Afskeid: ‘Hoe kan een mens so wreed wees?’
12 April 2012, 11:00
Die diens in die NG kerk begin om 11:00.
Marthella se vriendinne is daar, maar nie sonder voorval nie. Sy was in die Hoërskool Douglas tot gr. 7. Haar vriendinne van die Meisieskool Oranje het reeds vroegoggend met ’n minibus uit Bloemfontein vertrek. Hulle het ’n halfuur laat opgedaag nadat ’n band van die bussie waarin hulle gery het, gebars het. Die groepie het ’n beampte van die veediefstal-eenheid op Upington voorgekeer en agterop sy bakkie geklim.
“Ons het ’n SMS-boodskap gestuur en gesê ons gaan laat wees. Hulle het darem spesiaal vir ons gewag,” sê een van die ouers.
By die kerk aangekom, loop die meisies in gelid en ingehaak, verfrommelde sneesdoekies in hul hande vasgeknyp.
Don se skoolmaats van Grey Kollege is nie daar nie. Die bus moes omdraai nadat betogers teen swak dienslewering die pad tussen Bloemfontein en Kimberley by Petrusburg versper het.
Don sit vandag in die voorste bank van die kerk, by die preekstoel. Die Steenkamps het altyd in die bank op die galery gesit. Aan sy linkerkant sit Bettie en Don sr., regs Marthie en Boelie. Die bejaarde vroue vleg hul hande deur syne.
Agter hulle sit Christel en Deon se susters, en hul gesinne, asook ander takke van die families. Die res van die gemeente, vriende, kennisse en verslaggewers vul elke kerkbank.
Dis ’n rare gesig deesdae, so ’n oorvol kerk.
Voor die preekstoel is geraamde foto’s van die oorledenes. Die familie beskryf hul gevoelens in die begrafnisbrief:
Ons neem vandag afskeid van Deon, Christel en Marthella. Hoewel ons harte seer is, weet ons dat ons Hemelse Vader vir ons die blywende troos sal skenk, dat Sy ewige arms onder en óm ons is, dat Hy ons volkome ken. Hy sluit ons in van voor en van agter en niks kan ons van Sy liefde skei nie.
Hierdie stuk seerkry is nie vir ons maklik nie, maar hierdeur kwalifiseer ons vir Sy troos. Ons heel grootste troos is dat daar ’n einde sal kom aan alle hartseer en dat Hy Deon, Christel en Marthella kom haal het na ’n plek waar daar geen seerkry of swaarkry sal wees nie.
Ons sou julle graag nog ’n bietjie langer by ons wou hê om nog ’n keer te gesels en nog een keer saam te lag, nog te luister hoe julle mekaar terg. Nogtans dank ons die Heer vir kosbare herinneringe en die wonderlike tye waarmee julle ons lewe verryk het.
Don, ouers, susters, familie en vriende.
Die verslaggewers en fotograwe se aandag is op Don vasgenael. Die media wat teenwoordig is, is Rapport, Huisgenoot, Volksblad, DFA (voorheen Diamond Fields Advertiser), OFM-radio, die SAUK, e-tv en die Sunday Times. Elke beweging word neergepen en gefotografeer. Videomateriaal word geneem.
Don is onbewus van hulle. Hy leun vorentoe en huil by tye in sy hande. In ander oomblikke lig hy sy kop en kyk na agter. Hy kyk na die banke agter hom, en op na die galery. Sy oë soek oor die banke.
Ds. Piet Otto moet ’n preek lewer oor mense wat hom na aan die hart gelê het. Hy lees uit Lukas 23:32-34.
Jesus is nie alleen gekruisig nie. Twee terroriste is ook saam met hom daar op Golgota, die “Plek van die Kopbeen”, gekruisig. Hul kruise is weerskante van syne in die grond geplant.
Daar aan die kruis het Jesus hardop vir God gesê: “My Vader, vergeef hierdie mense. Hulle weet nie waarmee hulle nou besig is nie.”
Toe kyk hierdie man na Jesus toe en sê: “Ag Here, ek smeek U, sal U asseblief net ’n sekonde lank aan my dink wanneer U daar in God se Hemelse woonplek aankom.”
“Ek het baie goeie nuus vir jou!” het Jesus dadelik geantwoord. “Jy gaan nie meer na die doderyk toe nie. Nee, jy gaan saam met My na die paradys. Vandag nog sal jy jou oë daar oopmaak!”
André Botha, ’n senior verslaggewer van Volksblad, haal die leraar aan in sy berig die volgende dag:
“Griekwastad treur vandag oor haar kinders en wil nie getroos word nie.
“Maar ons kan nie net by die tragiese gebeurtenis verbystap nie, ons moet dit hanteer. Ons harte is seer, ons is bedruk. Ons staan verslae as ons dink dat van só ’n gesin net een, klein Don, oorgebly het.”
Otto het ’n gesin beskryf wat diep spore in die dorp getrap het.
“Ons mis hulle vanoggend, ons gaan hulle nog baie mis. Dit is twee mense wat so in die gemeenskap geleef en gewerk het, ons weet nie hoe ons sonder hulle gaan klaarkom nie. Ek het hulle geken as mense wat alles feil gehad het vir God en sy Woord. Van die twee kinders was Marthella die uitgaande, sprankelende een, Don die stil een.”
Daar is vrae. “Wie doen so iets? Hoekom doen iemand so iets? Hoe kan een mens so wreed wees? Ons het nie vandag antwoorde nie. Ons moet wag vir die polisie om hul ondersoek af te handel.
“Bloed het gevloei en dit roep na geregtigheid. Daarom het God die swaardmag van die staat gegee. Geregtigheid kan nooit ’n oproep om wraak wees nie.
“God is nie afwesig nie. God het nie sy rug op die wêreld gedraai nie.
“Griekwastad moet nou ’n stukkie van die paradys word. Pa’s moet nou na hul seuns gaan, ma’s na hul dogters, en hul sake regmaak.”
Die Massyn-familie het die afgelope dae by Paul en Larine gebly. Hulle is baie gelowig en bid gereeld. Marthie is baie emosioneel oor die moorde. Paul praat met Marita en vertel haar van die fluisteringe. Sy maak dit af en sê dit is swart mense wat die dade moes gepleeg het. Die dag ná die roudiens bel Paul die seun om te hoor of hy vir die Massyns op sy plaas wil kom kuier. Die seun sê hulle moet eerder na Andries Steenkamp se plaas, Lynput, gaan. Dis die plaas waar Deon se pa, Don, grootgeword het. Die Massyns ry soontoe.
Die bejaarde Marthie is baie hartseer oor die dood van haar oudste dogter, kleindogter en skoonseun. Die seun sit langs haar op ’n bank in die huis. Hy vertel haar wat die aand gebeur het. By tye loop Marina Steenkamp ook verby en hoor dele van die gesprek.
Hy vertel hy was buite toe hy die skote gehoor het. Hy weet nie wat hy daar gedoen het nie. Die volwassenes was reeds dood toe hy in die huis kom. Marthella het nog geleef. Sy het na hom gegryp, en geprewel dat sy hom liefhet, en dat sy nou gaan doodgaan. Sy het haar laaste asem in sy arms uitgeblaas.
Die seun vertel vir Marthie van ’n plaaswerker, Dawid Kgoranyane, wat glo vir Deon sou gesê het as die plaasmoorde op Griekwastad begin, sal die Steenkamps die eerste slagoffers wees . . .