige gasse by ’n brandende gebou ingeasem het. Dit het hom ’n tyd lank aanhoudend laat hoes.

Die amptelike dodetal in die 1976-opstande in Soweto is 176, maar nie-amptelike skattings is tot so hoog soos 600. Die meeste van hierdie sterftes was die gevolg van polisieoptrede.

Vanweë sy skietvernuf is Charles as ’n skerpskutter in sy groep aangewys. Behalwe sy 9 mm-Parabellum is ’n R1 aan hom uitgereik. Die polisie het daarin geglo dat die belhamel in ’n groep oproeriges so gou moontlik geïdentifiseer en buite aksie gestel moet word omdat die groep dan gewoonlik uitmekaar spat. Dis ’n les wat in die 1950’s deur die Britte tydens die Mau-Mau-opstande in Kenia (die Kikoejoe-opstande teen Britse koloniale gesag) geleer is.

Dit was gereeld Charles se opdrag om die leier in ’n groep oproeriges te identifiseer, soos op 23 September toe die 16-jarige Jacob Mohapi as deel van ’n groep oproeriges ’n sinjaalhuisie op die Soweto-Johannesburg-spoorlyn aan die brand probeer steek het. Charles het hom gewaarsku om van die sinjaal weg te beweeg, maar hy het geweier om gehoor te gee en het voortgegaan om dit aan die brand te steek.

Charles het hom met een skoot doodgeskiet.

Die vorige maand het oproeriges ’n vragmotor in ’n straat in Meadowlands voorgekeer waar uitgebrande voertuie die deurgang versper het. Daar was nie uitkomkans vir die vragmotorbestuurder nie. Een van die oproeriges, Vivian Thabete, het die vragmotor aan die bestuurderskant bestyg en die bestuurder en sy twee passasiers met ’n lang mes gedreig terwyl hy hulle van kontant en ’n oorjas beroof het.

In daardie stadium was Charles se groep sowat 50 m van die vragmotor, maar kon weens die gevaar nie nader beweeg nie. Thabete is gewaarsku dat hy geskiet gaan word as hy nie ophou nie, maar hy was openlik minagtend onder aanhitsing van die res van die oproeriges. Nadat Charles ’n waarskuwingskoot afgevuur het, het Thabete steeds nie gehoor gegee nie.

Charles het Thabete met die volgende skoot doodgeskiet.

As gevolg van sy betrokkenheid by verskeie soortgelyke voorvalle moes Charles die volgende jaar in geregtelike nadoodse ondersoeke in die Johannesburgse landdroshof getuig. In sulke sake kon die familie en ander belanghebbende partye regsverteenwoordigers aanstel wat inspraak in die geregtelike nadoodse ondersoeke gehad het. Die doel van die ondersoeke was om te bepaal of die prokureur-generaal enige strafregtelike vervolging weens die dood van ’n oorledene moes instel. In effek het dit daarop neergekom dat ondersoek gedoen is of die polisie regmatig opgetree het of nie. Die getuienis kon ook aan die familielede van die oorledene ’n aanduiding gee of hulle met ’n siviel-regtelike eis teen die staat sou slaag.

Die beriggewing in die Engelse pers wat ek kon opspoor, was saaklik oor die geregtelike nadoodse ondersoeke van voorvalle waarby Charles betrokke was. In die Mohapi-geval is bevind dat dit geregverdigde doodslag was en in die Thabete-geval is Charles ook van enige strafregtelike blaam onthef.

Kort nadat die opstande uitgebreek het, het Charles laat een oggend ’n radioboodskap ontvang om dringend na sy huis in Witpoortjie te gaan. Vroeër daardie oggend wou ’n groep swart jeugdiges tuisgemaakte brandbomme na sy huis slinger, maar hulle is deur sy honde en huishulp verjaag. Lede van die publiek het gereeld direk na Charles se huis gegaan met polisieverwante sake en dit was dus alombekend dat dit ’n speurder se huis is. Van sy kollegas het agterna spottenderwys na sy huis verwys as ’n nie-amptelike polisiesubstasie.

