2003

1

NIEMAND NEUK MET DIE JUKEBOX NIE. Die jukebox is heilig. Owen gooi enigiemand wat daaraan stamp of slaan onmiddellik by die bar uit. Elke tweede Woensdag kom die jukebox-man met ’n rooi koffer sy geld haal. Hy loop stadig. Die koffer is swaar. Sy manier van groet is ’n hand-gebaar – hy lig sy linkerhand tot by sy skouer en gaan aan met sy besigheid. Niemand ken sy naam nie. Owen noem hom “Sir”. Die man het grys hare. Hy sit elke keer by dieselfde tafel. Owen trek die shutter van binne af heeltemal toe. Hy sluit die voordeur. Die jukebox-man sit sy koffer op die tafel en sluit dit oop met ’n sleutel wat hy om sy nek dra. Binne die koffer is ’n masjien wat quarters weeg. Die man staan op om die jukebox oop te sluit. Hy swaai die voorkant van die masjien oop. Owen kry kans om vir hom uit te wys watter CD’s nie meer werk nie. As hy lus is, sit hy vir ons nuwe CD’s in. Ons hou nuwe CD’s agter die counter. Die man ruil nooit meer as twee op ’n slag om nie. Hy het baie jukeboxes om na te sien.

Owen sê as jy ’n bar wil oopmaak moet jy eers die jukebox-mense leer ken.

“Look, it’s like this. They’ll front you cash to open your place. Then they take fifty percent of the take from the jukebox and the pool table, forever. If you don’t know a jukebox guy, they will come to your bar and ask very nicely if you’d like a jukebox or a pool table. You can say no to one, but if you say no to both options, your bar will definitely be closed in two years. Don’t fuck with the jukebox. If it breaks, they’ll fix it. If it breaks often, they’ll fix you.”

Die man weeg ’n hele berg quarters met sy masjien. Hy en die masjien pak die quarters in rolle van tien dollar elk. Owen neem sy vyftig persent. Hy verdeel die rolle tussen die kasregister, die box en die kluis in die basement.

“Thank you, Sir. We appreciate your business here. Can I get you anything to drink?”

Die man drink nooit nie. Hy pak net sy koffer. Owen sluit die voordeur oop. Die jukebox-man stap stadig terug na sy kar. Niemand neuk met die jukebox-man nie.

Public Enemy, The Pogues, The Clash, Louis Prima, Al Greene, Happy Mondays, Asian Dub Foundation, Pavement, David Holmes, Nina Simone, Tricky, Underworld, Bob Dylan. Nóg Bob Dylan …

Owen kies die musiek. Dit het hom ’n jaar van twee CD’s op ’n slag geneem om die jukebox-man se verskeidenheid in goeie musiek te verander. Die meeste van die CD’s het Owen self gekoop. Vir die res gebruik hy ’n skip button agter die bar counter, langs die volumeknop. Dustin Thacker, ’n regular, word toegelaat om een CD op die jukebox te sit. Hy maak ’n mix: vroeë bootlegs van Gogol Bordello, Yeah Yeah Yeahs en Kings of Leon. Slim Cessna’s Auto Club, The Reverend Horton Heat, Cat Power. ’n Goeie bar het ’n uitstekende jukebox. Mense soek totdat hulle ’n bar met ’n goeie jukebox kry. Owen maak seker daar is iets vir almal. The Alibi is ’n musiek-bar. Fela, Blue Cheer, Gil Scott-Heron, Stevie Wonder, Wu-Tang Clan, Hank Williams, Muddy Waters, Elliot Smith.

Rooi busse verskyn. Die busse is topless double-deckers vol toeriste. Hulle ry deur die neighborhood. Hulle neem digitale foto’s. Niemand waag dit om in Fort Greene van ’n rooi bus af te klim nie. Die busse stop ook nie om locals op te laai nie. Ons moet vir die B38 wag. Eers lag almal vir die rooi busse. Daarna skel ons die toeriste. Ná ’n paar maande waai ons net sarkasties. Owen maak ’n verskeidenheid van ape na. Sangho skree: “Fuck you, go home!” Meer busse kom. Ons raak moeg vir skree. ’n Mens word gewoond daaraan om deel van ’n sight-seeing trip te wees.

