HOOFSTUK VII

Die koms van Salome

I

Toe Henry wakker word, trek hy hom vinnig aan en haas hom na buite. Vandag moet hy alleen wees. Hy het na niks gesoek nie, hy het geen eise gestel nie. Ongevraag het hulle sy paradys vernietig. Hy wandel die landgoed in en vermy al die plekke waar Jock Silberstein gewoonlik vir hom wag.

Hy het darem iets om voor dankbaar te wees: dat op hierdie oomblik, die dag van die goeie, die natuur met sy oorvloedige bronne van skoonheid die uitweg bied wat jy self verkies: vergetelheid indien jy dit wens, al is dit tydelik; versoening maar terselfdertyd ook die hoop dat die toestand sal verander want, kyk, alles groei nog en daar is orals lewe; energie en wilskrag om selfs teen die magte wat sterker as jy is te veg soos ander voor jou in ander omstandighede geveg het – daar is iets heroïes in hierdie pragtige landskap; sy skoonheid is onvernietigbaar. In hierdie lig met musiek in jou ore, in hierdie uur van die oggend …

Hy het die vormloosheid gevoel; die stilte en die vrees. Daarmee sal hy nou moet lewe. In die een of ander stadium, onverwags op ’n onverhoede oomblik, sal dit weer kom. Sy onskuld was ’n gebrek aan kennis; sy gebrek aan kennis ’n valse onskuld. Hy kan nou sien, maar dit bevredig hom nie. Maar die feit dat hy kan sien, verskaf tog ’n sekere mate van sekerheid.

Intussen is daar die domein van die Silbersteins wat hy nou moet naloop. So beskou ’n generaal die gevegsterrein voordat die stryd begin woed. Mens moet alles ken – elke vierkante duim van die terrein. En jy moet ook die vyand leer ken, gekamoefleerd soos hy hier vlak voor jou oë is. Jy moet die skutkleur kan onderskei, die momskerm kan peil. Jy moet ’n geslepenheid ontwikkel: jy moet nooit, nooit hierdie vyand in ware gedaante aandurf nie. Geslepenheid is die woord, vormloos soos hy – en jy moet jou kragte put uit iets wat in hierdie tyd ook sy vorm verloor het. Daar is geen kontak, geen kommunikasie met iets wat jy geken het nie. Jy moet ’n wantroue ontwikkel in dinge waaraan jy geglo het; maar jy moet geloof hê, sterker as ooit, in ’n magsvoorwerp wat nog ’n gedaante moet vind en net soos jy in volle simpatie met jou die stryd voer. Dit moet jy glo, anders bly daar niks oor nie.

Hy bereik die huisies tussen die proteas en silwerbome, die toneel van sy inisiasie. Die meisietjie met die bleek gesiggie is besig om blomme in die tuin te pluk. Haar arms is vol varklelies, die wind waai haar ligte rokkie teen haar bene aan. Sy wuif vir hom en wink hom nader. Die deur gaan oop en die oumatjie kom uit. Hulle oorweldig die jongman met hulle spontane verwelkoming. Sal hy vir ’n oomblik inkom? Hulle het ’n presentjie vir hom. Hy staan tussen die heide en die blomme terwyl die meisietjie na binne trippel. Op die stoep is ’n roosvenster, verdeel in allerhande kleure glas. Daaragter kan hy die landskap sien en hy herleef in die blou bome, die rooi heining, die geel wolke en groen berge ’n tydperk wat hy alreeds vergeet het maar wat nou meteens te voorskyn kom – ’n wêreld van sy vroeë jeug, gereed om ’n maagd, ’n ridder en ’n donker voorwerp om elke hoekie op te tower. Die kleure is helder maar eenvoudig; daar is geen skakerings nie. Dit is soos daardie prentjieboekies wat mens inkleur: swart vir die monster, goud vir die ridder, blou vir haar oë, rooi vir haar lippe, groen vir die veld waarop die offer gebring word. En nou kom die meisietjie uit en bied vir hom die geskenkie aan.

“Salome en ek het dikwels hier saam gespeel,” sê sy.

Dis ’n gebreide baadjie van sterk, vol wol, bruin soos die herfs.

Die ou vroutjie se oë is vriendelik, die moedertjie wat alles verstaan.

“Vir die toekomstige seun van Jock Silberstein,” sê sy met feodale trou.

