Soos Jaco Retief ’n week gelede, verskyn sy onverwags in die ateljeedeur.
Hy kan net na haar sit en kyk, so asof hy na ’n pragtige visioen staar. ’n Mooi droom … maar nietemin ’n droom, iets onwerkliks.
Dan is sy op haar knieë voor hom op die vloer, kyk hy verstom af in haar oë wat hom deur die eensame jare so agtervolg het, sien hy die helder trane blink spore oor haar wange maak, voel hy haar hande hom aanraak, opreik na sy gesig, sy bleek wange omvou.
“Salome …” Haar naam is ’n sagte versugting op sy lippe. Eers toe hy haar donker kop teen sy bors vasdruk en die rukking van haar skouers onder sy hande voel, moet hy glo dis werklik sy! “Jy het gekom!”
Sy kan nie antwoord nie, hom maar net stywer en stywer vasklou, haar sagte liggaam al stywer teen sy bene aandruk.
“My vrou – my wonderlike, dierbare vrou!” sê hy innig.
Dis eers baie later dat hulle opmerk dis reeds lankal donker en dat Miena getrou in die kombuis wag om aandete te bedien aan haar meneer en die vreemde vrou wat al twee ure gelede hier aangekom het.
Styf ingehaak stap hulle kombuis toe en die trots straal uit sy blou oë toe hy haar aan Miena bekend stel.
“Dis nou my vrou hierdie, Miena. Sy het teruggekom … om te bly.”
Miena se oë rek. Sy het geweet daar is ’n vrou êrens op die agtergrond, maar nooit gedink sy sou die dag belewe dat sy sal terugkom plaas toe nie. “Gaan mevrou rêrig nou hier by ons bly?” vra sy steeds ongelowig.
Salome glimlag met mistige oë. “Ja, Miena. Ek het teruggekom om te bly. Maar ek wil jou baie, baie dankie sê dat jy al die jare so mooi vir my man gesorg het, dankie, ou Miena.”
Miena lag van oor tot oor. “Dis goed so, mevrou. Nou sal meneer weer lag en prente maak en gesond word.”
Hulle antwoord nie hierop nie, luister maar net hoe sy oorborrel van vreugde. “Ai, ek kan sien hoe bly is my meneer. Hy is nou nie meer ’n weeskind nie. Hy het sy eie mense nou by hom.”
Hulle neem plaas by die tafel waar die bak suurharslag voor hulle neergesit word. Salome se hart lê in haar oë. Dis wat hulle albei baie jare lank was … weeskinders, maar nie meer nie.
Sy hand reik na hare en saam buig hulle hul koppe vir die eerste keer in veertien jaar. Maar die gewone tafelgebed wil vanaand nie kom nie. Hul harte is te vol. Hulle sit net so, hande styf inmekaar geklem, oë toe, koppe gebuig. Agter hulle vee Miena die trane aan haar voorskoot af. Ai, vanaand is die hart so vol geluk dat die tong stil is. Maar die Vader daarbo sal weet dis nie omdat meneer en sy vrou nie dankbaar is vir ou Miena se suurharslag nie. Nee. Hy sal weet dis die hart wat vanaand bid …
In die dae wat volg, ervaar man en vrou geluk wat hulle nie eens in die vroeë dae van hul jong liefde as twee ongetoetste verliefdes ondervind het nie. Dis twee gelouterde, volwasse mense wat weet hoe kosbaar elke oomblik is, wat met waardering en dankbaarheid elke sekonde wat hulle saam gegun word, aangryp en vashou en hul eie maak. Hulle kyk met nuwe en tog wyse oë na mekaar, na die wêreld om hulle, na die tyd wat verbytik. Elke oggend is daar opregte dankbaarheid in die twee harte by die wete dat nog ’n sonsopkoms vir hulle saam gegun is. En saans wanneer die son sak, sê twee harte in alle nederigheid dankie dat hulle ook die nag wat voorlê saam kan binnegaan.
