2001

1

EK WEET PRESIES HOE DIT GAAN WEES. Ek weet presies wat gaan gebeur. Ek weet al van die eerste slukkie af. Ek ken die verskil tussen begin met ’n Pale Ale en begin met ’n Guinness. Ek weet hoe my dag gaan verloop. Ek weet hoe my aand gaan eindig. Ek weet dat ek die volgende oggend gaan mislê. Ek weet wat ek die volgende middag sal moet doen om te kan opstaan. Ek ken die 32 oz Snapple Raspberry Iced Tea in my hand. Ek ken sy kantel, die klam van die koue plastiekbottel, die soet van sy tee in my keel. Ek weet ook dat net ná tienuur, wanneer die Bodega weer alkohol mag verkoop, ’n 24 oz Mike’s Hard Lemonade in ’n bruin papiersak die swyg uit my mond sal kerf sodat ek verder en verder en verder kan drink. Ek weet ook wat dit beteken om sonder ophou te kan drink. Ek weet hoe dit is om vriende los en vas en weer los en weer vas en vir altyd vas te kan drink. Ek weet hoe lekker dit is om te drink. Ek weet hoe afskuwelik dit is om te drink. Ek weet hoe my gesig aan die diepkant van die oggend lyk. Ek weet hoe my vriende se gesigte aan die diepkant van die oggend lyk. Ek ken die drank se waterrimpels op hul vingerpunte. Ek ken die drankasemskuim in hul kiewe. Ek ken hul dronkmenstande. Ek ken die kreune en die kots. Ek ken die geskree en die trane. Ek is bewus van hul kinderjare. Ek ken die letsels wat ouers en nasies op my pêlle gelaat het. Ek verwelkom die warm marteling van vriendskap en drank. Daar is eeue se stront om kwyt te raak. So sal ek klokslag vroeër as moontlik by die tafel voor die Plexiglas-venster gaan sit en wag. So sal ek weet hoeveel bier nog in gisteraand se kegs skuil, deur my en my vriende in die kelder gelaat om te rus. Vandag is nog ’n dag, môre ook. So sal ek weet om te begin drink, steeds met my serp en my twee T-shirts en my trui en my baadjie aan, dat ek eers my vingers binne my handskoene laat ontdooi in enige gloed wat nog deur die venster skyn. So sal ek sit. Alleen met my glas, met my pols glad en warm, om die eerste slukkie te neem en te weet dit smaak goed. Want netnou kom my vriende. En ons sal by die venster uitstaar, op soek na ’n herfs wat vriendelik lag. Of na die winterliefde van ’n helder son. Lente: buite rol die digblou lug, tiep om en val flou teen roesblare wat ineenstort. Die buitewêreld is ’n blaarvuur van asbes, ’n kolom wat strek tot teenaan die ruimte. In die bleekheid binne suip ons onsself dronk, vas oortuig dat waar ons nou is, steeds die beste plek in die wêreld is. Ons sit-lê rustig, gemaklik op leunstoele, bo die gemaal. Ons kyk af op ’n wêreld van dorre lande waar drome versuip. Daar onder is die mensdom dors vir asem. Hier is daar drank. Hier is al die drank, en nog meer. Al die drank is ons s’n.

2

DIT IS LENTE EN BOONOPN VAKANSIEDAG. Voor my op die bar counter lê ’n ruolie-eierbroodjie van Andy’s Diner oorkant die straat. Die counter is amper ’n honderd jaar oud, met dik lae vernis en vol krapmerke wat skeel kyk. Die jukebox speel iets losserig. Ek raak van die alkoholreuk ontslae met koffie en cheap Latino-brand vloer-seep – Fabuloso®, pers. Op die TV blaker baseball in al sy glorie, pitch vir goddelike pitch. Die Yankees skrik vroeg wakker in Fenway Park. Top of the 1st: Cone Walks Jeter. Jeter Steals 2B. Cone Walks Justice. Bernie Single (Ground Ball) – Jeter to 3B, Justice to 2B. TMartinez Single to RF (Ground Ball to Short RF) – Jeter Scores, Justice Scores, Bernie to 2B. Crazy 1st inning. Ford, Dodge, GM en al hul subsidiaries vul elke moontlike advertensieruimte met nuwe tjorre.