Hy verlaat hulle terwyl die prentjie tipies bly: die huisie, die tuintjie, die ouma en kind – die goeie laaste herinnering, die toneel op die teeblikkie. Die wind wat nou saggies teen hom waai, waai ook teen hulle as sy rug gekeer is. Die meisietjie se rokkie lig op en sy het niks onder aan nie. Die ouma se oë word swart met waansin. Die varkiesblomme is bestem vir die bordello. Die wind waai weer en hy kyk om. Hulle staan nog steeds daar, haar rokkie verlig soos ’n spinnedraad in die son, die blomme in haar arms soos die ruiker van ’n bruid, die moedertjie minsaam aan haar sy. En die wind waai en waai en skep toneeltjies oor en oor van die maagd en die blomme, die slet en die blomme, die moeder en maagd, die heks en heksekind. Geslepenheid terwyl hy deur die lushof wandel. Geslepenheid terwyl alles onsigbaar is. Geslepenheid terwyl vorme sig­baar word en in ’n drogbeeld leef. Henry, in sy wandeling, is van sy blind­heid ontslae, maar hulle het hom nie geleer om te sien nie. Dis soos iemand wat blind gebore is en meteens kan sien – maar hoe weet jy of ’n boom nie ’n mens is nie? Vertrou geen bome nie. Wees glad nie verbaas as ’n stok ’n adder is nie. Dis bloot ’n stok wat daar lê, en hy tel dit op, ’n ronde, vet vyestok wat lekker om sy hand krul en waarmee hy nou teen die gras piets terwyl hy sy wandeling voortsit. Hy sien wel ’n slang: ’n geel, blitsvinnige kobra wat in en uit tussen die gras verdwyn en onverwags op ’n oop stuk verskyn. Henry vermorsel hom met die vyestok en die koperlyf krul in die son tot op ’n oomblik dat dit skielik bewegingloos word. Dit kon natuurlik ook ’n molslang gewees het, ’n onskadelike, goeie dier wat rotte en ander ongediertes uitroei. Die kop was nooit bak nie, of was dit? Maar die dier is dood en niemand sal weet nie. Hy tel die slang met die stok op, swaai dit soos ’n slinger in die rondte en weg vlieg die koperdraad deur die lug.

Die pakkie in sy hand is lastig. Hy besluit om die baadjie aan te trek, en dit pas goed. Hy steek sy hand in sy sak en voel ’n papiertjie. Hy haal dit uit en lees 83-7569. Is dit ’n telefoonnommer? Of is dit die nommer van die wol?

“Dit was ’n kobra,” sê ’n stem agter hom. “’n Seldsame Kaapse kobra. Uiters snel en giftig maar nietemin van belang vir die versamelaar. Dink jy ons kan dit kry as ons daarna soek?”

Henry gewaar ’n mannetjie in ’n kardoesbroek, sy oë weggesteek onder ’n pet, sy vel verbleik soos dié van ’n stedeling, sy teenwoordigheid in die veld effens onvanpas soos alle wetenskaplikes wat deur die aard van hulle werk verplig word om die studeerkamer te verlaat.

“U is seker verbaas om my hier te sien,” sê dr. Johns, “maar ek onderneem dikwels ’n wandeling in die vroeë oggend, veral ná ’n aand soos gisteraand. Dink jy dis moontlik om die slang op te spoor?”

Hulle soek tussen die heide en die gras. Dr. Johns sien telkens ’n plant wat hoogs seldsaam is: ’n vygie; ’n familie van ’n protea; ’n blommetjie met die vorm van ’n miniatuurklokkie, rosig van kleur en volkome weggesteek in die struike. En oplaas kry hulle die kobra, die kop vermorsel, die lyf op twee plekke geknak.

“Wat ’n jammerte,” sê dr. Johns en tel die slang op. Hy hou dit teen die lig en steek dit in sy sak. “En tog, as jy dan ’n slang moet doodmaak, is hierdie een die belangrikste. Dis uiters gevaarlik en sy gif is dodelik. Aan die ander kant, weer, is in hierdie kontrei ’n onskuldige slang wat presies soos ’n adder lyk, ’n dier met die pragtigste kleure, en hulle is volkome onskadelik. Ek bewonder u vermoë om so vlug die skadelike soort uit te ken.”

Hulle wandel voort.

“’n Pragtige baadjie,” sê dr. Johns. “’n Besondere kleur.”

Henry verduidelik aan hom dat hy dit van die vroutjie en haar klein­dogter (en hy beduie in die rigting van die huisies in die verte) as geskenk gekry het.

“’n Voorbeeldige meisie,” sê dr. Johns. “Sy is ’n groot vriendin van Salome. Haar ouers is vroeg dood en sy bly by haar ouma en oupa. Sy bestudeer sosiologie deur ’n korrespondensiekollege en werk in haar vrye tyd. Haar ouma is ’n merkwaardige vrou, sy skryf traktaatjies vir die Sionsbende. Die oupa is ’n bietjie bot en verbeeldingloos. Jy onthou seker die voorval ’n paar aande gelede toe hy die albino aangerand het.”