Die polisie het op verskeie melkkartonhouers halfvol paraffien- en petroldeurdrenkte sand afgekom. Hoewel daar daarna gereeld polisiepatrollies in die omgewing van hul huis was, het dit nie vir Dorothy gemoedsrus gegee nie. ’n Teësinnige Charles moes die huis later verkoop en na ’n ander woonbuurt op Krugersdorp trek.

Elias Mbaimbai was minder gelukkig toe jeugdiges daarin geslaag het om die helfte van sy huis in Dobsonville in puin te lê. Die staat het hom vir ’n gedeelte van sy skade vergoed, terwyl lede van die publiek ook bydraes gemaak het. Ná ernstige doodsdreigemente teen Mbaimbai is hy na die gewone speurafdeling in die wit gebied van Roodepoort verplaas. “Daardeur het die Wes-Randse Moord-en-rooftak ’n uitstekende speurder verloor. Hy was een van die beste speurders met wie ek ooit te doen gehad het,” sê Charles.

Die 4.1 Squad – en twee vroue met iets in hul hande

In Soweto was talle smal straatjies en stegies waarin die gepantserde Hippos en ander groter polisievoertuie nie kon beweeg nie. Die eintlike doel van die Hippo, wat plaaslik op die onderstelle van Bedford-vragmotors gemonteer is, was om troepe te vervoer en teen landmyne te beskerm. In stedelike gebiede was die Hippo, wat kort tevore deur die polisie in gebruik geneem is, ontoereikend en lomp. Teen die einde van die 1970’s is dit deur die verbeterde Casspir vervang.

Die onluste het dit genoodsaak dat die polisie vinniger met motors moes kon rondbeweeg om op die hoogte van plofbare situasies te bly. Wanneer nodig, kon die Hippos en ander versterkings dan ingeroep word.

Charles se groep is onder maj. (later brig.) Daantjie van Wyk ingedeel en is hoofsaaklik met 4.1 Chevrolets toegerus. Hulle het daarna algemeen as die “4.1 Squad” bekend gestaan en het gou ’n reputasie opgebou. Volgens Charles was die media veral krities oor hul werkwyse.

“Die pers het allerlei onwaarhede aan ons groep toegedig,” sê Charles. “Daar is beweer dat ons op groot afstande sonder rede wild op mense sou gevuur het. Daar was nooit sprake van ’n vrypas om op plunderaars te skiet nie. Inteendeel, die bevel om lewensverlies te vermy of, as dit nie anders kon nie, tot die minimum te beperk is altyd herhaal.

“Dis moeilik om te verduidelik tot watter uiterstes die opstokers gegaan het om ons uit te tart. Dan het ons steeds teruggehou. Dit was egter nie altyd moontlik nie. Die situasie het verander wanneer lewens en eiendom in gevaar gestel is. Daar was gevolglik baie onvermydelike skietvoorvalle.”

Charles herhaal ook die bewering dat verslaggewers soms die onluste aangewakker het.

“Telkens wanneer ons ’n situasie onder beheer gekry het en die gemoedere van die oproeriges gekalmeer is, het die verskyning van ’n persfotograaf op die toneel net weer die skare met uittarting en koggeling aan die gang gekry. Ek het gesien dat daar nie perke aan massahisterie is nie. As die skare aangehits is, het alle sin vir rede verdwyn.”

Soweto is groot en dit het soms gebeur dat die polisievoertuie van 4.1 Squad mekaar verloor het. Wanneer ’n onbeskermde voertuig onverwags op ’n oproerige skare afgekom het, moes daar vinnig ’n plan gemaak word om weg te kom. Charles en ’n kollega het op ’n dag in so ’n situasie beland toe hulle om ’n draai kom en in ’n groep betogers vasry.

“Alles het so vinnig gebeur. Toe die oproeriges sien ons is alleen, het hulle vinnig nader beweeg. Ek het gedink dis klaarpraat met ons. Toe reën die bakstene om ons, maar ons voertuig is wonderbaarlik nie getref nie. Sou die aggressiewe skare ons in die hande kry, het ’n wrede dood op ons gewag.

“Ek het so gou moontlik die Chev in trurat gesit en agteruit beweeg, maar moes weer vorentoe om terug te kom in die straat waarlangs ons gekom het, om weg te jaag. Twee vroue het voor die groep uit na ons aangehardloop gekom.

