Alles is gereed.
Die nuwe lint is in die tikmasjien, die papier voor my wit en gewillig om te rol. Ek is gereed om te begin skryf aan dié verhaal wat ek nog altyd wou skryf. Dit is een van die mooiste en moedigste verhale wat ek in my lang loopbaan gehoor het. Dit is so menslik, so teer, geruk uit die lewe self en tog ook terselfdertyd so uniek dat dit byna ongeloofbaar is.
En tog is dit waar.
Dit is die verhaal van baie mense, maar veral van een – Salome. Dis die verhaal van ’n beroemde vrou wat ’n skuld gehad het om te betaal, en die wyse waarop sy dit betaal het …
My naam is Jaco Retief, joernalis. Ek het Salome op ’n skemerparty ontmoet. Een van dáárdie soort partytjies wat so uiters gewild is dat dit sonder uitsondering tot laatnag voortduur. Een van daardie soort partytjies waar jy baie beroemdes raakloop – ook dié wat dink dat hulle beroemd is of baie hard probeer om beroemd te raak. Daar was dus die gewone mengelmoes van karakters.
Ek het half verveeld gemerk dat daar onder die aanwesiges ook ’n afstammeling van die een of ander Franse edelman was, een wie se blou bloed reeds baie afgewater en dun begin raak het. Hierdie heer het nooit nagelaat om na sy aristokratiese afkoms te verwys nie, maar jou ook in dieselfde asem joviaal verlof gegee om hom maar “ou bees” te noem.
Daar was ’n paar skrywers, ook ’n bleek blondine, oortuig daarvan dat sy met die opening van die volgende operaseisoen haar debuut in Wenen sou maak. Ek het ’n paar skilders gesien en myself verveeld afgevra wat ek hier soek. Maar ek het een van daardie windstiltes beleef wat elke joernalis so opreg vrees, en om hier rond te staan was beter as om gefrustreerd agter die lessenaar te sit en vingers trommel.
Toe sien ek haar … Sy het eenkant op ’n rusbank gesit. Ek het haar natuurlik dadelik herken. Daardie pragtige gesig was baie bekend. Salome, Suid-Afrika se gewildste sangeres en TV-ster. Ek kon ligte skaduwees onder haar oë sien. Beroemdheid eis ’n hoë tol – nie net van die gees nie, maar ook van die liggaam, het ek toe gedink. Later sou ek weet dat daardie skaduwees onder die mooi oë veel dieper oorsake gehad het.
Ek het vinnig ’n sommetjie gemaak. Sy moet nou om en by ses en dertig wees. Dis al langer as ’n dekade dat sy vóór in die kalklig van ons vermaaklikheidswêreld staan.
My blik was nou stip op haar. Sy moes die afgelope jare ’n fortuin versamel het, maar tog was daar iets weerloos aan haar, aan die manier waarop sy so afgetrokke en afwesig daar gesit het.
Ek moes vir myself glimlag. ’n Joernalis moet hom by feite bepaal. Vanwaar die skielike dramatisering?
Ek het my oë geknip en weer gekyk. Sy was werklik ’n pragtige mens, en ek het, omdat ek van vlees en bloed is, nader beweeg.
Ek het langs haar op die bank gaan sit, opgekyk en die effense geamuseerdheid in haar oë gesien. Ek het teruggeglimlag.
Ons het nie dadelik gepraat nie, mekaar net opsommend sit en bekyk.
Sy was mooi, soos ek reeds gesê het. Maar nie net mooi nie. Daar was karakter in die klassieke profiel. Haar blinkswart hare was streng agteroor gekam en in ’n swaar bolla saamgevat, die oop, breë voorkop het intelligensie verraai en die donker wenkbroue was dig maar netjies. Die groenbruin oë was onverskrokke, die neus fyn en reguit, die mond effens groot en sensueel. Hoewel hierdie vrou met die eerste oogopslag ’n koelte weerkaats het, was ek oortuig dat daar warme hartstog in haar skuil. Die kakebeen se kontoere het vasberadenheid en wilskrag verraai, die ken selfs koppigheid. Onder die ken het haar nek nog geen tekens van ouderdom getoon nie.
Omdat ek ’n man is, het my blik verder gesak. Haar vroulike rondings het my laat sluk en toe vinnig laat wegkyk, terug in haar oë. Hulle het my nou openlik uitgelag.
