‘Daar is tog niks fout met die kind
se verstand nie, is daar?’
Maandag 9 Desember 2013, 10:00
Ses polisiemanne van die taktiese reaksie-eenheid in gewone kleredrag sit vandag in die hofbanke, agter, net onder die galery. Hoekom?
Kol. De Waal glimlag net toe ek hom vra ...
Die Steenkamps word verteenwoordig deur Hennie en Isobel Fourie, wat op die galery sit. Aan die ander kant, op die onderste vlak, sit die seun se voog, sy voogma, asook Marietjie Krös en Marina Steenkamp.
Regterpresident Frans Kgomo kom in met sy rooi toga, buig soos gewoonlik, en gaan sit in sy rooi leerstoel met die hoë rugleuning. Hy het deurentyd ’n nadenkende uitdrukking op sy gesig. Hy kyk na regs, waar die staatsadvokaat nou opstaan.
Adv. Hannes Cloete se betoog is eerste. Hy voer aan Marthella se verkragting, 12 tot 24 uur voor haar dood, is die motief vir die wreedaardige moorde, gepleeg deur ’n genadelose mens wat wou seker maak almal is dood. Die aanval moes ’n dwingende oorsaak gehad het – die vlugtige seksuele penetrasie. Die moorde moes dit verdoesel. Die staat voer geen getuienis aan oor haar geskeurde en herstelde maagdevlies van ’n vorige gebeurtenis nie, al meen die verdediging dis deel van die motief wat die staat voorhou.
Die moorde is vasberade, en met voorbedagte rade gepleeg. Daar is geen waarheid in die seun se weergawe van wat op die gewraakte aand gebeur het nie.
Marthella, ’n kind, was swaar gewond en swak, en het probeer bel om hulp te soek. Die seun, wat ook ’n kind was, doen dit nie – terwyl hy sy eie selfoon óf ’n huistelefoon kon gebruik het.
Hy, wat beweer hy was in die pakhuis, hoor ook glo glad nie hoe Marthella enkele meter van hom gil waar ’n aanvaller haar onder die boom aanrand nie.
“Dít alles ruk die hart uit sy verduideliking uit,” sê adv. Cloete.
Adv. Cloete wonder hoekom die verdediging in hul betooghoofde nou van ’n bekende aanvaller “onder instruksie” praat.
Om 11:10 verdaag die hof vir tee.
Die voog en die regspan praat indringend in die vertrek langs die hofsaal. Daar is spanning tussen hulle. Die regspan het al by verskeie geleenthede, ook op 18 November, toe die seun getuig het, gewonder of hulle moet onttrek. Dit was onder meer ook oor die negatiewe bewerings wat teen hulle tydens die familievergadering op 23 Mei gemaak is. Die voog het die notule van dié vergadering (wat hy en sy vrou nooit onderteken het nie) in sy geding teen die twee boedels gebruik om sy saak te steun. Die notule van die familievergadering bevat “gewraakte paragrawe”. Die voog het die regspan met verduidelikings gerusgestel.
Vrydagmiddag 6 Desember het Stoffel de Jager die voog gebel en gesê die advokate wil onttrek. Blykbaar oor uitstaande rekeninge. Die R500 000 wat die voog uit wyle Don Steenkamp se boedel gekry het, is nie genoeg nie. Adv. Ploos van Amstel SC, wat dié siviele geding namens die voog teen die twee boedels gehanteer het, se rekening beloop honderde duisend rand. Die moontlikheid van die Regshulpraad is toe geopper. Die verhoor sou dan uitgestel moes word. Die voog was nie bekommerd oor ’n moontlike uitstel nie, want die seun sal graag eers sy matriek in 2015 wil voltooi. Gistermiddag het Stoffel de Jager die voog weer gebel en hom toe verseker dat die advokate steeds namens die seun sal optree en die betoog lewer.
Hoewel die betooghoofde, wat etlike kere oorgeskryf is voor almal tevrede was, reeds dae gelede by die griffier ingelewer is, gee die voog nou ’n lys vrae aan adv. Coetzee. Hy vra dat adv. Coetzee dit later, wanneer adv. Cloete klaar is met sy betoog namens die staat, aan die hof moet voorhou. Dit word bespreek. Adv. Coetzee is nie daarvoor te vinde nie. Hy sê ook die moontlike onttrekking van die regspan het nie noodwendig met geld te make nie.
Teen dié tyd beloop die seun se regskoste, wat deskundiges en sielkundiges insluit, reeds R2,5 miljoen. Advv. Coetzee en Erasmus het vroeër in November weer telefonies met ’n spesialis- forensiese sielkundige in Rondebosch in die Wes-Kaap gekonsulteer. Dié het in Maart vanjaar, net voor die verhoor begin het, sowat 14 uur oor drie dae met die seun gesels en hom sielkundig geëvalueer.