Hulle nader nou die naturelledorpie. Alles daar is stil en rustig. ’n Paar van die naturellevrouens groet en sê “Morêna.” Een van hulle, ’n hekse-verskynsel met haar verkrimpte vel en sluwe ogies, skuifel nader en betas Henry se baadjie. Sy praat Afrikaans en Xhosa deurmekaar. Sy groet die man van Salome. Sy wens dat hy sal mooiloop. En dat hy baie kinders sal kry. En dat die mielies altyd vier koppe sal dra. En dat die reëns op die regte tyd sal kom. Sy noem ’n geskenk. Henry ontvang dit: ’n glansende kleipot, swart gebrand en geglasuur. Sy klap haar hande saam en neem die geld met palms na bo, tel dit vinnig met palms na benede. Lank sal hy lewe, die eienaar van Salome, die prins van Silberstein.

Dr. Johns neem afskeid en vertel vir hom dat regter O’Hara ’n bietjie ongesteld voel ná die feesmaal.

Henry hervat sy wandeling, maar vind dit moeilik om die erdepot be­hoorlik te dra – daar is geen vashouplek nie en mens het altyd die vrees dat een van die bene sal breek indien jy daaraan vat. Hy verlaat die na­turelledorpie en is spoedig alleen in die pragtige veld. Jock Silberstein pas bewaringsboerdery toe en alle inheemse plante floreer in die vleie, in die natuurlike dammetjies en teen die heuwels. Daar is geen wolk in die lug nie en elke kleur beur na vore in heldere skakerings. Daar is ’n rustigheid wat volkome neutraal is. Hier is die stryd tussen goed en kwaad geheel en al onsigbaar. Die windjie het gaan lê en daar is geen beweging nie. Selfs as hy teen die plante skuur of daarop trap, beweeg hulle traag en herstel langsaam, of bly vernietig in ’n posisie van volmaakte rus.

Maar dan gewaar hy tog ’n beweging in die verte: ’n vrouefiguur wat een oomblik teen die horison gesilhoeëtteer is en die volgende oomblik saam met die landskap wegsmelt. In die langsame wandeling kom hulle digter bymekaar en merk hy eers die buitelyne, daarna die aanduiding van gelaatstrekke, maar alles bly nog onbepaald – haar ouderdom, haar kleur, haar aanspraak op skoonheid. Dis ’n vrou, gesigloos soos in jou drome, en ’n samestelling van alle vroue. As dit Salome moet wees, dan is hierdie naderende ontmoeting soos hy verwag het, ’n stadige uitkristallisering, die geboorte van vorm uit die vormloosheid.

Die oomblik is so belangrik dat hy ’n sekonde lank aarsel, effens uit die veld geslaan deur die onverwagte voltooiing van sy soektog, maar dan herken hy haar meteens, lady Mandrake, en hy loop haar vinniger te­gemoet.

“Henry,” sê sy, “hoe aangenaam om jou hier te sien.”

Die sonlig is wreed met haar en maak die masker goedkoop. Dit bak dit hard en onooglik maar verhoog in die proses die doeltreffendheid daarvan. Lady Mandrake is self so volkome weggesteek dat die openings wat haar oë is, na twee venstertjies lyk waaragter die ware persoon na buite loer.

“Ek het teruggekom na Welgevonden,” sê sy, “omdat sir Henry miskien sy gelukkigste laaste dae hier deurgebring het. Sir Henry het opgehou om te bestaan en hy is weg, maar tog stel hy eise solank as wat sy liggaam nog sigbaar is. Hoe sou jy hom begrawe?”

Sy staan vlak voor Henry, die vrou binne die betakelde figuur, die twee gate van haar oë dringend op hom gerig.

“Sou jy hom begrawe het êrens op die vleie van Welgevonden met ’n lelie in sy arms, gekis in embuia, gelandmerk deur ’n eenvoudige steen van swart marmer?”

Sy haal ’n koperdosie te voorskyn wat sy onder haar mantel gehou het. “Ek het sir Henry veras,” sê sy, “en nou is hy orals en in enige gedaante.”