Die jukebox-man vervang die CD jukebox met ’n internet jukebox. In plaas van blink CD’s wat deur ’n meganiese arm opgetel word, is daar nou ’n touch screen wat advertensies speel. Enigiemand kan nou enigiets behalwe die Beatles kies. Ons kan nie meer Thunder Road of Badlands speel nie. Springsteen verskyn op geen internet jukebox nie. Die mark kies ons musiek. Almal in The Alibi werk saam om óns musiek tussen die bullshit op te spoor. Sangho is de moer in.

“What the fuck should I play on this piece of shit, man? What the fuck is this? Owen, this is the worst shit I’ve ever seen. It’s not a jukebox, it’s a stupid computer, man.”

“Fuck it Sangho, we can’t do anything about it. You know the deal. Just see if you can find any good music. We’ll make a list and stick it up next to the fuckin’ thing.”

’n Ruk lank speel Al Greene ten minste drie keer per aand. In September speel Johnny Cash twee dae aaneen. Elkeen wat inkom, wag sy beurt af om ’n Johnny Cash song te kies. The Alibi speel elke cover en rendition beskikbaar op die internet jukebox. Laas jaar was dit dieselfde storie met Joe Strummer.

22 Desember 2002: Spike het sy keps in sy hand. Met dieselfde hand haal hy sy bril af. Dit is snaaks om uiteindelik sy gesig te kan sien. Spike, die ou regular met die St. Pauli T-shirt. Hy was lank laas in die bar. Met sy ander hand vee hy sy oë droog. Sy pêl Rudi sit langs hom. Spike lyk oud. Rudi is ’n Duitser. Almal in die bar kry ’n shot. Whiskey, nie ’n girlie shot nie. Dit moet seermaak. Al die ou punks is by die bar.

“To Strummer!” Spike gooi van sy whiskey op die vloer uit. Ander spoeg op die vloer.

“A legend!” sê Rudi.

The Clash speel die hele aand. Strummer se musiek speel ’n week lank. Daarna verdwyn dit tussen bullshit. Meer en meer mense begin van die rooi busse afklim. Owen moet meer en meer sy skip-knoppie gebruik.

“Jaysus, the shit they pay to play lately. I can’t skip with enough venom.”

Die meerderheid kry wat hulle wil hê. Owen kan nie élke song skip nie. The Alibi se jukebox speel enigiets wat op die radio beskikbaar is. Net Sondagmiddae, wanneer part-time drinkers nugter bly, kan ons rustig aan goeie musiek suip.

2

SPIRO DRAN GRIEKSE PASPOORT. Hy braai plat eiers in Andy’s Diner. Andy is Spiro se seun. ’n Mens kan proe wanneer Spiro aan diens is. Sonder Spiro smaak die eiers na blik. Andy oefen beheer uit vanaf ’n toonbank waarteen hy met ’n goedkoop pen in die hand ontspan. Sy Amerikaanse geboortesertifikaat lê êrens in ’n kluis by sy huis. Andy het nie ’n paspoort nie. “Why travel when the world comes to Brooklyn?”

Vyf mense kan tegelyk aan Andy’s se toonbank vasmeer. Die diep kant, verste van die ingang af, is vir takeouts en waiters met taalprobleme. Andy se waiters is illegal immigrants – treurige mense sonder hoop. Uniform is swart onder, wit bo.

“Some weeks I don’t pay them. Other weeks I pay them nothing. America’s a tough country.”

By diners los ’n mens ’n dollar of twee op die tafel waar jy eet, onder ’n sout- of suikerpot as tip. Andy se snor neem kennis van elke dollar. In Amerika betaal armes die rykes se belasting.

Ek sit by die toonbank. Andy ken al my order. Hy skryf dit op ’n velletjie papier neer. ’n Werker neem dit vir Spiro. Die kombuis is vyf treë verder. Vanaf die toonbank kan ’n mens Spiro in sy kajuit sien swoeg. Hy braai goed, sigaret in die mond, radio aan. Daar is geen venster nie. Sy kos ken nie sonlig nie. Die lunch special is ’n wynlose short-order mielieolie-moussaka wat net Spiro eet: moue opgerol, vurk omhoog, verlepte matroos-ink op die arm.