Teen 11:38 is teetyd verby, maar nie die indringende gesprek nie. (Die voog sou later in hofstukke sê hy het ongemaklik gevoel.)
Adv. Cloete, vir die staat, hervat sy betoog.
“Hoekom sal ’n bekende aanvaller vir 45 minute (vanaf 17:49 – toe Deon sy ma gebel het – tot 18:34 – toe Christel haar laaste SMS gestuur het) in die huis skuil? Dis vreemd dat die bekende aanvaller nie sy eie wapens bring nie, drie mense doodskiet, maar die seun ongedeerd laat. Vir welke rede op aarde sal die aanvaller die wapens by die hek neersit?”
Die saak is uniek omdat dié 15-jarige ten tyde van die moorde ’n behendige skut was.
“Die staat erken dat die kruitresidu maklik op die seun se hemp kon kom. Daar hang kruitwolke wanneer wapens afgevuur word, en die deeltjies sak op almal in die vertrek neer. Dit bewys nie noodwendig hy was die skieter nie.”
Daar was baie van Marthella se bloed aan die seun se gesig en arms, T-hemp en kortbroek, asook sy eie bloed aan sy kortbroek. Dit dui op ’n worsteling. Die seun se neus het waarskynlik gebloei, en hy het dit aan sy broek afgevee. Hy het geen verduideliking vir sy eie bloed op die kortbroek nie, sê adv. Cloete.
En voorts: Daar was nie vreemdelinge wat in ’n stofwolf daar aangekom het en die hekke netjies toegemaak het op pad uit nie. As die seun in die pakhuis was, sou hy dit gesien het. Die feit dat die Steenkamps met hul eie wapens geskiet is, het verreikende implikasies. ’n Vreemdeling sal nie dít doen nie. Daar kon net een aanvaller gewees het omdat die Steenkamps eers met een kaliber en toe later met die .22-geweer geskiet is. Meer aanvallers sou ook nooit toegelaat het dat Marthella naby die foon kom om te kon bel nie.
As hy in die pakhuis was, sou die seun kon sien en hoor hoe Marthella enkele meters van hom onder die boom gil tydens die aanranding. Nadat hy aan twee getuies vertel het hy het haar hoor gil, ontken hy dit nou.
Die seun het nooit bykomende leidrade verskaf of na die ondersoek uitgevra nie. Daarom skep hy ’n weergawe waarin hy dan glo hy is die verdagte, en durf daarom nie vrae vra nie.
“Ons saak is gegrond op omstandigheidsgetuienis wat baie oortuigend is. Alles moet in die geheel bekyk word sodat die hof net een redelike afleiding kan maak,” sê adv. Cloete.
Die verdediging kan nie maak asof die getuienis in ’n ander lig bejeën moet word omdat die verhoor onder die nuwe Kinderwet geskied nie. Dit maak nie die staat se bewyslas swaarder nie.
Elke moontlike brokkie inligting is deeglik deur die polisie ondersoek. Die buurman Joe Scholtz het nie aan enigiets in die huis gevat om die toneel te kontamineer nie. Die mat en baadjie is op die toneel ondersoek.
Die seun pas sy getuienis deurentyd aan. Die verdediging vra nie deurlopende vrae oor dieselfde aspekte aan verskillende getuies nie. Hulle vra nie die patoloog, dr. Lemaine Fouché, oor die hoeveelheid bloed in Marthella se mond nie, maar net vir kapt. Marius Joubert, bloedspatsel-deskundige.
Die seun se hele houding vanaf die moorde, net soos hy in die getuiebank was, spreek van onbetrokkenheid. Ná die moorde maak hy toekomsplanne, wonder wat hy gaan erf, wil ’n vulstasie koop en skuld gaan insamel.
“Hoe kan hy dae ná die moorde vir hom ’n perd op die plaas gaan haal vir ’n pensteekbyeenkoms, terwyl die verminkte en onteerde lyke van die Steenkamps nog op die koue staaltafels van die lykshuis lê?”
Die staat versoek dat die seun op al die aanklagte skuldig bevind word.
Regter Kgomo kyk na adv. Willem Coetzee.
Adv. Coetzee sê die seun se weergawe kan aanvaar of verwerp word. Die seun was 15 jaar en 8 maande toe die moorde plaasgevind het, en dat sy getuienis ook só onder die Kinderwet aangebied is. Hy vra nie dat die getuienis anders bejeën moet word nie.
