Regter Kgomo begin lees . . .
‘Nou is Rambo weer ongewapen. Baie dom’
27 Maart 2014, 08:50
Ons het vanoggend om 08:50 begin toe regter Kgomo ingekom en sy uitspraak bykans onmiddellik begin lees het. Dit was vroeg al duidelik dat hy nie met die seun se weergawe en onbetrokke, koue houding in die hof (en op die misdaadtoneel) beïndruk was nie.
Hy het begin deur na die Wet op Kindergeregtigheid en die Strafproseswet te verwys waarkragtens die verhoor geskied.
Regter Kgomo noem watter nagmerrie dit was om die seun se identiteit te beskerm weens die feite. Sy uitspraak begin met die opsomming van die gebeure op daardie aardige dag. Hoe die slaperige dorpie Griekwastad wakker geruk en op sy knieë gedwing is deur die skokkende nuus oor die geliefde Steenkamps se dood. Hy vind dit interessant dat die verdediging nie tydens die besoek ter plaatse die plek uitgewys het waar Jan Koopman se bakkie gestaan het nie. Daar was wielmerke waar Koopman weggetrek het nadat hulle van die plaas gevlug het. Die seun moes die bakkie daardie aand raakgesien het.
Die seun was aldus al die getuies baie seker die Steenkamps is dood.
Daar is 15 feite, faktore en omstandighede wat dit bykans onmoontlik maak dat ’n vreemde aanvaller die dade gepleeg het.
“Die twee wapens waarmee die Steenkamps geskiet en tereggestel is, het aan hulle behoort. Die wapens was in die kluis in die hoofslaapkamer, enkele meters van die seun se kamer. Die skieter kon nie twee wapens gelyk hanteer nie. Die skieter het die uitleg van die huis geken. Die gewere was in die kluis wat gewoonlik gesluit word. Die polisie het ander gelaaide wapens in die oop kluis gevind. Die voordeur was gesluit en die agterdeur oop. Die skieter sal nie ongesiens by die agterdeur inglip sonder dat die honde blaf nie. Daar was geen teken van inbraak nie.
“Dit is vreemd dat ’n aanvaller so lank binne die huis sal skuil voor hy tot aksie oorgaan. Die werklike tydsverloop strook glad nie met die seun s’n nie. Hy sou nie vir 10 tot 15 minute in die pakhuis kon skuil, of selfs ’n tweede keer kon skuil nie. Mnr. Bode het dit toegegee. Die huis se oopplanuitleg maak dit onmoontlik dat die aanvaller ongemerk kon insluip. ’n Wrede aanvaller sal nie vir 45 minute eers in ’n kamer gaan skuil nie. Die seun moet homself in die pakhuis plaas, anders is hy in die huis saam met die gesin en die aanvaller. Óf die aanvaller het die seun ongedeerd gelaat óf die seun het met die aanvaller saamgewerk óf die seun het die snellers van die rokende wapens getrek. Dieselfde wapens wat hy later aan die polisie sou oorhandig.
“Die seun wou glo sy vriend van die skuur af bel. Hy is na die skuur om ’n mes te was en bêre. Die mes moes baie, baie spesiaal gewees het of ryklik met diamante versier gewees het dat ’n aanvaller dit wou steel. Die seun wou om een of ander rede die skietlampe regmaak. Die skuurligte was af toe die polisie daar kom. Dit was sterk skemer. Dit is voor die hand liggend dit sou nog donkerder in die groot skuur met sy kleinerige vensters gewees het. Die deure was ook nie heeltemal oopgeskuif nie. Die seun se stomp verduideliking hieroor het te veel los drade.
“Hy was glo in die skuur toe hy Marthella hoor gil het, soos hy aan twee mense vertel het. Hy het die vertelling later, valslik na my mening, ontken. As die seun wou uitloer by die vensters van die skuur om te sien hoekom Marthella buite gil, sou hy. Marthella was reeds bebloed toe sy buite kom. Daarom het die gras en gruis aan haar gekleef. Die seun skuif die punt waar die bloed was, sodat hy nie die aanvaller hoef te sien (uit die skuur se venster) en te beskryf nie. Wat het die seun, wat angstig was, se aandag na die bloedkol getrek, as hy dan na die huis gehardloop het? Die kol was veel verder van die pad wat hy sou hardloop na die huis. Hoe kon hy net verby die liggame van Deon en Christel loop sonder om hulle te probeer help?
“Hy was tydens die ondersoek en in die hof koud en onbetrokke. Al was hy onskuldig, het sy koue houding hieroor tydens kruisondervraging nie die hof beïndruk nie. Die seun, ’n gereelde jagter, stoot Marthella weg omdat hy vir bloed gril en gaan trek ’n ander hemp aan. Hy bel nie om hulp op sy selfoon nie.
