In belang van geregtigheid
5 September 2012, 09:00
Mense staan voor die hofgebou rond. Dis ’n Maandagoggend.
Die familielede is vandag minder. Fotograwe staan in die straat en wag vir die bekende wit bakkie van kol. De Waal van Kimberley af. Kameras kliek toe die bakkie en die insittendes aankom. Die beskuldigde, wat agterin die bakkie sit, kyk stip voor hom.
Vandag hoor hy of hy borgtog gaan kry of nie. Hy word agterom die hofgebou geneem. Wagte hou die fotograwe op ’n afstand.
Net ná 09:00 word almal nader gewink. Die hof is gereed om te sit. Landdros Mazwi het ’n nuwe tolk van Kimberley laat kom. Ná die gebruiklike formele opening van die hof en borgtogaansoek gaan adv. Cloete sit. Die landdros begin met sy uitspraak.
“Die kind moet uitsonderlike omstandighede bewys om die hof te oortuig dat dit in belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat word. Hy het twee getuies geroep. Hulle het getuig dat die kind voortgaan met sy skoolloopbaan en aan sport deelneem. Hy is gelukkig by sy voog en huis, en ontvang berading. Die voog en maatskaplike werker sê die seun moenie ontwrig word ná die gebeure nie. Hy het geen vorige veroordelings nie en sal nie met die ondersoek inmeng nie. Die skoolhoof het hom gebel en het vir hom skoolwerk gebring. Die kind lei ’n normale lewe.
“Die staat het betoog dat hy verantwoordelik is vir drie moorde en dat niemand veilig kan voel as hy borgtog kry nie. Hulle het ook die ondersoekbeampte laat getuig, wat ’n volledige verklaring oor die aard van die moorde gedeeltelik voorgelees het. Die oorledenes is verskeie kere met twee kalibers geskiet, en daar was tekens van ’n struweling. Die staat het getuig dat die seun gehoop het hy kom weg daarmee.
“Die borgtogaansoek was nie ’n miniverhoor nie en daar is nie direkte getuienis nie. Daar is ’n prima facie-saak, maar die hooggeregshof moet eerder besluit oor die skuld of onskuld van die kind.
“Is dit werklik in belang van geregtigheid en kragtens die bepalings van die Wet op Kinderreg dat hy aangehou word? Ek gebruik dié wet as die vertrekpunt van my uitspraak. Die minderjarige kan net vrygelaat word as dit in die belang van geregtigheid is, hy borgtog kan betaal, en daar voorwaardes gestel word.
“My uitspraak is dus die volgende: Die Wet op Kinderreg bepaal die kwessie van borgtog vir minderjariges. Die staat betoog dat die Strafproseswet die beskuldigde noodsaak om in gevalle van ernstige misdaad die hof te oortuig van buitengewone omstandighede. Die verdediging het saamgestem.
“Die hof bevind dat Artikel 25 van die Wet op Kinderreg bepaal dat borgtogaansoeke slegs oorweeg moet word as dit in belang van geregtigheid is, en nie soos in Artikel 60 van die Strafproseswet nie. Dit is volgens die hof dus nie toepaslik vir kinders nie en teenstrydig met die Wet op Kinderreg, wat onder meer bepaal dat kinders nie blootgestel moet word aan die nadelige invloede van die formele regstelsel nie, en ander moontlikhede oorweeg wat toepasliker vir die behoeftes van kinders is soos in die Grondwet vervat.
“Die hof bevind dus dat die bepalings van die Wet op Kinderreg voorrang geniet bo die Strafproseswet. Die oogmerke van die Wet op Kinderreg sal nutteloos wees as ’n kind tydens borgtogaansoeke gebuk moet gaan onder die onus om die hof van buitengewone omstandighede te oortuig dat dit in belang van geregtigheid is om die kind op borgtog vry te laat.
“Die hof is ook van mening dat ’n geldige argument gemaak kan word dat die Wet op Kinderreg ’n radikale kopskuif is vir diegene wat bevoorreg genoeg is om in die regte te praktiseer om in enige hoedanigheid voorbrand te maak vir die ontwikkeling van strafregtelike wetsgeleerdheid vir kinders, apart van volwassenes; en hulle belangrike woorde gebruik wat nie werklik die kind bevoordeel nie. Dit sou beter wees om werklik die kind voor die hof te verstaan. Natuurlik sal die hof se besluit in die meeste gevalle ongewild wees, maar dit moenie ’n afskrikmiddel in die howe en alle stadia van die regsproses wees om hierdie belangrike regsbeginsel na te streef nie.
“Nadat die hof al die bewyse bestudeer het wat voorgelê is, vir die staat sowel as die verdediging, bevind die hof dit is in belang van geregtigheid om die kind op borgtog vry te laat. Hy is nie ’n vlugrisiko nie, hy gaan skool en neem aan sport deel, gaan nie met getuies inmeng en kom nie as ’n bedreiging vir enigiemand voor nie. Voorts is die staat se saak prima facie sterk, maar dit is nie onder die omstandighede genoeg om die kind in aanhouding te hou nie.”
’n Stilte sak toe oor die staatsadvokaat en die mense in die hof.
Die blydskap van die kind en die Heckroodts is sigbaar. Stoffel de Jager, die kind se prokureur, wat vandag sonder adv. Coetzee verskyn het, is net so gelukkig. Hy het die eerste ronde gewen . . .
Sommige lede van die Steenkamp-familie, wat skuins-regs agter die beskuldigde sit, se gesigte is onleesbaar. Daar heers onsekerheid. Kol. De Waal se gesig is eweneens onleesbaar.
Die kind moet R5 000 borgtog betaal, skoolgaan en ’n permanente woonadres aan die hof verskaf. Enige adresverandering moet onmiddellik aangemeld word.
Die saak word tot 1 Oktober uitgestel. Stoffel de Jager en Bennie Heckroodt betaal die borgtog aan die buitekant van die hofgebou, by die boetekantoor. Daarna staan Stoffel die verslaggewers te woord. Die beskuldigde kom ná ’n rukkie uit. Sy ondersteuners dra sy tas. Hy klim saam met die Heckroodts in die wit Mercedes Vito, wat dadelik wegry.
Die seun is vry.
Die staat is ontevrede.
Die NVG se woordvoerder, Phaladi Shuping, sê buite die hof aan verslaggewers die staat oorweeg dit om teen die borgtog-uitspraak te appelleer.
Dis ongewoon.