Spiro is sewe en sestig jaar oud. Hy dra ’n smal ovaal bril met donker lense. Spiro werk vir Andy. Andy se besigheid loop op die rotse tussen mail order-toerusting en blikgereedskap, die kenmerke van ’n greasy spoon – easy en ongesond. Dit is die tipe plek waar blue-collar workers sesuur in die oggend ’n standaardontbyt kan gryp, “to-go”. Diner food is diner food, landwyd, vanaf die Redwood Forest tot die waters van die Gulf Stream. Die regte naam van die plek is The Clinton Hill Diner, in groot letters op die boog geverf. Niemand kan die sign lees nie – die scaffolding wat Barry Cellars se brownstone regop hou, versteek Andy’s se winkelvenster al ’n dekade lank. Andy haat Barry. Barry ignoreer Andy. Sy mense was eerste hier. Andy ry ’n fucked-up Mitshubishi clownvan wat hy êrens op DeKalb parkeer. Barry sê Andy het geld.

“That motherfucker owns like four other diners accross town. Fuck him, acting all poor and shit. Soon as he’s around the corner he changes cars. I’ve seen him! Pee-wee Herman looking, four-eyed, skinny-legged, no-dick motherfucker.”

Buite Andy se beskimmelde kombuis wag Spiro se platkeps aan ’n haak teen die muur. Ná werk, of wanneer Spiro gatvol is, ruil hy sy voorskoot vir sy keps en dros na The Alibi vir drie glase rooiwyn langs die jukebox. Spiro se derde glas is altyd on the house. Voordat hy loop, los hy ’n twee-dollar tip onder ’n leë wynglas. Vandag los hy vyf. Ek vra wat gaan aan.

“He’s selling up, Andy. New business coming into the neighborhood from North somewhere. Williamsburg, maybe, I don’t know.”

Op pad uit steek Spiro ’n laaste sigaret aan. Die dag se humiditeit speel ’n avondmis op straat.

“The boy says he’s tired of working. Every day for nothing, he says!”

3

JOSEPH VERKOOP SY BROWNSTONE VIR $720 000. Hy neem Joe en Ron New Orleans toe. Ek pak my goed en trek bokant The Alibi in. Op sonnige dae word 296 DeKalb se trappe nou afgeskeep. Die trappe van ander brownstones in die neighborhood ook. Stel vir stel raak die trappe van Fort Greene verlate. Hulle nuwe eienaars leef binnenshuis, agter slotte en gordyne. Geeneen voel gemaklik op straat nie. Bure verleer mekaar. Wanneer hulle eienaars radeloos raak, word honde toegelaat om stram aan leibande, stert tussen die bene rond te kak. Andersins bly slagtandtroeteldiere binne, gekwarantyn teen kieme, plante en die agtertuin se grond. Net Saterdae en Sondae vermink hulle mekaar in The Alibi of Fort Greene Park, die nuwe tuiste vir onopgeleide reuns en tewe, uit vir ’n lawsuit of ’n assault and battery charge.

Ons sit ook nie meer op ons trappe nie. Dit voel dom en alleen om vriendelik te wees. Die nuwe mense groet nie terug nie. Net die ou mense wat wag vir agterryers met hoër prysaanbiedings sit en gesels nog op straat. Ons groet mekaar in die verbyloop met ’n “neighborhood sure is changing”. Almal praat oor gentrification. Ons raak skaars en lui.

Die neighborhood word uitgedun volgens die beginsel van “willing buyer, willing seller”. Die waarde van brownstones word bepaal deur beskrywings: “Tree-lined suburb. Landmark building. Great character.” Daarna volg omliggende straatblokke met of sonder bome. Uiteindelik word die plekke waar nie eens ons wou bly nie, verkoop. Iemand koop die crack house langs The Farmer in the Deli. Ons word uitgeklas en ontprys. Ek sien Joseph nie weer nie. Daar is geen sprake van kontak hou nie. Die hardware store tussen Vanderbilt en Claremont sluit. ’n Maand of wat later heropen dit as ’n Bagel World franchise. Kenny wil weet: “What the fuck kind of neighborhood don’t have a hardware store?” Die nuwe eienaars maak nie self goed reg nie. Cino’s, die neighborhood-restaurant oorkant The Alibi, is die eerste eetplek om te waai. ’n Duurder kombuis met ongemakliker stoele maak in sy plek oop. Ek kan nie meer die pork chops bekostig nie. Cino, ’n halfbles Lucky Strike Plain met kneukels en silwer hare, was voor in die ry as willing seller:

“I’ve been shot seven times in front of my own business. Okay, mostly in the legs, you know I don’t make a big deal out of it, but they can sell Eukanuba Alfredo for all I care. I’m fucking out of here.”