Dis Maandag en dis Memorial Day. Ek score ’n ekstra dagskof. My mop is ook op vakansie. Op dae soos dié lek ek en sy net liggies aan die houtvloer tussen die counter en die pool-tafel. Op vakansiedae kyk niemand ooit in die hoeke nie. Liggies mop gee my meer tyd om op die klavier in die agterkamer te speel voordat ek eenuur die shutter ophys en die Budweiser sign inprop.

Iets stink. Slik dryf op die drip tray onder die taps. Êrens is iets verstop. Ek lig die drip tray om te kyk. Die trog staan op vloedvlak. ’n Mengelmoes ou bier het ’n slikvel gevorm. Ek moet my vingers deur die mengelmoes trek sodat slikrepies vorm sonder om op die vloer te mors. Die dermpies het ’n vetkleur. Ek spaan hulle uit en dra hulle in my bakhande vullisblik toe. Die mengelmoes lewe nog sonder die slik. Dit groei op gistende bier. Toeneus kry ek ’n helder kol biersop in die trog en help dit regs na die dreineringsgat. My wysvinger draai rondom die gat totdat ’n kolkbeweging begin en die drein homself ontstop. Intussen hou ek weer die drip tray teen sy keel omhoog. Hy wil teruggly trog toe, dors vir vars bier. Met die tray in plek gaan staan ek ’n oomblik met skoene vol sweet waar niemand my deur die Plexiglas kan sien nie. My keel skep groot teue wind.

Ek pars my oë tussen wenkbroue en wange, styf genoeg om my brein by die verlede in te druk. Ek wou mos. Wat soek ek hier? Maand in en jaar uit, op soek na Amerika se bodem, na sy skurf onder die bal van ’n voet. Nou staan ek in die back room, met ’n muurtjie wat my van die voorkamer verskans. Ek staar na die vloer. Ek weet al goed hoe om hier te wag dat die vrot verdun voordat ek met die werk aangaan. Ek het ’n aanvoeling ontwikkel vir hoe lank dit die vrot neem om by die voordeur uit te kruip. Ek is ’n fynproewer van vrot.

Ook weet ek hoe om die vars lug en die sonskyn met die shutter uit te sluit, hoe om myself met die bodem se stank te omring. Niemand sal ooit hierdie deel van my sien nie. Ek verkies die stank. Ek is deel daarvan. Ek is met die vrot, ons is saam op die bodem. ’n Flenter van gisteraand se oorskot-Dylan kom orent uit die jukebox. “Hurricane”. Ek is ook skaam om in ’n land te bly waar justice ’n game is. Daar is nog stank. Dit oorleef onder die houtblaaie waarop ons agter die counter loop. Met my hande toegerol in papierhanddoeke tel ek die drie houtblaaie een vir een op en balanseer dit teen die booze counter. Jare se pik kleef aan die papierhanddoeke en skeur stukke weg. Onder my begrawe suurlemoenskywe en bottle tops mekaar in plasse teer. Die teerplasse is ondenkbaar oud. Die bar se eintlike vloer is van teer. Dit is die git wat lê en wag onder die houtblaaie waaroor ons elke dag loop. Ek pluk my besem aan sy borselkop nader. Stadig buk is goedkoper as ’n rugstut. Bottle tops van Budweiser, Corona, Beck’s en Heineken haak onder die borsel vas, teen versteende kolle taaiheid. In die nanag eet die vuil vergete kleingeld en klou daaraan vas. Die teer kan nie skoon kom nie. Ten minste versamel ek ’n paar dollar se los quarters, selfs ’n noot of twee. Ek steek dit in my sak op pad na die lafenis van die klavier in die back room.

Elke week verloor die ou klavier ’n hamer of twee onder ’n customer se dronk vingers. Party van die klawers lê effens mank – onboetvaardig misgesteel. Die meeste lyk nog bruikbaar, maar reageer met stilte. Húlle moet ek memoriseer. Nie een van die note is meer toonsuiwer gestem nie. Die klank van die klavier neurie onbesonne tussen harmonie en geraas. Die klavier is my kosbaarste besitting, my publicly prepared piano.

Eers verbeel ek my dat ek ’n stuk groen vilt versigtig van die ivoor aflig, opvou en netjies langs my neersit. Dan toets ek die sustaining pedal met krakende enkels. My regterskoen se tong kleef bo aan die pedaal vas. Ryloopteer van agter die counter. Goeie gom vir resonansie.