Toe Salome eenkeer oor die verlede wou praat, het haar man haar liefdevol maar beslis stilgemaak. Nou wil sy oor die toekoms praat terwyl hulle op die ysterkliprandjie agter die huis sit en kyk hoe die son stadig wegsak in die weste.
“Môre beteken vir my niks nie, my liefste. Gister maak nie meer saak nie. Dis net die hede wat van belang is; hierdie oomblik, niks meer nie.” Hy glimlag vir haar. “Dis Jaco Retief wat my hierdie waarheid geleer het toe hy gesê het ek sterf al veertien jaar lank.”
Hy hou sy oë op die wegsakkende son. “Ek kan jou nie vertel watter verblindende, skokkende openbaring sy woorde op daardie oomblik vir my was nie. Ek het dit nog nooit so gesien nie. Ek het besef dis die aaklige waarheid. Ek was al veertien jaar besig om te sterf! Veertien jaar waarin ek kon gelewe het, was verby. Maar omdat ’n mens, ’n feilbare mens, my vertel het dat ek gaan sterf, hét ek begin sterf: ’n uitgerekte proses wat oor veertien jaar in my lewe gestrek het. Ek was kwaad en skaam en skuldig. Veral skuldig voor dié Een wat my lewe gegee het – ’n lewe wat ek by my laat verbygaan het omdat ek ééndag moes sterf. Was ek dan die enigste mens wat moes sterf? Ons moet almal sterf. Maar ek het gelewe asof ek die enigste mens op aarde is vir wie die graf wag. O, Salome, hoe dwaas kan die mens tog wees!”
Hy skud sy kop en soek weer na haar hand, kyk weg van die plek waar die son nou heeltemal verdwyn het, en ontmoet haar oë, skuld en skaamte in syne. “En toe sê Jaco Retief iets wonderliks. Hy het gesê: ‘En al is daar ook nog net veertien dáé oor, gebruik dit om te léwe!’ En dis wat ek nou doen, my liefste vrou. Ek gebruik elke minuut wat ’n genadige God my gee om te lewe. Daarom is gister en môre nie van belang nie. Dis net vandag, hierdie oomblik – hierdie Godgegewe oomblik waarin ek nog asemhaal, jou nog by my het, nog lewe …”
Salome swyg, besef die wysheid van sy woorde. Dis net die huidige oomblik waarvan ’n mens werklik seker kan wees. Die sekonde wat pas verby is, is onherroeplik verby. En die een wat kom … jy weet nie of dit vir jou sal aanbreek nie.
Tog sal hulle eendag moet praat, sal hy moet luister. Want geen mens kan gister werklik uit jou lewe sny en dit net van jou af weggooi nie. Die hede kan alleen daar wees omdat gister daar was met sy goed en kwaad, sy reg en verkeerd. Daar is iets van gister wat Flip nie weet nie, iets wat vir die hede nog bedek kan bly, maar wat in die toekoms nie misken sal kan word nie.
Maar uit vrees dat dit ’n wanklank in hul volmaakte samesyn sal bring, bly sy stil, stel sy dit elke dag uit terwyl die wete aan haar knaag dat die môres vinnig minder raak, dat die tyd nie vir ewig uitgekoop kan word nie.
Dit gebeur gouer as wat sy gedink het. Ná drie maande in hierdie vreemde Utopia besef sy dat die uurglas vinnig besig is om uit te loop. Ten spyte daarvan dat dit in die weke ná haar aankoms gelyk het asof ’n nuwe lewenskrag deur sy maer gestalte vloei, kan sy nou duidelik sien hoe sy kragte afneem, hoe die swakheid en moegheid al verder op die oorwinningspad vorder. Nie een van hulle verwys daarna nie. Nie een praat daaroor nie, maar albei weet dat ’n derde saam met hulle op die laaste skof begin saamstap het.
Toe Salome daardie dag die brief van die huis af kry met die uitnodiging wat sy gehoop het daarin sal wees, weet sy dat hulle nie langer hul oë vir die werklikheid durf sluit nie.
