Hoofstuk 53

Hy tel die kissie met sy ma se as op en hou dit vas

21 Desember 2012, 09:50

Op dieselfde oggend dat die voogdyskap-aansoek aangehoor word, kom familielede by Don sr. en Bettie se meenthuis in Kimberley by­mekaar. Hulle haal Deon, Christel en Marthella se as uit die kas.

Dit moet in boksies gesit word voordat dit in die nis by die kerk ge­plaas word. Dis die taak van Don sr., Bettie, Valdon, Marianna en Don. Don bewonder die mooi kissies en die gegraveerde naamplaatjies daar­op. Hy tel die kissie met Christel se as op en hou dit vas.

Almal vee trane weg.

Wat het vroegaand op 6 April op Naauwhoek gebeur wat Don nou wees gelaat het? Hy was baie geheg aan sy ma, nie ’n mamma-se-­seuntjie nie, maar daar was ’n baie spesiale band tussen hulle.

Later die oggend staan die enkele familielede by die gedenkmuur van die NG kerk Vooruitsig. Daar was groot geheimhouding. Veral die media moes van die private geleentheid weggehou word.

Die son skyn helder en warm, daarom staan almal onder die koel­teboom. Don sr. het dié nis onder die koelteboom vir sy seun gekies. Hy het ook dadelik die nis langsaan vir hom en Bettie bespreek wanneer hulle tyd aanbreek.

Don hou die boks met die kissies vas. Ds. Wietsche Roets lees voor uit Psalm 63:

’n Psalm van Dawid, toe hy in die woestyn van Juda was. O, God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in ’n dor en uitgedroogde land, sonder water. Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. 

Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. Want U was ’n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel. My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my. Maar húlle wat soek om my lewe te verderwe, hulle sal kom in die onderste plekke van die aarde. Hy sal oorgelewer word in die mag van die swaard; die deel van die jakkalse sal hulle word. Maar die koning sal bly wees in God; elkeen wat by Hom sweer, sal hom beroem; want die mond van die leuensprekers sal gestop word.

Daarna bid hy. Ouma Bettie staan tussen Don sr. en Don jr. Laas­genoemde kom kalm voor, maar sy groot hande, wat nes sy pa s’n lyk, druk en frommel senuagtig aan die hoek van die kartonboks totdat dit heeltemal sag en pap gedruk is.

Ná die gebed loop oupa en kleinseun vorentoe en plaas die drie kissies in die nis. Die familie het dit vooraf gemeet. Die drie kissies pas perfek bo-op mekaar. Donkerbrille steek trane weg. Ds. Roets gee die familie ’n vinnige handdruk en verdwyn sodat hulle die laaste afskeid kan neem.

Die verteenwoordiger van Lategan’s Granietwerke begin die gedenk­plaat vasmessel. Die familie hou hom stil dop. ’n Kiewiet skreeu op die agtergrond.

Die steen word gewas totdat dit blink in die skerp Kimberley-­somerson. Die familie plaas ’n bos geel krisante in die glas langs die nissie. Geel was een van Christel se gunstelingkleure.

Die drie vermoorde Steenkamps het uiteindelik ’n laaste rusplek gevind.

* * *

Don sr., Bettie, Marianna en Valdon vier Kersdag alleen. Hul oggend begin in die NG kerk Vooruitsig, waar ds. Roets die diens hou. Don is nie by nie. Hy is in die Afrikaanse Protestantse kerk saam met die gesin Heckroodt. Ná die diens laai Fraser, een van Bennie se seuns, vir Don by die Steenkamps se meenthuis af.

Die gesin maak hul geskenke oop.

Don kry sjokolade en geld van sy grootouers en ’n koplamp van sy tannie en oom. Don probeer sy bes om die gedempte atmosfeer lig­ter te maak. Hy sorg vir ligte vermaak deur vertellings oor die pas afgelope Suid-Afrikaanse pensteekkampioenskapsbyeenkoms en die perde wat hulle ingebreek het. Hy het groot planne vir hoeveel perde hy nog wil inbreek. Dis lekker sakgeld en ’n groot avontuur vir ’n jong man soos hy. Hy praat onophoudend.

Teen halfeen vertrek hulle na ’n restaurant om te gaan eet.

Don sr. en Bettie kies die buffet-ete, Don wik en weeg tussen ’n steak of ’n dubbele hamburger, Valdon eet schnitzel en Marianna ribbetjies. Die atmosfeer is gesellig.

Marianna vertel van Deon se wedervaring toe hy jare gelede universiteit toe is en die eerste keer ribbetjies in ’n restaurant geëet het. Hy was gewoond daaraan dat sy ouers dikwels kookwater met suurlemoensap gedrink het omdat hulle glo dis goed vir spysvertering. Deon het gedink die restaurantpersoneel is baie oulik om ’n bakkie met kookwater en ’n skyfie suurlemoen saam met die ribbetjies te ver­skaf. Nadat hy die ribbetjies geëet het, het hy die bakkie plegtig opgelig en dit met smaak gedrink.

Don kry skaam.

Die ander lag.

Don vra of Deon nie opgevoed was nie.

Don sr. bars uit van die lag en sê guitig dat Deon baie uniek was. Almal is ’n oomblik stil terwyl hulle aan die gestorwe familielede dink.

’n Ou skoolmaat van Deon, wat die familie herken, kom groet en wens almal ’n geseënde Kersfees toe. Toe die familie by die restaurant uitstap, stamp ’n vrou by ’n tafel aan haar man en fluister kliphard: “Kyk, hier is daai laaitie!”

Don lig sy kop op en sê beleef: “Goeiemiddag, tannie.”

Later die middag kom haal Fraser hom weer. Hulle gaan waterski.