Filmsterre en hul dikwels omstrede handelswyse was nie my belangstelling nie. Selfs van Salome, ons eie ster, het ek weinig geweet en ek het tot ’n minuut gelede geen begeerte gehad om met haar kennis te maak of ’n onderhoud met haar te voer nie. Sy sou ook maar inval onder die algemene opinie wat ek van sogenaamde artistieke mense het.
Maar toe ek in haar oë kyk, sonder dat ons nog ’n woord gewissel het, het ek opnuut besef dat daar altyd ’n uitsondering op die reël is. Salome kan nie oor dieselfde kam as haar kollegas geskeer word nie. Sy is anders. Op daardie oomblik kon ek nie verklaar hoekom nie. Maar daardie sintuig wat my altyd waarsku wanneer ek warm op ’n spoor is; wanneer ek, soos dit ’n goeie nuushond betaam, iets groots aan die uitruik is, het my vertel: Hierdie vrou is anders.
Ek het nog iets besef, iets wat my ietwat verbaas het: ek hou van haar. Ek het sommer dadelik van haar gehou. U weet wat ek bedoel: Jy kan ’n algehele vreemdeling ontmoet en dadelik weet dat jy van daardie persoon hou. Die blik in haar oë het my vertel dat sy dieselfde ervaring het. Ek en Salome was oombliklik vriende. Ons sou nie net twee skepe wees wat vanaand by mekaar verbyseil nie. Ons sou nie net kennisse wees nie. Maar hoe my lewe met hierdie vreemde vrou s’n verweef sou word, kon selfs ek met my verbeeldingryke brein op daardie oomblik nie droom nie. Ek sou nooit kon droom dat ek my nog vir hierdie vrou sou kruisig nie …
Ek het nie probeer om ’n gesprek oor gemeenplasies te begin nie. Ek was bly sy ook nie. Ons het rustig langs mekaar gesit en ons drankies gedrink.
Toe het ek op my polshorlosie gekyk en gesê: “Dis veronderstel om ’n skemerparty te wees en dis nou al donker. Daar is ’n plek net buite die stad waar hulle die heerlikste pastas maak.”
Sy het geglimlag. “Dit klink aanloklik.”
Ons het sonder ’n verdere woord opgestaan, verskoning by ons gasheer gemaak en uitgestap. Dis eers toe ons in die motor sit dat iets my bygeval het.
“Het jy met iemand saamgekom?”
Sy het gelag en tergend gesê: “’n Bietjie laat om nou eers daaraan te dink, nie waar nie?” Sy het nie uitgebrei nie en ek het die motor aangeskakel en by die verkeer ingeval.
By die restaurant het ou Tito, die Italianer, se oë opsigtelik gerek toe hy gewaar wie by my was. Ek het opgemerk dat ’n paar ander koppe ook in ons rigting draai.
“Gee ons ’n tafel eenkant, asseblief, Tito,” het ek vinnig gevra.
Ou Tito het betekenisvol geglimlag. Maar hy het dit mis gehad. Ek het geen amoreuse gevoelens jeens die beroemde vrou gekoester nie. Ek was net nuuskierig om die mens agter die beroemde masker te leer ken. Altans, só het ek myself wysgemaak terwyl ons na ’n tafeltjie agter ’n palm gelei is.
Ek het selfbewus aan my das getrek. Ek het terloops na Salome geloer en opgemerk dat sy skynbaar onbewus was van die aanstaring van soveel nuuskierige oë.
Sy het oor die tafel na my geglimlag. “Ek het al van jou artikels gelees. Jy moet oor ’n baie wye algemene kennis beskik.”
Ek was eerlik verbaas. “Ek het nie gedink die soort goed waaroor ek skryf sal jou interesseer nie.”
Die groenbruin oë het weer geterg. “Die algemene veronderstelling dat ’n aktrise nie juis met veel verstand bedeeld is nie?”
Ek het verleë gevoel. Sy het die spyker op die kop geslaan. Dit was nog altyd my opinie van die sogenaamde sterre: ’n mooi gesig en liggaam en die beperkte vermoë om ’n draaiboek te memoriseer. Ek het na haar gekyk en besef dat ek my algemene opinie sou moes wysig.
“Ek het al gewonder waar jy aan alles kom. Jy het laas so ewe geskryf dat ’n skaap net van verlepte dubbeltjies dikkop kry.”
