18 Wanneer ’n kollega sterf . . . |
’n Gevoel van magtelose woede het oor Charles gespoel toe hy sy vriend se lewelose liggaam in die stof langs die teerpad sien lê. AO Nick Jacobs se lyk het twee koeëlwonde gehad, een deur die buik en nog een deur die hoofslagaar in sy bobeen. Hy moes hom doodgebloei het terwyl motors langs hom in Hendrik Potgieterrylaan verbygesnel het sonder om hulp te verleen. Hy was skaars 2 km van die Flora-kliniek met ’n goed toegeruste ongevalle-afdeling.
Nick Jacobs en Charles se paaie het reeds sedert die middel 1960’s saamgeloop en hulle het lank saam by die Moord-en-rooftak gewerk. In 1966 het hulle Die Vaderland se voorblad gehaal toe hulle die berugte voortvlugtige rower Elias Mpembu ná ’n grootskaalse soektog in Soweto vasgetrek het. Mpembu was in daardie stadium een van die mees gesoekte misdadigers in die land. Toe dinge later in Jacobs se huwelik begin skeefloop, het hy ’n oorplasing van die veeleisende Moord-en-rooftak na die speurders gevra en hy het toe bevel van die speurtak op Honeydew oorgeneem.
Jacobs se moordenaars, Michael Morris en Desmond Uithaler, was geharde en gevoellose bendelede van die woonbuurte Newclare en Bosmont in Johannesburg. Hul algehele gebrek aan respek vir menselewens blyk uit die keer toe hulle by ’n bejaarde Chinees se woonstel ingebreek, die man se rewolwer gesteel en hom en sy vriendin daarna sonder provokasie herhaaldelik geskiet het.
Die 70-jarige Ho Tong is in die vroeë oggendure van Augustus 1985 in sy woonstel in Johannesburg uit sy slaap geruk deur rewolwerskote en ’n brandsensasie agter sy oor. ’n Koeël het hom agter sy oor getref en in sy skedel vasgesteek. Toe hy die lig aanskakel, sien hy dat sy vriendin, ’n me. Mansfield, se mond bloei. ’n Koeël het haar in die mond getref.
Sekondes daarna kom Uithaler, wat by die woonstel ingebreek het, die kamer weer binne. Hy dreig Tong en Mansfield en kry ’n sleutel waarmee hy die voordeur van die woonstel vir Morris oopsluit. Morris gaan staan dreigend met ’n lang mes voor die gewondes terwyl Uithaler die slaapkamer deursoek. Hulle neem ook rewolwerpatrone en R500 kontant. Uithaler dreig hulle herhaaldelik: “I am going to kill you with your gun tonight!”
Morris en Uithaler loop na die slaapkamerdeur en van daar skiet Uithaler nog twee skote.
Hy tref Tong agter sy skouerblad en Mansfield in die ribbes. Wonderbaarlik albei oorleef. Dit het Tong later lakoniek teenoor die polisie laat opmerk: “I have got a cat’s life.”
In Oktober 1986 steel Morris en Uithaler ’n Cortina, wat hulle daarna aan twee swart mans probeer verkoop, onbewus dat die twee polisieberiggewers is. Die beriggewers tree daarna met die speurtak op Honeydew in verbinding. AO Nick Jacobs besluit om met die hulp van die beriggewers ’n lokval vir die twee motordiewe te stel.
Die aand van 8 Oktober 1986 is hy en sers. Simon Mnomiya per motor na ’n afgesproke plek op ’n oop stuk veld oorkant die inryteater en langs Hendrik Potgieterrylaan op Roodepoort, waar die Trade Centre vandag is. Daar tref hulle die twee beriggewers aan wat buite die motor met Uithaler praat en die geparkeerde Cortina met Morris agter die stuurwiel.
Hy het blykbaar onraad gemerk en probeer wegjaag, maar Jacobs het sy voertuig voor die Cortina ingetrek. In daardie stadium het Uithaler en die twee beriggewers naby die Cortina gestaan. Mnomiya het uit die motor gespring en, met sy vuurwapen op hulle gerig, nader gegaan en hom en Jacobs as speurders geïdentifiseer.
