15 Skelms om te onthou |
Miskien is nostalgie oor misdaadkarakters verkeerd, al is hulle uit ’n vergange era. Hulle was immers misdadigers en het onskuldige mense op die een of ander manier benadeel.
Swendelaars is volop, maar af en toe duik mense in die samelewing op wat hul medemens met besondere oortuigingsvermoë verneuk. Met ’n charismatiese en manipulerende (of narsistiese) persoonlikheid oortuig hulle iemand vinnig van ’n “goeie” transaksie wat dan blyk net leë beloftes te wees. Van hulle flous die wêreld – en hou hulle voor as mediese dokters, vlieëniers en ander spesialiste.
Blackie van der Merwe
Die gewoontemisdadiger Blackie van der Merwe was een van daardie mense. Selfs Charles en ander polisiemanne is deur Blackie se charisma om die bos gelei. Vir Blackie kan Charles nie anders as om ’n soort bewondering te hê nie.
“Hy het my woedend en gefrustreerd gehad met sy onkeerbare misdadigheid, maar elke keer wanneer ek hom weer ontmoet, het hy my hart met sy aangename persoonlikheid sag gemaak. Al ons speurders het altyd opgewek en goed gevoel nadat ons met hom te doen gehad het.
“Miskien was dit deels omdat ons die heeltyd met geweldenaars te doen gehad het. Hy was nie een nie, al was hy steeds ’n misdadiger. Uiteindelik was dit seker sy sprankelende persoonlikheid wat hom so besonders gemaak het.
“Ek het nog nooit weer so ’n natuurlike musikant met soveel talent as hy teëgekom nie. Terwyl hy aan die vlug was, het hy hom by Al Debbo en Nico Carstens se orkes aangesluit. Hulle was natuurlik nie bewus daarvan dat hy ’n voortvlugtige was nie. Nadat hy weer gearresteer is, het Al Debbo aan die pers gesê dat hy enigiets sal doen om hom weer in die orkes te kry. Die man was in baie opsigte begaafd.”
Albertus Francois (Blackie) van der Merwe is in 1938 in die agterbuurte van Johannesburg gebore. As buite-egtelike kind het hy in armoede grootgeword. Van kleins af moes hy vir homself sorg. En reeds vroeg in sy lewe het hy met die gereg gebots. Hy is herhaaldelik tot lyfstraf gevonnis, wat, soos hy later self vertel het, geen rehabiliterende effek op hom gehad het nie.
Op 13 jaar is hy vir die soveelste keer weens diefstal betrap. Hy was een van die jongste seuns wat na ’n nywerheidskool gestuur is. Hy het uit die nywerheidskool en later uit verskillende verbeteringskole weggeloop. Sy pad van misdaad was vroeg reeds vir hom uitgekap. Teen die tyd dat Charles in 1972 met hom te doen gekry het, was Blackie ’n voortvlugtige ontsnapte wat tot ’n allemintige 126 jaar gevangenisstraf gevonnis is. Die misdrywe waaraan hy skuldig bevind is, het gewissel van huisbraak, motordiefstal, ontsnapping, bedrog tot veelwywery!
Teen 1972 het hy ’n reputasie gehad dat geen gevangenis hom binne sy mure kon hou nie – ’n soort Skarlaken Pimpernel wat ’n merkwaardige sewe keer in net meer as drie jaar uit verskillende gevangenisse ontsnap het.
Nadat hy in Desember 1971 uit die gevangenis op Middelburg ontsnap het, kry die Wes-Randse Moord-en-roof inligting dat Blackie hom in hul omgewing bevind, waar hy hom met motordiefstal en inbrake besig hou.
Die pa van Blackie se vriendin was bitter ongelukkig oor sy dogter se verhouding met die swendelaar. Een oggend in Februarie 1972 laat weet hy die Wes-Randse Moord-en-rooftak dat Blackie en sy dogter beplan om die middag van Witpoortjie na Newlands in Johannesburg te ry. Charles en AO Oosthuizen gaan lê Blackie in sy gesteelde Ford Capri in Ontdekkersweg op Roodepoort voor.