Dis moeilik om sir Henry in die koperdosie voor te stel. Sy kan nog nie besluit hoe om hom volkome onsigbaar te maak nie. Sy vra vir Henry na ’n geskikte plek om die as uit te strooi. Hulle loop saam deur die veld en kyk na ’n dammetjie, ’n digte bos, ’n duineheuwel, maar kan nie besluit nie. En dan kom die wind weer op, dit ruk teen hulle en bied in die toenemende beweging die oplossing aan. Sir Henry verdwyn in duisende spikkeltjies uit die oog: hy land op ’n blom, op die water, in die meer van stookwyn, op die dak van Welgevonden en, in infinitesimale brokkies, deur die ruimte op onbekende plekke. Daar is tagtig jaar se beelde van sir Henry nou. Sir Henry het die aand in Welgevonden self geen beeld gekry nie. Henry sien ’n hele reeks. Lady Mandrake bly net oor met een: die jong esteet in Parys, in Londen, in Capri, in Venesië – ’n jongman, soos die jongman voor haar, en sy gee hom ’n geskenk ter nagedagtenis aan sir Henry, ’n ring met ’n flambojante steen. Sy verlaat hom met haar beeld wat volkome vals is, want sir Henry is orals; hy is verdeel in die ontelbare spikkeltjies wat in die sonlig verdwyn het.

In die rigting van die fabriek nou, geklee in sy baadjie, die ring aan sy vinger, die pot in die een hand, terwyl hy lui-lui aan alles dink wat regter O’Hara, Jock en almal in die loop van die week hom meegedeel het. Hy kan weinig onthou van wat hulle gesê het; soveel dinge is uitgepluis, soveel chaos en soveel kennis is aan hom geopenbaar, en tog, in die middel is daar ’n algehele, kleurlose niks. Maar onder die oppervlakte is daar ’n maling en ’n woeling, ’n gedurige spanning van iets teen iets. Solank jy net daarvan weet, solank jy net nie mislei word deur die kleurloosheid nie. En dan is daar Salome. Hy voel die tinteling wat die vooruitsig meebring. Vanmiddag of vanaand sal hy haar sien. Hy is volkome gekompromitteer. Saam met haar, teen hierdie gevaarlike neutrale agtergrond, sal hy die vyand probeer vind. Hy sal ten minste nie alleen wees nie. En hy sal die liefde in gelid van die vrees, wat hy alreeds ken, ervaar.

Hy voel meteens moeg en sit die erdepot op die grond neer. Die baadjie is warm en hy knoop dit los. Hy steek sy hande weer in die sakke en voel nog ’n voorwerp wat hy die eerste keer misgetas het. Dis ’n soort poskaart. Agterop staan ook geskryf: 83-7569. Aan die voorkant is die foto van ’n naakte meisie in ’n erotiese houding, die bekende bleek gesiggie geskroef in ernstige konsentrasie. Hy kyk lank daarna en skrik meteens as hy die donderslag van hoewe hoor. ’n Stofwolk hang voor die son. Die gedruis neem toe en dan gewaar hy Brutus aan die voorpunt van die trop. Agter huppel en bokspring die verse, sterte skeef, agterpote in die lug, snoete teen die grond. En voor hulle donder die tweekleurige monster. Die son blink op sy vel, die spiere trek knoppe en golf met elke magtige haal. Hy trek rakelings by Henry verby, die punte van sy horings soos twee swaarde aan weerskante uit. Die trop verdwyn oor die heuwel, onsigbaar in die stofwolk wat self verdwyn. In die stilte daarna, slegs vir ’n oomblik, voel Henry die aanmaning van vrees. Maar ook dit verdwyn en hy hervat sy wandeling in die sonnige landskap. By die cottage word hy voorgekeer deur mev. Dreyer. Sy moes hom van agter die roosgordyne gesien het, want die deur gaan oop en sy wiegel hom tegemoet.

Henry! Henry! Watter vreugdevolle dag! Sy het gevoel sy moet hom persoonlik gelukwens. Jammer dat professor Dreyer nie hier is nie … En Salome soos een van haar eie kinders! Twee gelukkige jongmense. A, liefde, liefde, liefde! Sy is benede haar ouderdom aangetrek: valletjies, strikkies en ’n skattige onderrokkie. En sy is vervul met lewensvreugde. Eers ’n bietjie stuitigheid, verwysend skelmpies na o-watter-wonderlike-avontuur, en dan, sentimenteel, die geskenkie, in alle eenvoud, aan ’n voorbeeldige paartjie. Sy het dit toegedraai in bruin papier. Henry bedank haar en maak dit later oop. Dis ’n groen boekie, “van mev. en professor Dreyer” – Cruden’s Concordance. Die boek pas mooi in die linkersak van die baadjie en sy hande is nog vry om die kleipot te dra.

