14

Wanneer misdaad gewoonte word

 
 

 

In die 1970’s en 1980’s was daar geen plaaslike gespesialiseerde polisie-eenheid wat uitsluitlik op reeksverkragters en reeksmoordenaars gefokus het nie. Die begrip “reeksverkragter” en “reeksmoordenaar” is in werklikheid toe nog nie algemeen gebruik nie. In daardie tyd is sulke sake deur lede van die Moord-en-roofeenheid en ander speurtakke ondersoek. Daar is ook nie van kundiges gebruik gemaak om ’n profiel van ’n verdagte reeksverkragter of -moordenaar saam te stel nie. Die kundigheid daarvoor het eers later gevolg.

Destyds is alle verkragtingsake uitsluitlik deur manlike polisiebeamptes ondersoek. Nadat Petro Heyneke in 1987 die eerste vrou was wat by die Wes-Randse Moord-en-rooftak aangesluit het, was sy betrokke by die stigting van die eerste beradingskliniek, wat met die hulp van maatskaplike dienste op die been gebring is. Só het die idee van berading vir verkragtingslagoffers gestalte begin kry.

Charles is oortuig dat seksoortreders onrehabiliteerbaar is. “As daar ’n behoorlike kontrole oor erkende seksoortreders uitgeoefen was nadat hulle uit die gevangenis vrygelaat is, sou verdere tragedies soos in die geval van die verkragter Johannes Brits verhoed gewees het.”

Om sagte prooi te lok

Johannes Petrus Brits het na alle waarskynlikheid heelwat meer as tien vroue oor ’n tydperk van drie dekades verkrag en kan dus as ’n reeksverkragter bestempel word. Die werklike aantal sal seker altyd onbekend bly. Uiteindelik sou verkragting nie vir hom genoeg wees nie. Sy laaste slagoffer het hy verkrag én vermoor.

Brits se aanslag was om jong vroue en meisies om te praat om saam met hom te gaan sodat hy vir hulle modelwerk kan reël. Wanneer hulle in sy mag was, het hy hulle met ’n vuurwapen aangehou en verkrag. Hy is ook verbind met seksuele molestering van kinders. Reeksverkragters het soms ’n besondere charisma, wat hulle in staat stel om onskuldiges se vertroue (minstens aanvanklik) te wen. Hulle het die vermoë om betroubaar en geloofwaardig voor te kom.

In 1970 word lyfstraf en ’n opgeskorte vonnis vir onsedelike aanranding aan Brits op 20-jarige ouderdom opgelê. Daarna is hy herhaaldelik vir molestering en verkragting tronk toe gestuur.

In 1974 het hy sy niksvermoedende slagoffers op stil weeksdae by bushaltes in Roodepoort genader. Met sy sterk oorredingsvermoë oortuig hy hulle om saam met hom te gaan. Daarna het hy met hulle na die Roodepoortse munisipale begraafplaas noord van Dobsonville gery waar hy hulle verkrag en agtergelaat het.

Al die vroue was te getraumatiseer om die registrasienommer van sy motor te onthou. Sy slagoffers kon nietemin ’n goeie beskrywing van sy klein swart Escort gee, met spesifieke kenmerke soos ’n bandspeler onder die bestuurder se sitplek, en onthou dat hy die musiek knaend harder of sagter gestel het.

Dié inligting was deurslaggewend vir Charles.

Opdrag is gegee dat alle motors met soortgelyke kenmerke aan hom gerapporteer moet word. Inligting is ontvang dat ’n Escort met dieselfde beskrywing gereeld in die omgewing van die Johannesburgse stasie gesien word. Charles en AO (later brig.) Leon van Coller het besluit om te gaan ondersoek instel.

Toe hulle naby die stasie langs ’n swart Escort stilhou waaruit harde musiek blêr, het Charles geweet dit moet die verdagte wees. Hulle het die bestuurder beveel om af te trek. Eers wou hy nie gehoor gee nie, maar hy het stilgehou nadat die speurders hom met ’n vuurwapen gedreig het. Só is Brits, die begraafplaasverkragter, gearresteer.

