Hoofstuk 77

‘Mnr. Bode, asseblief tog!’

25 Maart 2014, 09:50

Die seun en sy voog staan langs mekaar, en leun op die houtreling van die beskuldigdebank. Hul rûe is na ons gekeer. Hulle praat nie. Hulle het pas met Riaan Bode vergader. Dié se vyf vroue-assistente het reeds hul boeke uitgepak en skootrekenaars oopgevou.

Die voog se vrou, en Marietjie Krös, en Andries en Marina Steenkamp lyk ewe ernstig. Die Massyn-vroue se gesigte is soos altyd onleesbaar. “Oom” Boelie, Christel se pa, is ook soos altyd vriendelik met almal. Soos verlede week is Marianna saam met haar ma en Hennie en Isobel Fourie op die galery. Hulle lyk ontspanne. Elbeth kom later vanmiddag per vliegtuig aan.

Riaan Bode het sy betoë op die vorige regspan s’n gegrond, maar beklemtoon nou dat adv. Willem Coetzee ’n afleiding gemaak het dat Deon Steenkamp moontlik vir die beweerde verkragting van Mar­thella verantwoordelik kon wees. Dis nie wat die seun nou voorhou nie.

“Dit kon nie die seun gewees het wat enigiemand in hierdie rustige omstandighede sou aanval nie. Deon was sterk, lank (1,8 m) en het 135 kg geweeg. Die seun het hom nie op sy kop geslaan nie. As hy het, sou Deon se bloed op die seun se klere gewees het,” sê Riaan Bode.

“Die staat sê daar was penetrasie ure voor Marthella se dood. Daar was ’n tydsverloop voor die moorde gepleeg is. Die insident was nie net voor of ten tyde van die moorde nie.”

“Daardie dade moenie in isolasie geplaas word nie,” sê regter Kgomo.

“Ons verstaan nie wat die staat wil sê oor die penetrasie nie,” sê Riaan Bode.

“U moet na die klagstaat kyk, na die opsomming van wesenlike feite en wat in die hof aangevoer is. Die seun het die aanklagte verstaan toe hy gepleit het,” antwoord regter Kgomo.

“Dr. Fouché het toe toegegee dit kon ’n ‘quickie’ wees.”

“Deur wie?”

“Dit was nie seksuele penetrasie deur die seun nie; daar is ander moontlikhede.”

“By implikasie sê jy dat dit Deon was?”

“Nee, nie Deon of die seun nie. Dr. Fouché het gesê enige vorm van penetrasie is seksueel. Ons kan nie sê dit was penetrasie met ’n penis nie.”

“Hoekom moet dit net ’n geslagsdeel wees? Wat is enige objek? Enig­iets anders as liggaamsdele?”

“Ja, soos ek die wet verstaan.”

Die regter vra dat adv. Quinton Hollander (wat adv. Cloete bystaan) die betrokke wet gaan soek en later aan hom gee.

Riaan Bode gaan voort. “Die polisie-ondersoek is gebrekkig. Kons. Mohithli het swak afdrukke geneem. Daar was foute met die palm­afdruk op die wit bakkie.”

“Ons weet mos wie se bakkie dit was. Wat maak dit saak? As dit nie op rekord is nie, stel ek nie belang nie,” sê die regter.

“Die gesin se afdrukke is nie in die huis gekry nie. Ook nie die seun s’n op die wapens nie.”

“Hulle was dan in die huis,” antwoord regter Kgomo. “En die seun erken hy het wapens hanteer en meerkatte geskiet. Moet ons nou gis oor wie daar was, en ook oor die werkers in die huis? Ek kan net na die rekord kyk. U kan nie spekuleer nie, dit is ongesond. Dit neem ons nêrens. Watter afleiding moet ek maak? Watter vrae het die vorige reg­span aan kons. Mohithli gevra? Dit was hulle besluit om hom nie uit te vra nie. Hoekom nou daaroor gis?”

“Die polisie het geen afdrukke of DNS-profiele op die wapens gekry om mense as verdagtes uit te skakel nie. Dit kon dalk baie meer lei­drade verskaf het. Die seun sit nou net met wat die polisie nagespeur het.”