“Al twee het iets in hul hande vasgehou. Die eerste wat by ’n mens opkom, is dat hulle petrolbomme het waarteen die Chev nie bestand is nie. My kollega was met ’n haelgeweer gewapen en ek het vir hom geskreeu om te skiet. Haelgeweerskote sprei vinnig oop, wat groot wonde op ’n kort afstand veroorsaak. Die eerste vrou se wit T-hemp het onmiddellik rooi geword waar die donshael haar getref het. Die kol het so groot soos twee vuiste gelyk.

“’n Tweede skoot het die vrou getref wat langs haar was en steeds vorentoe gestorm het. Sy het ook grond toe neergesak, voordat die rooi bloedkol sigbaar was. Ons het weggejaag.”

Dié voorval het ’n geweldige impak op Charles en sy kollega gehad. Sy kollega het erg emosioneel geword en aan die kerm geraak oor die twee vroue wat hy geskiet het, hoe hy dit nie wou gehad het nie.

“Ek kon hom nie kalmeer nie en sy aanhoudende gekerm het my ook baie ontstel – tot op ’n punt waar ek dit nie meer kon uithou nie. Ek het hom ernstig aangepraat om beheer oor homself te kry.”

Toe hulle ’n ruk later met versterkings terugkeer, was die vroue en die oproeriges nie meer daar nie. Hulle kon nie vasstel wat van die vroue geword het nie.

“Ons sal nooit weet wat van hulle geword het nie.”

Hierdie kollega van Charles het toenemend afgestomp geraak hoe langer die onluste aangehou het. In ’n stadium was daar ’n optog na die nywerheidsgebied naby Orlando waar sy vrou gewerk het en hy en Charles was deel van die groep polisiemanne wat dié dag daar diens gedoen het. Volgens Charles is daar toe ook op betogers geskiet, maar sy kollega was teen daardie tyd apaties oor sterftes onder die betogers.

Vasgepen deur eie vuur

Eendag is die 4.1 Squad na ’n watertoring in Orlando uitgeroep omdat oproeriges dit probeer beskadig het. Toe die polisie daar kom, was van die oproeriges reeds besig om met die ystertrappe van die watertoring na bo te klim. Daantjie van Wyk het lede van 4.1 Squad ’n hele ent van die watertoring ontplooi en hulle te voet in formasie deur ’n oop stuk veld daarheen laat beweeg. Hulle moes deur ’n laagte beweeg waar hulle nie van die beginpunt sigbaar sou wees nie. Op daardie oomblik het ’n groep van die Onluste-eenheid ook opgedaag, maar hulle was onbewus daarvan dat 4.1 Squad voor hulle in die laagte was.

Die lede van die Onluste-eenheid begin op die watertoring vuur, al was hulle buite trefafstand. Hulle sou die oproermakers dus hoogstens kon skrikmaak, maar hul skote was wel lewensgevaarlik vir die lede van 4.1 Squad. Etlike skote het naby Charles en sy makkers in die grond vasgeslaan. Hulle moes onmiddellik platval. Die situasie was te gevaarlik en hulle moes noodgedwonge na die veiligheid van die beboude gebied aan die kant van die oop veld hardloop.

Intussen het die oproeriges almal gevlug. Van Wyk was buite homself oor die Onluste-eenheid se ondeurdagte optrede en hy het hul bevelvoerder ’n behoorlike skrobbering gegee.

Met ‘sirkusklere’ in die hof

Die voortdurende blootstelling aan gevaar en die onnatuurlike eise wat onlustebeheer aan die polisiemanne gestel het, het ’n groot impak op hul gemoedstoestand gehad. Baie het te veel begin drink. Vir die eerste keer het Dorothy byvoorbeeld vir Charles gesê dat sy besorg is oor sy drinkery.

“Voordat ons afgekry het om huis toe te gaan, het ’n klompie van ons gewoonlik bymekaargekom en ’n paar doppe gemaak. Soms het dit langer aangehou as wat nodig was. Daar was nie ander afleiding nie. As ek terugdink, was dit ’n soort ontlading saam met jou makkers wat dieselfde swaarkry as jy deurgemaak het.