En nou is hy by die fabriek. Aangesien hy van die teenoorgestelde rigting gekom het, beland hy eerste in die kamer van Ubu. Hy soek onmiddellik die tuinier en sien hom langs die man in wit, die twee tesame voor die groot masjien. Maar dis die tuinier wat die hele kamer oorheers. Die uniform is onbeskryflik: dis asof alle bestaande kleure byeengebring is om tesame nog ’n nuwe kleur te skep. Dit is waarlik ’n uniform vir die engele. Dit brand helderder as die strale van die son wat daarop val. Die tuinier het die hele dag bewegingloos gesit, ’n bron van energie wat gedurig oplaai. Hy het alle pogings tot kommunikasie van die man in wit geïgnoreer. Daar het telkens van die meisies uit die kamer langsaan na hom kom kyk, maar hy was so onsydig soos ’n god van Olumpus. Sy gesig was gekap uit marmer, sy oë gehef na die masjien. Dit was asof hy wag op ’n skeppingsdaad, alles binne-in hom gespan tot die uiterste toe, wagtende op die finale nuanse, die monadiese tree na vore, die oorgang van niets tot iets, die vormgewende hergeboorte uit die universele … En op die presiese oomblik toe Henry inkom en hom gadeslaan, beweeg sy verknoetste vingers na benede op die enkele knoppie wat aan hom toegeken is.

En niks gebeur nie.

Dit was ’n onbeskryflike oomblik. Dit was die totale oorgawe van skepping en niks gebeur nie. Die ou man druk die knoppie en niks gebeur nie.

Maar hy glo dit nie. Hy weet, hy is seker: ’n hele oes is in die proses behels.

Henry loop vinnig na die volgende kamer. Hy kyk vir laas terug en sien die ou man in die skaduwee. Sonder lig is sy baadjie grys en lyk die man in wit prominenter. Maar dis alles ’n illusie. As die son weer op daardie baadjie skyn, sal al die kleure brand asof die hele wêreld in die ontbranding betrokke is. Al is die knoppie ’n fopmodel, die rooi en wit sap van al die heerlike korrels op Welgevonden, en al die produkte van die kelders waar die seisoene herhaal word, en al die sonskyn en warmte, en die vonkeling, en die dronkenskap en die uitbundige vreugde, is in daardie één beweging nu-gebore. Niks het gebeur nie, slegs omdat alles onsigbaar is.

In die kamer langsaan kyk al die meisies op as hy inkom. Hulle hande beweeg outomaties, onafhanklik van hulle gedagtes, soos suierstange van vleis en bloed, terwyl hulle oë op hom gevestig is. Hy voel verleë onder al die aandag, die manier waarop die meisies na die toekomstige bruidegom kyk: die eienaardige samestelling van wrewel, verlange en banale bespiegeling. Belas deur die erdepot, baan hy met moeite sy weg deur die gangetjie en beland telkens in sagte botsings teen dye en bene. Pas voordat hy die deur bereik, word hy deur twee meisies voorgekeer. Donker en blou oë, bewegende lippe, en vrouestemme met allerhande aksente, en onvoltooide sinne onderbreek deur ’n gegiggel, bring aan hom tuis dat kamer twee ook ’n geskenkie vir die aanstaande van Salome het. Dit is in groen papier toegedraai. Daar word van hom verwag om dit oop te maak en ten toon te stel. Onverhoeds doen hy dit. Dis ’n swart nylon-vrouebroekie, belys met kant, en vooraan hang, vasgeheg met ’n pienk lint, ’n enkele slotjie van blinkende silwer. (Onderdrukte gelag terwyl die bottels verbyseil.) Dit gee die een meisie. En dan gee die ander een haar geskenkie in die stilte wat daal op die voorspel tot die volgende verrassingsoomblik. Hierdie keer is dit ’n lywige bondel van allerhande kleure papier wat hy laag vir laag afskil totdat hy naderhand die kern bereik: ’n klein dosie stewig toegeplak. Omring deur die gekleurde papier, gedos soos ’n nar in sy baadjie, aangedruk deur gretige vrouefigure, maak hy dit oop en haal ’n silwer sleutel te voorskyn. En nou is daar geen einde aan die uitbundigheid nie.

Henry beskou die laggende meisies. Hy kan hom in verleentheid ont­trek. Hy kan ook aan hulle vulgariteit meedoen. Sekere eise word aan hom gestel: dit is die lot van die erfgenaam van Silberstein.

Hy bring die sleutel na die slot om dit oop te sluit, om aan die verwagting te voldoen. Dis weersinwekkend, maar dit moet afgehandel word.

Te laat besef hy dat die sleutel té groot of té klein sal wees. Hy hoor alreeds die geloei van die massa as hy deur die bewegings gaan. En dan, in die gedruis, kom die stilte weer – die isolasie in geraas soos hy met Jock in die kamer van bieg gevind het, en, op die spoor daarvan, die aanmaning van vrees wat verdwyn sodra hy loop en al sy geskenke saamneem tot in die kamer waar die naturellemans die bottels was.

Hy vind ’n rustigheid hier waar die tempo langsaam is en alles geleidelik tot stilstand kom. Daar sal ook geen geskenke wees nie.

