22 Van moord aangekla |
In 1992 word Charles saam met ’n Moord-en-roofkollega, AO Jakes van Niekerk, van moord op ’n petroljoggie aangekla. Bykans twee en ’n half jaar lank hang eers die moordondersoek en daarna die hofsaak soos ’n swaard oor hul koppe.
Die staat se weergawe het daarop neergekom dat Charles op 20 Maart 1990 vir Lenient Malopo, ’n 24-jarige petroljoggie van ’n vulstasie in Honeydew, na die kantore van die Moord-en-rooftak op Krugersdorp geneem het om hom te ondervra oor ’n gewapende rooftog enkele dae vantevore by sy werkplek. Malopo het beweer hy is deur gewapende wit mans van die vulstasie se kontant en ander items beroof. Kort ná die beweerde rooftog het Malopo se werkgewer egter ’n sak met die geld en die ander gesteelde goed in die veld agter die vulstasie gevind.
In die opsomming van die staat se saak, wat by die klagstaat aangeheg is, word beweer dat Malopo tydens ondervraging in Charles en Jakes se teenwoordigheid by die kantore van Moord-en-roof versmoor het en dat hulle gevolglik vir sy dood verantwoordelik gehou moet word. Die staat se saak het hoofsaaklik op omstandigheidsgetuienis van ’n mediese aard berus.
Die twee speurders het die beweringe teen hulle ten sterkste ontken. Volgens Charles se getuienis het Malopo reeds op pad na die speurderskantore uitermate gespanne geraak. Hy was kort van asem, terwyl hy ’n suisgeluid deur sy neus gemaak het. Malopo is na die swart speurders se kantoor geneem, wat verder af in die gang op die tweede vloer van Charles se kantoor geleë was. Daar het hy erge stuiptrekkings begin kry.
Van Niekerk het in daardie stadium in die kantoor opgedaag. Noodhulp is op Malopo toegepas, maar hy het gesterf. Die lykskouing sou uiteraard van wesenlike belang wees in die bepaling van die oorsaak van dood, aangesien daar geen ander getuienis was wat die twee speurders met ’n misdryf kon verbind nie.
’n Formele geregtelike doodsondersoek is tien maande later op 25 Januarie 1991 in die Krugersdorpse landdroshof gehou. Die voorsittende beampte was Ansie Myburgh, ’n voormalige senior aanklaer van Krugersdorp, wat kort tevore as ’n assistent-landdros aangestel is. Charles het toe al vir etlike jare in baie sake nou met Myburgh saamgewerk toe sy die senior distriksaanklaer was. Volgens Charles het hulle ’n goeie werksverhouding gehad, wat deur wedersydse vertroue gekenmerk is. Myburgh het hom boonop met persoonlike sake in haar vertroue geneem.
Hoewel ’n geregtelike doodsondersoek nie ’n strafverhoor is nie, behoort ’n onafhanklike landdros wat nie sulke persoonlike verbintenisse met die betrokkenes gehad het nie, die ondersoek te gelei het. Dis vir Charles steeds onverklaarbaar hoe Myburgh toegelaat is om as voorsittende beampte op te tree.
Tydens die verrigtinge het dit vir Charles en Van Niekerk gevoel asof Myburgh haar mes vir hulle in het. Die oorkonde toon ook dat sy hulle behóórlik ondervra het. In Myburgh se bevinding, wat sy op 21 Maart 1991 maak, meen sy daar is nie ’n direkte betrokkenheid aan die kant van Van Niekerk nie, maar bevind dat die dood van Lenient Malopo veroorsaak is deur ’n handeling of versuim wat neerkom op ’n misdryf aan Charles se kant.
Die bevinding in ’n geregtelike doodsondersoek is ook nie ’n uitspraak in ’n strafsaak nie, maar was ’n riglyn vir die prokureur-generaal op wie se diskresie strafregtelike vervolging ingestel word al dan nie.