Hul inligting was korrek. ’n Ford Capri het met ’n hoë spoed aangejaag gekom, maar by ’n rooi verkeerslig stilgehou. Die twee speurders was reg vir hom. Hulle het hom nie wegkomkans gegee nie.
Blackie was ewe heel verontwaardig oor die vernedering wat hulle hom en sy vriendin aandoen. Hy was immers ’n onderwyser genaamd Nico du Toit. En hy was oortuigend, onthou Charles.
“Hy het soos ’n onderwyser gepraat en met gesag vertel waar hy skoolhou, watter vakke hy aanbied.”
Albei speurders het begin twyfel of hulle die regte persoon beet het. Toe hy boonop ’n aanstellingsertifikaat van die Onderwysdepartement en ander stawende dokumente uithaal, het Oosthuizen apologeties begin raak oor die blaps wat die speurders gemaak het.
Iets het Charles egter steeds gepla . . .
Op die ingewing van die oomblik beweeg Charles skielik op Blackie af en druk hom teen die Capri vas. Tot groot ontsteltenis van Oosthuizen ruk hy Blackie se hemp oop dat die knope spat. Op Blackie se borskas was die groot tatoeëermerk van ’n arend – wat sy identiteit bevestig het.
Die ondersoeke na die magdom sake teen Blackie is gekonsolideer en aan die Wes-Randse Moord-en-rooftak oorhandig. Blackie het uitwysings oor die land heen aan AO (later brig.) Flip de Jongh en Charles gemaak. Hy het hulle meegedeel dat hy sy hart wou skoonmaak en het hulle alles vertel.
“Ons het ’n kitaar in die hande gekry en Blackie het ons heelpad met sy musiek vermaak. Dit het in ’n aangename tyd ontaard. In Port Elizabeth het ons hom na die strand geneem waar hy die mense vermaak het, terwyl niemand geweet het hy is ons gevangene nie. Ek vermoed hy het ontsag vir ons gehad en sou nie met enige streke vorendag kom nie. Maar Blackie sou maar weer sy ware kleure wys . . .
“Terug op Roodepoort het ons hom in die Florida-polisieselle laat aanhou. Ons het hom bederf en elke dag vir hom kos geneem. Op ’n manier het ons seker almal geheg aan mekaar geraak. Maar toe Flip de Jongh een Sondag vir hom kos neem, moes hy hoor dat Blackie weer ontsnap het.”
Daardie oggend het vriende ’n saaglem in ’n fotoverhaalboekie na Blackie toe gesmokkel. Met seker bomenslike krag het hy die tralies van die seldeur afgesaag.
Die speurders het egter te veel van Blackie geweet en hy is twee dae later deur Charles in die woonstel van ’n prostituut in Johannesburg vasgetrek. Hy het langtermyn-gevangenisstraf gekry. Met die wete dat hy voortaan met maksimum sekuriteit in aanhouding sou bly, is aanvaar dat dit die laaste sien van Blackie was.
Maar ses jaar later, in 1977, het Blackie vir die soveelste keer ontsnap. Hy het op vernuftige wyse al die bewaarders geflous. Hy het doodluiters in gesteelde bewaardersklere uit die gevangenis by Zonderwater naby Pretoria gestap, in ’n bewaarder se voertuig geklim en weggery.
Toe die voertuig sonder brandstof in Johannesburg gaan staan, het hy eenvoudig ’n ander voertuig gesteel en by ’n vriendin in Newlands, Johannesburg, ingetrek. Maak nie saak hoe lank hy in die tronk was nie, wanneer hy ontsnap het, het hy altyd vriendinne gehad wat hom blyplek sou gee. Dan het hy sy inbrake, diefstal en bedrog voortgesit.
Blackie was nou een van die mees gesoekte misdadigers in Suid-Afrika, met sy foto in feitlik elke koerant. Charles en Jaap le Roux het hom kort daarna in Luipaardsvlei betrap nadat ’n pandjieswinkeleienaar hulle laat weet het hy wou gesteelde goedere aan hom verkwansel.