Rondom die oorblyfsels van middel-C bring ek my hande saam en sit vir ’n oomblik regop, nes my ouma my geleer het: “Ontspan eers voordat jy speel. Vang jou konsentrasie.”

Ek toets die klawers ligweg na weerskante en herken die nuwe afwesiges op hul naam. Ek vergeet standaardakkoorde sodat ek verby die stil note kan speel. Daar is nog musiek oor rondom die afwesiges. Daar is nog golwe van klank wat inmekaar wil swem. Die dooie note maak nog klank. Hulle fluister met die slag van dons. Ivoor skuifel oor straaltjies hout met gebreekte stemme. Die klavier kan nie meer sing nie, maar hy kan nog praat. Party dae vergeet ek dat ek die plek moet oopmaak, dat ek die sleutel in die voordeurslot gelos het, dat niemand sal kan inkom nie, al lig hulle met ’n helse geraas die shutter van buite af op, ek sal dit nie kan hoor nie.

My ore suis met die woorde van die klavier. Agter my staan die spoke wat Joseph om my sien. Met hande op my skouers por hulle my aan. Ek is besig met iets waarvan ek nie weet nie. Dou vorm in my gewete. Druppels van gedagtes. Goue woorde wat sê ek moet hier uit, ek moet vlug, ek hoort nie hier nie.

Die voordeur skud onder ’n vuis. Ek los die klavier en stap deur die bar om die vuis in te laat. Die vuis sit vas aan ’n korterige mannetjie. Dis uniek, dink ek. Iemand wat glimlag voor sy tweede drankie. Soos hy bestel, werk ek sy kleingeld uit, agteruit. Daar is net soveel moontlikhede hier. Daglig beteken specials, alles kos al twintig, dertig jaar lank basies dieselfde, sê die regulars. Ek is die nuutste in ’n lang lyn daytime bartenders wat teruggaan na die 1920’s. Geld wissel eers hande ná die pour. Dis belangrik om nie in ’n leë bar vir ’n man geld te vra voordat jy sy drank voorgesit het nie. Twee shots en ’n bier. Lekker dag vandag. Ja. Die vuishou van Bushmills. Tommy sê altyd Bushmills is “Protestant whiskey”. Steven sê ten minste is dit nie Scotch nie. Owen sê net hy sal enigiets drink. Ná die tweede ronde vra ek wat ek met die ongedrinkte shot moet doen. Nee los dit, sê hy, dis vir Mickey. Ek ken g’n Mickey nie. Ek rook maar, en kyk na die vaal eierding op die bar. Dis darem nie reg nie, dat so ’n letsel as kos geklassifiseer kan word. Dan eet ’n mens die ding maar seker. Net eers die koue eier bestrooi met presies eweredige peper-parallelogramme wat by die takeout-sakkie uitskilfer. Die gesmelte kaas is ten minste nog lou. Ek gooi soos gewoonlik die reuse-asblik mis en moet buk om die eierding se besoedelde waspapier ordentlik weg te gooi. My rug steek weer tot in my skene. Ek is een en twintig en hoopvol.

Top of the fourth inning. Vyf shots vir Mickey staan op die counter. Omdat die vuis deeglik ná elke ronde tip, was Mickey se derde drink on the house, en so sal sy volgende dan ook wees. Dit voel soos mors, maar ek bied maar nog ’n ronde shots aan. Hy sê ja dankie, dit sal gaaf wees, en drink syne sonder om sy oë na die TV te gooi. Hy en sy glimlag staar liewers straat se kant toe, deur die Plexiglas. Sy oë brand. Voordat hy loop, groet hy hoflik en vra dat ek die drank in die drein afgooi. Hy wil nie hê ander mense moet Mickey se drinks drink nie. Ek begrawe Mickey se shots onder slik, git en suurlemoenskyfies.