Winston van Ellie’s Supermarket kom daagliks in vir sy skemerkelkie – twee dubbel shots vodka, lou, sonder ys, in ’n shotglass. Winston is kort en vet. Hy sweet. Ons weet nie of Winston Mrs Ellie se man of seun is nie. Hulle soen asof hy albei is. Beide is immigrante, moontlik van Puerto Rico. Ek vra nie vrae nie, taal is ’n probleem. Mrs Ellie dra plastiekroos-makeup op ’n wit gesig. Haar hande is blas. Mrs Ellie sit altyd agter die toonbank. Sy het ’n breë gesig wat by die deur uitstaar. Haar perm is perfek. Mrs Ellie is ’n strawberry blonde. Ellie’s Supermarket is ’n straathoek van tralies en diefwering. Winston vroetel met haar agter die toonbank. Soms kry hy dit reg om items op hoë rakke met ’n knypstok raak te vat. Mrs Ellie rangskik die goed so dat net toiletpapier en papierhanddoeke op die hoë rakke staan. Winston haak makliker groot, sagte voorwerpe nader. ’n Termometer blink tussen plakkers van Jesu Christo en sy ma. Winston besoedel wit vests onder kortmou-knoophemde. Ellie’s hou ’n rekening vir The Alibi waarop ek toiletpapier, Fabuloso® en 5 for a dollar bloedarmoedige limes koop.

Party dae is Ellie’s sonder duidelike rede toe. Die kalender bied geen clue nie. Vandag was juis nog so ’n dag. Ek moes al weer na die Koreane se minimark loop en kontant betaal vir limes teen 2 for a dollar. Almal haat die Koreane. Elke nou en dan moet die ou man met ’n omgekeerde besemstok ’n mes by sy winkel uitveg. Fok hom, sy pryse en sy grasgroen limes. Niemand hier wil weet hoe lekker groente en vrugte eintlik kan smaak nie.

Buite The Alibi vergrys skemer na aand. ’n Koel nag weier om verligting te bring. Winston se wange sweet by die deur in. Hy sê sy Ellie is dood. Hy sukkel om sy vodka te sluk maar wil nie ophou nie. Ek stoot sy hopie note terug, los die bottel by hom op die counter. Hy sê sy Ellie is dood.

Die gedenkdiens by Piro Funeral Home val saam met die grand reopening van Ellie’s Supermarket. Winston het die fasade laat oordoen met volmuur-glasvensters in Landmarks Commission Approved houtrame, grasgroen en vars. Dit was Mrs Ellie se droom om die hele straat van agter die toonbank te kan sien. Mense sê Winston is mal met al die glas, die neighborhood is nog te rof vir soveel skoonheid. Op die ou end word nie ’n enkele baksteen teen die glas gesmyt nie.

Winston word in 2003 een van 9,7 miljoen passasiers tussen JFK en San Juan. Hy neem sy Ellie huis toe, op sy skoot. Hulle kom nie terug nie. Ellie’s word aan die Koreane verkoop. Hulle hoë rakke pronk met stapelvoedsels vir ’n nuwe neighborhood: Silk Soy Milk en tofu, quinoa en San Pellegrino. Daar is te veel geld in eiendom om sleg te eet.

4

LULU SE DROLLE VERSIER DIE VLOER. Sangho het haar aan ’n paal gekry. Hy sê sy was ’n week lank daar vasgemaak. Lulu is ’n beagle. Sy patrolleer die gang tussen sy kamer en myne. Sangho en ek deel die tweede verdieping bo The Alibi in 242 DeKalb Avenue. Op die eerste verdieping is ’n dokter se spreekkamer. Die dokter is die landlady, Ronnie, se broer. Hy is ook ’n Filippyn of iets – iets met ’n onuitspreekbare lang van. Bedags ween beseerdes voor sy deur in die portaal. Hulle noem hom Doctor B. Hulle gee nie om dat hy ’n immigrant is nie. Aan die linkerkant van die gang tussen my en Sangho se kamer is ’n ingeboude hangkas wat Owen met die vuis stukkend gebliksem het. Ek kan my goed op die rakke pak sonder om die deure oop te maak. Ek bly in Owen se ou kamer, aan die straatkant van die brownstone.