“Hy was, vreemd genoeg, bly om my weer te sien, maar dit was die laaste keer,” sê Charles. “Daarna het ons paaie nie weer gekruis nie. Ek wonder deesdae dikwels wat uiteindelik van Blackie van der Merwe geword het.”
Slim vang sy baas
Aan die einde van 1981 ontvang Charles op ’n dag inligting wat twee broers – van wie een aan hom bekend was – moontlik met gewapende rooftogte by ’n tak van Volkskasbank op Krugersdorp en ’n eiendomsagentskap op Roodepoort verbind. Daar is egter ’n kinkel in die kabel: Die oudste broer, Gerhardus (Gesie) van Rensburg, was verbonde aan die Voertuigtak van John Vorsterplein in Johannesburg.
Een middag het Charles op die ingewing van die oomblik besluit om by die twee broers se woonstel in Whiteridge, Roodepoort, aan te gaan. Hy het ’n ouerige veldmotorfiets in die oprit opgemerk. Dit het ooreengestem met die beskrywing wat ooggetuies gegee het van die motorfiets wat telkens van die misdaadtonele weggejaag het.
Die jonger broer, die 22-jarige Ferdinand, het die deur oopgemaak. Nadat hy homself voorgestel het, het Charles gevra waar sy broer is. Ferdinand het geantwoord dat hy nie weet nie, maar Charles kon agterkom dat hy baie senuweeagtig was. Charles het homself toe ingenooi en op die rusbank in die sitkamer gaan sit waar hy deur ’n album begin blaai het.
Toe hy die volgende oomblik opkyk, was dit in die bek van ’n pistool.
Die 25-jarige Gesie het Charles aggressief beveel om sy vuurwapen aan hom te oorhandig. Toe Charles weier, het hy gedreig om hom “soos ’n hond” dood te skiet. Charles het gou besef dat hy sy vrees moes wegsteek en hom uit die benarde situasie sou moes praat. Hy het kalm met Gesie gepraat, terwyl hy stadig sy pistool uit die holster aan sy belt agter sy rug gehaal het sodat Gesie kon sien wat hy doen. Hy het dit toe sag op die mat voor hom neergesit. Die jonger broer het stomverbaas eenkant gesit.
“Dit was duidelik dat hy hom uit sy geloof geskrik het en nie ’n gevaar vir my was nie. Al my aandag was by Gesie,” vertel Charles.
Hy het Gesie gewaarsku dat sy kollegas buite vir hom wag en dat hulle enige tyd kan kom ondersoek instel hoekom hy so lank wegbly. Gesie het oor die moontlike gevolge van sy onbesonne optrede begin nadink. Algaande het Charles beheer oor die situasie gekry. Teen daardie tyd het hy reeds ’n reputasie gehad, wat waarskynlik daartoe bygedra het dat Gesie aan homself begin twyfel het. Toe Charles sien dat Gesie se aandag vir ’n oomblik elders is, het hy sy pistool gegryp en die polisieman ontwapen.
Die Van Rensburg-broers was mak soos lammers toe Charles hulle boei en in sy motor na die aanklagkantoor op Krugersdorp neem. Hy het onderneem om nie ’n verdere aanklag teen hulle aanhangig te maak oor die gebeure in die woonstel nie, mits hulle hul volle samewerking gee.
Hulle het in die Krugersdorpse streekhof op aanklag van gewapende roof skuldig gepleit en elf jaar gevangenisstraf is aan elk opgelê. Charles het sy woord gehou en niks oor die gebeure in die woonstel geopper nie. Hy lag onderlangs wanneer hy sê dat hy daardeur eintlik ’n verleentheid gespaar is omdat dit andersins bekend sou word dat Gesie sy wapen afgevat het.
“Dis die enigste keer dat ek deur ’n boef ontwapen is.”
Die patetiese afperser
Soos toe hy as skoolseun uit al die leerlinge aangesê is om by die Ellispark-swembad van die hoë duikplank af te duik, word Charles op Vrydagmiddag 20 Februarie 1981 uit baie polisiemanne gekies om ’n lewensgevaarlike taak in ’n gyselaarsdrama te verrig.
