8

Ekstreme gevaar, ekstreme spanning

 
 

 

“In die begin was ons jonk,” sê Charles. “Ons het gespring om die gevaarlike werk te doen. As dit nie na ons toe gekom het nie, het ons dit gaan soek. En ons het dit geniet. Die skote het jou ore laat suis en jy het ’n ander mens geword. Jy het iets beteken.”

In sy loopbaan as polisieman is Charles telkens aan situasies blootgestel waarin sy lewe bedreig is. Hy het egter elke keer en soms wonderbaarlik die dood of ernstige beserings vrygespring. Dit het van sy kollegas laat opmerk dat “die engele Charles Miller beskerm”. Talle oudkollegas beskryf hom as onverskrokke. Hy was ’n kameraad wat jy altyd by jou wou hê – ’n staatmaker wat dit onnodig gemaak het om heeltyd oor jou skouer te kyk. Hy was die soort polisieman met wie jy spreekwoordelik oorlog toe sou gaan.

Maar Charles het sy diepe vrese met my gedeel, ook hoe bang hy in gevaarsituasies was, veral later in sy loopbaan. Dat hy daardie vrese destyds nie met ander gedeel het nie, dat hy te alle tye die front moes voorhou dat hy opgewasse was vir ’n taak, ongeag hoe gevaarlik dit was, dat dit algaande moeiliker geword het om krisissituasies te hanteer namate die tol van sy loopbaan se onredelike eise hul wondmerke op hom gelaat het.

Wat het Charles en sy kollegas gemotiveer om dag ná dag lewensgevaar te trotseer?

Die antwoord lê waarskynlik daarin dat dié soort spanning soms soos ’n dwelm kan wees. Soos Charles self sê: “Die gevoel van opwinding in jou het die vrees vir gevaar oorkom. In daardie dae het ons nie geweet wat die woord ‘stres’ beteken nie. Ons het nie aan die moontlike gevolge van die gevaar gedink nie. Die vrese en nagmerries het eers jare later hul verskyning by my gemaak.”

Volgens voormalige lede van hoërisiko-eenhede in die polisie het dit vir hulle gevoel asof hulle verslaaf raak aan die adrenalien-gelaaide opwinding in gevaarsituasies en kon hulle in geen ander werksomgewing aanpas nadat hulle dit eers beleef het nie. Daar is ook die alomteenwoordige macho-element. Die gemeenskap kyk immers op na iemand wat gevaar trotseer en heldhaftig is. En soos talle ander het Charles aanvanklik gefloreer op die aandag en erkenning wat sy hoërisiko-polisiewerk meegebring het. Dit sou egter teen ’n prys kom.

Die gemiddelde mens kan nie herhaaldelik en oor ’n lang tydperk ander mense se lewe neem sonder dat dit ’n negatiewe impak op sy psige het nie. Volgens prof. Christiaan Bezuidenhout van die departement maatskaplike werk en kriminologie aan die Universiteit van Pretoria kan sulke mense gedragsversteurings soos psigopatie ontwikkel. Die sielkundige gevolge sal in die meeste gevalle boonop vererger as daar geen berading vir so iemand is nie. In Charles se tyd as polisieman was berading nie juis ’n opsie nie, en dis beslis nie deur die polisieowerhede moontlik gemaak of aangemoedig nie. Boonop was hy onder die waan dat gevaar en doodmaak nie ’n impak op hom het nie.

“Ek kan nie onthou dat die doodmaak van misdadigers ons in my jonger dae gepla het nie,” sê hy. “As dit het, sou ons afgeskakel het en nie daaraan gedink het nie. Ek dink dit was eerder ’n geval dat ons geglo het dis ons plig en dat ons reg opgetree het.”

“Ek het soms herhaaldelik my hande gewas”

Polisiëring word wêreldwyd as ’n stresvolle en veeleisende beroep beskou. In die Suid-Afrikaanse konteks word dit vererger deur ’n geweldskultuur en dikwels ontoereikende werksomstandighede vir polisielede, soos ’n tekort aan noodsaaklike toerusting en mannekrag.

Voormalige lede van die Brixtonse Moord-en-rooftak het my vertel dat lede van Brittanje se Scotland Yard en Amerika se FBI dikwels, wanneer hulle Suid-Afrika besoek het, hul bewondering uitgespreek het oor die suksesse van die Suid-Afrikaanse speurders in die ou bedeling onder moeilike omstandighede.