Owen het besluit om te trek. Die brak was vir hom te veel. Oorkant die gangkas, agter die regterkantse muur, wemel ’n badkamer, ’n donkerte in die middel van die vloer met geen vensters na buite nie. ’n Extractor fan skarrel wanneer die badkamerlig aangeskakel word. Die toilet sluk vlekke. ’n Wasbak wieg teen die muur, kan nie meer nie. Ek moet hom vashou om my tande te borsel. Bo die stort dop die dak tot in my hare af. Ek verstaan hoekom Owen sy kop kaalgeskeer gehou het. Kenny sê hy kan niks daaraan doen nie, Ronnie moet die dak herbou.

“It’s a shit explosion waiting to happen. Just hope you’re not in there when it does.”

Binne die stort peper dakskrapnel my nek en skouers met PVA en Kenny se rioolwater. Die drein sneuwel. Stort ek te lank, vind die water ’n pad na die daklig in The Alibi bokant Ricky se sitplek. Wanneer dít gebeur, storm iemand boontoe en skree ek moet ophou stort. My enkels raak gewoond aan seepskuim en dreingif.

Lulu is honger. Ek voer nie Sangho se hond nie. Die deur tussen my kamer en die gang bly toe. Net die hond se hare sweef deur die gleuf na my kamer. In die gang strompel Lulu op my af, op soek na ’n baas. Sangho lê uitgepass op sy bed, omring deur gebruikte plastieksakkies – dime-bags coke. Elke sakkie is netjies in die helfte geskeur en met sorg skoongelek. Lulu bedel droogtong. Eindelik, ag fok, kry ek die brak jammer. Ek los haar in die gang en neem die ompad deur my kamer kombuis toe. Daar is te veel drolle op die vloer om direk deur Sangho se kamer te loop.

My kamer se een muur is ook vol van Owen se vuisgate. Die houtvloer is rou gespons, deurtrek van bier en pis. Aan die straatkant van die kamer weifel twee trekvensters na die enigste balkon op DeKalb. Die balkon is net-net breed genoeg om daarop te kan staan. Dit moes ’n mooi oggend gewees het, een met reën. Daar is minder druk in die lug as gistermiddag. Die kamerdeur sluit stewig met Owen se twee slotte en twee grendels. Ek gebruik net een. Agter die slotte lei donker houttrappe na Kenny se verdieping. Kenny versamel emmers vol potplante wat oor sy vloer rankplek soek. Die ver punt van die stel trappe, by die kombuisdeur, lei na ’n hout-en-staaldeur wat die straat afweer. Dis nie ’n deur wat ’n punch kan vat nie. Owen kon hom maklik oopskop. Die kombuisdeur bied nog minder weerstand. Die meeste aande staan die deur oop. Montano se plastieksakkies kom en gaan soos hulle wil.

Sangho se kamer volg uit die kombuis. Die kombuis het ’n gasstoof en ’n paar muf houtkaste. Bo wit en blou teëls regeer ’n yskas oor sy vuil. Laas maand se huisgedroogde vis, ’n tradisionele Koreaanse resep, lê in die oond rond. Kenny kla wanneer Sangho sy vis droog. Dit neem dae. Ek tap water by die wasbak en dra dit na Lulu se bak. Die hond waggel nader. Sangho snork bo sy maag, gesig in ’n kussing. Albei sy broeke lê op die vloer. Ek sien vir die eerste keer sy bene, vol rieme met donker knope – gewasse wat die skokke van tyd op Sangho se ledemate aanteken.

Gister se spaghetti in chillisous droog uit in ’n pot op die kombuistoonbank. Ek neem ’n pan en braai gesnyde knoffel in olyfolie. Sangho se TV is aan: The History Channel, Unsolved History: Death of the USS Maine. Ek sit op ’n melkkrat en kyk hoe Lulu se tong water oor die vloer spat. Die program sê 266 matrose aan boord is oombliklik dood, nog agt later as gevolg van beserings. Conclusion: coal bunker fire ignited the powder bunkers. Kenny klop aan die deur.

“Now that’s how you do garlic, man. Olive oil. I love that smell. I could smell that shit all day.”

Ek sê Sangho slaap. Kenny kyk na die TV.