Twee dae vantevore het Flip Veldman, die ondergrondbestuurder van Randfontein Estates-goudmyn se Cooke 2-skag, in die vroeë oggendure ’n oproep by sy huis ontvang van ’n onbekende man wat gedreig het om die myn op te blaas. Hy het in Engels met ’n sterk Afrikaanse aksent gesê daar is groot hoeveelhede plofstof bo- en ondergronds op strategiese plekke by die myn geplaas en dat dit met afstandbeheer geaktiveer kan word.
Hy eis R250 000 in pakkies R20-note. Veldsman word gewaarsku dat die plofstof onmiddellik geaktiveer sal word as hy enige poging aanwend om met die polisie in verbinding te tree en dat hy fyn dopgehou word. In die volgende twee dae bel die afperser herhaaldelik en gee Veldman spesifieke instruksies hoe die losprys aan hom oorhandig moet word.
Die mynowerheid beskou die dreigement in ’n ernstige lig. Uit die afperser se gesprekke blyk dit dat hy buitengewone kennis van die myn en Veldman se bewegings het. Daar is meer as 5 300 lewens bo- en ondergronds op die spel. Die mynowerheid besluit om die polisie in te lig.
Charles se bevelvoerder, maj. Jaap le Roux, het daardie Vrydagoggend vreemd opgetree toe hy agter ’n toe deur met kol. Cowboy Saunders, die Wes-Randse afdelingspeurhoof, in sy kantoor beraadslaag het. Daar is nie geheime in die eenheid nie en Le Roux neem Charles gewoonlik met alles in sy vertroue. Dinge sou egter gou vir Charles duidelik word toe hy minute later alleen ingeroep word.
Die twee offisiere sê hulle het groot vertroue in hom, maar dis ’n baie gevaarlike taak wat hulle hom wil gee. Charles moet homself in die bagasiebak van Veldman se motor versteek wanneer hy die tas met die geld aan die afperser gaan oorhandig. Charles sal die afperser dan moet oorrompel. Hy sal egter heeltemal op homself aangewese wees. Al sou hy sy fris lyf klein moes maak om in die bagasiebak te pas, was Charles die beste kandidaat vir die opdrag.
Die middag kom die groepie speurders en Veldman agter die Westonaria-polisiekantoor bymekaar om vir oulaas die beplanning na te gaan. Pakke koerantpapier is in ’n aktetas gepak met R1 000 se egte note bo-op om dit te verbloem. Die aktetas word daarna aan Veldman oorhandig. Die afperser het hom aangesê om alleen met die geld na die Golden West-hotel op die dorp te ry waar hy verdere instruksies sal kry.
’n Jong, fris geboude speurder van die Krugersdorpse Narkotikaburo het nader gestaan en daarop aangedring om saam met Charles te gaan. Hy het gemeen dis te gevaarlik vir een speurder en dat daar geen ondersteuning vir hom sou wees nie. Maar daar was skaars plek vir Charles in die bagasiebak.
Die speurder se pa, maj. Piet Barnard, was die bevelvoerder van die Roodepoortse speurders. Daardie jong voornemende speurder was einste Ferdie Barnard, met ’n bewondering vir Charles, en later die berugte sluipmoordenaar en deel van die Wes-Randse Boeremafia.
’n Groot aantal polisiemanne van Carletonville, Randfontein, Krugersdorp en so ver soos Vereeniging is vir die operasie ontbied en stilweg by Westonaria ingebring om ongesiens op geboue se dakke, in tuine en op baie ander plekke op die dorp ontplooi te word.
Teen vieruur die middag ry Veldman met Charles in die bak van sy blou Colt na die Golden West-hotel op Westonaria, waarna die afperser die afgesproke oproep maak. Hy beduie vir Veldman om na ’n oop stuk grond naby ’n melkery te ry en sy voertuig met die sleutels in die aansitter te los en te voet pad te gee. Daar is ooreengekom dat die tas met die geld in die bagasiebak gelaat sou word.
