En wie moet nóú betaal?
2 September 2013, 10:27
Ek voel ’n paar oë op my, en kyk op vanwaar ek in die hofbank sit.
Die seun se blou kykers deurboor my, en sy houding is uitdagend terwyl hy by die hofsaal uitloop. Dis nie die eerste vuil kyk wat ek kry nie. Ook nie die polisie en ander verslaggewers nie. Emile het dié kyk al op ’n foto vasgelê. Ons kan die foto egter nie gebruik nie, want ons mag nie die seun identifiseer nie.
Die verslaggewers vermoed sterk die verhoor is tot 21 Oktober uitgestel omdat daar probleme is met die betaling van regskoste. Nie ’n woord is deur die staat of verdediging gerep oor die rede daarvoor nie. Adv. Willem Coetzee het net vir regterpresident Frans Kgomo gesê die saak sal op 21 Oktober voortgaan as niks onvoorsiens gebeur nie. Dit lyk asof die verdediging die rede geheim wil hou. Adv. Hannes Cloete, vir die staat, het ook nie uitgebrei toe hy ingestem het tot die verdaging nie. Iemand hoor dat adv. Coetzee vir Stoffel de Jager sê hy mag nie met die pers praat nie. Al wat De Jager vir ons sê, is dat die uitstel “in belang van geregtigheid is”.
Terug by die kantoor verneem ek die regterpresident sou nie volgende week vir die verhoor beskikbaar gewees het nie. Ek bel sy kantoor om dit te bevestig, en waag ’n kans toe hy die telefoon onverwags self beantwoord. Ek vra hom oor die rede vir die uitstel.
Hy bevestig die saak is uitgestel sodat die verdediging hul geldsake in orde kan regkry om die regskoste te betaal.
“Dit is geen geheim nie,” sê hy.
Ek is verras toe ek die hofstukke ’n paar weke later lees. Die voog dagvaar Bettie Steenkamp as die eksekuteur van wyle Don se boedel, en alternatiewelik vir Marianna en Elbeth as eksekuteurs van Deon se boedel, die meester van die hof en die trustees van die Edelweiss- en Naauwhoek-trust (onder andere ook Paul Botha, Andries Steenkamp en Hein van Zyl) om die toekomstige regskoste te betaal.
Bettie is die enigste een wat dit teenstaan.
In die dringende aansoek vra die voog dat Bettie Steenkamp gemagtig en beveel word om in haar hoedanigheid as eksekuteur die redelike en billike regskoste en uitgawes van advokaatgeld, prokureursgeld en groot uitgawes vir deskundiges (forensies, ballisties asook sielkundig) vir die verhoor te betaal. Die voog eis dat die koste van dié aansoek deur een of al drie van die boedels se eksekuteurs gesamentlik en afsonderlik betaal word. Die saakdossier is omvattend en heelwat deskundiges moet nog getuig. Weke se voorbereiding is reeds gedoen en dit sal tot nadeel van die minderjarige wees as nuwe regsverteenwoordigers aangestel moet word om voor die aanvang van die verhoor na behore voor te berei. Die voog, wat nie die vermoë het om dit te betaal nie, meen dat die uitgawes tot dusver redelik en billik was.
Ingesluit is die “onherroeplike” kontrak wat Stoffel de Jager opgestel het, die een wat wyle Don Steenkamp geteken het. Hy het ingestem om die opgeloopte regskoste in sy persoonlike hoedanigheid en as eksekuteur van sy seun en skoondogter se boedels te betaal.
In haar opponerende hofstukke sê Bettie dat sy en Don hul drie kinders gelyk wou behandel en gelykwaardig laat erf het. Die regskoste, wat substansieel is, sal haar dogters se erfporsie benadeel. Dit is nie gepas of billik nie. Sy steun ook op tekortkominge in die voog se aansoek. Daar is nie bewyse van die skuldoorsaak in die opdrag wat wyle Don met die prokureur geteken het nie. Die opdrag was ieder geval ’n mandaat wat eintlik eers betaalbaar is nadat dit suksesvol voltooi is. Die mandaat is nie voltooi nie en die betalings tot dusver was daarom voortydig.
Die woord “onherroeplik” in die opdrag is teen goeie sedes en onafdwingbaar. Dit kan net strek tot en met die dood van die opdraggewer (Don sr.) en kan nie die boedel bind nie.
Die koste van die saak het teen Mei 2013 sowat R1,2 miljoen beloop. Sowat R130 000 is gebruik vir die geding teen die skool en die gebruik van deskundiges (private speurder, ballistiese en forensiese kenner en sielkundige). Don was ook baie emosioneel, depressief en aggressief ná die moorde op sy kinders en het dalk nie regdenkend opgetree nie. Hy het ook telkens verklaar dat hy onder emosionele druk en aandrang verkeer en die getekende opdrag berou het. Hy het nie geweet en besef wat die kostes sou wees nie. Hy het daarom die opdrag laat kanselleer. Sy kan nie as eksekutrise van die boedel verplig word om die opdrag verder uit te voer nie. Daar is reeds ’n bedrag geld uit Don se boedel aan die seun bemaak. Sy dra nie kennis van die voog se finansiële sake nie en het dit aangevra. Hy weier om dit te verskaf. Dit is die voog se plig om die regskoste te betaal. Die dringendheid waarvan die voog praat, is deur homself geskep. Hy was sedert Mei 2013 bewus dat wyle Don nie meer bereid was om geld vir die seun se regskoste te betaal nie.
Estie du Plessis skryf in haar verklaring dat wyle Don in konsultasie gesê het hy het die opdrag onder hewige druk onderteken en “dat hy nie ’n oop tjekboek” is nie.
’n Week later word die repliserende verklarings ook ingedien. Die prokureur ontken in ’n beëdigde verklaring dat hy emosionele druk op wyle Don Steenkamp uitgeoefen het. Don het aan hom gesê dat hy die dokument (opdrag) met die voog bespreek het, en dat dit in orde is. Don het die opdrag in die prokureur se kantoor met twee kantoorpersoneellede as getuies onderteken. Só ontken die voog ook op sy beurt dat hy druk op wyle Don geplaas het oor die betaling van regskoste. Hy verklaar Bettie het wyle Don se siening gedeel dat die kind emosioneel ondersteun en regskoste betaal moet word. Die voog het Stoffel de Jager gevra om die opdrag op te stel, waarna die voog dit aan Don besorg het. Don het dit in Stoffel de Jager se kantoor geteken. Don wou nie die opdrag herroep nie.
Wyle Don Steenkamp het die voog nog in Julie 2013 verseker dat die regskoste betaal sou word.
Die nuwe eksekuteurs van Deon Steenkamp se boedel, Marianna en Elbeth, wou nie die opdrag beëindig nie, maar net beding vir afslag. Die voog verwys na die familievergadering van 23 Mei 2013.
Die onderlinge spanning tussen die Steenkamps en die voog oor die betaling van regskoste gaan Vrydag in die hooggeregshof uitspeel wanneer daar geargumenteer gaan word.