Sestien minute
6 April 2012, voor 09:00
Deon Steenkamp (44) laat die stilte van sy plaas Naauwhoek agter toe hy en sy gesin vroegoggend in sy wit Isuzu-viertrekbakkie klim om vir die Goeie Vrydag-diens dorp toe te ry. Hy moet, en wil graag, as diaken in die NG Kerk die nagmaal help bedien, en daarna opruim. Hy is ook die voorsitter van die gemeente se finansiële kommissie. Christel (43), met wie hy bykans 20 jaar getroud is, sal soos altyd aan sy sy wees. Hul twee tienerkinders, Don (15) en Marthella (14), sal langs hulle in die kerkbank op die galery sit. Die bank waar hulle altyd sit. Dieselfde een waarop daar ’n jaar later tydens die Goeie Vrydag-diens drie laventeltakkies sou lê.
Die vrouewerkers en hul kinders agterop die bakkie moet hul klou ken. Katriena Kruger, Martha Watermond (Voetpad), haar suster en twee kinders ry saam dorp toe vir die dag, en sal by die kerk afklim. Die grondpad na Griekwastad is ru en draaierig. Dis byna onbegaanbaar vir kleiner motors en onervare bestuurders. Die klippe is skerp en ongenaakbaar en maak korte mette met motorbande. Die Pixley ka Seme-distriksmunisipaliteit is traag om stil grondpaaie aan die buitewyke van sy gebied gereeld te skraap.
Maar vir Deon, wat volgens sy ouer suster, Marianna Smith, die beste uit ’n viertrekvoertuig kan haal, is die nege km tussen die heuwels van die Asbesberge deur kinderspeletjies. Hy ken elke hoek en draai van die paaie van sy geboortedorp. Hy beplan juis om ’n kommersiële viertrekroete op Naauwhoek te vestig.
Christel, wat graag skryf, het al met nostalgie hierdie paaie in ’n rubriek in Landbouweekblad beskryf.
As boervrou leer jy ’n uitsonderlike verhouding met ’n grondpad smee. As jong meisie val die grondpad plaas toe jou nie juis op as ’n studentekêrel jou vir ’n naweek saamsleep huis toe nie. Heelwat later, so teen veertig, kry die stofpad ’n gans andere betekenis. Dit is op dié lang pad, met die só bekende skoolkar, wat dié naïewe studentemeisietjie – nou sélf ma – die wêreld se probleme oordink. So alleen in die bakkie is daar gereeld tyd vir bid, soms met ’n traan, oor ’n tiener. Wat sal tog van haar word? Sommige boervroue is rustig en gelate met die wete dat hul nou op pad is na Boeta of Sus in die koshuis. Naweke sal die amper moedelose atmosfeer so effens gelig word deur die vrolike stemme van hongerige koshuiskinders wat die gesin op die stories van hul weeklewe kom trakteer. Tog wonderlik hoe die algehele vertroue van ’n wyse twaalf jaar oue bruinoogmeisiekind ’n stoere boer se bekommernisse kan besweer.
Deon sien daarna uit om ná kerk by die huis te kom. Christel moet egter gou ’n troukoek gaan opstel vir die onthaal môre by die skousaal. Sy het die afspraak vanoggend reeds per foon bevestig. Dan moet sy ’n pan by iemand op die dorp gaan haal.
Dié gewyde dag is ’n rusdag. Stil.
Die werksmense se huise is by die vlei, sowat 700 m van die hoofhuis. Dié huisies, wat in een gebou ingerig is, is veel laer as die huis wat Deon vir sy gesin gebou het. Daar is ook ’n buitetoilet. Die werkershuise is langs die ou plaasopstal en die windpomp by ’n horingou vyeboom, ou druiweprieel en digte groen bome, waar Don soms meerkatte kom skiet. ’n Mens kan nie maklik die huisies van die hoofhuis af sien nie, maar dis naby die eerste hek na die plaas op die distrikspad van die dorp se kant af, op die linkerkant.
Almal het hard gewerk om al die take voor die Paasnaweek af te handel. Deon is ’n boer wat al voor sonop in die veld is, en deur middagetenstyd werk sodat hy en sy werkers teen 15:00 of 16:00 kan uitval. Dan is sy tyd sy eie.
Hy kan sy stokperdjies beoefen of saam met Christel dorp toe gaan om sake af te handel en by vriende te kuier.