3

VIRN WEEK OF TWEE HET EKN GIRLFRIEND. Sy wil na gorillas in die Bronx Zoo gaan kyk. Ek wil nie. Sy sê sy het nog nooit ’n gorilla gesien nie. Ek sê sy gaan ook nie dáár een sien nie. Sy wys my online dat die Bronx Zoo wel gorillas aanhou. Ek sê dit is nie wat ek bedoel het nie. Sy’t ’n kar wat sy bestuur. Een gorilla val van ’n tak af. Die res kan hul speeksel nie binne hou nie. Sy begin huil. Ons word omring deur kinders wat gil. Gorillas is boring. Hulle wieg net. Enige aap agter glas voel aan sy kak.

4

“WERE GOING TO WAR.” Amerikaanse ogies dans tussen trane deur, op pad hospitaal toe om te gaan bloed skenk. Bloed? Vir wat? Die ruïnes van twee baie, baie swaar geboue smeul van seevlak tot in die ruimte. Lunchtime. Ons staan en lag op die hoek van Cumberland en DeKalb, drie blokke van The Alibi af. Buite Output Studios suig my Jamaican pêlle die laaste agt maande se foreign policy deur hul lippe.

“Little Bush … the fuck you expec?”

Peter Tulloch maak reggae-albums. Sy ouer broer, Paul, naai die landlady. Die rent bly goedkoop. Peter leer my hoe ’n studio werk. Hy wys my verskillende tipes mikrofone. Peter is ’n bassist. Hy wil gemaklik wees. Alles moet glad beweeg. Ons lag saam vir sy dik pêl Carl, die studio drummer. Carl stel sy simbale hoog. Peter sê hy lyk soos ’n aap wanneer hy speel.

“But that ape can play, man.”

Peter leer my hoe om te luister na wat die musikante rondom jou doen.

“Most people don’t know how to listen. Then they come to the studio and them don’t know why everything fucks out. Now what I’m supposed to tell them? You can’t say nothing if someone don’t listen. So I say to them, learn to listen, then come back. They don’t.”

Peter speel vir Foreign Exchange, ’n reggae band. Hy sê van hul outdoor shows is so huge dat hy nie sy eie instrument op stage kan hoor nie. Hy sê niemand in die band kan ’n noot wat hulle speel, hoor nie. Hy sê jy kan nie eens fokkol hoor nie. Jy hoor net tienduisende mense wat gil. Hy sê dan draai die band net om en kyk na Carl.

“We watch him count off and then we play what we know. Just watch Carl’s big head bobbing, you know, keeping time like that, and hope for the best. You can’t control shit. But you can still feel the music. Can’t hear a fucking thing though.”

Hy sê solank die mense aanhou skree, klink die band goed genoeg. Wanneer Peter en Carl met mekaar praat, verstaan ek niks. Ná ’n paar maande se weeksdae in die studio kan ek hul patois begin herken as ’n taal van stegies en lemme. Peter vertel my van die busse in Jamaica wat met abstrakte snelhede oor bergpasse slinger.

“Jamaicans don’t give a fuck about dying, man.”

“Little Bush … Blood clot!” Carl is kwaad. Ons staan op die hoek en lag vir slagoffers. Peter en Carl praat oor poeiermelk, die IMF, die World Bank. Ons tel die nuwe gesigte wat vandag oor die brûe moet loop, elkeen alleen met ’n aktetas op pad Park Slope toe. Nog ’n duur suit, nog ’n vreemde mens oortrek met wit stof en as.

“Them getting what they deserve.”

“Yeah, fuck them, man. Pigs.”

Dis ’n mooi dag. Indian summer aan die begin van die herfs. Ons staan op die straathoek totdat die son begin sak, drink eers Bodega-koffie, dan Red Stripe, en lag soveel as wat ons onder die omstandighede kan. Wat anders kan ons doen? Almal weet hulle het in die sewentigs met asbes gebou. Lower Manhattan steek van nou af in ons longe vas. Little Bush verplaas sy eie mense: Dertien miljoen vierkante voet se kommersiële ruimte word in ’n oogwink verkrummel of beskadig.