In die ou bedeling was die salaris van ’n gewone polisiebeampte boonop beswaarlik genoeg om ’n gesin aan die gang te hou.

Die omstandighede . . .

Een: Die Moord-en-rooflede het van die grootste beroepspanning ervaar waaraan ’n polisiebeampte onderwerp kan word. Min ander beroepe stel sulke eise. Die voortdurende lewensgevaarlike konfrontasies met misdadigers bring soortgelyke spanning mee as wat ’n soldaat op die slagveld ervaar. Sommige lede was boonop vir onnatuurlik lang tye daaraan blootgestel – in Charles se geval vir dertig jaar.

“Om in die bek van ’n pistool vas te kyk wat hier teen jou gesig gedruk word, maak jou onmiddellik ouer. Jou mond word kurkdroog en jou lyf lam. Sekondes voel soos ’n ewigheid. Alles gebeur soos ’n stadige-spoed-rolprent. Daardie pistool se loop lyk so groot soos ’n kanonloop, terwyl ’n gevoel van magtelose vrees oor jou spoel.”

Baie van die ouer garde speurders moes ook aan die begin van die Grensoorlog in die destydse Suidwes-Afrika en Rhodesië diens doen. Dit was eintlik net die weermag se taak. Sedert die Soweto-onluste van 1976 moes polisielede ook stedelike onrus bekamp, wat enorme addisionele eise aan hulle gestel het.

Twee: Dan was daar ook die gereelde blootstelling aan die ergste denkbare grutonele, ver verwyder van die glans wat dikwels in speurverhale en rolprente voorgehou word. Dis uiters morbiede werk.

“Moordtonele is altyd verskriklik,” sê Charles. “Niks het ons daarop voorberei nie. Ons moes afskakel en voorgee dat ons daaraan gewoond is. Jou ware gevoelens moes jy maar vir jouself hou. Maar as ek terugdink, kon ’n mens nooit werklik aan die tonele van onskuldige mense se verminkte lyke gewoond raak nie, veral nie as daardie slagoffers boonop aan marteling blootgestel was nie.

“Die doodsreuk, die bloedbesmeerde mure sal my altyd bybly. Ek hoor nog die onbedaarlike smartkrete of diepe geween van geskokte familielede op moordtonele. Dit het ’n mens magteloos laat voel. Dit was onmoontlik om hulle te vertroos in daardie omstandighede en nog klinies met die ondersoekwerk voort te gaan.

“Ek kan nie die onverstaanbare barbaarsheid waaraan die slagoffers onderwerp is in woorde uitdruk nie. ’n Mens moes maar altyd gereed wees vir nuwe gruvondse, vir nog lyke. Nie een moordtoneel is ooit dieselfde as ’n ander nie. Dis asof die ondraaglike reuk van verrotte lyke vir dae aan jou bly vasklou. Die dood het nooit enige waardigheid in daardie omstandighede nie. Terug by die kantoor en huis het ek soms herhaaldelik my hande gewas . . .

“Vermoorde kinders se lyke is die ergste. ’n Mens dink dit kon jou kind gewees het.”

Polisiemanne is uit die aard van hul werk aan vreemde situasies blootgestel wat ander soort swaarkry kan meebring. As jong polisieman was Charles se kollega, Nick van der Merwe, byvoorbeeld een aand as konstabel in die Roodepoortse polisiekantoor aan diens. Die lykshuis was agter die polisiekantoor. Wanneer die staatslykswa met ’n lyk opgedaag het moes die jonger polisiemanne gaan help om die lyk na die yskaste te neem.

Daardie aand het Van der Merwe gaan help. Die seil oor die liggaam het oopgeval op pad na die yskas. Hy moes sien dat dit sy ouer broer was wat pas in ’n motorongeluk gesterf het . . .

Drie: Dit word van ’n speurder verwag om ’n gesofistikeerde ondersoeker met ’n soort sesde sintuig te wees wat die raaiselagtigste misdaad suksesvol kan oplos. Daar is uiteraard van polisieleierskap en die gemeenskap enorme druk op speurders om misdadigers vas te trek. In die proses is talle Moord-en-roofspeurders noodgedwonge in die skemerwêreld van beriggewers ingetrek en twyfelagtige ondersoekmetodes was dikwels aan die orde van die dag.