Ongelukkig het nie al sy slagoffers kans gesien om na vore te kom nie en Brits het weggekom met ’n ligte vonnis van sewe jaar tronkstraf. Hy is boonop vroeër uit die gevangenis vrygelaat en het maar net weer met sy afwykende gedrag voortgegaan. In die jare daarna was Brits in en uit die tronk weens seksuele oortredings. Voordat hy in die middel 1990’s vrygelaat is, het hy 13 jaar tronkstraf vir verkragting in die Zonderwater-gevangenis naby Pretoria uitgedien.

Teen middel Junie 1997 was hy reeds weer 18 maande op vrye voete. In daardie jaar alleen het hy toe al vyf vroue verkrag. Sy voorlaaste slagoffer was ’n Skotse student wat hy by Koppies in die Vrystaat verkrag het nadat hy haar by die Rotunda-buskompleks in Johannesburg ’n saamrygeleentheid na Kaapstad aangebied het.

Die aantreklike 17-jarige Elzaan Bruwer, ’n matriekleerling van Vryburg, sou sy laaste slagoffer wees. Brits het Elzaan waarskynlik met mooipraatjies oortuig om saam met hom te gaan toe sy in Pretoria by haar suster gekuier het. Daarna het hy haar soos die ander ontvoer.

Maar dié keer was die uiteinde anders: Later is Elzaan se lyk saam met syne in ’n uitlaatgas-gevulde motor op ’n plaaspad naby Warmbad gevind. Brits het haar vermoedelik bewusteloos geslaan voordat hy hulle albei vergas het.

Plakkers op ’n Vauxhall se agterruit

Die opmerking deur ’n regter dat Jacobus Johannes Andries Erasmus nou nie juis soos Don Juan lyk nie, was om dit baie sagkens te stel. Wanneer na polisiefoto’s van hom op 32-jarige ouderdom gekyk word, staar ’n grillerige, kolossale man die kyker aan. Op die oog af is dit dus onverstaanbaar dat vroue voor só ’n man se mooipraatjies kon swig. Maar soos Brits het Erasmus buitengewone oorredingsvermoë gehad. Dis juis wat hierdie reeksverkragters so gevaarlik maak.

 

Hoofstuk%2014_2.TIF.tif

’n Slagoffer word deur die reeksverkrag­ter Jacobus Erasmus ver­dwerg waar sy hom op ’n uit­kennings­parade uitwys.

 

In Februarie en Maart 1970 het Erasmus minstens vier vroue in die Randfontein-, Krugersdorp- en Roodepoort-omgewing verkrag. Een was pas getroud met ’n polisieman wat in Florida gestasioneer was. Dit het die speurders meer gedetermineerd gemaak om hom vas te trek. Charles meen dat daar moontlik nog swart slagoffers was wat te skaam was om na vore te kom. Erasmus het vroue van enige ras verkrag.

Die patroon wat hy gevolg het, herinner aan Brits s’n en aan dié van ander reeksverkragters. Erasmus het niksvermoedende vroue vroegoggend by bushaltes en ander plekke genader en ’n saamrygeleentheid aangebied. Wanneer hulle eers in die motor was, het hy hulle met ’n vuurwapen gedreig en daarna na ’n afgeleë stuk veld gery waar hy hulle verkrag het. Van sy slagoffers kon ’n goeie beskrywing van sy Vauxhall gee. Die rye plakkers op die agterste ruit, wat hy by verskillende besienswaardighede in die land gekoop het, was veral kenmerkend.

Charles het inligting ontvang van ’n soortgelyke motor met ’n groot man agter die stuur wat stadig en skynbaar doelloos in sekere dele van Randfontein rondry. Dié optrede is tipies van verkragters wat op soek is na hul volgende prooi. Charles het die gebied daarna gereeld gaan patrolleer. Dit was ook nie lank nie toe hy en ’n kollega een oggend aan die einde van Maart ’n Vauxhall met plakkers op die agterruit voor hulle opmerk.

Hoofstuk%2014_1.TIF.tif

Erasmus se Vauxhall.

Erasmus het, vreemd genoeg, dadelik sy samewerking gegee en gebieg. Hulle het die vuurwapen wat hy op sy slagoffers gerig het by hom gevind.