“Ek verwerp sy stelling dat Marthella gesê het sy is lief vir hom.
“Die sogenaamde aanvaller is seker die domste aanvaller in die land. Hy kom alleen en ongewapen aan, glip in die huis in, skiet die huismense met hul eie wapens, los die seun, steel net ’n mes en sleutels en los die geld, wapens, beursies, twee voertuie met sleutels in die aansitters, en gooi die wapens weg. Nou is Rambo weer ongewapen. Baie dom.
“Die seun is ’n behendige skut en ’n jagter, wat nie so sou opgetree het nie. As hy onskuldig was, sou hy die polisie uit die skuur op sy selfoon gebel het, en na die huis gegaan het om homself te bewapen. In sy eie weergawe en soos op ’n foto getoon is, was die gras waar die wapens gelê het sowat 15 cm hoog. Die gras verberg die seun se tekkies op die foto (wat die dag ná die moorde geneem is). Die seun sien die onsienbare raak. As die onwaarskynlikhede waar is, is die seun die gelukkigste mens onder die sterre.”
Die patoloog het bevind die Steenkamps is almal eers met een kaliber geskiet en toe, terwyl hulle gelê het, met die .22 tereggestel deur iemand wat bokant hulle gestaan en skiet het.
“Marthella het soos ’n tierwyfie vir haar lewe geveg.” Die twee patoloë was dit eens dat sy sonder haar samewerking sowat 12 tot 24 uur voor haar dood gepenetreer is.
“Ek is oortuig dat die meisie verkrag is (nie vir die eerste keer nie). Die seun kan glo daardie aand nie onthou hoekom hy en Marthella vroeër die dag baklei het nie. Ek glo die bloed op sy kortbroek is van sy neus wat gebloei het, eerder as van die krapmerke aan sy nek. Hy het waarskynlik gebloei tydens die worsteling met Marthella, en tydens die insident toe die aanvaller haar op haar rug gekrap het in ’n poging om haar broek af te trek. Die krapmerke op haar rug kon tot 12 ure oud gewees het, die swelling was besig om te sak.
“Die staat het nooit voorgehou daar was ’n verhouding tussen die seun en die meisie nie. Hulle het nog altyd gesê dis verkragting. Die verdediging se stelling in hul betoog dat as daar ’n verhouding was, sou die meisie nie geklik het nie, word verwerp. Dit is ook nooit in hul saak voor die hof gesê nie. Toe voer die regspan eers in betoë ‘onder instruksie’ aan dat Deon dalk die verkragter kon wees.
“Deon se karakter en nagedagtenis is in ’n baie laat stadium aangetas. Dit was onvanpas en betreurenswaardig.
“Die staat steun op omstandigheidsgetuienis. In ’n ander saak word dit beskryf as ’n netwerk feite wat soos ’n net om die beskuldigde span. Daar is gate in die net waardeur die beskuldigde kan glip. Dit kan ook so dig en so sterk wees dat die beskuldigde nie kan deurbreek nie. Omstandigheidsgetuienis kan tot niks kom nie, of dit kan heeltemal oortuigend wees. Die reg vereis dat ons nie net op volkome sekerheid optree nie. Ons moet optree uit regverdige en redelike oortuigings wat op regverdige en redelike gronde rus. Die reg vra en vereis niks meer nie.
“Dit is my benadering waartoe ek gedwing is. Dit wat die seun en sy span aan my voorgegee het, was vergesogte veronderstellings. Dit was nie bevorderlik dat die seun so ’n swak getuie was nie. Hy was vaag en ongeloofwaardig onder kruisverhoor. Hy was ook ’n leuenaar op sy jong ouderdom. Sy getuienis word gesien asof hy nooit getuig het nie.
“Dit is vir my logies dat die meisie eers gemartel is voor hulle almal tereggestel is. Ek kan nie glo dat die moordenaar haar slegs vir plesier wou martel nie. Die nadoodse foto’s van haar was grusaam. Die seun kan nie verduidelik hoekom hy die aanval vrygespring het nie. Die staat hoef ook nie daardie vrae te beantwoord nie.
“Ek gaan nie nadelige afleidings maak oor die seun as getuie in die hof nie. Hy is net 17 en is in die verhoor blootgestel aan deurtastende maar billike kruisondervraging. Ek gaan wel opmerk dat hy geen emosie getoon het nie. Hy het ’n sterk stem, was oplettend en vol vertroue. Selfs toe hy in ’n hoek gedruk is, het hy nie ingegee nie. Hy het nooit gestotter, of oor sy woorde geval nie, selfs nie toe hy openlik gelieg het nie. Hy het ’n sterk karaker en is nie ’n verlepte blom nie.”