Jacobs het na Morris beweeg en hom gevra wie se motor die Cortina is. Hy het geantwoord dat dit aan Uithaler behoort. Jacobs het Uithaler en die twee beriggewers beveel om nader te staan en het dadelik begin om hulle te ondervra. Jacobs het weer aan Uithaler gevra wie se voertuig dit is. Dié keer het hy gesê dit behoort aan sy pa.
Jacobs het almal beveel om in die polisievoertuig te klim om te keer dat hulle vlug. Mnomiya was besig om oor die radio versterkings te roep toe Morris ’n rewolwer uitpluk en begin skiet. Hy tref eerste vir Mnomiya in sy arm en sy, en Jacobs in die maag en bobeen.
Morris en Uithaler het te voet gevlug terwyl die beriggewers ook weggehardloop het. Mnomiya het na die pad gestrompel waar ’n verbyganger hom gevind en na die Flora-kliniek geneem het. Jacobs het bly lê en hom doodgebloei.
Charles is reeds op die toneel deur brig. Colin Steyn as ondersoekbeampte aangewys. Hy sou nie rus voordat die skuldiges aan die man gebring is nie. Merkwaardig genoeg kry hy in enkele ure genoeg leidrade om die moordenaars in hul skuilplek by vriende te arresteer. Hy vind ook die moordwapen. Tot sy ergernis het hy agtergekom die ondersoekbeampte wat die aanval op die Chinees en sy vriendin ondersoek, het versuim om die man se rewolwer as gesteel aan te dui.
Morris en Uithaler is skuldig bevind aan die moord op Jacobs, asook op verskeie ander aanklagte, waaronder poging tot moord op Ho Tong en sy vriendin. Al twee het in die Witwatersrandse hooggeregshof die doodstraf gekry.
Charles is namens die speurhoof van Suid-Afrika, lt.genl. Stan Schutte, bedank op ’n spesiale aanprysingseremonie wat vir hom gehou is. Ook die verhoorregter het Charles in sy uitspraak gekomplimenteer met sy uitstaande ondersoekwerk en voorbereiding vir die verhoor.
Maar vir Charles was dit skrale troos.
“Kollegas wat om jou val om nooit weer op te staan nie gryp jou aan die siel en laat ’n leemte wat nooit weer gevul sal word nie. Die soete smaak van baie oorwinnings en suksesse ontwyk my meestal, dis die aaklige dinge wat eerder bly terugflits. Die geheue kan ’n vreeslike ding wees . . .”
Polisiebeleid – en selfmoord
Charles moes in sy loopbaan talle kollegas aan die dood afstaan, sommige weens selfmoord en ander selfs weens terreur. In die geval van sy vriend AO Christo (Badie) Badenhorst se dood glo Charles die polisie se oorplasingsbeleid het ’n groot rol gespeel.
Toe Charles en Dorothy hul laatlam, Lionel, die oggend van sy eerste skooldag in Januarie 1985 by die Laerskool Rapportryer op Randfontein by sy graad 1-onderwyseres los, het die kind heftig geprotesteer. Ná ’n lang gepaai is sy ouers met swaar harte daar weg. Hulle het vir oulaas om die skoolterrein gery net om seker te maak alles is reg. Ten spyte van die onderwyseres se versekering dat daar te alle tye behoorlike toesig sal wees, het dit hulle nogtans gepla dat die graad 1-klas op die tweede verdieping van die skoolgebou is.
Toe hy kort daarna by die speurderskantore aankom, is Charles reeds by sy motor aangesê om dadelik na sy bevelvoerder, kol. Ben Kruger, se kantoor te gaan. Daar het hy ’n wasbleek Kruger aangetref met sy kop in sy hand. Hy het vir Charles gesê hy het baie slegte nuus. Charles het lam geword en onmiddellik aan sy seuntjie op die tweede verdieping by die skool gedink. Hy wou onmiddellik weet wat die probleem is.
