Die enigste getuie
6 April 2012, 20:30
Kol. Dick de Waal is een van die Noord-Kaap se beste speurders met 32 jaar ondervinding. Deeglik en georganiseerd, gesout, bekend vir sy toegewyde en noukeurige speurwerk. Hy’s 49 jaar oud en die hoof van die geweldmisdaadeenheid.
Hy simpatiseer met die seun by die restaurant.
Hy en Andries Steenkamp stap saam met die speurders na die polisiekantoor. In die bevelvoerder se kantoor stel kol. De Waal die gewone vrae aan die seun. Is daar verdagtes en moontlike motiewe vir die plaasaanval? Hy weet nie. Kol. De Waal sien die seun is kalm. Hy huil nie, en stuur deurentyd boodskappe op sy selfoon. Die seun het ’n kortbroek en Henriëtte se baadjie aan. Daar is ’n horlosie aan sy linkerpols.
Almal het voor die TV gesit. Tien minute voor die einde van Vetkoekpaleis het die seun na die skuur gegaan. Hy weet nie wat hy wou doen nie. Die seun het eers ses rewolwerskote gehoor, Marthella hoor gil, toe weer vier of vyf sagter skote. Dit het stil geword. Marthella het nog geleef toe hy in die huis kom, en toe geval. Deon en Christel was dood. Marthella het sy T-hemp in haar sterwensnood geskeur. Hy is by die huis uit. Die skuurdeure was oop. Hy wou dorp toe jaag. Hy het wapens in die gras by die werfhek gesien en stilgehou. Dit het gelyk of dit daar neergesit is. Hy het uitgeklim en die wapens bekyk. Die magasyne was leeg. Hy het na die plaaswerkers se huise gegaan en “Help! Help!” geskreeu en toe weer gery.
Kol. De Waal het hom tot nou toe nie onderbreek nie. Nou begin hy uitvra: Wat het vroeër die dag op die plaas gebeur?
Die seun sê almal was kerk toe, en hulle was die res van die dag by die huis. Hy en Marthella het perd gery.
Hy het dieselfde denimkortbroek, met bloedkolle, aan as vroeër die dag, maar het sy geskeurde T-hemp uitgetrek. Hy het ’n maroen T-hemp aangetrek. Kol. De Waal sien die krapmerke aan sy keel. Die seun antwoord dat Marthella hom gekrap het toe sy sterf.
Die ander polisielede van Kimberley en lt. McAnda wag buite die kantoor vir kol. De Waal. Lt. McAnda verwag dat hulle dadelik plaas toe sal ry. Kol. De Waal versoek hom egter om foto’s van die seun te neem. Hulle gaan na ’n ander kantoor aan die agterkant van die polisiekantoor. Daar is baie mense voor in die straat, en hulle kan by die kantoor aan die voorkant van die gebou insien.
Kol. De Waal het nog opdragte vir lt. McAnda. Hulle moet ontstekingsresidu-toetse neem en ’n smeer neem, van wat vermoedelik bloed is. Dis standaardprosedure om enige getuies by skietvoorvalle hiervoor te toets.
Lt. McAnda en kons. Mohithli trek handskoene aan. Lt. McAnda neem die smeermonster op die getuie se linkerknie, sy hande en arms. Hulle neem ook naelskraapsels. Hulle gee die seun ’n forensiese oorpak om aan te trek, terwyl hy sy broek uittrek. Hy neem nog foto’s van die seun se kortbroek en die maroen T-hemp wat agter die polisiekantoor gevind is. Ook van sy nek. Lt. McAnda doen alles wat kol. De Waal vra, hoewel dit vir hom duidelik is dat die bloed aan Marthella behoort en aan die getuie afgesmeer het. Die kledingstukke, die kortbroek en maroen hemp, word in bewysstuksakke geplaas.
Terwyl Andries Steenkamp uitgaan om ander klere vir die seun te gaan haal, sê die seun uit sy eie aan kol. De Waal dat hy en Marthella vroeër die dag baklei het. Hy kan nie onthou waaroor nie. Kol. De Waal vertel dit vir Andries toe hy met die klere terugkeer.
Kol. De Waal en die seun gaan uit na die bakkie en bekyk die wapens. Hulle maak die regteragterdeur van die Isuzu-dubbelkajuit oop. Die vuurwapens lê op die sitplek. Die lope wys na die linkeragterdeur. Kol. De Waal sien dis ’n .22-Anschutz-geweer en teleskoop en ’n .357-Magnum-rewolwer. Daar is doppies in die rewolwer. Die .22-geweer is leeg.
Die seun is steeds besig op sy selfoon.
Lt. McAnda sper die voertuig af. Hy maak die rewolwer oop en haal die ses doppies uit. Hy sit dit bo-op die bewysstuksakkie en neem foto’s. Daarna vat hy albei wapens en verseël dit ook in bewysstuksakke, en neem foto’s daarvan. As daar bloed op die wapens is, sal dit ook ontleed word. Alles wat hy versamel, word in die bewysstukregister aangeteken. ’n Haar word op die .357-rewolwer gevind. Daar is bloed binne-in die loop sigbaar.
Toe lt. McAnda teruggaan die polisiekantoor in is die smeermonster wat hy geneem het skoonveld.
AO Cornelius Louw en AO Henk van der Merwe ondervra die Naauwhoek-plaaswerkers by die polisiekantoor. Hulle is egter te dronk om verklarings af te lê.
Kol. De Waal vra vir Andries waar die seun gaan slaap en hoe hy hom kan kontak. Hy wil later ’n formele verklaring by die seun kry. Kol. De Waal neem albei se ID-nommers en selfoonnommers. Andries en die seun vertrek na sy plaas, Lynput, suidwes van die dorp.
AO Mofokeng het intussen by die kantoor aangekom. Hy vertel vir kol. De Waal wat hy by die plaashuis gesien het. AO Willem Fourie van die Niekerkshoop-polisiekantoor is ook nou daar.
Die helikoptervlieënier kry verdere opdragte.