21 Troebel waters by Moord-en-roof |
Charles se reputasie as iemand wat dikwels verkies om onafhanklik te werk, het nie altyd by sy seniors byval gevind nie. Kol. Ben Kruger is later deur kol. Neville Thoms as bevelvoerder van die Wes-Randse Moord-en-rooftak opgevolg. Charles het nie juis langs dieselfde vuur as sy nuwe bevelvoerder gesit nie en hulle het beslis nie dieselfde vertrouensverhouding gehad as wat Charles met van sy vorige bevelvoerders gedeel het nie.
In 1988 het Charles byvoorbeeld gehelp om ’n belangrike Indiër-beriggewer wat ná ’n skietvoorval na Indië gevlug het, na Suid-Afrika te laat terugkeer. Hy het ook gesorg dat die Indiër op borgtog vrygelaat word – voordat daar ongevraagd op hoër gesag by die saak ingemeng kon word. Charles het gevolglik nie al die feite met Thoms gedeel nie. Hoewel die Indiër later onskuldig bevind is, het Charles se hantering van die saak verdere wrywing tussen hom en Thoms veroorsaak.
Dit het waarskynlik ’n rol daarin gespeel dat hy die volgende jaar skielik gestuur is om op die landsgrens diens te doen. Hoewel Charles in sy jonger polisiedae herhaaldelik daarvoor aansoek gedoen het om soos die meeste van sy kollegas in die Rhodesiese oorlog diens te gaan doen, is dit elke keer deur sy bevelvoerders afgekeur. Al het hy in 1974 die volle teen-insurgensieopleiding by Maleoskop ondergaan, is hy in Suid-Afrika gehou om met sy belangrike speurwerk voort te gaan.
In Julie 1989 is Charles egter – op 46-jarige ouderdom – vir die eerste keer vir drie maande grens toe gestuur. Hy is as basisbevelvoerder na ’n minder belangrike grenspos buite Buffelsdrift aan die westelike grens van die destydse Transvaal gestuur. Hy is oortuig dat die slegte verhouding tussen hom en sy nuwe bevelvoerder iets daarmee te doen gehad het dat hy sy tyd op so ’n stil en afgeleë plek moes gaan verkwis.
Charles moes planne maak om die manne se verveling te verlig. Hy het hulle onder meer langs die provinsiale pad laat loop om rommel op te tel.
“Dit was die frustrerendste en mees doellose tyd van my polisieloopbaan.” Dit was boonop ’n tyd waarin die Wes-Randse Moord-en-rooftak nie kon bekostig om Charles af te staan nie.
Die wrywing met Thoms is op die spits gedryf toe die ander taklede by Charles as onderbevelvoerder gaan kla het oor die manier waarop hulle deur Thoms behandel word. Charles was nie direk by die geskil betrokke nie, maar het dit sy werk gemaak om dit met Thoms by te lê. Hy het toe ’n vergadering belê tussen al die gegriefde lede en lt.genl. Krappies Engelbrecht en brig. Daantjie van Wyk, albei van hoofkantoor in Pretoria.
Hul griewe het daarna by die nasionale speurhoof, lt.genl. Stan Schutte, uitgekom.
Charles en sy lede het egter nie die regte protokol gevolg nie. Brig. Colin Steyn, die Wes-Randse speurhoof, het hulle uitgetrap omdat hulle hul griewe nie eers na hom, Steyn, geneem het nie, maar direk na hoër gesag. Harde woorde het geval en die geskil is nooit werklik bygelê nie.
Van die eenheid se lede het daarna uitmekaar gespat. Jakes van Niekerk en Mossie Mostert het ’n oorplasing na Brixton-Moord-en-roof gevra, wat toegestaan is. Petro Heyneke het ook ’n verplasing na ’n ander eenheid gekry. Kort daarna is kol. Neville Thoms verplaas. Hy het later as ’n brigadier afgetree. Thoms is deur kapt. Johan Steyn opgevolg en daarna was die interne probleme in die tak iets van die verlede. (Steyn het later ook as bevelvoerder van die Brixtonse Moord-en-rooftak gedien.) Wat Charles en sy span betref, was die skade egter reeds gedoen.
Op die afdraande pad na chaos
’n Refrein wat ’n mens gereeld by oudspeurders hoor, is hoe dramaties misdaad teen die einde van die 1980’s en begin 1990’s toegeneem het.