“Ons moet vra wie die moorde gepleeg het, nie of die seun dit gepleeg het nie. Ek erken daar is slegs subtiele verskille, maar ons benader dit so.”
Die afleiding wat uit omstandigheidsgetuienis gemaak word, móét strook met ál die bewese feite.
Die seun se hemp is moontlik afwaarts geskeur toe Marthella hom vasgegryp en toe geval het. Dit was nie ’n worsteling nie. Hoe kan die staat bewys Marthella was te swak om die T-hemp op daardie stadium te skeur?
Regter Kgomo wil iets vra: “Die staat sê ook deur getuies sy was te swak om te bel. Dié aspekte bymekaar het tog waarde, jy moet dit so benader?”
“Ons moet na die feite op hul eie ook kyk. Dit kan nie alles in ’n mandjie gegooi word sonder om elkeen apart te bestudeer nie. Alles moet in konteks en binne omstandighede bekyk word.”
“Het die seun haar weggestoot of aangedruk?” vra Kgomo.
Daar is teenstrydige getuienis, erken adv. Coetzee.
“Maar die seun, ’n plaasseun wat jag, ken mos bloed, hoekom gril hy nou? Sy reik uit, sy soek hulp . . . Ek probeer verstaan . . . Jy, as die seun se verteenwoordiger, moet die hof help,” sê hy.
“Ek kan net staan by wat hy sê. Sy het haar liefde aan hom verklaar, en gesê sy gaan dood. Ek weet nie. Ek kan dit nie verder neem as dit nie.”
“Die getuienis sê hulle was teen mekaar by meer as een geleentheid. Daar was verskeie kere, soos blyk uit die getuienis?” vra die regter.
“Die seun sê dit was net een keer. Ons kan nie daarby verbykom nie,” sê adv. Coetzee. “Daar is nie getuienis oor meer kere nie. Die seun se eie bloed op sy kortbroek dui nie noodwendig op ’n worsteling nie, want daar is ook nie van sy eie bloed op sy T-hemde nie. Dit is onbillik om van die seun te verwag hy moet verduidelik hoekom hy die enigste oorlewende is.”
“Hoekom is dit onbillik?” vra die regter. “Hy was die enigste getuie daar? Hoekom het hy nie die aanvaller gesien nie? Daar was baie mense in die huis. Hoe kan die aanvaller ongesiens inkom? En skuil vir 45 minute?”
“Dit is alles net gissings. Ek wil nie gis nie,” sê adv. Coetzee.
“Hoekom kom die booswig te voet daar aan? Sonder wapens. Hoe weet hy waar die wapens en die hoofslaapkamer is?” vra die regter.
“Ek weet nie. Ek kan nie sê nie. Dit sê nie die seun was die skieter nie,” sê adv. Coetzee.
“Van alles wat die seun kon doen, soos om te bel of homself te bewapen, trek hy net ’n skoon hemp aan?”
Adv. Coetzee sê as die seun skuldig was, sou hy die hemp eerder weggegooi of weggesteek het, en nie net daar gelaat het nie. Dis nie vreemd dat hy nie die bloedspatsels op die buitemuur gesien het nie. Die onwaarskynlikhede moet in die lig van sy emosionele toestand en skok gesien word.
“Ons erken dit was nie ’n plaasaanval of wraakmoord nie,” sê adv. Coetzee. “Dit laat net die beskuldigde en die aanvaller. Die staat se saak rus ook net op omstandigheidsgetuienis. Die polisie se ondersoek was nie so goed nie. Die toets om te bepaal of die vlek op die wit bakkie moontlik bloed was of nie, was foutief. Die polisie het nie die Jeep-baadjie en matjie bewaar en laat ondersoek nie. Dit kon die seun se weergawe gestaaf het. Daarom is die seun in ’n onbenydenswaardige posisie. Die toneel was gekontamineer. Daar is geen bruikbare vingerafdrukke gevind nie, en daar was vreemde DNS op die wapens.”
Die regter wil weet hoekom die seun nie die wit bakkie, wat by die werkers se hek gestaan het, in sy verklaring genoem het nie. Enigiets, enige leidraad om die ondersoek te help.
“Hy ken Koopman se bakkie, hy het hom nie verdink nie,” sê adv. Coetzee.
Regter Kgomo vra weer, en adv. Coetzee het dieselfde antwoord.
“Hoe móét ek dít nou glo?” vra regter Kgomo.
Die seun was jonk en geskok . . .
“Die waarheid van ’n grootmens is dieselfde as dié van ’n kind,” sê regter Kgomo.