“Maar Dorothy was reg. Ons het dikwels te ver gegaan en ek het dan aangeklam by die huis aangekom. My redding was dat ek besef het sy is reg. Sy het nog altyd ’n sterk invloed op my gehad.”

Die oormatige drinkery het sommige polisiemanne, wat reeds kort van draad was weens hul werksomstandighede, nog aggressiewer gemaak. Charles was een van hulle.

By ’n braai een middag agter die Orlando-polisiekantoor het ’n polisieman Charles valslik daarvan beskuldig dat hy neerhalend teenoor hom was. Charles se geduld is daardie dag reeds tot die uiterste beproef. Die man was knaend met sy beskuldigings en toe Charles dit nie meer kon verduur nie, het hy hom aan die keel beetgekry en begin wurg. Ander polisiemanne moes hom van die man aftrek.

By ’n ander geleentheid het Charles een oggend ’n boodskap gekry om dadelik na die Roodepoortse landdroshof te gaan om in ’n saak te getuig. Hy het nie ’n getuiedagvaarding ontvang nie en het dus nie geweet waaroor die saak gaan nie. By die hof is hy dadelik ingeroep om te getuig in wat toe blyk ’n onbenullige saak te gewees het.

Nog voordat landdros Hennie Oosthuizen hom kon vra om dit te doen, het hy homself ingesweer en die aanklaer begin aankyk om in die saak gelei te word. Maar voordat hulle verder kon gaan, wou Oosthuizen taamlik driftig by hom weet wie hom die reg gee om “in sirkusklere in my hof te verskyn”.

Charles was heeltemal uit die veld geslaan. Hy was geklee in die kamoefleerdrag wat standaarduitrusting was vir polisiemanne wat in Soweto diens gedoen het. Charles se verbasing het in ’n verleentheid verander toe lede van die publiek hardop in die hof begin lag het. Hy wou nog verduidelik, maar Oosthuizen het hom nie kans gegee nie. Dit was een te veel vir Charles, wat hom beleefd maar ferm verskoon en by die hof uitgestap het. Buite die hof het dit in hom gekook.

Toe die hof kort daarna verdaag, is Charles na die landdros se kantoor. Oosthuizen moes geweet het daar kom moeilikheid toe hy sien ’n briesende Charles is op pad. Hy het nog probeer om sy kantoordeur toe te maak, maar Charles het dit oopgedruk. Charles het verskeie harde woorde laat val en die landdros se reaksie daarop was net olie op die vuur. Charles het ’n wilde hou na Oosthuizen gemik en hom skrams getref, waarna hy die landdros om sy lessenaar gejaag het. Die rumoer het van die hofpersoneel se aandag getrek. Charles het tot sy sinne gekom en die kantoor verlaat.

Hy is egter deur strafregtelike vervolging – minstens vir aanranding – in die gesig gestaar. Gelukkig was die polisie se streeksbevel beskermend teenoor Charles. Daar was ook groot ontevredenheid in polisiegeledere oor wat as erge minagting van die polisiemag beskou is en die geval is op ’n hoë vlak gehanteer. Die vure is geblus toe Oosthuizen op kort kennisgewing na die Johannesburgse landdroshof oorgeplaas is.

Jare later het Charles en die landdros vrede gemaak toe Oosthuizen as streeklanddros op Westonaria en Randfontein begin optree het. Hy het aan Charles verduidelik dat die voorval eintlik ’n positiewe gevolg gehad het omdat hy toe in Johannesburg gouer ’n geleentheid gekry het om die streekhoftoets af te lê en bevordering te kry.

Die storie oor die polisieman wat die landdros ’n drag slae wou gee, was wel lank daarna nog ’n besprekingspunt in die Roodepoortse landdroshof. Toe ek ’n aantal jare later as ’n staatsaanklaer daar diens gedoen het, is die storie nog met smaak oorvertel.

Tydelik van gebaande weë af

Die onluste het tot in November 1976 voortgeduur en daarna sporadies tot Februarie 1977 uitgebreek. Charles was tot aan die einde van 1977 in Soweto en was betrokke by ’n verskeidenheid ondersoeke rakende die onluste.