Dis met haar hele vrouesiel in haar oë dat sy die ateljee binnestap en oudergewoonte voor hom op die mat gaan sit.
“Ek sien ons buurman het hier verbygekom. Het hy miskien pos saamgebring?”
“Ja. Hier is ’n brief van Ma-hulle. Ook ’n brief van Jaco, sien ek.”
Sy lees eers Jaco se brief, ’n brief wat soos al die voriges lighartig voorkom, en eintlik niksseggend is. Dan, voordat hy afsluit, vererns sy trant.
“Daar is iets wat ek jou lankal wou vra, Flip, maar ek is bang jy dink ek wil dit as ’n geskenk hê en dit is nie die geval nie. Ek weet wat ’n Grimbeeck-skildery werd is en ek is bereid om ’n markverwante prys daarvoor te betaal. Verkoop aan my die skildery wat die dag op jou esel was toe ek jou besoek het, asseblief! Want jy was verkeerd daardie dag, my vriend. Jy het gesê ek hou nie daarvan nie. Inteendeel! Dis die een Grimbeeck wat ek die graagste wil besit. Laat my weet of jy bereid is om dit aan my te verkoop.”
Salome kyk vraend op. “Watter een is dit?”
“Die laaste een wat ek geskilder het. Ek noem dit Die Laaste Sonsondergang.”
Sy kyk hom onseker aan. “Wat gaan jy doen? Ek weet jy beskou dit as jou meesterstuk.”
“Ek sal Jaco moet teleurstel. Dis nie te koop nie. Dis reeds bemaak aan iemand by wie ek diep in die skuld is. Ek weet dis maar ’n skamele dankie van my kant, maar daardie persoon sal weet dat dit uit my hart kom.” Hy stap dadelik van die onderwerp af en vra: “Wat skryf jou mense?”
Sy aarsel, kyk dan op. “Flip …”
Hy begin frons, kyk stip op haar af. “Ja?”
“Ons kan dit nie langer uitstel of daarvan wegskram nie, my man. Ons … móét nou praat.”
Vir ’n oomblik kyk hy haar nog fronsend aan. Dan sug hy, lê sy hand teer op haar kop, sak terug in die stoel met sy kop teen die leuning en sluit sy oë. “Praat maar, my liefste. Ek luister.”
“Jy … jy …” Sy kan die woorde nie uitkry nie.
Sy hand streel oor haar hare, sy stem is stil toe hy haar help: “Ek verswak vinnig. Ja, dit is so.”
Sy sluk swaar. “Ma en Jan en Rosalie het geskryf … sê ons moet by hulle kom bly.” Sy kyk pleitend op. “Daar is ’n dokter en ’n hospitaal en ons is net vier kilometer van die dorp af. Ek het gedink … dit sal verstandiger wees as ons liewer daarheen gaan. Ons kan die plaas verhuur as jy nie wil verkoop nie. Ek sal dit nie graag uit ons hande wil laat gaan nie, maar dis soos jy wil. Maar ons kan nie langer hier so ver van alles bly nie. Ons is meer as ’n honderd kilometer van die naaste dokter af, Flip … Asseblief, my man!”
“Ek dink nie ek sal ’n hospitaal of ’n dokter nodig kry nie, my liefste. Maar as dit jou gelukkiger sal maak, kan ons maar gaan. Oom Ben huur reeds die veld. Hy sal nie omgee om ’n ogie oor die huis te hou nie.” Toe sy nie antwoord nie, maak hy sy oë oop en kyk haar teer aan. “Is daar nog iets wat jou hinder, liefste?”
Sy moet weer sluk, maar sy weet ook dat die uur van waarheid aangebreek het. Flip is bereid om saam met haar na haar mense te gaan. Wat hy nie weet nie, is dat daar nog iemand saam met haar ma en Jan en Rosalie op daardie plaas bly.