“Ons het moordenaars altyd gejag totdat ons hulle vasgetrek het. Dit was die geval tot in die laat 1980’s,” vertel Charles. “Daarna het misdaad so geëskaleer dat dit net nie meer moontlik was om met ons mannekrag en hulpmiddele aandag aan alles te gee nie. Daarna was dit al die pad afdraande tot die chaos wat tans heers.”
In dié tyd was Charles by soveel moord- en gewapende roof-ondersoeke betrokke dat dit al hoe moeiliker geword het om behoorlike ondersoekwerk te doen. In sommige gevalle was dit prakties onmoontlik. Daar was hopeloos te min speurders vir al die moorde en gewapende rooftogte. Die politieke onrus het gewelddadige misdaad nie net laat toeneem nie, maar dit ook moeiliker gemaak om op te los.
In 1991 is 7 000 gevangenes boonop vrygelaat weens oorvol tronke. Dit het polisielede, soos verwag kan word, geweldig ontstel. Dit, tesame met hul groot werklas, het daartoe bygedra dat hul moreel verder verlaag het.
Benewens die politieke onrus wat alewig opgevlam en sy kwota moorde opgelewer het, het taxigeweld ook sy verskyning gemaak.
Charles was by ondersoeke betrokke waar tot vyf mense op ’n slag vermoor is. Onder die leiding van brig. Colin Steyn is groot veebewegings in die townships uitgevoer. Tydens daardie operasies het Charles oudergewoonte met sy goeie kennis van die gebiede observasie en inligting vanuit die polisiehelikopter verleen.
Sedert die middel 1980’s het die aantal moorde wat gepleeg is in gewapende rooftogte met vuurwapens wat hul oorsprong in kommunistiese lande gehad het, die hoogte ingeskiet. Baie van hierdie wapens is vanuit die oorloggeteisterde buurlande na Suid-Afrika gesmokkel. In Mosambiek kon ’n AK-47 destyds vir ’n appel en ’n ei gekoop word. Rowers se toegang tot hierdie wapens het enorme nuwe probleme geskep wat tot vandag voortduur as in aanmerking geneem word hoeveel rooftogte steeds met AK-47’s gepleeg word.
Daar was veral ’n groot toename in gewapende rooftogte op afgeleë winkels, restaurante en vulstasies aan die Wes-Rand. Aangesien sulke ondernemings dikwels deur Portugese besit is, het dit voorgekom asof die misdade spesifiek teen hulle gerig was, al was dit waarskynlik bloot toevallig:
21 Mei 1990: ’n Portugese man is met ’n AK-47 by die Wilbrick-supermark op die Johannesburg-Potchefstroom-pad doodgeskiet.
28 Mei 1990: ’n Portugese man is gewond en ’n swart man met ’n Tokaref-pistool by die Golden Eatinghouse op Krugersdorp doodgeskiet.
28 Mei 1990: ’n Portugese man is met ’n Makarof-pistool by sy supermark in Nooitgedacht, Muldersdrift, geskiet, wat hom heeltemal verlam gelaat het.
5 Junie 1990: ’n Portugese man is met ’n AK-47 by die Violet Eatinghouse op Krugersdorp doodgeskiet.
7 Junie 1990: ’n Lid van die munisipale polisie is doodgeskiet en nog een met ’n AK-47 in Kagiso, Krugersdorp, gewond.
15 Junie 1990: ’n Indiërman en ’n vrou is met ’n Tokaref-pistool by die A.K. Store op Westonaria doodgeskiet.
6 Julie 1990: ’n Portugese man is deur die nek met ’n Tokaref-pistool by die Reid Eatinghouse by Kloofmyn op Westonaria doodgeskiet.
23 Julie 1990: ’n Swart man is met ’n AK-47 by West-Rand Consolidated mines op Krugersdorp doodgeskiet.
23 Julie 1990: ’n Portugese man is deur albei sy bene met ’n AK-47 by die Crossley Trading Store in Honeydew, Roodepoort, gewond.
5 September 1990: ’n Portugese man is noodlottig in die bors met ’n 9 mm-pistool by die New Station-kafee in Maraisburg gewond.