Ek kon my verbasing kwalik verberg, maar het nonchalant probeer klink. “Ek moet natuurlik baie navorsing doen. Maar hoekom onthou jy dit? Ek kan nie eintlik ’n verband tussen jou en ’n dikkop sien nie!”
Sy het weggekyk, en dit was al asof sy liggies sidder. “Ek het in die Karoo grootgeword. Ons het ’n plaas daar. Ek het baie gehelp om dikkopskape te dokter.”
Ek het haar openlik aangestaar. “Ek sou nooit kon dink dat jy ’n plaaskind is nie. En nou kom vertel jy my jy kom sowaar van daardie godverlate wêreld met sy droë vlaktes en sukkelende gemeenskappies.”
’n Vreemde trek op haar gesig het my laat swyg en sy het stil gesê: “Jy moet in die Karoo gebore en getoë wees om daardie droë vlaktewêreld lief te hê en te waardeer. Eendag sal ek jou meer vertel van daardie godverlate wêreld.” Die groenbruin oë was ernstig. “Dis juis dié wêreld wat allermins van God verlate is. Hy is juis dáár baie naby. Jy is daar altyd bewus van Hom.” Sy het effens geglimlag vir die uitdrukking in my oë, soos ’n grootmens teenoor ’n onkundige kind. “Ek sal jou dan ook vertel van die sukkelende mensies van daardie wêreld – en van die skatryk boere. Maar ek was nooit deel van die gegoede gemeenskap nie. Ek was deel van die sukkelende sukkelaars.”
Ek was vir die eerste keer in jare skielik sonder woorde. “Ek het nie bedoel … Ek meen, ek het nie …” Ek kon nie glo dat ek so onbeholpe na woorde soek nie.
Sy het vreemd geglimlag. “Ek weet. Maar ek sal jou graag eendag van my wêreld en my mense wil vertel. Sal jy luister?”
Daar was intense verlange in haar stem en ek het besef dat Salome eensaam is. Die gedagte het my egter nie verbaas of geskok nie. Dit mag belaglik klink om te sê dat ’n vrou wat die hele land aan haar voete het, eensaam is, maar ek het genoeg van die werklikhede van die glanslewe geweet om te begryp dat dit eensaam kan wees daar bo – en Salome was al vir ’n lang tyd bo.
“Ek sal graag luister,” het ek geantwoord en dit opreg bedoel. Hierdie vrou het my al hoe meer begin boei.
Haar blik was baie reguit. “Jy bedoel dit werklik?”
“Natuurlik. Hoekom nie sommer nóú begin nie?” het ek haar aangemoedig en met my glasie droëwyn tussen my vingers gespeel, my oë intens op haar, gefassineer deur elke gesigsuitdrukking, elke verandering van stemtoon. Salome was nie besig om toneel te speel nie. Daarvoor was die verhaal te diep, te lewenswaar.
Bessie Truter was ’n mooi vrou, maar omdat sy so onvroulik groot en grof gebou was, het min mense dit opgemerk. Sy het haar man geheel en al oorheers. Jan Truter het selde of nooit iets te sê gehad. Met sy benerige gestalte en geboë skouers was hy die swygsame slaaf op die klein Karooplasie. Van soggens sonuit tot ná donker het hy sy stil gang gegaan, gewillig en gedweë. Toe hy die dag sterf, net so stil en sonder woord soos sy lewe was, het sy heengaan net ’n vae rimpeling op die oppervlak van die gesin se lewens gelaat en ewe vinnig weer verdwyn.
Uit hierdie huwelik is twee seuns binne ’n tydperk van drie jaar gebore. Karel en Jan. Tien jaar ná hulle sou ’n dogter skielik haar verskyning maak – ’n gebeurtenis waaroor Bessie Truter skaam was. Weer ’n baba ná soveel jare en dit op háár ouderdom! Wat sal die mense van haar dink?
Die baba sou Johanna heet – ’n goeie, egte boerenaam. Dit was egter die twee broers wat aangedring het dat sy Salome genoem moet word, ’n naam wat glad nie by een van die twee ouers veel byval gevind het nie, maar die twee broers het gewen.