Die volgende dag, 22 Maart 1991, het daar boonop ’n lywige berig in Vrye Weekblad oor Malopo se geregtelike doodsondersoek en Myburgh se bevinding oor Charles se beweerde aandadigheid aan die gebeure verskyn. Vrye Weekblad het gereeld polisiewandade in die laaste jare van apartheid onthul onder leiding van sy uitgesproke en dikwels omstrede redakteur, Max du Preez. In die laat 1980’s en vroeë 1990’s is berigte oor die werksaamhede van polisiemoordbendes en polisiemoorde gereeld in Vrye Weekblad en The Weekly Mail gepubliseer. Die onthullings van die bedrywighede by Vlakplaas, die BSB en veral Eugene de Kock, Dirk Coetzee en Ferdie Barnard se betrokkenheid daarby, was ’n groot verleentheid vir die regering.
In dieselfde tyd was Vrye Weekblad in ’n ernstige siviele lastergeding met lt.genl. Lothar Neethling, adjunkkommissaris van polisie en hoof van die forensiese afdeling, betrokke nadat die koerant onder meer beweer het dat Neethling gif aan die polisie se moordbendes verskaf het. Die berig oor Charles se beweerde aanspreeklikheid aan Malopo se dood was langsaan ’n berig oor die saak van Neethling teen Vrye Weekblad, wat volgens Charles groter prominensie aan sy eie saak verleen het.
Charles het goeie vriende onder sekere staatsadvokate in die Johannesburgse kantoor van die prokureur-generaal gehad. Hulle het laat deurskemer dat daar sterk gerugte is oor druk van hoër gesag dat hy vervolg moet word. Hoeveel waarheid daarin steek, sal seker nooit vasgestel kan word nie, maar wat wel waar is, is dat die Nasionale Party-regering toenemend besorg was oor sy beeld en dit nie wou laat lyk asof hy sulke optrede deur die polisie goedkeur nie.
Op 8 Januarie 1992, nege maande ná Myburgh se bevinding in die geregtelike doodsondersoek, beslis die prokureur-generaal dat Charles én Van Niekerk in die Witwatersrandse hooggeregshof tereg moet staan op aanklag van moord. Al twee die speurders het gevoel dat hulle in belang van ’n ander saak vir die wolwe gegooi word en al twee is vandag steeds oortuig dat hulle deur hul eie mense in die steek gelaat is.
Steeds in die spervuur
Terwyl die saak hangende was, het die twee speurders onverpoos met hul werk voortgegaan. Die bitterheid lê naby aan die oppervlak wanneer Charles daaroor praat: “Daar is van ons verwag om diegene wat ons so maklik vir die wolwe wou gooi, steeds te beskerm sodat hulle in veiligheid hul veldtog teen ons kon voortsit.”
In dié tyd het sowel Charles as Van Niekerk hulle herhaaldelik in lewensgevaarlike situasies bevind. Van Niekerk is in 1991 na die Brixtonse Moord-en-rooftak oorgeplaas. Die moord op polisiemanne het skokkende afmetings aangeneem. Van Niekerk was daar deel van ’n spesiale ondersoekspan wat moorde op polisiemanne ondersoek het. Elkeen van die moorde wat hulle ondersoek het, is opgelos.
Een daarvan was op ’n gemeenskaplike vriend van Van Niekerk en Charles, sers. Danie van Niekerk. Hy is op 29 Julie 1991 in Corlettrylaan in Witpoortjie deur ’n motordief voor ’n vrouekollega doodgeskiet. Jakes van Niekerk was deel van die ondersoekspan wat die moordenaar in ’n daaropvolgende operasie vasgetrek – en doodgeskiet – het.
Op 18 Mei 1992 voer hy en ’n aantal lede ’n klopjag op ’n huis in Meadowlands, Soweto, uit nadat hulle inligting ontvang het dat rowers daar skuil. Twee rowers het uit die huis gehardloop en op die speurders geskiet. Een van Van Niekerk se makkers word naby hom deur ’n opslagkoeël in die gesig getref, terwyl een van die rowers doodgeskiet word. Maar Van Niekerk sal die wete moet saamdra dat hy tydens die skietery per ongeluk ’n onskuldige persoon in die huis doodgeskiet het.