8 September 1990: ’n Indiërman is deur albei sy bene by die A&M Store op Randfontein gewond.
5 Oktober 1990: Twee Portugese mans is noodlottig gewond met ’n Tokaref-pistool by die Libanon Eatinghouse op Westonaria.
8 Oktober 1990: ’n Portugese man is met ’n 9 mm-pistool by die Groenplaas-kafee op Randfontein noodlottig gewond.
16 November 1990: ’n Portugese man is met ’n Tokaref-pistool by die Phillips-kafee op Westonaria noodlottig gewond.
9 Desember 1990: Twee Portugese asook twee swart mans is met AK-47’s en Tokaref-pistole by Kloof Silvia Enterprises, Kloofmyn, Westonaria, gewond.
20 Desember 1990: ’n Swart man is in Bekkersdal met ’n Russiese pistool vermoor.
27 Desember 1990: ’n Wit man is in Westergloor, Randfontein, vermoor.
29 Desember 1990: ’n Swart man is in ’n gewapende rooftog by Westergloor Motors, Randfontein, gewond.
4 Januarie 1991: Een rower is doodgeskiet en twee gewond nadat hulle deur speurders van Wes-Rand-Moord-en-roof agtervolg is ná ’n gewapende rooftog in Robertville, Maraisburg.
10 Februarie 1991: ’n Hele aantal skote is tydens ’n gewapende rooftog op die personeel van die Lewisham-sand-en-klip-onderneming op Krugersdorp gevuur.
11 Februarie 1991: ’n AK-47 is gedurende ’n gewapende rooftog en poging tot moord by ’n supermark in Kagiso gebruik.
15 Februarie 1991: ’n Man is noodlottig in die bors gewond in Luipaardsvlei, Krugersdorp.
7 Maart 1991: Drie mense is tydens ’n gewapende rooftog by Vlakplaas, Tarlton, gewond.
8 Maart 1991: ’n Wit man is by Manro Chemicals, Roodepoort, vermoor.
8 Maart 1991: ’n Wit man is ernstig by die Makhulu-winkel op Westonaria gewond.
10 Maart 1991: ’n Wit man is by Western Motors in Krugersdorp-Wes vermoor.
Hierdie lys neem nie die “gewone” of politieke moorde in ag wat Charles en sy kollegas ook moes ondersoek nie. In hierdie tyd is daar net in die Wes-Randse polisiestreek meer moorde gepleeg as in sommige Europese lande.
Frustrasies, frustrasies
Daar was ook ander aspekte van hul werk wat polisielede soos Charles gefrustreer het. Soos al dikwels vantevore gebeur het, het senior polisielede van tyd tot tyd ongevraagd ingemeng in sake.
In een so ’n geval het swart speurders inligting ontvang dat drie rowers beplan om vroeg een oggend ’n Caltex-vulstasie in Hoofrifweg by Luipaardsvlei te beroof. In daardie stadium het die vulstasie reeds herhaaldelik onder rowers deurgeloop.
Terwyl die speurders in die vroeë oggendure vir die rowers gewag het, het ’n voertuig by die vulstasie se parkeerterrein ingery. Tot die speurders se groot verbasing was dit ’n senior offisier wat van die operasie te hore gekom het. Sy blote teenwoordigheid kon die lokval in die wiele ry en tot die polisielede se ergenis het hy boonop die bevel by Charles oorgeneem.
Volgens Charles het dit gelyk asof die senior offisier “bokkoors” kry – hy het aangedui dat hulle eerder voorkomend moet optree.
“Hy het ons beveel om uit die gebou te beweeg en die rowers te nader. Ek was só de moer in dat ek net gebly het waar ek is. Met hierdie optrede was ons kans om die rowers op heter daad te betrap heeltemal van die baan.”
Twee van die verdagtes is toe wel in hegtenis geneem. By die een is ’n ongelisensieerde vuurwapen gevind. Soos Charles verwag het, was sy vonnis ’n teleurstellend ligte tronkstraf vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Die ander rower het skotvry daarvan afgekom.
“Ons swart kollegas, wat baie moeite gedoen het met die inwin van die inligting, was moedeloos. Al die beplanning was puur verniet. Gevaarlike kriminele is só losgelaat deur die oorversigtige optrede van ’n offisier. Die speurders het onderling besluit: Van nou af hou ons eerder ons inligting styf teen die bors.”
Die offisier het later die nasionale speurhoof van die polisie geword.