“Dit pas u om van omstandigheidsgetuienis te praat, maar wie was die ooggetuie? Luister jy na die seun? Hy was die naaste aan ’n ooggetuie. Wie verdink jy, wie is die aanvaller, wie blameer jy?”

“Nee, ons wil nie blaam na iemand anders verskuif nie.”

“Hoekom moet die staat iets bewys wat erken word? Almal erken die seun en die polisie het wapens hanteer, en daar was nie besoekers daardie dag op die plaas wat vingerafdrukke kon neerlê nie.”

“Ons sê die staat suggereer dis SAPS-lede se DNS op die wapens. Hulle moet die vreemde DNS heeltemal elimineer. Die staat moet enige ander afleiding uitsluit, anders is daar vrae.”

“Hoe het die booswig ingekom? Het hy in die kamer gaan slaap?”

“Ons weet nie waar die honde was nie. Iemand kon ongesiens in­kom.”

“U hou van spekulasie. Die getuies het van die kwaai honde gepraat. Die eerste video-opname is gestop oor die honde daar was. Hou net by die getuienis.”

“Daar is geen getuienis dat die gesinslede badkamers toe is nie. Ons weet wel daar was wapens in die kluis. Die aanvaller kon dalk die wapens gaan haal en weer uit- en ingegaan het.”

“Mnr. Bode, asseblief tog! Die mense is daar. Hoe kan die aanvaller nou ingaan, uitgaan en weer in? Ons moet ons nou by die getuienis bepaal.”

“Die aanvaller was dalk nie net in die huis nie. Die geskeurde hemp dui nie noodwendig op ’n worsteling nie. Daar is geen massatoets op die T-hemp met Marthella se gewig (45 kg) gedoen nie. Ons kan nie die seun se bloed op sy kortbroek verduidelik nie, behalwe as dit van die krapmerk op sy keel kom.”

“Dis nie die getuienis nie, dit was waarskynlik eerder sy neus wat gebloei het.”

“Die seun was geskok en getraumatiseerd daardie aand. Daar was die gesprek tussen die seun en kol. De Waal. De Waal het sekere pro­sedures gevolg en sy benadering was subjektief.”

“As jy sê iemand se getuienis moenie aanvaar word nie, is dit ’n ver­hoor binne ’n verhoor om dit toe te laat, al dan nie.”

“Die voog het gevra of regsmense moet by wees toe die verklaring geneem is.”

“Die seun was nie die verdagte nie. Die reg sê jy kan net iemand se verklaring stop as hy homself inkrimineer. Die seun was verontskuldigend. Mnr. Bode, as ’n kind kom kla oor misdaad, hoekom moet jy hom wys op sy reg op stilswye? Die vorige advokate het niks vreemds gevind met die neem van die verklarings nie. Dit is nie in die hof betwis nie. Word hulle nou geblameer?”

“Dit het wel later sy regte beïnvloed.”

Die prokureur erken ook die tien minute waarin die seun ná die skote gewag het, was miskien verkeerd.

Ons verdaag vir ete. Die voog en Marina Steenkamp loop doelgerig na Riaan Bode toe om hom nog opdragte te gee.

Ná ete begin adv. Cloete met sy aanvullende betoog.

“Mnr. Bode het drie groot probleme. Hy erken die polisie se ondersoek was in goeie trou, daar was ’n billike verhoor en die vorige regspan was nie onbekwaam nie.

“Daar kan nie kritiek op die vorige regspan wees nie. Hulle was op hoogte van sake, het die volledige dossier ontvang, en het forensiese deskundiges gehad. Die seun het die aanklagte verstaan en was nooit vir die wolwe gegooi nie.

“Nou praat hulle van soorte penetrasie met voorwerpe. Ons sê die penetrasie het met ’n geslagsdeel, ander liggaamsdele of voorwerpe gebeur.

“Daar is geen meriete in die argument dat alles rustig op die plaas was nie. Hy en Marthella het baklei. Dit maak ook nie sin dat daar weer na werkers beduie word nie. Hulle het niks hiermee te doen nie.”

“Niemand het verdwyn nie,” sê regter Kgomo.