In dieselfde jaar is Van Niekerk saam met twee polisieman-broers, Ewie en Tolla Wiehahn, in Kagiso in ’n skietgeveg met rowers betrokke. Een van die rowers word so naby aan Van Niekerk en die broers doodgeskiet dat sy harsings en bloed op hulle spat. Dan vind hulle uit dat die dooie rower ’n polisieman is wat deel van die roofsindikaat was.
In dieselfde jaar kom Van Niekerk en Ewie Wiehahn op rowers af wat pas die Constantia Meat Market in Florida beroof het. Die twee het die rowers dadelik agtervolg met Tolla Wiehahn wat hulle in sy polisievoertuig volg. In sy destydse verslag vertel Van Niekerk soos volg wat toe gebeur het: “Die rowers, wat in ’n bakkie gery het, het onophoudelik tydens die agtervolging op ons geskiet. Die jaagtog het teen ’n baie hoë snelheid plaasgevind waartydens ’n heen-en-weer-geskietery plaasgevind het.
“Die jaagtog het geëindig toe die verdagtes ’n ongeluk gemaak het. Ek het my voertuig tot stilstand gebring en was in die proses om uit te klim toe konst. Wiehahn teen ’n baie hoë snelheid agterin ons vasgery het. Ek is op die teerpad geslinger waarna ek my bewussyn vir ’n paar sekondes verloor het.
“Ek het my bewussyn herwin en terselfdertyd agtergekom dat die rowers op my skiet waar ek in die teerpad lê. Ek het gekruip tot by ’n lamppaal oorkant die pad. Een van die rowers is tydens die optrede doodgeskiet.”
(’n Paar jaar later is Tolla Wiehahn deur skollies aan die Weskus vermoor.)
Die spanning van al dié omstandighede en die moordsaak wat oor hulle hang, sou uiteindelik te veel word vir Charles . . .
In die hooggeregshof
Die misdryf waarvan Charles en Van Niekerk beskuldig is, sou plaasgevind het terwyl hulle aan diens was. Gevolglik word die twee se regspan deur die staatsprokureur aangewys. Aan die hoof daarvan staan die jong maar formidabele adv. Barry Roux.
Roux sien gou die foute raak wat in die geregtelike doodsondersoek gemaak is. Daar is geen ooggetuienis wat die twee beskuldigdes met enige ongerymdheid verbind nie en dit gaan suiwer oor mediese getuienis wat die dood van die oorledene verklaar. Vir die eerste keer word die saak van die verdedigingskant behoorlik voorberei. Roux verkry die deskundige opinies van vooraanstaande patoloë. Dit sal hom namens sy kliënte in staat stel om die staat se aannames in die hof te weerlê. Boonop blyk dit dat die weergawes van die staatspatoloë nie van die verdediging s’n verskil nie.
Nadat die saak herhaaldelik uitgestel is, word die aanklag teen hulle finaal in Oktober 1992 teruggetrek. Die kantoor van die prokureur-generaal het besef daar is nie ’n kans op ’n suksesvolle vervolging nie.
In 2013 het Barry Roux, vandag ’n bekende senior advokaat wat onder andere die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius in sy moordsaak verteenwoordig, my meegedeel dat die saak op meriete-oorwegings deur die staatsadvokaat teruggetrek is. Die staatsadvokaat moes toegee dat daar geen patologiese bewyse was wat Charles en Van Niekerk met ’n misdryf kon verbind nie.
Van Niekerk se pa sou nooit weet wat die uitslag was nie, want hy is twee maande voor die terugtrekking oorlede.
’n Kollega kry swaar
Van Niekerk sou hierna nog vir ’n dekade herhaaldelik die dood in die oë moes staar. Sy amptelike loopbaanverslag gee ’n skokkende blik op wat dit moes geverg het om in die 1990’s ’n speurder by die Brixtonse Moord-en-rooftak te gewees het. Hy is feitlik ononderbroke aan die ergste gruwels denkbaar blootgestel. Van Niekerk is in 1995 op meriete tot kaptein bevorder.