Ná die opstande is polisiewerk toenemend verpolitiseer: “Polisiewerk was daarna in baie opsigte nooit weer dieselfde nie,” sê Charles.

“Voor die onluste het ek Soweto baie goed geken. Voorheen kon ek vrylik rondbeweeg en ek het my werk daar geniet. Ek het omtrent elke onwettige sjebeen se eienaar geken en ek kon sonder vrees rondbeweeg. Nou het die plek vir my vreemd geraak.

“Dit het in werklikheid vir my aaklig geword. Oral was uitgebrande wrakke en ander tekens wat ’n mens die heeltyd aan die onluste herinner het. Nou het ons die hele tyd in ’n vyandige omgewing gewerk. Die Soweto-onluste van 1976 was van die aakligste tye in my lewe. Ek het net onaangename herinneringe daaraan.”

Charles is intussen deur senior offisiere van die veiligheidspolisie raakgesien en is teen sy sin na die veiligheidstak in Soweto oorgeplaas. Hy het nie van die werkwyse en kultuur binne die veiligheidstak gehou nie. Hy was ook nie besig genoeg nie en het al die aksie as moord-en-roofspeurder gemis.

Bitter ongelukkig ná net drie weke by die veiligheidstak het hy sy lot by brig. Carel Coetzee gaan bekla. Hy was simpatiek, maar het Charles tot dié se verdere misnoeë saamgeneem na die Voertuigtak by John Vorsterplein in Johannesburg waar Coetzee die nuwe bevelvoerder was.

Charles is kort daarna na dié tak oorgeplaas. Ook hier was hy nie gelukkig nie. Om motordiewe te vang was vir hom soos om opsporingswerk te doen. Charles was meer betrokke by sake wat die Wes-Randse Moord-en-rooftak ondersoek het as wat hy by die Voertuigtak doenig was. As sy voormalige bevelvoerder, kapt. Jaap le Roux, op sy nommer gedruk het, was hy daar. Hy het sy lot herhaaldelik by sy hoof gaan bekla en gevra dat hy terugverplaas word na sy ou eenheid.

Tog het hy ook by sy nuwe eenheid sukses behaal.

Uit koerantuitknipsels blyk dit dat hy gehelp het om ’n aantal groot motordiefstal-sindikate aan die kaak te stel. In een saak is ’n aantal voertuie gesteel, maar daarna aan die brand gesteek. Dit het nie sin gemaak nie. Uiteindelik het Charles ’n groep van nege skoolseuns van die Afrikaanse spogskool Helpmekaar in Johannesburg vasgetrek. Hulle het van die voertuie wat hulle gesteel het langs die snelweg aan die brand gesteek en vir hul vermaak dan op ’n afstand lê en kyk hoe die brandweer dit probeer blus. Almal het langtermyn-gevangenisstraf van 28 jaar gekry wat in geheel opgeskort is, terwyl die ouers onderneem het om vir die skade te vergoed.

Dit was nie die soort sake wat Charles wou ondersoek nie. Met Le Roux wat ook aanhoudend druk toegepas het dat Charles na sy bevel terugkeer, is daar uiteindelik toestemming gegee.

Op sy eerste dag terug by die Wes-Randse Moord-en-rooftak het die waarnemende streeksbevelvoerder Charles gemaan om dit kalm te vat. Skaars twee uur later was hy by ’n ernstige skietvoorval in Hindastraat op Roodepoort betrokke. Hy het ’n inbreker doodgeskiet.

Hy en ’n kollega het ’n swart man langs die pad opgemerk wat met ’n groot tas aangesukkel het en Charles het besluit om hom te deursoek. Sy kollega het hom nie veel aan die deursoeking gesteur nie en het in die voertuig bly sit – totdat hy skielik ’n skoot aan die agterkant van die motor hoor klap het. Volgens Charles het die fris geboude verdagte hom heftig teen die deursoeking verset en Charles herhaaldelik met die vuis teen die kop geslaan. In hul struweling is die inbreker doodgeskiet. Waardevolle artikels is gevind in die tas wat die oorledene daardie oggend uit ’n nabygeleë huis gesteel het.

In die geregtelike doodsondersoek is Charles van alle blaam onthef en is gevind dat hy hom binne perke verweer het.