Hoofstuk 12

‘Die liggame van ’n boer, sy vrou en hul dogter
is in hul huis ontdek’

6 April 2012, 19:40

’n Verslaggewer van ’n radiostasie bel lt.kol. Hendrik Swart omstreeks 19:40 en vra hom oor die moorde uit. Hy is die polisiewoordvoerder wat die naweek aan diens is. Sy vriende en verslaggewers met wie hy dikwels te doen kry, noem hom Blackie. Hy was besig om saam met sy gesin TV te kyk toe hy die oproep kry. Hy was onbewus van die moorde, maar is diep geskok oor die navraag. Hy hoor ook die ontsteltenis in die stemme van die polisiemanne (nog op pad na die toneel), wat hy bel om die gerug te bevestig. Die Noord-Kaap het baie lanklaas só ’n plaasaanval beleef waarin drie mense, een van hulle ’n jong meisie, dood is.

Die volgende oggend sal hy die stuur-knoppie op sy rekenaar druk en daarmee die Engelse mediaverklaring uitreik:

MEDIA VERKLARING VAN DIE KANTOOR VAN DIE PROVINSIALE KOMMISSARIS

KORPORATIEWE KOMMUNIKASIE,

SUID-AFRIKAANSE POLISIE, NOORD-KAAP

Aan: Alle media

Datum: 7 April 2012

MOORD

Die polisie in Griekwastad ondersoek ’n saak van moord nadat die drie liggame van ’n boer, sy vrou en hul dogter in hul huis op hul plaas Naauw­hoek in die Griekwastad-gebied om 2012-07-06 [dit was inderdaad 2012-04-06] omstreeks 18:00 [dit was later] gevind is.

Die ontdekking is deur ’n 15-jarige seun gemaak, wat ’n rukkie uit die huis was.

Toe hy teruggegaan het na die huis, het hy die lyke van mnr. Deon Steenkamp, sy vrou, Christell [Christel] en hul dogter Martella [Mar­thella] in die huis gevind.

Die voorlopige ondersoek dui dat hulle moontlik geskiet is.

Geen inhegtenisnames is nog gemaak nie, maar die ondersoek duur voort.

EINDE

LUITENANT KOLONEL HENDRIK SWART

KORPORATIEWE KOMMUNIKASIE

SUID-AFRIKAANSE POLISIEDIENS

KIMBERLEY

NOORD-KAAP.

Die woorde is min, maar die skok enorm.

Ek is aan diens in Volksblad se Kimberley-kantoor. Ek en verslaggewers van ander koerante besef dit gaan ’n lang langnaweek wees . . .

’n Driedubbele plaasmoord?

In die Noord-Kaap?

Op die stil dorpie Griekwastad?