Adv. Coetzee sê die kind was geskok op die aand van die moorde en het onsamehangend en kripties gepraat. Die kern lê nie in sy emosies nie, maar in sy verduideliking. Almal op die dorp ken mekaar en het met mekaar oor die moorde gepraat. Daar is dus nie werklike bewyse van ’n binnekennis nie.
Regter Kgomo sê dit was donker en daarom vreemd dat die seun nie die ligte in die pakhuis aangesit het nie.
“Hoe is dit moontlik dat die seun die wapens in die donker sien, maar nie die bloedspatsels by die agterdeur nie?”
Adv. Coetzee is stil wanneer regter Kgomo hom uitvra oor hoekom die seun die volgende dag skielik van twee sarsies skote gepraat het.
“Ek kan geen submissie daaroor maak nie. Die feit dat die seun nie kan onthou nie, moet nie as leuens gesien word nie.”
Regter Kgomo wonder of die seun later die plek waar hy bloed gesien het, nader aan die huis en pakhuis verskuif het, sodat hy rede gehad het om die bloedkol by die bome raak te sien op pad na die huis. Adv. Coetzee sê die staat is korrek in die uitwysing van die plek waar die kolle werklik was.
“Hoekom wou iemand Marthella martel? Hoekom moes sy ly?” vra regter Kgomo.
Adv. Coetzee wil nie daaroor gis nie. Ook nie oor hoekom die aanvallers die vuurwapens neergegooi het nie.
Regter Kgomo vra: “Het die seun ’n swak geheue of gee hy voor? Hoekom kan hy nie onthou waaroor hy en Marthella enkele ure vantevore baklei het nie? Daar is selfs krapmerke van die onderonsie. Daar is tog niks fout met die kind se verstand nie, is daar?”
Adv. Coetzee antwoord dat daar niks skort met die seun se verstand nie.
Regter Kgomo vra adv. Coetzee uit oor die submissie wat hy “op instruksie” in sy betooghoofde maak oor ’n bekende aanvaller. Die moontlikheid van ’n bekende aanvaller is nog nie voorheen deur die verdediging genoem nie.
“Die regsverteenwoordiger moet die beskuldigde leiding gee. Die regsverteenwoordiger kan hom nie nou (in die betoogstadium) laat lei deur die beskuldigde se instruksies as hy nie van die argument oortuig is nie,” sê regter Kgomo. Hy vra dat adv. Coetzee hom moontlik van aanvullende betooghoofde voorsien om dit breedvoerig te verduidelik.
Adv. Coetzee sluit af dat die seun Marthella nie verkrag het nie. Daar is ook die moontlikheid dat Deon Steenkamp dit kon gedoen het. En sou die seun en Marthella ’n verhouding gehad het, hoekom sal sy daardie aand skielik, soos die staat beweer, dit wil vertel?
(Dié stelling oor Deon ontlok nie merkbare reaksie in die hof nie. Die slagoffers se familie weet reeds daarvan. Die Steenkamps is vroeër gewaarsku dat skokkende dinge deur die verdediging gesê kon word om die seun se saak beter te laat lyk. Die verslaggewers het ook al oor die moontlikheid bespiegel dat die verdediging ’n ander man op die plaas – Deon – kon beskuldig van die verkragting.)
Regsverydeling vind net plaas (en is ’n voltooide daad) as ’n onskuldige persoon weens doelbewuste foutiewe inligting verkeerdelik aan ’n misdaad skuldig bevind word.
Die staat soek na ’n motief, en die beweerde verkragting word daarom aangevoer as die rede vir die moorde.
Adv. Coetzee versoek respekvol dat die seun onskuldig bevind moet word . . .
Die hof word verdaag tot Donderdag. Regterpresident Frans Kgomo sê hy is gereed om uitspraak te lewer.
Dis vinnig. Almal is ietwat onkant betrap.
Die voog en sy suster, die Massyn-familie en Marina Steenkamp lyk bekommerd. Hulle begin onderlangs praat. Die voog is ontevrede en meen adv. Coetzee is op verskeie aspekte deur die hof gekritiseer. Hy meen die kruisondervraging vroeër in die verhoor van twee minderjarige staatsgetuies, en die seun se herondervraging, was nie deeglik genoeg nie. Volgens hom is daar ook nie beswaar gemaak teen die staat se langdurige kruisondervraging van die seun nie.
Die seun, voog en hul ondersteuners beraadslaag oor ’n nuwe regspan. Die voog bel Riaan Bode, prokureur van die regsfirma Engelsman Magabane in Kimberley. Hy wil ook met Riaan Bode onderhandel oor die regskoste. Hy gaan dié keer sy eie geld gebruik, asook ’n skenking van ’n Steenkamp-familielid. Dit kan moontlik R300 000 beloop.