Hy loop verby die gestrande waentjies en starende gesigte.

Die geskenk, die erdepot, is alreeds gegee – en voor betaal.

Hy aarsel ’n oomblik en besluit dan om professor Dreyer te besoek. Dis asof hulle sy koms verwag het. Die studente drom om hom saam en gee hom ’n stewige handdruk. Maar die professor self is nog op sy ou plek – eenkant by die venster, onvatbaar vir geraas. Hierdie keer het hy ’n glasbuis waarin ’n groen vloeistof liggies geskommel word. Dit beweeg om die wand, ’n wieling van seldsame groen. Henry gaan by hom staan; hy het nog nooit tevore daardie presiese kleur gesien nie. Soms lyk dit na die groen van blare met die koms van lente; maar, as die vloeistof stil word, verander dit geleidelik tot die donkergroen van somer. Volkome bewegingloos, sonder ’n sweempie van afsaksel, asof ’n skaduwee daaroor val, verdonker dit en word die kleur intenser – dit trek iets van die donkerte en gee die illusie van diepte; dit trek iets van die lig en skyn na buite. Toe beweeg die professor die buisie weer en vir ’n oomblik is daar al die kleure van die herfs, in die toenemende beweging ook die wit van winter, en, as die draaikolk ’n maksimum vaart bereik en dan verflou, word die proses van voor af herhaal: die ligte, vrolike groen wat weer gebore word.

Professor Dreyer gewaar Henry vir die eerste keer langs hom en hy sien die belangstelling in die jongman se oë. Een van die studente fluister iets in sy oor. Hy maak sy keel skoon en dra die gelukwensing namens almal oor. Dan kyk hy effens hulpeloos rond. Nie een het aan ’n geskenk gedink nie. Opeens herinner hy hom die belangstelling van die jongman. Hier het hy iets gesien wat ooreenkom met sy eie wêreld. Hy tel ’n stuk watte van die tafel af op, wikkel die buisie versigtig daarin (nadat hy dit eers gekurk het), plaas dit in ’n dosie en oorhandig die geskenk. En nou herken hy vir Henry; blitsvinnig vind al die assosiasies plaas en hy begin onmiddellik oor die rioolstelsel by sy huis gesels. Al pratende vergesel hy Henry tot by die deur. Sy houding is gemaak onderdanig teenoor die toekomstige baas van Welgevonden. Hy verwys na al die geld wat nodig is vir navorsing. Waar sal die Silbersteins wees sonder die bydrae van hierdie kamer? Hier is die pioniers wat die land beskaaf, die geheime ontrafel, die poorte baan tot die utopie van die toekoms. Die vaal mannetjie volg Henry tot buitekant die deur, neem traag van hom afskeid, vlei hom, prys sy belangstelling, bewerk hom, bearbei hom by voorbaat – hy is sag, dit kan mens sien.

Tussen die tulpe deur en dan is Henry weg van die fabriek. Hy vind die dosie ongemaklik om te dra. Hy haal die buisie uit en sit dit in die boonste sak van die baadjie. Dis effens groot en steek bokant uit – ’n glasbuis wat met elke skommeling van die wandeling die seisoene herhaal.

Hoe stil en rustig lyk Welgevonden nie! Die plaas van Silberstein. ’n Afri­kaanse plaas in die sonlig – welgevonden in rus en vrede. Lemoenduifies koer in die bome; daar is die geluid van waters in die vore. Hy lê sy geskenke op die gras neer en rus ’n bietjie; na ’n rukkie beweeg hy weer. Die uitkyktoring brand in die verte, die veelvuldige dakke van die huis begin een na die ander vorm kry. Die bome van die bos is roerloos en dan, meteens, begin die dennenaalde saggies fluit. In die verte hoor hy die geklap van perdepote. Dit slaan teen die grond in rasende vaart, ’n flirtasie met die dood wat ’n klimaks vind in ’n geweldige sprong – dáár styg die perd en die ruiter teen die hemel. Sag en dof klink die aanraking met die aarde en daal die stilte.

Die spore van die vragmotors is diep slote in die pad en om die draai staan hulle ingeryg, geel en groen langs die stoetkoeie wat rustig wei. Die voorman-bestuurder met sy gevolg, geklee in hulle netjiese uniforms, wag­tende in die orde van senioriteit, vorm ’n onverbiddelike keermuur; fris manne met strak gesigte, moue opgerol bokant bultende arms, oë gehard tot soekligte. Selfs in die aanbieding van die geskenk, gekollekteer deur die vakbond, lyk hulle dreigend. Dis ’n miniatuur van hulle vragmotors, noukeurig nagemaak in staal en bespuit met Duco. Daar is weinig woorde, slegs die noodsaaklikes, as Henry die loodswaar geskenk ontvang, en dan keer hulle een ná die ander terug, bestyg die monsters, brul met hul enjins, en donder weg terwyl Henry in die stof en hitte van hulle sirocco volkome onsigbaar word.