“Dit was asof hy verlig was dat hy gevang is.”

Later het Erasmus sy deuntjie verander en ontken dat hy enigiemand verkrag het. Hy is egter op ’n uitkenningsparade deur drie wit vroue en ’n swart vrou uitgeken. In die hof is hy deur adv. Johann Kriegler, later ’n regter van die konstitusionele hof, verdedig. Hy het uiteindelik vyftien jaar gevangenisstraf gekry.

Van oorlogsheld tot reeksverkragter

’n Aantreklike blondine moes soos ’n prostituut voor hom loop, terwyl ’n lugwaardin slegs in haar jas geklee voor hom moes paradeer. Só is getuig in ’n voorlopige ondersoek teen die 22-jarige Matty Cohen, volgens berigte in Die Vaderland en Die Transvaler in 1975.

Cohen was ’n leëroffisier in die Israeliese weermag wat met onderskeiding aan die Jom Kippoer-oorlog van 1973 deelgeneem het. Tydens sy latere verkragtingsverhoor het dit aan die lig gekom dat hy een van die eerste Israeliese offisiere was wat ten tye van die oorlog die Suez-kanaal oorgesteek het. Sy optrede teenoor weerlose vroue in Suid-Afrika was egter dié van ’n lafhartige man.

Cohen het as toeris na die land gekom enkele maande voordat hy met sy orgie van verkragtings in Suid-Afrika begin het. Hy het dieselfde werkwyse met al sy slagoffers gevolg. Hy sou stadig in sy wit Alfa Romeo deur die strate van ’n Johannesburgse buurt ry op soek na jong vroue wat alleen in hul motors is. Wanneer hy sy slagoffer geïdentifiseer het, het hy haar agtervolg en in ’n stadium haar aandag getrek deur sy ligte te flits.

In sy netjiese klere het hy haar beleefd in ’n sterk buitelandse aksent daarop gewys dat haar remligte foutief is en aangebied om dit te herstel. Dan het die sjarmante man in ’n monster verander. Hy het sy slagoffer in sy motor gedwing en elders gaan verkrag.

’n 33-jarige getroude ma van twee was ná ’n potjie tennis reeds voor haar huis in Florida Glen toe Cohen met sy slenter kom. Hy het haar met ’n mes gedreig en haar in die hoofslaapkamer van haar huis verkrag. In Norwood het hy ’n lugwaardin op byna dieselfde manier verkrag nadat hy gedreig het om haar met sy mes dood te steek. Minstens twee ander vroue wat betyds uit sy kloue ontsnap het, het na vore gekom.

Charles was nou op soek na inligting oor ’n blas buitelander in ’n wit Alfa Romeo. Hy het oral navrae gedoen en ’n beskrywing van die man gelos. Hy het uiteindelik inligting by ’n lid van die publiek gekry dat ’n persoon wat aan daardie beskrywing voldoen in ’n woonstel in Glenhazel in die noordooste van Johannesburg woon.

Charles het Cohen eers ’n ruk lank net dopgehou en hom agtervolg. Dit was vir Charles baie verdag dat hy so stadig deur die woonbuurte gery het asof hy op soek is na iets. Dit het hom oortuig dat Cohen die verkragter moet wees.

Hy het besluit om ’n kans te waag en Cohen reguit te konfronteer in die hoop dat hy ’n erkenning uit hom sal kry. Laat een Vrydagmiddag het hy eenvoudig op Cohen afgeloop toe dié voor sy woonstel in sy Alfa wou klim, en hom oor sy identiteit gekonfronteer.

“Hy was heeltemal oorbluf en ek het onmiddellik munt uit die situasie probeer slaan. Hy het my in sy woonstel toegelaat sodat ek dit kon deursoek. Daar het ek op klere en ’n horlosie van hom afgekom – presies soos die klaagsters dit beskryf het. Die ring wat hy gedra het, het ook presies voldoen aan ’n beskrywing wat aan my gegee is. Dit was genoeg om hom te arresteer.”

Charles het op verskeie kledingstukke van Cohen beslag gelê.