“Ja, hulle hardloop ook nie weg nie. Klim selfs in die polisievoertuie. Mnr. Bode sê Deon se bloed is nie op die seun gevind nie. Hy is op ’n afstand deur sy klere geskiet, wat min spatsels sal maak. Hy was dadelik verlam, roerloos. Daar was nie worsteling nie. Hy het min bloed op sy kop, en daar is afwaartse bloedvloei uit die wonde. Ons weet nie of die wonde op sy kop nadoods of voor sy dood toegedien is nie. Daar is nie tekens in die bloedpatroon dat hy hom kon verweer nie. As Deon se bloed op die seun se arms en bene beland het, het hy dit by die polisiekantoor afgewas.

“Hoe kan ’n aanvaller in- en uitgegaan het? Die aanvaller haal die .22 by die kluis oor. Los die holster voor die kluis, skiet die gesin, maar los die seun? Hy was die seun dan uiters goedgesind. Die polisie se ondersoek was uiters goed geboekstaaf. Hulle het berge dokumente opgelewer. Die toneel is drie keer gerekonstrueer. Daar was hope foto’s, ’n video en ’n 3D-rekonstruksie. Die polisie het niks meer gekry nie, want daar wás niks meer nie. Hy het self aan ’n vriendin erken daar is nie ander aanvallers nie.

“Dit is vreemd dat mnr. Bode krediet vir die seun gee omdat sy weer­gawe deurgaans byna dieselfde bly. Die seun as getuie is leuen­agtig en vals. Hy het hom as enigste getuie voorgestel wat leidrade vrywillig verskaf het. Hoekom word die polisie kwalik geneem as hulle nog leidrade en inligting wil opvolg? Watter dele van kol. De Waal se verklaring is nou toelaatbaar, en wat nie? Die seun se verklaring is nie deur sy regspan betwis nie. As daar nie beswaar is oor toelaatbaarheid van die verklarings nie, mag die staat dit inhandig. Dit klink die seun wil sy eie getuienis uit die rekord vee. Hy verander ook die plek waar Marthella gelê het ná al die getuies in die hof was.

“Dit is baie insiggewend wat die verdediging nie vandag voorgehou het nie. Die seun beweer hy was saam met die aanvaller in die huis. Hy hoor nie dat Marthella gil, of dat sy meters van hom af aangeval word nie. Die optrede van adjt. Mofokeng was heeltemal korrek. Hy het na oorlewendes en aanvallers gaan soek. Dan maak kontaminasie nie saak nie. Ek erken mnr. Joe Scholtz moes nie weer ingegaan het nie, maar hy het aan niks geraak nie. Ek is eintlik geskok dat die Jeep-­baadjie nou ’n vreemde item was. Dit was Deon se baadjie, nie ’n aanvaller s’n nie. Slegs Marthella se bloed was op die matjie. Niemand kritiseer dit dat die bloed op die vloere afgewas is nie, want almal weet dit was die oorledenes s’n. Nou moet arme kons. Mohithli in sy af­wesigheid deurloop. Hy het presies verduidelik hoekom hy gedoen het wat hy het. Bode-hulle kon ook en het ook toegang gehad tot die af­drukke vir verdere toetse.

“Die seun het homself beskuldig lank voor die polisie het. Die mense na aan hom het gevoel daar is ’n probleem en ’n regspan aangestel.”

Die advokaat sluit af.

“Ek versoek dat die hof hom skuldig bevind.”

* * *

Regter Kgomo draai weer na Riaan Bode. Riaan Bode sê dat hulle nie beweer die baadjie was ’n vreemdeling s’n nie, maar dit kon ’n vreem­deling se bloed bevat het.

Die regter wil nog iets vra: “As die regsverteenwoordiger daardie Saterdag by was, sou die seun se weergawe anders gewees het?”

“Sy weergawe was deurentyd dieselfde.”

“So, daar was dus geen nadeel nie?”

“Nee, die seun het sekere regte oor regsadvies gehad. Dit is hoe ek die regsverteenwoordiging sien.”

Regter Kgomo pak sy leggers op. Dit was ’n lang en uitputtende dag met baie vrae.

“My uitspraak sal Donderdag wees. Dit gaan baie lank wees. Ons begin daarom reeds om 08:45.”