“The USS Maine? We sank that fucking thing to get into the Spanish-American war. Won’t tell you that on the Hitler Channel. You know who owns that channel? Disney. Fucking Mickey Mouse! You want a spud? I used to bring Owen some spuds whenever I’d cook them. Owen loved his potatoes, man. You want one?”

Sangho mompel.

“Goddammit Kenny, shut up.”

“Hey Sang! Your dog’s shitting all over the place again. Moms says she can smell it all the way upstairs.”

“Fuck off, Kenny.”

“Yeah, yeah. See you later.”

Kenny klim sy trappe boontoe. Ek kook eers vars spaghetti en braai dit dan saam met die knoffel en ’n deel van Sangho se chillisous in die pan. Daar is genoeg vir twee mense. Ek skep ’n bakvol vir Sangho in. Ons eet ons ontbyt in stilte. Ek het die TV afgesit sodat ons kan gesels. Sangho sit sy bak op die vloer neer en slaap verder. Lulu kry ’n bekvol pasta. Ek tel die note in my broeksak. Daar is genoeg vir nog ’n aand van Guinness, girlie shots en buybacks. Miskien bestel iemand later takeouts. Hopelik Wings van die Chinese af. $2.75 vir vier stukke hormoonhoender, deep-fried, met Tommy se Ranch Dressing uit die Coronayskas on the side.

Ná brekfis klim ek deur die kombuisvenster met die brandtrap op dak toe. Van die dak af kan ek die horison sien, tot in Manhattan. Tussen die dak en die kombuisvenster is Kenny se ma se kamer. Sy lê altyd op haar bed, reg langs die venster. Ek ignoreer haar. Kenny sê ek gaan haar eendag ’n hartaanval gee. Ek gee nie om nie.

Die dak is koel. Sagte teer spons onder my voete. Tar Beach. Van hier af kan ek op enige dak op die blok staan en wind vang. Al die brownstones leun sonder afskortings teen mekaar. Word jy op ’n ander man se dak betrap, mag hy jou doodskiet. Dit sê so in die konstitusie van hierdie Verenigde State, insluitend Puerto Rico. Ek kies om op ons dak te bly. Die lug voel net so helder hier soos op enige ander plek op die blok. Dinge lyk beter, dit is al weer tyd om te drink. Vanaand sal ek moet betaal, maar môreaand is verniet. Môreaand werk ek weer agter die bar counter. Miskien maak ek genoeg geld om vir Con Edison te betaal om die krag aan te hou. Miskien nie. In ieder geval is die booze verniet. Ek spaar eintlik geld net deur te werk. In die verte lê die Chrysler-gebou. Effens links daarvan steek ’n puntjie van die Empire State uit, deesdae weer die hoogste gebou in Manhattan, nes amper tagtig jaar gelede. Daar is geen oorlog in sig nie. Op TV veg statistieke met vreemde name.

5

DIS HEERLIKE WINTER. Ek was maande laas nugter. Good things happen when you’re drunk. Langs my is my Guinness, en ’n Berber uit Afrika, via Iberië, op langs die kus van Gallië, daarna deur antieke seestrate na Connemara; Galway Bay. Vir haar fenotipe moes eeue verstryk, agter pakys versper en verbleik. Nou, danksy Aer Lingus, sit sy langs my by die bar counter. Haar woorde smaak soos marmelade. Seville. Ek wil hê sy moet langer bly. Sy sal nie. ’n Dag of twee per dorp, sê sy, is klaar te veel. Ek sê New York is nie ’n dorp nie. Sy sê sy kan ’n dorp van enige stad maak. Ons drink en sy bly staan. Ek bly hier, sy beweeg aan. Summer in Siam. Genoeg tyd vir een gesprek. Die bar voel stikdonker en leeg. Hare van drop, miskien ’n soethouttong. Skouers waarvan suiwel en karringmelk droom. Stingelgroen oë bo ’n knielengte wit skirt. Sykouse. Sy neem hawer in, asem gars uit; stikstof-arpeggios verlig haar mond. In heaven there is no beer. Douwurm ontkiem binne my gesuip. Riviere van whiskey wat stroom. Met direkte kontak verkluim my hand. Ek skep sigaretasem op straat. Nuwe sneeu versier ou hope ys. Sy dra ’n vormlose jas. Met ’n kraak neem ’n taxi haar weg. Ek kots ’n bootvrag vrot lemoene. Ons vergaan.