“Hare van die klaagsters is daarop gevind, wat later positief met sy slagoffers verbind is. Tydens sy verhoor kon hy nooit ’n bevredigende verduideliking daarvoor gee nie.”

Op pad na die polisiekantoor het Cohen egter aggressief begin raak en geweier om verder op Charles se vrae te antwoord. Hy het ook op ’n prokureur aangedring.

“Dis tipies die optrede van ’n skuldige. Ek dink hy het ons speurdiens heeltemal onderskat en het seker nooit gedink hy kan vasgetrek word nie.”

Cohen se pa, ’n vlieënier van die Israeliese lugredery El Al, het alles in sy vermoë gedoen om sy seun op borgtog vry te kry. Hy het selfs vir Charles gratis retoerkaartjies en verblyf in Israel aangebied indien hy as ondersoekbeampte sy invloed gebruik om die aanklaer te oortuig om nie die borgtogaansoek teen te staan nie. Charles was woedend oor hierdie omkooppoging.

Vandag lag hy daaroor: “Ek dink hulle was van plan om my iewers in die Sinaï-woestyn te begrawe as hulle my daar kon kry!”

Daar moet besondere redes wees voordat ’n nuwe borgtogaansoek gebring kan word as die eerste een misluk het. Tog is die verdediging toegelaat om drie aansoeke om borgtog in te dien, maar dis telkens ná Charles se getuienis verwerp.

Op die uitkenningsparades het Cohen ooglopend probeer om sy voorkoms te verander deur onder meer sy lang hare af te sny. In een geval het dit gewerk toe ’n klaagster hom nie kon uitken nie. Die twee klaagsters na wie hierbo verwys is, het hom egter sonder huiwering uitgewys.

“Daar was destyds woede by baie van ons mense oor ’n uitlander wat ons vroue kom molesteer het.”

Cohen het deur sy hele verhoor volgehou dat hy onskuldig is. Hy is deur ’n formidabele regspan verdedig, wat Charles aan langdurige kruisverhoor onderwerp het. Dit was van die weinige kere dat Charles buite die hof in ’n vyandige woordewisseling met ’n regsverteenwoordiger betrokke geraak het.

Maar sy regsverteenwoordigers kon nie keer dat Cohen skuldig bevind word op twee aanklagte van verkragting nie. Regter Victor Hiemstra het hom tot effektiewe gevangenisstraf van ses jaar gevonnis.

Charles was weer eens teleurgesteld met wat hy as ’n besonder ligte vonnis beskou het. In daardie tyd was verkragting nog ’n halsmisdryf. Nadat hy sy vonnis uitgedien het, is Cohen as verbode immigrant na Israel gedeporteer.

Cohen het aan die profiel van ’n reeksverkragter voldoen en volgens latere gerugte het hy hom ook in Israel aan soortgelyke seksuele misdrywe skuldig gemaak.

Saamrygeleentheid met ’n speurder

In die laat 1980’s is ’n sewejarige dogtertjie een oggend voor skool by die voorhekkie van die Laerskool Die Ruiter in Hamberg, Roodepoort, deur ’n pedofiel voorgekeer. Hy het die dogtertjie weggelok, waarna hy haar by ’n mynhoop verkrag het.

Al wat die ondersoekbeampte, Petro Heyneke, gehad het om mee te werk is dat die man ’n roepradio (pager) by hom gehad het en ’n identikit wat saamgestel is op grond van inligting wat die getraumatiseerde dogtertjie verskaf het. Die inligting sou blyk merkwaardig akkuraat te wees.

Petro het die identikit oral versprei. By die kantore van die Wes-Randse Moord-en-rooftak het sy dit op ’n prominente plek aangebring. Tydens oggendparades (wat eintlik ’n polisiebenaming vir ’n vergadering van die lede van die eenheid is) het sy almal herhaaldelik op die identikit bedag gemaak. Dit sou deurslaggewend wees . . .

Eendag het AO Jakes van Niekerk in sy ongemerkte polisiemotor op pad na Randfontein ’n ryloper – heeltemal teen polisieregulasies – ’n geleentheid gee. Op ’n vraag van die ryloper watter werk Van Niekerk doen, het hy gesê hy is ’n speurder. Dit was asof iets die man tussen die oë getref het. Hy het heeltemal verstar en kon nie verder ’n woord uitkry nie.