Hoewel die meeste oudspeurders toegee dat ondersoekbeamptes wat behoorlik beheer oor ’n ondersoek neem telkens sukses behaal, beklemtoon Charles altyd die belang van spanwerk.

“Dit neem gewoonlik ’n hele span polisiemanne om ’n ernstige misdryf op te los en suksesvol deur die hof te voer – die eerste uniformmanne op die toneel, die vingerafdruk-, forensiese en ballistiese mense, die patoloë en die beriggewers is almal saam met die speurders ’n onontbeerlike deel van die span.

“Dit sou onregverdig wees as een speurder alleen die eer vir die suksesvolle oplossing van ’n misdryf neem. By ons was dit nie noodwendig altyd die ondersoekbeampte wat ’n deurbraak bewerkstellig het nie. Omstandighede het dikwels gemaak dat ons aan mekaar se sake gewerk het.”

Vier: Die eise van die howe het ’n verdere dimensie aan ’n speurder se werk verleen. Vir getuienis in die hof moet ’n speurder baie goed voorberei en hy moet sy storie ken om soms dae aaneen onder vernuftige kruisverhoor geneem te word deur van die land se beste advokate. Almal wat dit al ondergaan het, weet dat dit bitter onaangenaam kan wees – selfs vir ’n gesoute speurder. Talle oudspeurders het snaakse stories te vertel oor hoe naïef en onbeholpe hulle met hul eerste hofverskyning was, maar ook hoe vinnig hulle moes leer.

Onder vier oë in die hof

Soms het hulle onnodige kritiek van die regbank gekry, soos die keer toe Charles nie ’n Afrikaanse woord kon onthou nie en daaroor deur ’n regter uitgetrap is (of daardie keer toe hy “sirkusklere” in die hof aangehad het). Hy het getuig in die saak oor ’n bejaarde vrou wat in April 1985 in haar huis naby die Florida-meer wreed deur twee jong wit mans verkrag is. Hulle het haar eers genadeloos met ’n stuk tuinslang wat met sand gevul was, geslaan. Al haar toon- en vingernaels was potblou soos sy haar op die sitkamervloer en in die gang teëgesit het toe haar aanvallers haar na ’n slaapkamer gesleep het. Voor hulle weg is, het hulle haar in ’n pakkamer toegesluit, waar iemand kort daarna haar gedempte hulpkrete gehoor het.

Charles en sy kollegas was gou op die toneel. Toe hy uitvind dat die aanvallers te voet padgegee het, het sy instink vir hom gesê hulle kan nie te ver wees nie. Hy het versterkings ingeroep wat die omgewing gefynkam het. Die twee verkragters is later dieselfde middag daar naby in die stadion van die Roodepoort-rugbyklub vasgetrek waar hulle gesit en dagga rook het. Charles en sy manne is van oral lof toegeswaai vir hul flinke optrede.

Maar gedurende sy getuienis in die hof kon Charles vir ’n oomblik nie op die Afrikaanse woord “tuinslang” kom nie en het hy die Engelse woord gebruik. Die streeklanddros het hom behoorlik die kop gewas en hom ’n hele tyd lank ’n les in Afrikaanse woordeskat gegee. Dit was vir Charles ’n groot verleentheid.

Hoe sou regslui soos landdroste optree in die getuiebank as hulle in die polisieman se skoene gestaan het?

Charles vertel van ’n streekhoflanddros wat in ’n huisbraaksaak moes getuig waarin Charles ’n ondersoekbeampte was. Tot almal se verbasing was die landdros ’n swak getuie terwyl hy hoofsaaklik oor eienaarskap en gedwonge toegang tot sy perseel moes getuig. Hy het gestotter en betreklik maklike vrae met ’n onnodige ompad en tot groot frustrasie van die aanklaer beantwoord.

Ondersoekbeamptes is in nuuswaardige sake ook aan ’n dikwels genadelose pers uitgelewer. Negatiewe publisiteit kon ’n vernietigende uitwerking op ’n onervare ondersoekbeampte hê. Uit die beriggewing in die vroeë 1980’s in spesifiek die Afrikaanse koerante blyk dit egter dat Charles as ’t ware sterstatus onder verslaggewers geniet het.

’n Moord-en-roofspeurder moes al hierdie en nóg beproewinge deurstaan om ’n goeie speurder te word. Min kon dit enduit volhou . . .