Meer as twintigduisend van die rykste mense in die wêreld word in een oggend by Manhattan uitgeblaas. Elkeen soek ’n nuwe huis in ’n nuwe neighborhood. Veertigduisend verskrikte oë sien Fort Greene se boomryke strate, die ou geboue wat die mense hier mooi gemaak het. Hulle hoor nie hoe ons lag nie. Volgende jaar bring hulle domestic partners en kinders in Ferrari strollers. Hulle gaan meer koffiekeuses en minder geraas eis. Hulle gaan ’n landelike bestaan met organic vegetables en sojamelk op die rakke verwag. Die strate gaan fraai en eenders moet word. Hulle gaan ons hier wil wegkry, want ons is vuil. Ons huur gaan verdubbel en dan wéér verdubbel. Hulle gaan nie vir ons luister nie. Die varke gaan ons hardware store toemaak. Daar gaan te veel van hulle en te min van ons wees. Ons gaan nie hulle aantelery kan stop nie. In die puin van die instroming gaan ons aan die laissez faire-oorskot van de-evolusie moet begin kou – die gompapier van ons belastingkoeverte. Selfs 40 Acres and a Mule – Spike’s only stand – gaan versemel oorkant die ou Fort Putnam. Dieselfde Fort Putnam, nou Fort Greene, waaruit George Washington in die nag sy belastingrevolusie New Jersey en Pennsylvania toe moes smokkel ná die Battle of Long Island. Chris Rock se roetine op Waverly is meer eenvoudig: Sy coach house het ’n remote-controlled ivy-muur waaragter hy elke aand sy Porsche in die bed kan sit. Peter sê: “There have been rich motherfuckers in this neighborhood for generations, man.” Agter sy lessenaar groei Puffy se Hennessey Empire stapels Benjamins. Jay-Z oes biljoene in die malt liquor vlaktes rondom Marcy Houses. In die kruistog van die instroming kwalifiseer Magic Johnson – met AIDS – vir lenings om apartments in die Savings Bank Tower te verkoop. Peter sê daar was nog altyd rykdom in armoede, “and them don’t share it for nothing.” Carl sê: “True, but there’s not enough money here to compete with Lower Manhattan.”

In die nabye toekoms gaan Fort Greene Park se klimrame wemel. Die opinie van ’n sewejarige Narcissus-Adonis gaan dieselfde gewig dra as dié van Frantz Fanon of van Carl Hancock Rux. Rondom die Park gaan brokkies van ons geskiedenis aan gerestoureerde lamppale hang. Alles gaan “landmark” wees. Niemand gaan stop om te lees nie, net om te koop. Nuwe besighede in verfraaide ruimtes gaan flat white coffees en sides kale as ontbyt verkoop. Young professionals gaan hul bloedlyne tussen die boomryke boulevards van South Portland en South Oxford voortsit. In die somer gaan Habana Outpost se solar-powered kredietkaartmasjiene Cuban sandwiches en roast corn aan die elite verkoop. Aan die ander kant van Fort Greene, op Myrtle, gaan Carlos se Gardens, ’n kroeg van crack en naai, met sushi en ramen vervang word. Miracle Cuts gaan ’n barber aanstel wat blonde hare kan sny. Fixed-gear ridders, die Templars en die Hospitallers van Williamsburg, gaan Gotti se Maginot-lyn van Ryerson en Myrtle via onverdedigde straatblokke op Bedford en Franklin vir credit plunder.

Rondom Grand en Greene gaan cuisine gestig word. Aandete in die ghetto gaan duurder wees as ’n blowjob. By Danny Simmons se loft gaan kredietliefhebbers tydens die aftakeling van Broken Angel vir rosé en Veuve Clicquot stop. Waar gaan boureëls en wetstoepassing laks genoeg wees vir Chappelle se volgende block party? Waar gaan ons blunts rook en kultuur pleeg? Mos Def gaan sy naam verander en Kaapstad toe trek. Die squatters van St. James, Bill Nolan en Emiliano Casarosa, gaan verban word na buiteprovinsies van sout en sneeu. The Alibi gaan ’n “A-rating” kry by die Health Department. Imagine that.

In die holtes van ons haastig verwyderde meubels – goue tande en diamante uit ons gebit – gaan generasies met ou geld hulself agter emaljemure toemessel. Hulle gaan hulle kinders eerste stuur.