Die 52-jarige Christo Badenhorst het homself toe pas met sy dienspistool in die kwartiere vir getroudes geskiet. Charles het hom daarheen gehaas en die paramedici gevind wat besig was om noodbehandeling op Badenhorst toe te pas, maar dit was tevergeefs. Hy het kort daarna gesterf.
Badenhorst was in die voorafgaande weke baie neerslagtig. Sy vrou is ná ’n uitgerekte hofsaak op 28 klagte van diefstal by haar werk by ’n Toyota-agentskap op Krugersdorp skuldig bevind. Aanvanklik is Badenhorst saam met haar aangekla, maar die saak teen hom is teruggetrek toe dit aan die lig gekom het dat sy vrou ’n dobbelprobleem het. Hy het gesukkel om die vernedering te verwerk toe sy skuldig bevind is en onder meer opgeskorte gevangenisstraf gekry het met ’n bevel dat die gesteelde geld terugbetaal word.
Hy is kort voor sy selfmoord boonop meegedeel dat hy na Port Elizabeth verplaas word. Sy vrou het botweg geweier om saam te gaan. Hy het daaroor gekla, maar die polisieowerhede was onwrikbaar in hul besluit. In plaas van ondersteuning, is sy vriend deur die polisie oor die afgrond gestoot, reken Charles. Die “nagtreinbeleid”, wat op ’n hoër gesag se dikwels onsimpatieke en gebrekkige oordeel berus het, het veel te wense oorgelaat.
Die selfmoordsyfer onder polisiemanne het in die 1980’s begin toeneem totdat dit in die 1990’s skokkende afmetings aangeneem het. Teen 1995 het ’n polisieman in Suid-Afrika ’n elf keer groter kans gehad om selfmoord te pleeg as ’n ander burger van die land. In 1995 alleen het 200 polisiemanne selfmoord gepleeg, in die meeste gevalle met hul eie dienspistole. Dis waarskynlik deels omdat hopeloos te min aandag aan individuele polisiemanne se psigiese gesondheid gegee is.
Bomontploffing op Krugersdorp
Charles was die oggend van 17 Maart 1988 uitgeput ná ’n lang nag van ondersoeke in Soweto. Hy moes net die papierwerk in sy kantoor op Krugersdorp klaar maak, dan kon hy sy moeë lyf huis toe neem om ’n paar uur slaap in te kry.
Omstreeks halfnege het die krag van ’n geweldige ontploffing hom van sy stoel geruk. Al die vensterruite van sy kantoor was aan skerwe. Toe hy tot verhaal kom, het hy die gang afgehardloop waar hy ’n vroueluitenant op die grond sien lê het. Die slag het haar van balans geruk en teen die grond geslinger.
Buite was dit chaos.
Hy het verby die verminkte liggaam van ’n swart polisieman tussen gebuigde stukke metaal gehardloop. Hy het op dié se skoen getrap, wat eenkant gelê het. Hy was instinktief op pad na die toneel van die ontploffing. Later het hy besef dat dit die verkeerdste ding was om te doen . . .
In die ondersoek kort ná die ontploffing is ’n kleefmyn in die manstoilette van die landdroskantoor oorkant die polisiekantoor gevind. ’n Kragtige motorbom van 25 kg sou daarna afgegaan het wanneer daar ’n samedromming van mense was. Om een of ander rede het die kleefmyn in die toilet nie afgegaan nie en kon dit skadeloos gestel word.
Maar die motorbom het.
Charles het gehelp waar hy kon totdat genoegsame mediese personeel opgedaag het. Drie mense is dood, onder wie die polisieman by wie Charles verbygehardloop het. Nog twintig mense is beseer, van wie die meeste vroue was, asook ’n vyftien maande oue baba wat erg vermink is. Twee polisiemanne, AO Simon Manymalala en AO Frans Mtlatlosi, was onder die oorledenes.