Op heter daad

Geluk kan natuurlik ’n rol speel, maar dit verg veel meer om ’n misdadiger op heter daad te betrap. Van Charles se oudkollegas het my meegedeel dat hy nooit van ’n misdaadtoneel af op dieselfde roete teruggery het nie. Hy was altyd op die uitkyk na iemand of iets verdags.

’n Polisieman moet bereid wees om, ongeag die omstandighede, misdaad te gaan sóék,” sê Charles. Die gevolg was dat hy buitengewoon gereeld op tonele beland het waar die misdryf nog aan die gang was. Die polisiemanne het onder mekaar vertel: “Charles trap op misdaad.”

Só het die Roodepoortse speurders in 1982 met die hande in die hare gesit ná ’n vlaag motordiefstalle by die Princess- en Witpoortjie-spoorwegstasies. Talle Wes-Randse pendelaars het hul motors destyds op die kleiner stasies se parkeerterreine gelaat, wat meestal nie veel meer as ’n geskraapte stuk veld met geen sekuriteit was nie. Daar was baie druk op AO Mooi Doep du Plessis om die skuldiges aan te keer. (Hy was een van die speurders wat jare gelede met Charles die spot gedryf het toe dié as jong seun by die speurderskantore op Vereeniging vir werk gaan aanklop het.) Uit radeloosheid het Du Plessis hom na Charles gewend.

Twee dae voor Kersdag 1982 was Charles vroegmiddag alleen in Hoofrifweg van ’n ondersoek op pad terug na sy kantoor. Dorothy het hom gevra om vroeg klaar te maak sodat hy haar met Kersinkopies kon help. Hy het op die ingewing besluit om eers ’n draai by die parkeerterrein van die Princess-spoorwegstasie te maak. Hy het gesien hoe ’n swart man by die regtervoordeur van ’n voertuig staan en peuter. Hy het hom ’n tyd lank dopgehou omdat hy gedink het hy wil die motorradio steel, maar het besef die man is eintlik agter die motor self aan. Toe hy nader beweeg en op die man skree om stil te staan het dié die bosse langs die parkeerterrein ingehardloop.

Charles het ’n waarskuwingskoot geskiet. ’n Tweede skoot het die vermeende motordief noodlottig gewond. Vir ’n aantal jare daarna was daar nie weer motordiefstalle by die betrokke spoorwegstasies nie.

In die ou dae

Toe dit in 1913 gestig is, was die Suid-Afrikaanse Polisie ’n semi-militêre instelling met ’n gesagstruktuur wat op Britse lees geskoei was. Algaande het die Britse invloed verdwyn en het dit ’n meer eie Suid-Afrikaanse karakter gekry. Die semi-militêre inslag het egter grotendeels gebly en gesorg vir ’n kultuur van dissipline en toegewydheid. Daar is nog vir offisiere gestrek en gesalueer en bevele moes sonder teenspraak uitgevoer word.

Die voordele van so ’n gedissiplineerde mag is vanselfsprekend, maar dit het ook nadele aangesien outoritêre en argaïese elemente onder sulke omstandighede floreer. Die polisie was erg burokraties met ’n magdom reëls wat in detail voorgeskryf het hoe werk gedoen moes word. Regdeur sy loopbaan het Charles ’n hekel gehad aan die hoeveelheid papierwerk wat vir ’n eenvoudige taak voltooi moes word.

“Die tyd wat hierdie werk in beslag geneem het, het verhinder dat belangrike werk na behore voltooi kon word. Die prioriteite was verkeerd.”

Hy het egter sover moontlik gedoen wat nodig was en sou hom nie daardeur laat onderkry nie. Toe hy in 1978 aan die Voertuigtak in Johannesburg verbonde was, moes hy ’n dossier na die Voertuigtak in Kaapstad pos. Om een of ander rede is die dossier twee keer verkeerdelik teruggestuur na John Vorsterplein. In daardie dae was dit ongehoord dat ’n dossier by een van die gespesialiseerde eenhede wegraak.

Toe die bevelvoerder Charles op ’n oggendparade oor die oponthoud aanspreek en daarvan beskuldig dat speurders wat van Moord-en-roof kom net veldwerk kan doen, was dit een te veel vir hom. Dieselfde oggend het hy eenvoudig vir twee dae verdwyn . . .