“Flip, jy wou my nog nooit toelaat om oor die verlede te praat nie. Maar daar is iets wat jy moet weet voordat ons na Ma-hulle toe gaan. Sal jy nou na my luister, asseblief?”
Hy kyk haar lank aan en daar is skielik ’n ontsettende vrees in sy hart. Tot op hierdie oomblik het hy nog nooit daaraan getwyfel dat Salome in gees en liggaam deur veertien jaar getrou aan hom gebly het nie. Maar vir die eerste keer kyk hy na haar met ander oë, sien hy die aantreklike, jong, gesonde vrou voor hom raak in al haar begeerlikheid en liggaamlike skoonheid. Die ergste van alles is dat hy nie durf oordeel as sy vandag vir hom vertel dat hy nie al man in haar lewe was nie.
“As dit nie anders kan nie …”
“Nee, dit kan nie.”
Hy sit doodstil en luister terwyl sy vertel en daar is ’n groter ontsetting in sy hart as netnou toe hy met ongegronde vrese geworstel het. Salome het sy kind in die wêreld gebring en hy het dit nooit geweet nie! Sy het alles alleen gedra sonder haar man se bystand en steun. Nie eens toe Jaco Retief se woorde hom soos ’n verblindende slag getref het, was hy só skaam soos nou nie; só klein en verslae soos op hierdie oomblik nie.
“Jy het vir my … ’n seun in die wêreld gebring? Mý seun?”
“Ja, my man. Maar ek kon hom nie behou nie. Ek moes teruggaan na my sang en ek het ’n skuld gehad om te betaal.”
“Wat … bedoel jy?” Sy stem is skor, sy oë priemend.
“Flip, onthou jy hoe kwaad en in jou trots gekrenk jy was toe jy hoor dat ons van Rosalie se geld gelewe het? Onthou jy dat jy gesê het dat jy diep in die skuld by haar is, by ’n vreemde vrou wat jy nog nooit eens ontmoet het nie en dat jy tot God bid dat Hy jou in staat sal stel om haar eendag vierdubbel terug te betaal? Onthou jy dat ek toe gesê het dat as jý so voel, hoe moet ék voel, hoe groot moet mý skuld dan nie wees nie?”
Hy knik onmagtig, nie in staat tot woorde nie.
Salome kyk dapper op, vas in die blou oë. “Maar my skuld én joune is betaal, my man. Wat ons twee aan hulle verskuldig was, het ek betaal … met ons kind.” Sy sien die verwarring op sy gesig en verduidelik: “Ek het hom Karel genoem, want hy het so baie na my oorlede broer gelyk, lyk vandag nog baie na hom, behalwe vir die blonde hare en die blou oë van sy pa. Toe het ek hom vir hulle gaan gee.” Haar oë pleit. “Ek het niks anders gehad om mee te betaal nie, Flip. Verstaan jy? Ek het net ons kind gehad, en met hom het ek alle skuld aan hulle vereffen, want Rosalie is kinderloos.”
Dis weer sy wat die swaar stilte tussen hulle verbreek. “Hy is nou dertien. Hy is ’n pragtige seun, intelligent en baie talentvol.” Sy kyk stadig, asof bang na hom op. “Hy het sy pa se talent geërf. Hy gaan ’n tweede Flip Grimbeeck word.”
Hy kreun asof hy in fisieke pyn verkeer, plaas die twee maer kunsternaarshande oor sy gesig en dan huil Flip Grimbeeck. Deur sy liggaam ruk harde, rou snikke wat uit sy bors losskeur. Salome hou hom vas met haar sterk, gesonde arms, wieg saam met hom in sy smart en sien hoe haar trane met syne meng, weet dat hulle nog nooit só een was as in hierdie oomblik nie.
“Hoekom lewe ek?”
“Flip!”
“Hoekom! Ek het nog nooit een ademtog verdien nie! Hoekom het Hy my nie lankal weggeneem nie? Hoekom neem Hy my nie nóú weg nie, op hierdie oomblik!”