Op 14 Januarie 1999 was hy saam met agt lede van Brixton-Moord-en-roof in KwaMashu in KwaZulu-Natal, waar hulle verdagte rowers gesoek het wat in Desember die vorige jaar R3,8 miljoen by die People’s Bank in Johannesburg geroof het.
Laat daardie Donderdagaand klop die polisiemanne aan die deur van ’n hut in die heuwelagtige gebied. Die leier van die bende, Sibusiso Ntuli, was binne-in die hut, maar hy het geweier om uit te kom. Toe die speurders die deur afskop, antwoord hy met ’n sarsie koeëls. Van Niekerk word twee keer getref. Die een koeël gaan deur albei sy bobene se dyspiere en laat hom bewegingloos op die grond. Hy kom eers later agter dat hy ook in die maag geskiet is.
In sy verklaring skryf Van Niekerk: “Ek het soos ’n hulpelose dier op die grond met behulp van my arms rondgekruip om my pistool en flitslig in die hande te probeer kry. Ek kon glad nie my bene gebruik het nie aangesien hulle heeltemal lam was.
“Ek het later verneem dat beide my bobeenspiere afgeskiet is. Ek het geheel en al magteloos gevoel toe die wilde skietery om die hoek van die huis aangaan. Ek het weerloos sonder ’n wapen vir die verdagte lê en wag dat hy my soos ’n hond kom doodskiet.”
Intussen is Sibusiso Ntuli deur een van Charles se makkers, sers. Bosbok Jordaan, doodgeskiet. Van die ander lede het met die skietery weggehardloop. Die swaar gewonde Van Niekerk is deur supt. Hein Kalp en sers. Joubert na die polisievoertuig gesleep-dra. Hulle kon hom betyds by die trauma-eenheid van die St. Augustine’s-hospitaal in Durban kry, waar ’n suksesvolle noodoperasie op hom uitgevoer is.
Van Niekerk se nagmerrie het egter ’n paar dae later voortgeduur toe sy wonde weer begin bloei het, waarna hy ’n halwe dag in bloeddeurdrenkte lakens gelê het sonder dat die mediese personeel hom wou help. Dit was noodsaaklik om hom na ’n ander hospitaal oor te plaas om te keer dat permanente komplikasies intree.
Lede van die Brixtonse Moord-en-rooftak het geld ingesamel en hy is na Johannesburg gevlieg waar hy in die Wilgeheuwel-hospitaal in Roodepoort opgeneem en ná ses weke ontslaan is. Hy is later vir verdere operasies opgeneem. Hy het permanente skade opgedoen en kan nie hardloop of vinnig loop nie.
Van Niekerk het vir ’n lang tyd nadat hy gewond is geen berading ontvang nie.
“Hulle het ’n 20-jarige maatskaplike werker na my gestuur wat duidelik geen benul gehad het wat sy by my moes doen nie. Om haar verleentheid te spaar het ek haar maar laat gaan,” vertel Van Niekerk.
Ná die skietvoorval ly Van Niekerk aan erge slaaploosheid en depressie. Nadat hy sy diens hervat, lewe hy heeltyd in vrees dat hy weer geskiet gaan word. Op sy 13-jarige seun het dit só ’n effek dat hy sy pa aanhoudend bedags bel om te hoor of hy veilig is. Dit het naderhand die gevolg dat die seun sielkundige behandeling moet ondergaan om die gebeure te verwerk. Dit was net ’n kwessie van tyd voordat Van Niekerk sou knak.
“Die laaste saak wat ek as diensoffisier bygewoon het, was in 2001 toe ’n bejaarde vrou en haar huishulp se kele soos skape s’n afgesny is nadat die huishulp verkrag is. Die bejaarde vrou se man was ’n hulpelose invalide wat in sy bed oorval en talle male met ’n mes gesteek is. Ek het voorheen honderde gru-tonele gesien, maar nou was hierdie ontstellende toneel net te veel vir my. Vir die eerste keer kon ek nie my emosies beheer nie en ek het buite gaan staan en braak, terwyl trane oor my wange geloop het. Ek kon die toneel nie verder hanteer nie en het my pligte aan ’n sersant oorgegee.”
Van Niekerk is daarna medies ongeskik verklaar.