Hy is sonder toestemming na die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria waar hy hom op ’n militêre vragvliegtuig na Kaapstad ingewurm het. In Kaapstad het hy die dossier in die hande van die betrokke offisier geplaas en die volgende dag ’n ontvangsbewys en ’n bottel wyn op sy bevelvoerder se lessenaar neergesit.

In die polisie is daar ook nie altyd besef dat tradisie en vernuwing nie in stryd met mekaar hoef te wees nie. Daar was soveel reëls in die Staande Orders, wat informeel as “doringdraadregulasies” bekend gestaan het, dat bykans alle polisielede een of ander tyd in die moeilikheid sou beland omdat die orders nie presies uitgevoer is nie. In sulke gevalle is ’n polisieman departementeel verhoor en is ’n skuldigbevinding op sy persoonlike lêer gehou, wat bevordering kon beïnvloed. In polisietaal was jy dan ge-peg.

Daar is selfs in ’n polisiebeampte se private lewe ingemeng. ’n Lid moes byvoorbeeld toestemming by ’n offisier kry voordat hy kon trou. ’n Vrou is aan ’n onderhoud deur offisiere onderwerp voordat haar man tot offisier bevorder kon word. Soms is ’n polisiebeampte ook skielik verplaas as dit aan die lig gekom het dat huweliksprobleme byvoorbeeld weens ’n derde party ontstaan het. In polisietaal is dan gesê dat daardie beampte skielik “met die nagtrein gery het”.

“Asof só ’n belaglike beleid van inmenging in persoonlike aangeleenthede, met die ontsaglike ontwrigting wat dit meegebring het, ’n kitsoplossing vir huweliksprobleme was,” sê Charles met ’n snork.

Die speurders se ontspanning was grootliks beperk tot sosialisering met mekaar, gewoonlik in polisiekantiens waar drank goedkoper as elders was. Bosbraaie is ook van tyd tot tyd deur die speurders gehou en was ’n gewilde manier om te ontlaai vir polisielede wat nie so ingeperk was soos dié in die uniformafdelings nie. Sommige bosbraaie was nie vir sissies nie.

In die tagtiger- en negentigerjare is ek as prokureur na sulke bosbraaie uitgenooi nadat ek van die polisiemanne in die laer howe in opdrag van die staatsprokureur verdedig het. Dit het soms lekker rof gegaan by die braaie, wat meestal by die munisipale braaiplek naby die Flora-kliniek in Constantiakloof, Roodepoort, gehou is. Dit verbaas my steeds dat niemand ooit gekla het oor die wilde skyfskietery op blikke en ander voorwerpe as die polisiekoffie (brandewyn en Coke) eers ingeskop het nie. Die mense om die kloof in Constantiakloof oorkant die kliniek moes telkens gedink het oorlog het in hul buurt uitgebreek.

Tydens ’n ondersoek in die Kaap het Charles en sy polisiematers by ’n bosbraai op ’n afgeleë plek in die natuurreservaat by Kaappunt amper ’n lelike stel met ’n ander soort skelm afgetrap. Nadat hulle vuur gemaak het, was hul aandag op hul Kaapse kollega wat voor hulle in die see perlemoen uitgehaal het. Dit was ’n onplesierige dag met die wind wat sterk gewaai het en hulle het skuiling gevind agter ’n rots – en nie veel aandag aan die polisiemotor agter hulle gegee nie.

Charles vertel hoe AO Jakes van Niekerk wou gaan water afslaan toe hy ’n vreeslike gil gee, wat “ons ander amper in ons worsbroodjies en polisiekoffie laat stik het”. Die bagasiebak van hul voertuig, waar hulle ’n Uzi-handkarabyn gelos het, was oop. ’n Besondere groot bobbejaanmannetjie het die Uzi in die hande gekry. Met die geskreeu het hy agter ’n doringbos verdwyn.

“Hy het nogal die semi-outomatiese wapen vasgehou asof hy opleiding daarin gehad het en enige oomblik op ons gaan lostrek. Ons het hom probeer omsingel, maar hy was te rats. Dit het gelyk of ons hom nooit uit die doringbos gaan kry nie. Ek het ’n groot klip gevat en was gelukkig genoeg om hom op die boud te tref. Met ’n geskree het hy die Uzi gelos en laat spaander.

“Ek weet nie wat enigeen van ons verduidelikings sou gedink het as die bobbejaan met die Uzi weggekom het nie.”