“Nee! My man, nee! Flip, luister na my! Jý was die stukrag agter alles wat ek bereik het. Sonder jou sou daar geen sangeres gewees het nie. Sonder jou sou daar nie ’n vrou en moeder gewees het nie. Verstaan jy dan nie, my man? Sien jy dan nie die volmaakte Plan agter alles nie? Hierdie dinge moes gebeur, my liefste man, om van ons die mense te maak wat ons vandag is. Die Salome wat jy hier voor jou sien, is ook deel van jóú handewerk.”
Hy skud sy kop, sy oë speurend op haar. “Ja, dis mý handewerk: ’n Vrou wat deur hel gegaan het; ’n vrou met smart in haar oë; ’n verloënde vrou en ’n verloënde moeder.”
“Nee, Flip. Jy kyk verkeerd.” Sy sit terug op die mat, kyk met oortuiging in sy gemartelde oë op. “Kyk weer, my man. Jy sien ’n sangeres voor jou wat die toppunt bereik het. Jy sien ’n vrou voor jou wat die hemel reeds hier op aarde in haar man se arms gevind het. En jy sien ’n moeder voor jou wat altyd trots sal wees op die seun wat sy vir haar man in die wêreld gebring het, ’n seun wat eendag in sy beroemde vader se voetspore sal volg. Is daar werklik iets wat ’n vrou meer van hierdie aardse lewe kan vra? Ek wil niks meer hê nie.”
Flip Grimbeeck neem sy vrou in sy arms, hou haar teen hom vas sonder om iets verder te sê, stom voor ’n liefde en ’n hart só groot soos dié van Salome.
Dit neem nie lank om al die reëlings te tref nie en die dag breek aan dat hulle afskeid neem van die plek waar hulle hul gelukkigste ure saam deurgebring het. Hulle is stil toe die motor die werf verlaat. Salome hou haar oë stip op die pad voor haar, maar sy weet dat Flip sy oë vir laas oor die bekende tonele laat dwaal. Hy sal dit nie weer sien nie.
Flip staan stil en bleek voor die drie mense wat al soveel jare lank deel van sy lewe is, maar wat hy vandag vir die eerste keer ontmoet.
Jan se stewige handdruk maak die vermaerde hand seer, maar hy wys dit nie. Dan staan Rosalie voor hom, die maer, klein vroutjie wie se geld eens op ’n tyd vir hóm kos en medisyne gekoop het.
“Welkom by ons. Báie welkom by ons, Flip!”
Hy neem haar gesig tussen sy hande en soen haar innig. “Dankie, Rosalie. Dis ék wat moet dankie sê.” Hul oë ontmoet en hulle begryp mekaar volkome.
Bessie Truter tree nader en twee groot hande vat die maer skouers voor haar vas. “Dag, Flip-man. Ek is jou ma.”
Hulle sien hoe sy bene onder hom wankel, maar die sterk hande hou hom regop.
“Dag, Ma,” sê Flip aangedaan.
Dis ook van hierdie oomblik af dat Flip-man, soos sy hom deurgaans noem, Bessie Truter se persoonlike sorg raak. Sy slaan nou haar arms om sy skouers en begin met hom aanstap voordeur toe. “Jan, bring in die kinders se koffers en goed. Rosalie, waar is die koffie en beskuit dan? Salome, gaan haal die deken van die bed af. Flip-man is moeg van die ry. Hy moet eers ’n bietjie gaan rus.”
Jan glimlag en stap om die motor om die kattebak oop te maak. Rosalie verdwyn haastig in die rigting van die kombuis en Salome hardloop by die eienaardige paar verby kamer toe, die trane helder in die oë maar met ’n breë glimlag om haar lippe. Ma … Dierbare, wonderlike Ma!