Trust Funders en die andersins independently wealthy gaan hul koopkrag flex in huurkontrak ná huurkontrak, twelve months in advance. Willing buyer, willing seller. Hoods gaan nog desperaat kids in die wortelkanale tussen restaurant en voordeur probeer opfok, totdat pappa of mamma daarvan hoor en hele brownstones onverdoof in enkeltransaksies uitpluk. Buy when there’s blood on the streets. Hier was daar nog altyd té veel. Die ghetto rich verafgod steeds Machiavelli, maar vergeet van Glass-Steagall. Fort Greene se huurpryse gaan groter as Jennifer Connelly s’n op die Brooklyn Heights promenade uitswel. Daryll, ’n well-groomed cat in sy vroeë twintigs, wat na die bar toe kom om Gil Scott-Heron te speel en om “fucked up, but not that fucked up” te raak, weet wat gaan aan. “The wealthy, and I’m not talking about these local rich cats, I’m talking about the triple-A listers. They’re refinancing the entire neighborhood, man. And this is just one fucking hood of many.” Sam, die saggeaarde Nigeriese investment banker sê: “To them, understand this, a brownstone is only an asset.” ’n Safe bet, deel van ’n spread, ’n goeie opsie in die makro-ekonomiese prentjie van kredietwaardigheid in de-coupled finansiële stelsels.

But wait, losses are incurred in reverse order of priority. Die uitsig op die skyline gaan onbelangrik word. Perspektief gaan verdwyn. Vodka en soda Scott, ’n regter, sê die man op straat gaan doelgerig sy eie roem kultiveer. Al wat vir hóm gaan tel is sy rangorde in die fiefdom van besighede in Fort Greene ná 9/11: ’n siellose kak plek om in te bly. Sielloos, want almal wat variasie bring, gaan trek. Sielloos, want enige gesprek oor integrasie gaan op Facebook tussen sessyfer-bankbalanse gevoer word. Walt Whitman gaan verkeerd bewys word.

Fort Greene Park gaan ophou dien as heuwel van Atene vir die huisloses van ’n hedendaagse Young Dublin. Hulle gaan Panama uit sy boomhuis sleep, maak nie saak hoeveel rapes hy in die nagte keer nie. Hulle gaan ons verbied om sokker te speel. Hulle gaan ons Palatine, ons Hill, in ’n citadel van farmers’ markets, dog runways en Citi Bikes verander. Net die magnate van tragedie – die Hapsburgs van verlies, the families of the victims – sal in die Park mag ontspan. In the near future, the only thing better than closure will be foreclosure.

Ons moes die brownstones afgebrand het toe ons nog kon. Ons moes die bome gebruik het om die vuur te stook. In die aangesig van die instroming was ons té kortsigtig. In die loopgrawe van ons individualisme het ons aan gelaaide identiteite geklou. Ons het grootgepraat en fokkol gedoen. Ons het verkoop en getrek. Fort Greene staan verlate: onbelangrik, betekenisloos en verby. Dit was nie gentrification nie. Dit was kapitulasie.

Ons het op die dakke van ons brownstones gestaan, op Tar Beach, en gekyk hoe die geboue inmekaarstort. Ons het die rookseine tot aan die hemel sien styg. Ons het geweet ons moet veg of trek. Ons het heel beleefd teruggestaan. Ons het gekyk hoe hulle vreet. Eers was ons verbaas. Daarna was ons bang vir revolusie. Miskien nie bang nie. Miskien net moeg en gatvol vir sukkel. Het ons dit dan nie sien kom nie? Natuurlik het ons. Ons was almal daar. Ek was dronk op 9/11. Dronk en vas aan die slaap.

Al die lughawens is gesluit. Ek lê in die agtertuin van The Alibi, weggesuip. Dagga verlig die vrees vir asbes. Op die TV skyn Osama se oë ’n vreedsame blou. Giuliani word ’n hero. Ons moet stilgebore die toekoms verkeerd sluk.

5

TWEE DAE LANK IS ALMAL BELEEFD. Op die derde dag storm ’n groep Amerikaners by The Farmer in the Deli, die local 24-hour sandwich store in om die Jemeense eienaars te bliksem. Firefighters en cops moer mekaar met die vuis langs rubble vol stukke van first responders. Die cops wou net vir Kanadese goudstawe grawe, die firefighters vir hul makkers se ledemate. Met die goud uit, hou die diggers op. Daar is meer firefighters as cops. Giuliani se cops het nuwe, groter guns. Die puin van Lower Manhattan word in Fresh Kills, Staten Island, gedompel. Bush beveel aan dat almal moet gaan shop. Century 21 is onbereikbaar agter die kordonne van Ground Zero, ’n ware tragedie. Amerikaanse vlae verskyn oral. Bush druk sy smoking gun op Afganistan dood. Noël, die half-wit by Mario’s Pizza, verkool my slice, want hy kyk te lank na die nuwe oorlog op sy tienduim-TV. Die beeld sneeu, maar die klank is stereo genoeg om te kan sien wat aangaan.