Belas deur al die welwillendheid, nader hy nou die huis met moeite. Hinkend, pinkend, kies hy al die onbekendste paadjies om die toevlug van sy kamer te soek.

In die nou gangetjie, onvermybaar, sien hy die hertogin. Sy staan vier­kantig voor hom, haar ogies gerig op die veelkleurige baadjie, die erdepot, die nylonbroekie, die proefbuis, die glinsterende ring, die speelgoedmotor en die boek in die sak. En dan glimlag sy, die Jiddisje Mamma.

“Der Meshugeneh …!” sê sy en skud haar hoof.

“O, die gekke kind!” en soen hom op die wang.

II

Slaap in hierdie kamer waar sy dag in twee verdeel word – waar hy hom nou vir die sewende keer van die wêreld afsluit ter voorbereiding vir die openbaring van die aand. Maar hierdie keer lê hy wakker en neem traag afskeid van elke sekonde wat hom nader bring aan die één geleentheid wat onontkombaar is, waar hy hulle in die gesig moet kyk, waar hy die sigbaarheid van sy beminde moet aanvaar.

Want dit is onmoontlik, dink hy, dat selfs die liefde ook onsigbaar is.

In sy worsteling met die slaap dink hy aan God wat vrees en liefde as twee onafskeibare vereistes stel.

In sy stryd teen die gedagtes wat hom sy slaap ontsê, kom hy steeds tot die ontdekking van nuwe “waarhede” wat hy tog wantrou. Wanneer eindig bewuste denke? Wanneer begin die oerbeelde wat uit die voorslaap kruip? En wanneer is mens die naaste aan die wesenswaarheid?

Henry se gedagtes maal aanhoudend en hy is totaal onbewus van ’n onrustige slaap wat hom bemeester het. Selfs toe hy wakker word, en die skok van rasionale waarneming ervaar, is hy nog steeds onder die indruk dat hy altyd by sy bewussyn was.

Êrens in die huis lui die blackamoor die klok. Gewoonlik vind dit in die middag plaas, maar hierdie keer vir die belangrike verrigtinge van die aand. Daar is geen twyfel by Henry nie, geen bespiegeling oor die uniform nie – die sewende aand is die deftige finale, die drang tot ’n hoogtepunt wat eie is aan die natuur van die mens, die klimaks wat alle beweging aanvaarbaar maak.

Hy bad eers en draai die orkes van krane oop; hy verlustig homself in aanskouing van die leeukoppe wat uitbundig spuit; hy bedwelm homself uitgelate in al die geure uit al die sintuie; hy plons in die bad en dryf met sy kop agteroor in die water, sy oë gevestig op die vergulde dak.

Daar is oomblikke wanneer ’n stilte oor hom kom, wanneer hy eenvou­dige waarnemings maak en wanneer hy meteens diep ontroerd voel oor ’n hoek van skoonheid te midde van al hierdie vulgariteit.

Hy drink van die wyn uit die kraffie. Hy trek hom langsaam aan en knoop sy strikkie met ’n tikkie van asimmetrie om perfektheid te verydel. Hy steek ’n sigaret aan – en meteens oorweldig die gedagte aan wat voorlê vir hom. ’n Lamheid gaan deur sy ledemate. Maar iets tintel. Hy kan nie behoorlik dink nie, en tog voel hy in staat tot groot dinge. Hy verwag geen besondere openbaring nie, geen groot waarhede nie, maar … Daar is ’n sekere ritme wat volkome waar is, ’n tempo van impulsiewe aanvaarding wat jou nader aan die onsigbare waarheid bring.

Meteens word hy bewus van ’n geluid wat selfs tot in sy kamer dring. Dit het as iets in die agtergrond begin wat nou op die voorgrond kom. Dis onverklaarbaar as mens dit na ’n enkele voorwerp probeer herlei, maar dis verklaarbaar sodra jy besef dat dit die gemeenskaplike klank van vergaderde mense is. Daar is ’n geskuifel met ’n besondere ritme, ’n sekere musikaliteit in stemme, ’n volkome vormlose geheel van beweging wat tog die indruk gee van ’n naderende klimaks ten spyte van die feit dat jy geen bepaalde proses van styging kan waarneem nie.

Hy kam sy hare, gooi druppels in sy oë, piets alle stoffies van sy aandpak af, en versteek homself agter onberispelike netheid. Liggaamlik so suiwer as moontlik, geestelik so geharnas as moontlik, gaan hy die gedruis tege­moet.