Sy sien met hoeveel verrassende teerheid die groot vrou Flip se skoene uittrek en hom laat terugsak teen die kussings, hoe sy die deken weer oor sy bene optrek. Dan sien sy hulle glimlag teenoor mekaar, twee sulke absoluut uiteenlopende mense, maar twee harte wat mekaar sommer van die eerste oomblik af verstaan en gevind het.
Toe Bessie Truter uit is om te gaan kyk waar Rosalie dan met die koffie en beskuit draai, gaan sit Salome op die bed en neem haar man se hande in hare. Weer glimlag Flip, en Salome weet dat sy ook hierdie keer die regte leiding ontvang het. Hulle moes hierheen kom.
Dit is Rosalie wat eerste genoeg moed bymekaarskraap om die uiters delikate saak aan te roer.
“Ons moet helderheid kry oor Karel voordat hy vanmiddag huis toe kom.” Niemand reageer nie en sy vervolg moedig: “Hy is julle seun. Julle is nou bymekaar, nie net as man en vrou nie, maar ook as gesin. Karel is besonder volwasse vir sy ouderdom. Hy weet dat hy ’n aangenome kind is. Ons het hom vertel toe hy skool toe is, want daar sou hy dit tog die een of ander tyd gehoor het. Hy het dit baie mooi aanvaar en hy het nog nooit die indruk geskep dat die gedagte hom pla nie. Hy word veertien; hy is oud genoeg om te verstaan.”
Haar dapper glimlag pluk aan Salome en Flip se harte. “Ek dink hy sal baie trots wees om te weet wie sy ware ouers is. ’n Seun met sulke ouers verdien om te weet dat hy maar net trots op hulle kan wees. Ek is bereid om hom alles te vertel.”
Dis Flip wat dit regkry om haar te antwoord, openlik bewoë. “Dis ’n wonderlike, onselfsugtige voorstel, Rosalie. Ek en Salome waardeer dit, maar … Karel is ook júlle seun. Hy was nog altyd meer julle s’n as ons s’n. Ek dink nie ons moet haastig wees nie. Ek dink ons moet alles voorlopig hou soos dit is. Tyd sal ons wel leer wat die regte ding is om te doen en wanneer dit die regte oomblik is.”
Nou staan Salome voor die venster in die sonkamer, die spanning in haar byna by breekpunt. Toe sien sy hom met die fiets wat Madame hom vir Kersfees gegee het in die pad aankom.
Die blonde kuif blink in die sonlig en sy sien hoe die lang bene die pedale vinnig trap. Hy weet dat tannie Salome en haar man vandag na hulle toe kom en hy is haastig om by die huis te kom ná die rugby-oefening.
“Hier kom Karel.”
Die geselskap droog op in die sonkamer. ’n Afwagtende stilte sak toe. Almal se gedagtes is besig met vanoggend se gesprek.
Dan hoor hulle hoe hy sy fiets haastig teen die stoeptrappie neersit, gevolg deur sy vinnige voetstappe. Die volgende oomblik staan hy in die deur, sy jong seunsgesig vol afwagting en vreugde.
Salome sien hoe haar man stadig uit sy stoel orent kom. Sy sien sy gesig vertrek, asof die pyn in hom te groot geword het om te dra, maar sy sien ook die vadertrots helder in sy oë lê. Sy stap vinnig na Karel, beweeg voor Flip in sodat hy sy emosies onder beheer kan kry. Haar hande reik gretig na die jong skouers.
“Karel! Maar jy het yslik grootgeword! Jy’s dan al langer as ek!”
Die jong seun glimlag op haar af, en die neus waarop ’n paar sproete kordaat blink, kreukel tergend. “En tannie het vet geword!”
“Wat! Jou nare ding! Hoe durf jy sê ek is vet! Skaam jou!”
Dan lag hulle hartlik en omhels mekaar innig en Salome druk haar kind styf teen haar vas. O, Karel, my seun! Jy is so pragtig! Jy is ’n seun waarop elke moeder trots kan wees!
Met haar arm nog om sy lyf en sy een arm nog om haar skouers, kyk hulle na die man wat hulle so stil staan en aankyk.