Dit was ook die twee broers wat van haar babadae af die grootste rol in Salome se lewe gespeel het. Bessie Truter het haar nie veel aan haar laatlammetjie gesteur nie, en teen die tyd dat sy skool toe moes gaan, was Stil Jan Truter, soos hy bekend gestaan het, dood en was dit Bessie wat die boerderytjie net buite die dorp om den brode aan die gang moes hou. Oënskynlik het dit haar nie swaar geval nie. Haar groot, ruwe hande het raak gevat en daar was min wat haar manlike kollegas haar kon vertel. Nietemin, hoe bekwaam daardie paar hande ook al was, met hulle kon sy haar gesin nie uit die armoede uitwerk nie.
Die twee broers het hul sussie verafgod en maar met baie gebreke die rol van ouers vertolk. Vir die jong dogtertjie het hulle die wonderlikste mense op aarde gebly. Hul liefde was haar sekuriteit.
Wat sy altyd sal onthou, is die speletjie wat hulle Sondagoggende gespeel het. Sondae kon die seuns later slaap as gewoonlik en dan het Salome stilletjies weggesluip na die buitekamer. Wanneer sy haar kop om die deur gesteek het, het Karel altyd bekommerd opgemerk: “Daardie ding is al weer hier. Wat sal ons met haar maak?”
Soos klokslag sou Jan antwoord: “Kom ons gooi haar by die venster uit!”
Salome het die speletjie geken en geweet wat gaan kom. Sy het gillend saamgespeel terwyl hulle haar aan die voete en arms deur die lug geswaai het. Net as dit dan lyk asof sy deur die oop venster na buite gaan seil, het hulle al drie in ’n laggende bondel op die bed neergesak. Watter wonderlike broers was hulle nie!
Toe sy nege jaar oud was, is haar broers die veld in agter ’n jakkalsspoor aan en Karel, die jongste, het teen ’n krans uitgeklim. Sy voet het gegly en hy het meters ver geval en op sy kop beland. Hy was nie dadelik dood nie. Dit was Salome, toe sy die volgende oggend vroeg langs hom gaan inkruip het, wat ontdek het dat hy koud en styf was. Haar jong, warm liggaam het van hom weggeruk en sy het vervaard uit die bed gespring.
Nooit sou sy die uitdrukking in Jan se oë vergeet toe sy hom wakker maak en vertel het nie. Hy was nooit weer dieselfde mens ná daardie oomblik nie. Sy ook nie.
Jan het meteens amper in ’n tweede Stil Jan verander. En sy … sy het toe nie geweet dat daar nog meer tragedies wag nie.
Nadat Jan die skool verlaat het, het hy die boerdery by sy ma oorgeneem en getoon dat hy dieselfde gewillige slaaf as sy oorlede vader sou wees. Ná ure se sloof in die genadelose Karooson het hy saans net ná aandete na sy kamer gegaan en die deur agter hom toegedruk.
Ná Karel se dood het dit stil geraak in die klein huisie van Bessie Truter, asof ’n deur finaal in daardie huis toegeklap het. Jan het ingetoë geword; Bessie Truter, oënskynlik onbewoë, het net nog harder as voorheen gewerk. Salome, die opgroeiende dogter, moes vir haarself sorg. Daar is selde gelag tussen die witgekalkte mure, en wanneer dit wel gebeur het, was dit gedemp, asof dit ’n oortreding was.
Ongemerk het Salome grootgeword. Iets het in haar begin roer, maar sy het self nie besef wát nie. Biologiese veranderinge het in haar liggaam plaasgevind, sonder dat haar ma of broer dit opgelet het. Maar in haar was die grootste nood. Dit was asof die wit mure van die eenvoudige huisie en die somber atmosfeer wat daar geheers het, haar wou doodwurg. Dis in hierdie tyd dat sy weggesluip het rivier toe en daar begin sing het, net om ’n bietjie uiting aan al die opgekropte gevoelens in haar te gee.
Toe vind die tweede groot gebeurtenis in haar lewe plaas. Uit hierdie gebeurtenis sou die beroemde Salome gebore word … en sou sy die hoogste offer bring wat ’n vrou kan bring. Maar dit het niemand nog geweet daardie dag toe haar broer Jan van die dorp af kom met ’n vaal, kleurlose meisie aan sy sy nie.
Dat sy haar skuld aan hierdie vrou eendag sou moes betaal met die kosbaarste wat sy het, was genadiglik nog in die skoot van die toekoms verberg …