Die skape wat geslag is, hang in die koelkamer en moet nog bewerk word. Deon gebruik graag dié vet in sy wors en droëwors. Hy hou van interessante vleisgeregte en eksperimenteer graag. Wanneer hulle en hul vriende en perdryvriende soos Paul en Larine Botha, Andries en Marina Steenkamp, Tobias en Sarika Gouws, Bennie en Maureen Jordaan, Johan en Ansie Ludwick, Spyker (wat in 2013 in ’n motorongeluk dood is) en Narissa du Toit vakansie gaan hou of saamkuier, maak hy geregte soos skaapribbetjie met biltongspeserye, of chillistrips – ontbeende skaaprib met brandrissie-speserye – of ’n “ystervarkmielie”. Dis ystervarkvleis wat met die vel aan gebraai word. Daar waar die penne was, is gaatjies waaruit die vet peul. Die vet lyk soos mieliepitte.
Die boere hier glo daar moet altyd baie vleis met lekker vet op ’n vleisbraai wees. Dié groepie vriende het al gespot oor hul plek eendag op die stoep van die Griekwastad-ouetehuis, waar die geselskap en kos net so lekker gaan wees. Waar Deon dalk uiteindelik vir hulle in sy stoeipakkie uit sy weermagdae gaan paradeer. Tot nou was dit leë beloftes oor ’n drankie of twee. Hulle het net so lekker gelag toe die mans tien jaar gelede as die cowboy-tentpensteekruiters bekend gestaan het. Hulle het lank in jeans en vellies gery. Uiteindelik moes hulle bes gee en perdrybroeke koop.
Spyker, die braafste, het eers vir hulle in een van die “balletbroeke” gepronk om hulle te oortuig. Deon moes oor sy ongewone lengte en grootte sy broek in die Baai laat maak. Die klomp was later baie tuis in die stywe broeke op byeenkomste saam met die kinders.
Maandag gaan Don en Marthella met ’n saamrygeleentheid terug skool en koshuis toe ná die vakansie. Die naweek daarna is Deon en Christel op pad Bloemfontein toe. Christel en Marthella gaan na haar skool se ma-en-dogter-teepartytjie. Aan die einde van die maand moet Deon en Christel vir die kinders se pensteekbyeenkoms en -toetsreeks teen Australië via Bloemfontein ry, waar hulle die kinders moet oplaai. Dan is dit Oos-Londen toe. Hulle sal op Smithfield oorslaap waar die bespreking vir vier mense en twee perde reeds bevestig is. Hy het juis ’n nuwe perdesleepwa laat maak vir die rit en byeenkoms. Tot nou het hy altyd sy vragmotor gebruik om die perde te vervoer.
Sulke naweke is nie goedkoop nie. Dis brandstof, verblyf en ander koste, maar hy en Christel doen dit graag vir hul kinders. Nadat Deon en die kinders nasionale kleure verwerf en hy drie jaar gelede opgehou het om aan toernooie deel te neem, het hy ’n afrigter geword, en Christel die spysenier en troosmoeder. Die ander vriende het nie meer deelgeneem nie, omdat hul kinders ander belangstellings ontwikkel het.
Naauwhoek, sowat nege km suid van Griekwastad, is een van die plase wat Deon in die 1990’s by sy pa, Don sr., gekoop het. Daar was ’n ou plaasopstal by die vlei, maar dit sou te duur en ongerieflik wees om dit eers te verbeter en te moderniseer. As jong getroudes het hy en Christel vir eers in sy ouers se huis op die dorp gebly, waar hulle ook hul eie slaghuis bedryf het. Hy het byna elke dag na sy plase uitgery om te gaan werk.
Die dorpslewe het hulle mettertyd ingehaal. Deon moes kies tussen die slagtery én boerdery, of net ’n voltydse boerdery. Kort ná Marthella se geboorte in 1997 het hulle besluit om ’n moderne, gerieflike tuiste op Naauwhoek op ’n knoppie bokant die vlei te bou. Deon het die huis met voorafvervaardigde panele gebou, ’n ent bokant die ou opstal en die werkershuise. Christel het gesukkel om tuin tussen die klippe te maak, maar sy het baie tuingrond ingery. Nuwe water-, riool- en elektrisiteitsverbindings moes aangelê word.