Veldman was duidelik ’n diep gelowige mens. Twee keer bid hy kragtige gebede vir Charles se veiligheid.
“Dit het my elke keer ’n bietjie vertroosting gegee. Dan het die angs egter weer oorgeneem,” vertel Charles. “Om te sê dat ek bang was beskryf nie werklik hoe erg dit was nie. Die onsekerheid oor wat gaan gebeur het sonder genade aan my gevreet. Honderde onheilsgedagtes flits deur jou kop. Wat as daar meer as een afperser is? Wat as hulle swaar gewapen is?”
In die donker bagasiebak het minute soos ure gevoel.
“Ek het later begin bid dat dinge tot ’n punt moes kom. Die donkerte in die bagasiebak het nie juis my situasie verbeter nie en het net die vreeslike spanning aangehelp. Ek moes my lyf klein maak in die beknopte spasie. Later het die deel van my lyf waarop ek gelê het lam geraak en ek het gesukkel om reg te skuif.
“En in die somerhitte was dit ondraaglik warm. My hele liggaam was gou natgesweet. Die binnekant van my hande was so nat dat ek dit gereeld aan my hemp moes afvee om ’n houvas op my pistool te behou.”
Asof dit nie genoeg was om in die bagasiebak vir die onbekende gevaar opgekrul te lê en wag nie, kry hy geen opvangs op die tweerigtingradio wat hy by hom het nie. Wanneer hy dit harder stel, het die gesuis so hard geword dat dit die aandag van enigiemand naby die motor sou trek. Hy was verplig om dit af te sit.
Daarmee het hy alle kontak met sy bevelvoerders verloor.
Op die oop stuk veld het Veldman weer vir Charles sterkte toegewens voordat hy die toneel te voet verlaat het. Charles was nou al meer as ’n uur in die bagasiebak. Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, hoor Charles ’n voertuig stilhou en ’n deur wat oopgemaak word. Hy hoor voetstappe nader kom. Iemand maak die motor se deur aan die bestuurder se kant oop en verwyder die sleutels.
Hy hou sy vuurwapen gereed om te vuur.
Toe die persoon aan die bagasiebak raak, gooi Charles dit oop en skreeu vir die persoon om sy hande in die lug te steek. Maar die skielike sonlig verblind Charles so erg dat hy vir etlike sekondes niks kan sien nie.
Dit was ’n bestiering vir die afperser dat Charles nie wild begin skiet het nie. Charles bulder aanhoudend dat die persoon nie moet roer nie. Die afperser het verbouereerd sy hande opgesteek.
Charles se sig begin stadig terugkeer.
Voor hom staan ’n langerige man in sy laat dertigs, geklee in ’n ligte langbroek-safaripak met ’n dik swartraambril. Hy lyk verwese en vreesbevange, beteuterd, glad nie soos ’n professionele rampokker nie. Charles oordonder hom dadelik.
Die afperser se geel Cortina staan langs hulle en luier.
Die adrenalien pomp in Charles. Toe die man iets uit sy hand laat val, is Charles op hom. Dis net ’n pakkie peper wat hy wou strooi sodat die polisiehonde nie sy reuk moes kry nie. Charles deursoek hom en vind hy is ongewapen.
Op daardie oomblik kom ’n man op ’n veldfiets aangejaag. Charles se eerste gedagte is dat dit ’n medepligtige is en hy rig sy pistool op die man. Weer is dit ’n bestiering dat Charles nie begin skiet nie.
“Ek was baie naby daaraan om die sneller te trek toe die man ‘Charles! Charles! Dis ek, moenie skiet nie!’ skreeu. Ek glo nie hy weet regtig hoe gelukkig hy was nie.”
Dit was ’n sekuriteitswag wat die gebeure op ’n afstand dopgehou het. Hy het Charles herken en wou aanbied om te help.
Charles het ’n skoot in ’n hoop grond daar naby afgevuur . . .
