‘Hy was ’n sagte reus’
5 Desember 2012, 12:10
Paul Botha is vandag 50. As sy vriend en buurman, Deon Steenkamp, nog op aarde was, sou hy vandag hier in Proviand saam met Paul gesit het om dit te vier. Hulle sou dalk vanaand gebraai het, soos hulle op 28 Januarie op Deon se verjaardag gedoen het.
Nou kan Paul net oor Deon praat, nie mét hom nie. Daar gaan nie ’n dag verby dat hy nie aan sy vriend dink nie. Paul het ’n rustige geaardheid, nes Deon gehad het. Dis wat hulle 12 jaar gelede na mekaar aangetrek en dadelik vriende laat word het. Die vriendskap het posgevat toe Paul en sy gesin op sy skoonpa se plaas langs Naauwhoek ingetrek het.
“Ek was op 35 reeds ’n skoolhoof in Gauteng. Die aanbod om te kom boer was baie aanloklik en ’n nuwe uitdaging. Deon het alles van boerdery geweet, en wou graag sy kennis en ondervinding met my deel. Hy was ’n baie handige man. Hy was altyd gereed om te help. Hy het nooit geskroom om ’n hand by te sit nie. Hy het my en almal om hom deur dik en dun bygestaan. Deon het gedoen wat hy gesê het hy gaan doen. Daar was nie iets soos leë beloftes nie. Hy het daadwerklik opgetree.
“My vriend was diep by die gemeenskap betrokke. Die kerk en die boerevereniging het swaar op hom geleun. Hy was ’n meester met vleis opsny en verpak. Niemand kon dit doen soos hy nie. Hy was altyd daar met kerkbasaars en byeenkomste.
“Ons het graag saam gaan jag. Hy was egter baie traag om uit te slaap. Hy wou nie graag weg wees van sy gesin nie. Net soos ek. Dus sou ons net in die week gaan jag, en ook net een aand oornag. Dit was ’n staande reël dat ek en hy altyd ’n tent of chalet gedeel het. Ons laaste wegbreek was nog op Riemvasmaak.
“Naweke is uitgesit vir die gesin. Deon het geleef vir sy kinders. Hulle was sy alles. Alles is in gesinsverband gedoen en aangepak. Hy was ’n baie verantwoordelike pa. Sy verhouding met sy kinders was vreeslik mooi. Dit was absolute liefde. Hy was veral betrokke by die laer skool en het elke wedstryd wat op Douglas gespeel is, bygewoon. Hy was ook in die koshuiskomitee. Hy wou graag ’n verskil maak, nie net vir sy eie kinders nie, maar ook vir ander.
“Hy kon lekker lag en grappies maak. Sy sin vir humor was uitstekend. Sy waardes was Christelikheid, eerlikheid en opregtheid. Hy het daarvolgens geleef. Hy was ’n sagte reus.
“Die stories wat in die tydskrifte verkoop is, is van alle waarheid ontbloot. Dit kan net nie waar wees nie. Deon was nie die diktator wat sommiges beweer nie. In die begin, wanneer hy my kom help het, het hy altyd so mooi met my werkers gepraat en altyd ’n grappie met hulle gemaak.”
Paul verwys na bewerings wat maande gelede, in Julie 2012, in ’n artikel deur die verslaggewer Herman Scholtz in Huisgenoot verskyn het. Daarin het ’n vorige huiswerker, Cynthia Messelaar, gesê die gesin was lief vir mekaar, maar daar was stormagtige tye. Deon het sy hand op die kinders gehou en kon goed kwaai wees, veral as hulle foute in pensteek gemaak het. Hy was een aand so kwaad omdat die kos nie gereed was nie, dat hy kru taal gebruik het. Hy het vir almal behalwe Christel kos gemaak. In dieselfde artikel vertel Dawid Kgoranyane dat hy ná 13 jaar genoeg van Deon se kort humeur gehad het en van die plaas af weg is.
Paul sê hy kan nie dink dis waar dat Deon so aaklig was nie.
“Hy het so mooi aan tafel gebid. Ek sal dit nooit vergeet nie: ‘Here, dink genadiglik aan dié wat minder as ons het.’ Hy het dit ook geleef, want sy hand was oop vir ander.
“Sy dood, en dié van Christel en Marthella, is vir my baie swaar om te verwerk. Soms dink ek ek het terapie nodig. Dit help om daaroor te praat. Die ergste vir my is die brutaliteit waarmee hulle vermoor is. Hulle is geskiet met twee kalibers, en toe nog geslaan op die agterkant van die koppe. Dit maak nie vir my sin nie, en daarom is dit moeilik om te verwerk. Dit was en bly verskriklik.
“Die aand van die moorde was ek dronkgeslaan. Die volgende dag het ’n vriend my gebel nadat hy die nuus oor die radio gehoor het. Hy het gedink dit was ons. Toe ek met hom praat, het ek hartseer geword. Die damwal het gebars.
“Ons moet oor Deon se plaas ry op pad dorp toe. Soms dink ek steeds hulle is tydelik weg, dat hulle enige oomblik gaan terugkom. Dan besef ek hy is weg. Vir ewig. Sal ons berusting vind?”
Die drie Steenkamps het nog nie hul laaste rusplek gekry nie.
Die begrafnisdiens lê voor.
Kersfees lê voor . . .