Laat die middag het ’n uitgeputte Charles huis toe gegaan. Hy was toe reeds amper 36 uur sonder slaap, maar hy kon nie tot rus kom nie. Eers ná ’n slaappil het hy in ’n onrustige slaap verval en die volgende middag met ’n rukbeweging en ’n kreet wakker geword.
Beweringe is gemaak dat Hein Grosskopf, ’n jong Afrikaner en lid van Umkhonto weSizwe en die seun van ’n bekende voormalige koerantredakteur, die bomme geplant het. Dit het geweldige emosies ontketen, maar dit het later aan die lig gekom dat Mohammed Iqbal Shaik en Aboobaker Ismael die bomme geplant het. Hulle het in 2000 amnestie daarvoor en vir ander terreurdade by die Waarheids-en-versoeningskommissie gekry.
Gerugte dat Charles ’n kollega wou doodskiet
Charles was daaraan gewoond dat misdaadverslaggewers soms hul feite verkeerd het. Hy het nietemin oor die algemeen goed oor die weg gekom met die pers en was ’n gunsteling onder die Wes-Randse verslaggewers, wat hom gereeld in hul berigte opgehemel het.
Maar toe ’n plaaslike Krugersdorpse koerant van die Caxton-groep beweer dat Charles ’n kollega uit ’n desperate gevaarsituasie wou verlos deur hom dood te skiet was dit een te veel vir hom.
Die berig het, behalwe die gewraakte paragraaf, heel onskuldig verslag gedoen oor die afskeid wat die Moord-en-rooftak vir die 55-jarige AO Lourens (Swannie) Swanepoel met sy aftrede gehou het. Hy het op vroeë pensioen gegaan as gevolg van ’n ernstige besering wat hy tydens polisieoptrede in 1981 opgedoen het – die voorval waarin beweer is dat Charles hom ’n “genadeskoot” wou gee.
Met die voorval het speurders onder bevel van maj. Jaap le Roux en Charles een Sondagnag in ’n halfvoltooide gebou oorkant die poskantoor in Goldmanstraat, Florida, misdadigers voorgelê. Die inligting het daarop gedui dat die inbrekers met ’n groot vragmotor deur die voorvenster van ’n nuwe, spoggerige mansklerewinkel op die grondvloer sou jaag en soveel moontlik klere inlaai voordat hulle padgee.
Die meeste speurders is op die onvoltooide derde vloer ontplooi. Swannie, wat die oudste onder hulle was, het die hele aand besonder gespanne voorgekom. Ondanks Charles se vermaning om in sy posisie te bly, het hy heeltyd onrustig rondbeweeg. Die volgende oomblik het hy gegil en na die grondvloer getuimel.
Swanepoel het in die donkerte deur ’n gat wat vir ’n pilaar gemaak is tot op die grondvloer geval. Dit was ’n wonderwerk dat hy die vier regop staalpenne gemis het wat as versterking vir die pilaar gebruik sou word. Sy liggaam het tussen die staalpenne opgekrul gelê. Hy was ernstig beseer en kon nie beweeg nie.
Tydens die krisis het die inbrekers met die vragmotor opgedaag en skuins oorkant die winkel stilgehou. Hulle moes weens die geskree agtergekom het alles is nie pluis nie en het weggejaag.
Charles het Swannie met ’n groot gesukkel uit die gat gekry, hom oor sy skouer na die naaste versteekte polisievoertuig gedra en na die Ontdekkershospitaal gejaag. Swannie het maande in die hospitaal deurgebring terwyl sy vergruisde heupbene weer opgebou moes word. Daarna het hy mank geloop met een been wat effens korter as die ander was.
In die gewraakte berig wat toe ’n aantal jare ná die voorval verskyn het, is geskryf: “Adj.-off. Miller het later aan kol. Saunders vertel dat terwyl Swannie daar onder gelê het, hy gedink het: ‘Ek weet nie hoe ons hom daar gaan uitkry nie. Ek dink ek sal hom maar moet doodskiet.’”
Charles was woedend oor die berig en is deur sy kollegas liefs van die verslaggewer weggehou.