“They’re dropping million-dollar bombs on one-dollar tents.”

Nie ek of Ralph Carter mag meer klavier speel nie. Dis oorlogstyd, ’n Crusade. Almal moet ongehinderd in die bar TV kyk. CNN breek elke reël van goeie bar-geselskap: dis nét politiek en nét religion. Al wat dood is, is ’n hero. Die reuk van wraaklus hang dun en suur om die pool-tafel.

’n Vreemde girl in high heels is daarop uit om kak te maak. Sy’t in my gesig gelag toe ek sê ons stock nie Alizé nie. Ek weet al twintig minute lank sy gaan iets begin, maar ek kan haar nie uitgooi nie. Technically het sy nog niks verkeerds gedoen nie. Dit is Chulo se beurt by die tafel. Sy stamp aspris aan hom terwyl hy buk om quarters te laai, hard genoeg dat hy omval. Sy dink hy’s net nog ’n klein outjie. Chulo se first lieutenant staan op. Sy naam is Montano. Monty het twee goue tande en dra ’n mes uit Tijuana. Niemand stamp aan Chulo en oorleef nie. Montano skreeu: “Fucking bitch!” Die Bitch se boyfriend is ’n reus. Montano hap aan hom. Twee ander Latin Kings verskyn. Die fris een rek Chulo by die deur uit. Chulo skree: “You’re both dead!” Die ander King, ’n riem met ’n skewe keps op, handle die Bitch. Pool-balle klap teen die Plexiglas-voorruit. Bloed gly by ’n customer se gesig af. Die Bitch se goedkoop sequence skirt span styf soos sy met ’n pool-stok aan die riem pluk. Sy tand giggel vir haar make-up. Ek skree dit sal moet stop. Niemand hoor my nie. Tommy haak ’n pool-stok uit ’n Latin King se greep uit. Die boyfriend se wange blink van glas. Kerfmerke groei op sy lyf. Tommy se stem tref ’n aar.

“Montano, not in the bar!”

Die boyfriend abba twee Kings na buite. Ek hoor hoe die Bitch agter hom aan skree. Tommy sluit die deur. Bloed volg bloed oor die vloer. Ek weet nie hoe ek dit gaan skoonkry nie. Ek sien ’n mes en tel dit op. Die lem het net ’n vliesie bloed op. My duim en wysvinger druk styf teen die mes vas.

“No! You never touched that, understand?”

Tommy neem die mes by my met ’n handvol papierhanddoeke. Hy vee die mes skoon en steek dit agter die till weg. My eerste night time bartending shift eindig vroeg.

“Pour everyone a Maker’s. I’ll phone Owen, get him down here. Bar’s closed.” Een van die beseerde customers se naam is Carrie. Sy’t ’n knop op haar kop. Ek volg haar met drank en bewende hande na my futon. My onderbroek staan vol klam $20-note, al was die aand maar kort. Daar is geld op die bed. Carrie se bruin hare wieg onder my. Sy sê dit is al wat sy wil doen. Ek sê ook so. Sy bring haar bene om my nek en ons lê so, met ’n blou lig wat op my bed fluister. Monde en hande voltooi mekaar rustig.

Die volgende oggend begin buite my venster. Busse rammel, skoolkinders baklei. New York is weer op die been. Boeke en gidse oor Islam verkoop so vinnig as wat hulle verskyn. Almal wil weet wat met hulle loved ones gebeur het. Love changes everything.

Ons geluide raak stomp en laag. Die vensters bly oop. Joseph het weer die radiators te hoog gestel. Elke nou en dan moet ’n mond rus om asem te haal. Of ’n hand word afgestuur om in vingers te vleg. Ek is bly ek het ’n girl.

Later trek Carrie haar jas aan, gee my ’n laaste kus en gee pad na haar man by die huis.

Twee weke later gooi die cops vir Chulo in Riker’s Island-gevangenis.