Die regter haal aan uit ander sake waarin gesê is ’n leuenagtige getuie kan eerlikheid goed naboots, en ’n eerlike getuie kan senuweeagtig en skaam wees.
Die seun se grootste struikelblok was om die bloed op sy T-hemp te verduidelik. In een weergawe leun Marthella teen hom aan, in ’n ander stoot hy haar weg, sodat hy die skeur in sy T-hemp kan verduidelik. Die deskundige was seker dat die hemp in ’n vinnige ruk-aksie, met dieselfde krag van beide kante, geskeur is.
“Ek kan ook nie glo dat die seun nie vir Marthella sou vra wie dit gedoen het nie.
“Die seun het homself verraai. Hy het aan twee getuies vertel Deon het moontlik van die bank opgespring en gegly, en dit word deur die kenner bevestig dat Deon reg voor sy aanvaller was met die eerste skoot.
“Ek is van mening die meisie het haar kuisheid probeer beskerm. Sy is verkrag, gemartel en vermoor sodat sy nie haar ouers vertel nie. Daarom is die ouers ook vermoor. Dit is die mees geloofwaardige verduideliking vir die moorde.
“As die seun op die eerste aanklagte skuldig is, is hy moontlik skuldig aan regsverydeling. Hy het die polisie in sirkels op ’n wilde jaagtog gestuur. Hy het die vingers na onbetrokke partye gewys. Hy vertel leuens oor geld wat kwansuis gesteel is, om ’n motief vir ’n plaasaanval uit te dink.
“Ek kan nie met die verdediging se stelling en die staat se toegewing saamstem dat die seun slegs gepoog het om regspleging te belemmer nie.
“Ek het die betoë deeglik deurgegaan. Ek wil een aspek uitlig. Mnr. Bode bevraagteken die optrede van kol. De Waal op die aand van die voorval, en die kruittoetse en foto’s wat geneem is. Hy argumenteer ‘die toelaatbaarheid van die getuienis het soverre dit deur die betrokke offisier in die hof aangebied is, en soverre die beskuldigde daaroor gekruisondervra is, het moontlik sy grondwetlike regte tot ’n billike verhoor geskend’.
“Die staat het geantwoord dat die houding verrassend is, want die verdediging het toegegee die polisie het bona fide opgetree. Ek haal aan: ‘Die onverwagse argument laat die volgende buite rekening: Die beskuldigde is na die polisiekantoor toe; hy het sy weergawe aan die polisie voorgehou; hy het die polisie se hulp ingeroep; hy het homself as die enigste oorlewende voorgestel; hy het hom as die enigste en belangrikste getuie voorgehou. Alles wat gevolg het, was die noodwendige gevolg van wat hy die polisie meegedeel het.’
“Andries Steenkamp het die seun aan die begin vergesel. Advv. Sharon Erasmus en Coetzee het met kol. De Waal die volgende dag gepraat. Coetzee, wat later op die plaas opgedaag het, het niks bevraagteken nie. De Waal is nie hieroor gekruisondervra nie. Die verklarings is toegelaat sonder dat ’n verhoor binne ’n verhoor aangevra is. Die seun is nie as ’n beskuldigde behandel tot met sy inhegtenisname op 21 Augustus 2012 nie.
“Die aansoek om nuwe getuienis aan te bied is met onegte motiewe gedoen. Dit was ’n voorwendsel om weer die verkragting, wat die staat as motief vir die moorde voorhou, teen te werk.”
Die regter vra die seun om op te staan om sy lot aan te hoor.
“Ek bevind die seun daarom skuldig op al die aanklagte. Die staat het sy saak bo alle redelike twyfel bewys. Inteendeel, daar is geen sweempie van twyfel oor sy skuld nie. Die moorde is vooraf beplan en uitgevoer met die uitsluitlike doel om te moor.”
Dis 12:33.
Die seun is uitdrukkingloos.
Sy ondersteuners is openlik geskok, hoewel hulle die moontlikheid van ’n skuldigbevinding moes verwag het. Sy voogma is onmiddellik hartseer. Daar is ’n doodse stilte op die galery. Die staatsadvokate en polisielede lyk tevrede.
My hart klop erg.
Dis ’n groot oomblik in ’n uitgerekte ondersoek, ná ’n verhoor en aangrypende verhaal wat sowat twee jaar ná die moorde aangebreek het.
“Soos u behaag,” sê adv. Cloete en Riaan Bode. Die seun gaan sit ook.
Verslae sal nou deur ’n forensiese sielkundige, maatskaplike werkers en korrektiewe dienste geskryf word. Adv. Cloete gaan ook impakverslae skryf oor die gevolge van die misdade op die families en die gemeenskap. Regter Kgomo sal al die verslae oorweeg om later ’n gepaste vonnis te gee.