‘Hulle dink ek is skuldig’
15 April 2012, middag
Die seun besluit hy gaan terug skool toe in Bloemfontein. Dis ’n week ná die moorde. Dis Sondagmiddag.
Marianna en Elbeth is steeds in Kimberley by hul ouers. Hulle help om die seun se tasse te pak. Marianna vertrek eers aan die einde van die week. Elbeth sal later vandag saam met haar ouers Bloemfontein toe ry om die seun terug te neem koshuis toe. Sy beplan om Woensdag terug te vlieg.
Marianna besluit om vir oulaas ’n bietjie saam met die seun te kuier. Hy het reeds sy tasse en sakke klere by hom. Hy het dit uit sy kaste in die plaashuis geneem. Sy bied aan om van die klere, wat Hannelie Heckroodt ingepak het, oor op te vou. Hy hou nie van die manier waarop dit gevou is nie. Hy pak ook sy selfoonlaaier in, al het die polisie nog sy selfoon.
“Hulle dink ek is skuldig. Maar watter mens sal dit doen aan mense wat hy ken?” vra die seun.
Marianna verduidelik dat die polisie net hul werk deeglik moet doen. Daar is regsgesindes wat die situasie sal uitbuit en wil hê dit moet ’n plaasaanval wees.
Don sr., Bettie, Elbeth en die seun vertrek ná die Sondagmiddagete na sy skool in Bloemfontein. Toe hulle by die vulstasie in Kimberley stilhou, sê die seun hy wil R1 000 sakgeld kry. Bettie wonder daaroor. Sy dog Deon het hom slegs R400 per maand gegee.
“Nee. Deon was nie meer so streng nie. Hy het nie meer so streng boekgehou nie. Hy was meer vrygewig. Ek het R400 in gr. 8 gekry en R800 in gr. 9. Ek is nou in gr. 10. Nou kry ek R1 000 per maand.”
Bettie laat dit daar.
’n Dag later gaan spreek Paul Botha die skoolhoof van Hoërskool Douglas oor moontlike vakkeuses vir die seun. As hy die seun se voog gaan wees, soos wat die testament sê, moet hy dalk op Douglas skoolgaan, waar Paul se dogter ook is. Dis logisties moeilik as hy gedurig Bloemfontein toe moet ry.
Hy onthou Deon was baie ontsteld toe die seun rekeningkunde as vak gelos het. Sy akademiese vordering is ook nie soos Deon gehoop het nie. Hy het ook in die laaste tyd sy boeksak by die koshuis gelos as hy naweke huis toe kom. Deon het goedig gespot en gesê die seun moet dalk ’n blokman word.
Sy foon lui. Dis oom Don. Hy vra of Paul sal omgee as hy eerder by Bennie Heckroodt gaan bly. By Bennie is ook baie perde en perdrygeleenthede. Paul sug. Dis darem ook die seun se keuse waar hy wil bly. Die voogdyskap moet ook deur ’n hof bevestig word.
Byna ’n week ná die troosdiens word die drie Steenkamps in Kimberley veras. Daar is nie ’n private diens nie. Marthella, deur almal beskryf as ’n lewenslustige meisie, se eens vlekkelose gelaat is ontsier deur klein, ronde wonde op haar gesig, en die dodelike koeëlwonde langs haar regterneusgat en naby haar oog.
’n Wit doekie lê oor haar voorkop om die patoloog se snymerke te verberg. Sy het ook ander beserings . . .