*

In ’n saal, waarvan hy nie bewus was dat dit bestaan nie, sien hy die me­nigte, gekleed soos hy. Die plek is omsoom deur swaar gordyne, die tafeltjies is ry aan ry versier met blomme, bedek met vingergeregte, versag deur die ligte van kerse. Daar is ’n platform met ’n enkele tafel, twee stoele, ’n sneeuwit koek en reusagtige palmrangskikkings aan weerskante. Onder die platform is ’n orkes wat verskeie deuntjies speel. Hulle het begin met “The Continental”. Toe het hulle oorgeslaan na “Lullaby of Broadway”. Jock en die slank Mrs Silberstein het alreeds voor in die saal plaasgeneem. Sy het ’n aandrok van suiwer goud aan. Haar oë vonkel helderder as ooit. Mens kan verdwyn in die blou. Jock is groot, elegant en formidabel in sy aandpak: die ongetwyfelde heerser Silberstein. Langs hom sit J.J., die roué met ’n eie reg, met al die tekens van welopgevoede dissipasie, met die enorme moestas wat nie belaglik is nie, met die enigste sakkies onder die oë wat status gee. En langs Mrs Silberstein die hertogin, ’n tjalie om haar skouers vanweë haar ouderdom, rustig oorgegee aan die onvermydelike. En dan is daar die twee Misses Silberstein, twee herfsblaartjies vervaal deur die eerste ryp.

Die orkes het nou begin met “The Way You Look Tonight”.

Dit val saam met die verskyning van Henry, angshelder onder die soeklig wat op die verhoog gerig is.

Die gas­te het alreeds begin om die vonkelende Cuvée te geniet. Daar is agt­honderd van hulle: regters, advokate, dokters, doktors, gesiene boere, kuns­tenaars, intellektuele, gekeurde gekleurdes en lede van die Welgevonden-personeel. Slegs ’n groepie merk die verskyning van Henry op en klap liggies hulle hande voordat hulle die volgende glasie neem. Die ander volg hulle voorbeeld sonder dat hulle iets gewaar.

Jock glimlag spesiaal vir Henry. Daar is ’n spottende blik in sy oë.

Die orkes het oorgeslaan na “Wishing For a White Xmas”.

Voor die platform is ’n berg van geskenke. Die erdepot, die nylonbroekie, Cruden’s Concordance, die veelkleurige baadjie, die miniatuur-vragmotor is opsig­telik by die stapel gevoeg. Selfs ’n proefbuis met ’n kleurlose vloeistof.

Meteens hou die orkes op met speel.

Die stilte roep almal tot orde.

En dan val die orkes weg met “You’ll Never Know”.

Al agthonderd staan op as Salome kom.

Aan die eindpunt van die saal verskyn sy met haar gevolg, maagdelike meisies met donker oë.

Dis ’n indrukwekkende optog. Hulle kom stadig nader op maat van die musiek.

Ook Henry staan op. In die verte sien hy die beweging na die platform. Die skare drom saam en vorm deel van die optog. Dis ’n massabeweging na vore.

Die een in die middel is sy. Daar is geen keer aan die beweging nie. Dis ’n soort onafwendbare noodlot, hierdie beweging na hom toe. Alleen wag hy, sy oë tot skrefies vernou, om spoedig binne sy gesigsveld sy beminde te sien.

En dan ervaar hy die nou-bekende vrees. En saam met die vrees ’n ge­voel wat liefde moet wees.

Nader en nader kom die stoet. Dis ’n enorme vormlose wolk daar voor sy oë, ’n brander wat op die punt is om te breek, ’n huiwering voor die groot slag wat die geheel sal verbrokkel tot veelvuldige skerwe.

Mens moet net nie na die skare kyk nie. Jy moet nie luister na die gedruis nie. Jy moet vergeet van die saal, die kerse, die sjampanje, die opgehoopte geskenke, die magdom van mense. Jy moet jou volkome kan oorgee aan die geheel, die brander inwag, die enkele druppel gryp as dit styg bo die sproei.

Jy moet natuurlik geloof hê. Dit is eenvoudig so. Jy moet jou toegewing aan die onsienlike maak.

Hy kyk op en sien hoe die massa binne sy gesigsveld bars; hoe die een­heid ontbind in al sy samestellings; hoe enkele figure gedaante kry en sig­baar word.

III

Veronderstel jy is alleen in ’n groot saal. Jy lig jou hande vir jou beminde. Jy is geklee in ’n uniform. Jy is bevrees, maar jy het die geloof. Jy dobbel met jou geloof. In jou uniform van die engele gaan jy na vore, jy lig jou hande, en met volkome vertroue wag jy op die beeld van waarheid in gelid van die liefde.