Wéér terug plaas toe – met ’n 3D-kamera
28 Augustus 2012, 08:00
Op 28 Augustus staan kol. De Waal en lt. McAnda weer op Naauwhoek se werf. Die staatsaanklaer, adv. Hannes Cloete, is by en ook kol. Sietze Albertse.
Kol. Albertse is die bevelvoerder van die nasionale misdaadtoneelondersoekspan. ’n Man met 27 jaar diens in die polisie. Hy het ’n baie duur 3D-kamera by hom wat sferiese foto’s kan neem, 360 grade, wat later in SceneCase-sagteware ingevoer word. Dié program vereenvoudig die kompleksiteit van misdaadtonele. Wanneer alles verwerk is, is die hele misdaadtoneel duidelik. Op kritieke punte is ikone aangedui. As die ondersoeker daarop kliek, kan hy na foto’s van die toneel kyk of dokumente wat daaraan verwant is. Dit dui aan waar bewysstukke gevind en liggame gelê het. Dit sal ook later tydens die verhoor vertoon word sodat die regter en betrokkenes ’n beter prentjie van die gebeurde kan kry.
Kol. Albertse en sy span van ses lede word gewoonlik uitgeroep na hoëprioriteitsmisdade. Hulle het al maande of selfs jare ná voorvalle na misdaadtonele gegaan om visuele prentjies vir die ondersoekers te skep.
Die proses begin met ’n hoëvlakfoto, wat gewoonlik van Google Earth verkry word. Lugfoto’s en grondfoto’s van die polisie word ook ingespan. Langs die foto’s kan ’n plan van die misdaadtoneel oopgemaak word sodat die speurder kan sien uit watter hoek hy daarna kyk. Die foto’s kan ook gemanipuleer word om verskillende ligtoestande na te boots.
Kol. Albertse sal die Griekwastad-treurspel op SceneCase herskep . . .