Die man het ’n roepradio by hom gehad – en skielik het dit Jakes getref: Die man lyk soos die identikit van die pedofiel! Hy het onmiddellik met hom na die Moord-en-roofkantore gery.

Die pedofiel is later in die hooggeregshof skuldig bevind en tot gevangenisstraf gevonnis.

Die ergste daad

Die 24-jarige fris geboude Johannes Nicholas Maartins het uitdrukkingloos voor hom uitgestaar toe die doodstraf in 1986 in die Witwatersrandse hooggeregshof twee keer aan hom opgelê is. Dié werktuigkundige van Randfontein het ’n wit en ’n bruin dogtertjie by twee verskillende geleenthede so gewelddadig verkrag dat al twee vir die res van hul lewens geskend sou wees. In sy verhoor van sewe dae was Maartins deurgaans emosieloos.

Sy modus operandi was om die meisies in sy motor te dwing en na ’n afgeleë plek buite die dorp te ry. Nadat hy hulle verkrag het, het hy hulle net daar in die veld gelos.

Die bruin dogtertjie was op ’n dag oudergewoonte op pad om haar pa te ontmoet wanneer hy van die werk af kom toe Maartins haar gegryp het. Sy het haar uit sy greep losgewikkel, maar hy het haar agternagesit en in sy motor gedwing.

Die wit dogtertjie het hy ontvoer toe sy op pad skool toe was. Sy was bewusteloos ná die aanval en dit was net genade dat ’n swart vrou toevallig op haar afgekom het. Haar beserings was so erg dat ’n tyd lank gevrees is dat sy dit nie sou oorleef nie.

Maartins is danksy die oplettendheid van sers. Piet Wessels, Charles se regterhand, vasgetrek. Wessels het eendag op Randfontein agter Maartins se voertuig aangery bloot op grond van ’n gevoel dat daar iets verdags aan die bestuurder se optrede is. Hy het hom van die pad afgetrek en in die algemeen ondervra. Hoewel hy nie geweet het presies waarby Maartins betrokke was nie, is Wessels se aanvanklike vermoede bevestig dat alles nie pluis was nie. Hy het Maartins na die Moord-en-roofkantoor op Krugersdorp geneem.

Daar is die werktuigkundige aan intense ondervraging onderwerp. Die speurders het geweet Maartins is skuldig aan iets, maar wat presies? Hulle het alles in hul vermoë gedoen om inligting uit hom te kry. Ná ’n tyd het Maartins onder die druk geswig en erken dat hy die twee meisies verkrag het. Tydens ondervraging het Charles hom gevoelloos, yskoud en emosieloos oor sy dade gevind. Daar was nooit enige berou by hom te bespeur nie. Maartins het later beweer dat hy tydens ondervraging genadeloos aangerand is.

Die sielkundige wat ter versagting vir Maartins getuig het, het genoem dat hy daarop aanspraak gemaak het dat hy vyftien jong meisies verkrag het. Dit was ’n manier van spog oor sy dade.

Regter D. le Roux was verdoemend in sy uitspraak: ’n Groot dier rand nie ’n kleintjie om ’n seksuele motief aan nie. Die aanrandings van die twee jong kinders was erger as dié van ’n dier . . . Daar kan beswaarlik ’n erger geval van verkragting wees as dié van ’n groot, sterk, uitgegroeide man wat twee weerlose kindertjies verkrag.”

Twee keer die doodstraf . . .

‘Waar kry jy daardie fiets?’ Die galg wag . . .

Die 13-jarige Marius Schmulling word op 13 Mei 1987 met sy rooi fiets gestuur om vleis by ’n slaghuis te gaan koop, ’n rapsie meer as 2 km van waar hy en sy gesin op die Grasland-hoewes naby Randfontein woon. Hy is gretig om terug te keer, want daar was ’n kermis by die Hoërskool Riebeeck wat hy graag wou bywoon. Marius is die baba van die groot Schmulling-gesin en almal se oogappel.

