‘Die regspan kan nie nou gefire word nie’
Donderdag 23 Mei 2013, 20:17
“Dankie vir alles wat julle vir die seun doen. Vir julle hulp en ondersteuning. Dit is ’n riem onder die hart. Ons is ver van hom en ons ouers.”
Marianna is aan die woord. Elbeth neem die notule. Dis ’n familievergadering by Don en Bettie se meenthuis. Teenwoordig is Don sr, Bettie, Bennie, Hannelie en die seun. Die onderwerp is Deon se boedel en regskostes van die moordsaak.
Don sr. het Piet Swanepoel, ’n erfregkenner, geraadpleeg. Die vraag is indien die seun skuldig bevind word (Hannelie het nie geloof in die regstelsel nie), wat gaan van die boedel word, en wat gaan vir hom oorbly as hy die dag vrygelaat word? Almal voel die seun moet iets in die bank hê om sy lewe te begin. Hannelie voel die restant van die boedel, en nie net die trusts nie, kom die seun toe.
Die plase is in ’n trust. Die titelaktes kan nie op sy naam geregistreer word nie. Die restant van die boedel is deur Don sr. en Marthie Massyn geërf. Hulle kan hul erflating weer aan die boedel skenk, maar dit kan deur ’n belanghebbende party bevraagteken word.
Daar word op die maandelikse onderhoud ooreengekom. Die boedel sal maandeliks R7 000 aan Hannelie betaal. Dit sal die versorging van die perde, tentpensteekkoste en die onderwysers insluit.
Marianna en Elbeth, wat pas as die nuwe eksekuteurs aangestel is in Don sr. se plek, voel Bennie moet met Stoffel beding oor die regskoste, wat hulle meen buitensporig is. Die geld in die boedel is byna op. Alles beloop reeds R2 miljoen. Sodra die trusts vir BTW geregistreer is, gaan die plase na die trusts oorgeplaas word, en so ook die huurgeld. Christel se woonstel moet dalk verkoop word om die regskoste te betaal. As die plase verkoop moet word, moet hulle Hansberg en Brandkraal om sentimentele redes behou.
Die susters wonder oor adv. Willem Coetzee se daaglikse fooi wat tussen R21 000 en R31 000 wissel. Hulle meen hy vra onsinnige vrae in die hof. Hannelie sê adv. Hannes Cloete, vir die staat, vra ook onsinnige vrae. Niks wat in die hof gebeur het, het sin gemaak nie. Daar is ’n magspel tussen die staat en die verdediging. Vir die publiek (wat deur die media beïnvloed word) lyk dit of die verdediging sê die seun is die enigste een wat die waarheid praat, en die res van die getuies lieg. Hannelie het slapelose nagte oor die regspan. Tog kan hulle nie “gefire” word nie, want dan moet alles weer van vooraf begin.
Die susters kan nie verstaan hoekom een van die regspan se familielede as private speurder gebruik is om ’n verslag saam te stel nie. Hy is gekies uit ’n paar moontlikhede. Hy vra boonop R68 000 vir die verslag waarin kol. De Waal se ondersoek bevraagteken word. Daar is spelfoute in die aanvanklike verslag en hy hamer net op die driedimensionele videomateriaal en die teenstrydighede oor ’n blou of swart kortbroek.
Don sr. sê hulle moet alles doen om die seun se onskuld te bewys. Hy dink nie daar moet van die regspan ontslae geraak word nie.
Die susters vra wat is die regspan se strategie, en hoe lank gaan die saak nog aanhou. Kan hulle afslag op hul fooie bied? Bennie en Marianna moet met Stoffel praat en ’n beroep op sy menslikheid doen om afslag te bewerkstellig.
Marianna en Elbeth sê die onherroeplike opdrag is ongeldig en mag herroep word. Die opdrag wat Don sr. met Stoffel onderteken het, ontstel haar ouers en beïnvloed hul gesondheid.
As die seun op ’n tegniese punt onskuldig bevind word, is dit een ding, sê Marianna. As daar onteenseglike bewyse van skuld is, mag die regskoste nie uit die boedel betaal word nie. Dit sal oneties wees om ompaaie te vind om die geld vir hom te bewaar.
Die seun, wat te jonk is vir ’n geldige rybewys, belowe hy sal nie meer onwettig op die pad bestuur nie, al is dit om Bennie met sy besigheid te help. Marianna en Elbeth voel daar is ernstige klagtes teen hom, en dat hy niks moet doen om sy borgtogvoorwaardes te verbreek nie.
Die formele briefwisseling per e-pos in die volgende paar maande tussen Marianna, Bennie, Estie du Plessis van Rosendorf Reith en Barry, wat die boedel behartig, en Stoffel de Jager versteek die emosies wat daaragter sit. Marianna skryf op 6 Junie aan Bennie dat sy hoor Stoffel de Jager vertel vir almal dat sy en Elbeth die mandaat beëindig het. Tog het hy haar telefonies duidelik laat verstaan dat hy geen opdragte van haar en Elbeth neem nie. Marianna het hom net gebel om te hoor of hulle die regskoste kan verminder.
Bennie vra op 2 Julie dat hy en die seun oor alle veranderinge ingelig word. Die seun was ontsteld oor die verkoop van Christel se meenthuis en verandering in eksekuteurs.
Op 8 Julie skryf Estie aan Bennie dat die eksekuteurs moet besin of regskoste uit die boedel betaal mag word. Hulle moet korrekte besluite neem. Die eksekuteurs het daarom ’n regsopinie gevra sodat daar duidelikheid is oor die toekomstige betaling van regskoste. Sy sal dit binnekort vir hom stuur.