Die ooreenkoms met sy pa en twee susters was dat hy ná sy pa se aftrede ook sy ma, Bettie, se geboorteplaas, Kalkplaas, sou koop. Dan sou Deon-hulle daar gaan woon in die huis waar hy grootgeword het. Dis ’n stewige huis met groot vensters wat oor die valleie uitkyk, teenaan die hoofpad tussen die dorp en Kimberley.
Maar vir eers sou die gesin op Naauwhoek bly, waar die kleuters veilig en na hartelus op die groot stuk aarde kon speel en perdry.
Die huis is gerieflik met sy vier slaapkamers, twee badkamers, groot oopplan-leefvertrek wat op die kombuis en waskamer uitloop. Buite op die grasperk by die voordeur is ’n swemdam en ’n lapa waar Deon graag skaap- of wildsvleis vir hul gaste braai. Die lapa en grasperk kyk uit oor die vlei waar vele koedoes wei. Denne- en populierbome asook palms omring die ronde grasperk en inrypad. Die skuur, perdekamp en ander stoorkamers is aan die agterkant van die huis. Daar is genoeg plek vir Deon se trekkers, plaasgereedskap, voertuie en vierwielmotorfiets. Dieper in die skuur het Deon die slag- en koelkamer netjies ingerig.
Verlede jaar het hy ook vir Christel gehelp om haar nuwe Scrumptilicious-tuisbakkery op die been te kry. Haar nuwe industriële oond het hy in die slagkamer ingerig. Hy het ook die tafels en afkoelrakke waarin die panne pas, gemaak. So ook die panne self en vyf koekiedrukkers wat Christel gebruik sonder om té hard hoef te druk.
Die volgende besending koekies is reeds in sellofaan verpak, met etikette op en in bokse gesit. Haar tuisbakkery groei vinnig.
Sy moet môre kolwyntjies vir die troue bak. Die kersies, neute en vrugte is reeds in klein bakkies afgemeet en in die koelkamer gebêre. Dan moet sy en haar huiswerkers nog die kinders se klere die naweek klaar stryk. Christel is fanaties daaroor dat ’n stel klere net een keer gedra en dan gewas en gestryk moet word.
Die kinders gaan Maandagoggend douvoordag met ’n geleentheid terug na hul onderskeie skole in Bloemfontein. Die skole begin weer Dinsdag. Sy sal sommer ook lekkers en koekies vir die honger koshuiskinders inpak. Hoewel Don al gesê het hy is nie meer so lus vir meelkoekies nie. Hy het al gebrom dat die bakkery die huishouding oorneem en daar nie meer kos gekook word nie.
Môre kom Deon se vriend en medeboer, Dickie Cornelissen, hierheen om hom te betaal vir vee. Don wil graag dan saam teruggaan om by Dickie se seun, Shane (Tattie), te kuier. Deon moet nog sy toestemming gee. Don en Tattie was saam op laer skool op Douglas. Met Tattie wat nou in die Paarl skoolgaan, sien die twee maats mekaar net vakansietye.
Deon wil ook ’n paar plekke op die plaas toets vir goeie seine en ontvangs vir die sekuriteitskamera en antenna wat opgerig moet word. Hy en Joe Scholtz, sy buurman, wat agter die berg bly, het die plekke reeds vroeër die week geïdentifiseer. Die sein tussen die kamera en die antenna moenie versper word deur koppies en bome nie. Die werkers sal dan die gate grawe vir die pale waarop die sekuriteitskamera en antenna opgerig gaan word, gekoppel aan die rekenaar in die huis.
Die kamera sal teen die grensdraad op die koppie langs die grondpad opgesit word. Dit sal enige beweging opvang. Veediefstal bly een van die grootste probleme vir boere, ook hier by Griekwastad. Sekuriteitskameras langs die paaie is een van die oplossings om diefstal te ontmoedig en skuldiges aan te keer. Die beeldmateriaal sal ook hopelik plaasaanvallers identifiseer. Van die sewe kameras in die omgewing werk net vier hierdie Paasnaweek.
Nie dat plaasaanvalle en -moorde ’n groot probleem hier of in die res van die Noord-Kaap is nie . . .
* * *
Maar vandag is die gesin se laaste dag op aarde. Tussen 18:34 en 18:50 die aand, in daardie sestien minute, sou die hele gesin dood wees. Behalwe die seun.