Hy moes verby ’n swartwattelbos ry wat wild langs die pad gegroei het. Daar het die reeksverkragter Oupa John Masuku die niksvermoedende st. 6-leerling van die Hoërskool Jan de Klerk op die dorp ingewag. Masuku het Marius van sy fiets geruk en hom en die fiets die bosse ingesleep.

Daar het hy die seun gesodomiseer en met ’n mes doodgesteek. Hy het sy lyk onder bosse ingesleep en gevlug met die fiets en die bietjie geld waarmee Marius die vleis moes koop.

Toe Marius nie terugkeer nie het sy bekommerde ma almal ingespan om hom te soek. Toe hy steeds nie gevind word nie het sy die polisie se hulp ingeroep. As vertrekpunt is almal na die kermis, waar Charles toevallig met Dorothy en sy jongste seun is. Skoolvriende van Marius bring almal op ’n dwaalspoor toe hulle vir Marius se ouers sê hulle het hom saam met twee onbekende mans in ’n swart XR3 sien klim en wegry. Hulle beskryf die motor in detail met twee rooi strepe, chroomwiele, ’n sondak en ’n kopbeen agter op die bagasiebak. Hulle het ook die mans haarfyn beskryf.

Of dit verbeeldingsvlugte was of moedswillige kattekwaad, sulke soort waninligting word volgens Charles selfs deur volwassenes verskaf wanneer opsienbare misdade ondersoek word. Sy instinkte het hom egter dadelik ongemaklik oor die seuns se bewerings gemaak en hy het op beproefde polisiemetodes teruggeval. ’n Grootskeepse vee-maneuver met polisiemanne en lede van die publiek is van stapel gestuur op die roete wat Marius sou gevolg het.

Sy verminkte en halfnaakte lyk is kort daarna in die bosse gevind. Hy is meer as twintig keer met ’n mes gesteek. Sy hande het talle snymerke getoon soos hy hom teen sy aanvaller probeer verweer het.

Die belangrikheid daarvan om inligting oor so ’n misdryf wyd te versprei is bevestig toe ’n polisieman Masuku ’n paar dae later in die klein nedersetting Boons naby Derby in Noordwes op ’n nuwe fiets sien rondry. Hy kon nie ’n bevredigende verduideliking gee oor waar hy aan die fiets kom nie.

Charles het AO Nick van der Merwe, wat ook die ondersoekbeampte in die saak geword het, gestuur om die verdagte te gaan haal. Masuku is aan deeglike ondervraging onderwerp, waarmee Charles vir Van der Merwe bygestaan het. Tydens die ondervraging het Masuku die moord op Marius erken en ook gebieg dat hy twee swart vroue verkrag en daarna vermoor het. Hy het aan die speurders gaan uitwys waar hy die lyke van Betty Sebeso en Lisbeth Manuel, wat vroeër die jaar spoorloos verdwyn het, in ’n mielieland op die plaas Syferfontein in die distrik Koster begrawe het.

’n Jong swart vrou wat hy op Westonaria verkrag het, het ook na vore gekom. Sy het ternouernood uit sy kloue ontsnap.

Die ongeletterde Masuku het ’n lang geskiedenis van seksuele geweld gehad. Hy het nie sy regte ouers geken nie en is erg in sy kinderjare gemolesteer. Masuku is voorheen skuldig bevind aan roof, drie keer aan verkragting en een keer aan sodomie. Hy is twee keer onvoorwaardelik uit die gevangenis vrygelaat.

Tydens die verhoor het Marius se ouers by die hof teenoor die pers opgemerk dat elke oomblik daarvan vir hulle hel was. Al wat hulle wou hê, was dat die saak moet eindig. ’n Byna tasbare golf van woede het in die stampvol hofsaal teenoor Masuku opgevlam toe regter B. O’Donovan drie keer die doodstraf oor hom uitgespreek het. Wit en swart mense in die hof het hom woorde soos “hond!”, “vuilgoed!” en “voertsek!” toegesnou terwyl hy die trappe na die hofselle afgeklim het.

Masuku is later in die Sentrale Gevangenis in Pretoria gehang.