Dis Flip wat eerste praat, sy stem vol emosie toe hy sy hand uitsteek. “Middag, grootman. Ek is oom Flip.”
Pa en seun se hande sluit styf inmekaar en vir die toeskouers van hierdie toneel is die ooreenkoms tussen die twee verstommend. Tot nou toe het hulle nog net altyd vir oorlede Karel in hom gesien. Maar op hierdie oomblik sien hulle Flip Grimbeeck duidelik in sy seun. Hulle is amper ewe lank, met dieselfde wit hare, die blou oë, die skraal liggaamsbou en die twee hande wat inmekaar vou, lyk so ontstellend eenders.
Die breë seunsglimlag bars byna uit sy nate. “Tag, dis bak dat julle nou hier by ons kom bly! Ek hoop oom het oom se skildergereedskap saamgebring.”
Flip se oë gaan vraend na sy vrou. Hy weet nie eens of dit in die motor is nie. Hy dink nie daar is juis meer tyd oor vir skilder nie. Maar Salome knik agter Karel se rug en die ouer man glimlag. “Natuurlik! Waar het jy gehoor van ’n soldaat sonder geweer?”
“Bak! Dan gaan ons skilder. Oom het nog nie die son oor Wolwekop sien opkom nie. Ek het al probeer, maar dit wil net nie uitwerk nie. Maar oom sal dit kan skilder. Ek weet.”
Dit is ’n ontroerende oomblik vir almal wat luister, maar Flip Grimbeeck glimlag breed en knik. “Natuurlik, ou grootman. Ons twee gaan sommer môreoggend begin. Dis môre mos Saterdag.”
“Bak, oom!”
Die volgende oggend lê Flip al lank wakker toe Salome wakker skrik. Sy kan die rusteloosheid in hom aanvoel.
“Gaan jy regtig vanoggend begin skilder?” vra sy bekommerd.
Hy glimlag op haar af. “Ja. Ek het hom mos belowe. Ek wens dis al tyd om op te staan.”
“Die oggendlug is koel, Flip. Sal dit goed wees?”
Hy trek haar teen hom vas, sê liefdevol. “My liefste vrou, maak dit enigsins saak?”
Sy kyk in sy oë op en besef dat hy gelyk het. Ja, maak die koel oggendlug werklik saak as tyd so min geword het? Maar sy glimlag dapper. “Goed. Ek sal jou verf en kwasse uitpak terwyl jy aantrek.”
Daar is ’n opmerklike opwinding in die skilder toe hy die kombuis binnekom om gou die ontbyt te eet wat Bessie Truter vir hom gemaak het. ’n Mandjie kos en ’n fles warm tee en melk staan ook gereed op die kombuistafel. Salome verdwyn vinnig in die rigting van Karel se kamer.
Ook hy is gereed vir die groot dag wat voorlê.
“Karel, jy moet my net belowe dat jy sal kyk dat oom Flip hom nie ooreis nie. As jy sien hy word moeg, moet jy hom oorreed om eers te rus, hoor? Hy is nie … baie sterk nie.”
Die jong seunsgesig is ernstig. “Wat makeer hom, tannie?”
Salome aarsel. “Oom Flip is eintlik baie siek, Karel. Jy moet mooi kyk na hom.”
Karel lyk onseker. “Maar as tannie dink hy sal hom ooreis …”
Sy glimlag, streel die blonde kuif weg van die voorkop. “Nee, my kind, ek weet jy sal mooi na hom kyk. En dan … ek wil jou ’n geheim vertel, iets wat jy nie weet nie. Oom Flip het nog nooit ’n sonsopgang geskilder nie. Dit sal die eerste keer wees dat hy nie ’n dag wat sterf op doek vaslê nie, maar ’n nuwe dag … en ek dink dit gaan die grootste werk wees wat hy nog ooit geskilder het!”
Sy soen hom vinnig en staan terug. “Kom. Oom Flip wag al vir jou.”