Die 39-jarige Frans Hendrik Smit het als erken en nog dieselfde aand het Charles hom vir ’n bekentenis na ’n landdros geneem. Weens gesondheidsredes is Smit by ’n verfkontrakteursonderneming afgelê en hy het desperaat geword toe hy sy gesin nie meer kon onderhou nie. Vroeër het hy verfwerk by die myn en by Veldman se huis gedoen. Daar het hy die inligting gekry waarmee hy die mynbestuur en Veldman die skrik op die lyf gejaag het.
Charles se energie was daardie aand gedreineer.
’n Groot aantal van sy kollegas was in die polisiekantien op Westonaria ná die dag se opwinding en het daarop aangedring dat hy vir ’n ruk by hulle aansluit om die sukses te vier. Die opwinding van die dag was te groot. Charles is vroeg huis toe.
Laat die volgende middag het hy begin sleg voel. Hy het twee hoofpynpille gedrink, maar tog besluit om ná werk ’n geselligheid in Wilropark by te woon. Ná die eerste sluk van sy gebruiklike Wellington-en-Coke het hy lighoofdig geword. Hy het vinnig in ’n koue koors uitgeslaan, waarna hy huis toe geneem is.
’n Dokter het bosluiskoors gediagnoseer, wat hy waarskynlik in die bagasiebak van Veldman se motor opgedoen het. Veldman het groot honde gehad wat hy in sy motor se bagasiebak vervoer het. Agttien bosluisbyte is aan Charles se lyf getel.
Frans Hendrik Smit het besonder lig daarvan afgekom toe periodieke gevangenisstraf in die Witwatersrandse hooggeregshof aan hom opgelê is. Vir Charles was dit amper ’n antiklimaks.
In die koelkamer
Dit sou nie die laaste keer wees dat Charles hom in ’n klein ruimte in ’n verknorsing bevind het nie. In die laat 1980’s word ’n vragmotor van die Ou Kraal-slaghuis op Krugersdorp met ’n vol vrag karkasse gekaap. Leidrade het Charles en sy kollegas na ’n slaghuis op Oberholzer geneem.
Die personeel van die slaghuis se optrede was uit die staanspoor verdag. Dit was ook nie lank nie of die speurders sien dat die karkasse in die koelkamer die stempelmerke van die Ou Kraal-slaghuis op het. Die eienaar ontken egter heftig enige onreëlmatighede en glip by die koelkamer uit onder die voorwendsel dat hy papierbewyse wil gaan haal om te toon hy besit die karkasse regmatig. Voordat enigiemand die kans het om hom te keer, maak hy die koelkamerdeur toe met die speurders en een van sy werkers nog daarbinne!
Dit het gou ysig koud geword. Toe iemand benoud sê hulle gaan doodvries, het Charles vir die eerste keer ’n vreemde gevoel van onbeheerbare paniek ervaar, maar dit vir die ander weggesteek. Ná ’n gesukkel wat soos ’n ewigheid gevoel het, kon hulle met die hulp van die werker die deur oopkry.
Die eienaar was besig op sy telefoon. Hy en die ander verdagtes het daarna nie ’n aangename behandeling van die speurders ontvang nie. Dié voorval was waarskynlik die sneller wat ’n blywende engtevrees by Charles laat ontwikkel het.
En dan was daar ‘Mrs Jones’ . . .
In die middel sewentigerjare was daar ’n vrou wat alombekend was as “Mrs Jones” (dit was haar regte van), wat ’n hele string witboordjiemisdade landswyd, veral diefstal en bedrog by haar werkplekke, gepleeg het. So glibberig soos ’n vis het sy die gereg ontduik, terwyl sy gereeld van werk verander en met haar slenterwerk voortgegaan het. ’n Wenk het egter haar skuilplek verklap.
Sy het saam met ’n vriend in ’n vervalle huis aan die buitewyke van Pretoria-Oos weggekruip.
Charles het opdrag ontvang om “Mrs Jones” daar te gaan arresteer, hoewel hy nie by die ondersoeke na haar beweerde misdrywe betrokke was nie. Omdat ontsnaptes uit die gevangenis dikwels gevaarlik is, is die hulp van lede van die Moord-en-rooftak by geleentheid ingeroep om voortvlugtiges te help aankeer.
Maar vandat Charles die eerste keer met “Mrs Jones” te doen gekry het, het dinge skeefgeloop.
Net ná donker op ’n Sondagaand klop Charles, bygestaan deur twee kollegas, aan die voordeur van die huis waar “Mrs Jones” skuil. Iemand in die huis sit die hoofskakelaar af. Alles is donker, terwyl ’n manstem van binne hulle aggressief beveel om pad te gee. Daar is geen reaksie toe Charles hom as ’n speurder identifiseer nie.
Toe hulle daarin slaag om die deur oop te kry, val die lig van Charles se flits op ’n man in die ingangsportaal. Hy neem ’n aanvallende houding in. Charles slaan hom dadelik plat.
Ná ’n gesukkel het hulle die hoofskakelaar gevind en aangeskakel. Toe begin ’n reeks van ongemaklikhede wat Charles verleë sou laat.
Hy kom agter die man wat hy platgeslaan het, is blind. In die plafon was die luik halfoop en in die eetkamer het ’n stoel omgeval gelê. ’n Kat-en-muis-speletjie volg met die drie speurders wat “Mrs Jones” op die dakkappe in die plafon rondjaag voordat sy vasgetrek word.
Toe “Mrs Jones” twee dae later in die Roodepoortse landdroshof verskyn, draai sy ’n hofordonnans, wat haar toelaat om ’n openbare toilet op die boonste vloer te gebruik, ’n rat voor die oë. Sy moes haar deur die kleinste van vensters gewriemel en daarna teen ’n pyp afgegly het om oor die brandweergebou langsaan se dakke weg te kom.
Daarna het sy soos ’n groot speld verdwyn.
Bykans ’n jaar later ontvang die speurders ’n wenk dat “Mrs Jones” in ’n huis by die Bluff in Durban skuil. In daardie stadium is Charles alleen met ander ondersoeke in Durban besig en hy word weer gevra om haar te gaan arresteer. Dis nie juis ’n taak waarna hy uitsien nie. Hy is alleen en sy ondersoekwerk is klaar en hy wil huis toe.
Charles voer nietemin sy opdrag uit, maar vind dat “Mrs Jones” hoogswanger is toe hy haar weer arresteer. Hy sien nie kans om tot ná die bevalling te wag nie, en ondanks haar toestand vat hy haar saam terug Witwatersrand toe.
Op die hoofpad na Johannesburg stop Charles twee keer sodat sy passasier na ’n toilet by vulstasies kan gaan. Elke keer trippel hy onrustig buite rond terwyl hy probeer om alle uitgange dop te hou. Ná Warden in die Vrystaat word dit ’n nagmerrie-rit. “Mrs Jones” begin kla oor pyne en laat die ergste winde.
“Dit was die heeltyd voet in die hoek,” sê Charles. “Behalwe vir die twee keer se stilhou moes ek baie naby aan een of ander rekordtyd die afstand tussen Durban en Johannesburg afgelê het. Tussen haar pyne deur het dit gelyk of ‘Mrs Jones’ die jaery geniet en sy’t my aangepor om nie stadiger te ry nie.
“My staatsvoertuig was ’n blitsige Holden Monaro, wat hom goed gedra het. Toe ons egter Heidelberg verbysteek, het haar pyne meer gereeld geword. Ek het oor die radio laat weet dat hulle ’n ambulans by die Roodepoort-polisiekantoor gereed moes hou. Ons het die polisiekantoor amper te laat bereik.
“Toe ons stilhou, het haar water reeds gebreek en het die ambulans haar weggeneem. Iemand moes die storie laat uitlek het, want ’n klein skare het ons ingewag. En toe begin die wilde en onware stories. Ek kon verduidelik soos ek wou, maar die gespot het nie opgehou nie!”
“Mrs Jones” is ná die bevalling saam met haar babaseun na die Krugersdorp-gevangenis oorgeplaas. Dis bevestig dat sy die seun as Charlie Monaro Jones laat registreer het . . .