Hoofstuk 80

Hy sal nie gou weer terugkeer nie …

27 Maart 2014, etenstyd

Ons verdaag vir ete, want Riaan Bode wil instruksies neem vir ’n moontlike borgtogaansoek. Kol. De Waal neem die seun onder na die selle. Daar is nie vandag sprake van die gebruiklike middagete by die Spur, soos die seun en sy voogfamilie meestal gedurende die verhoor gedoen het nie.

Die seun se borgtogaansoek word om 14:33 aangehoor.

Riaan Bode lees eers die seun se verklaring voor. Hy sê hy sal nie kan erf nie, weens die “bloedige hand”-regsbeginsel. Hy wil ’n tersiêre kwalifikasie behaal.

“Ek sal niemand in gevaar stel, nie misdrywe pleeg, die verhoor ontduik of iemand intimideer nie. Ek het geen paspoort en rybewys nie.­Ek is bekend weens die mediadekking. Daar kan selfs streng borgvoorwaardes wees. Ek is bereid om afstand te doen van enige sport.”

Die voog is die eerste getuie. Hy sê die seun pas 100% by die gesin in. “Hy aanvaar ons, en ons ouer kinders se gesag. Ek was nog nooit spyt hy is onder ons dak nie. Hy was in die NG Kerk, maar is nou in die Afrikaanse Protestantse Kerk. Hy het ingeskakel by katkisante en is ’n lid. Hy het nog nie vanjaar skoolwerk gedoen nie, maar akademie is nou baie belangrik.

“Die seun het die verstand, is eintlik bogemiddeld. Hy is vanjaar by ’n nuwe skool vir gr. 12 ingeskryf en sou net drie vakke neem, en volgende jaar die ander vakke. Die voorbereiding vir die verhoor het hom van skoolwerk weerhou. Intussen het hy hard op die plaas gewerk. Soggens werk hy met die skape. Hy is ’n goeie arbeider. Dit is eintlik gerieflik om hom by ons te hê. Die wapens in die huis is toegesluit. Net drie van ons het sleutels. Ek was en is nog nooit bang gewees as hy ’n geweer in die hand het nie.”

Die voog is bereid om tot R50 000 in kontant vir borgtog te betaal. Hy sê hy gaan dadelik teen die uitspraak appelleer sodra hy kan (ná vonnisoplegging).

Adv. Cloete, wat die aansoek teenstaan, is voorbereid. Hy vra die voog of hy weet die seun kan tot 25 jaar tronkstraf kry. Al wat die voog kan sê, is dat die seun moet voortgaan met skool. Adv. Cloete reken die seun kan in die tronk sy skoolwerk doen.

“Die moorde was beplan, voorbedag, en met opset. Die mees ernstige onder die reg. Jy was die heeltyd in die hof met die verhoor?”

“Ja.”

“Maar die seun het toegang gehad tot wapens in dié tyd?”

Die voog is onseker.

Adv. Cloete gee ’n foto van die seun aan die voog. Dis sy WhatsApp-­profielfoto. Hy poseer met ’n jaggeweer by ’n dooie blesbok.

“Wat van dié foto? Hier is die seun ’n paar weke gelede afgeneem toe hy gaan jag het. Is dit nie onverantwoordelik van jou nie? Het jy hiervan geweet?”

“Die seun het nie toegang tot wapens nie. As ’n oupa is ek baie ver­antwoordelik. Ek weet nie wie die foto geneem het nie.”

Die voog is duidelik onkant gevang deur die foto en die implika­sies daarvan.

“U het geweet van al die ernstige aanklagte. Maar jy weet nie van die foto nie? U weet nie eers hy het ’n geweer gehad weke gelede nie. Lyk vir my soos swaarkaliber.”

Adv. Cloete vervolg en sê al wat die voog kan sê, is dat die seun moet nou skoolgaan.

“Hy is ontneem om by ’n normale skool te wees,” antwoord die voog. “Hy het nou ’n familie en kry berading. Daar gaan dalk ’n lang vonnis wees. Ons sal alles doen om hom nie te laat val nie.”

Adv. Cloete sê buitengewone omstandighede moenie oorskat word nie. Dit is nie so buitengewoon dat hy ’n kind is nie … 

“Dit gaan my verstand te bowe, net soos in Augustus 2012, dat alles moet aangaan soos voorheen. Dat die kind so gemaklik en gerieflik soos voorheen moet wees.”

Dit moet, sê die voog.

“Jy is subjektief.”

Die volgende getuie is Andries Kleingeld, ’n onderwyser wat die seun met klaswerk gehelp het. Hy is steeds bereid om dit te doen.

Adv. Cloete handig net ’n verklaring van kol. De Waal in. Dit gaan oor hoe die seun in die tronk met skoolwerk kan voortgaan. Op sy beurt haal Riaan Bode wetgewing aan oor hoe kinders aangehou moet word. Hy verwys ook na die seun se borgtogaansoek in die Griekwa­stad-landdroshof waarin die landdros hom misgis het met die toepas­sing van wetgewing.

Regter Kgomo sê dit pla hom dat hy nie die seun ken nie.

“Hy was gevoelloos in die hof. Miskien sal ek hom beter ken ná al die verslae. Die foto laat my gril, die feit dat hy ’n wapen hanteer en geskiet het. As ek na die getuienis kyk, moet my benadering anders wees as in die eerste borgtogaansoek.”

Die voog praat met sy eie seun. Hy lyk bekommerd. 

“Die veronderstelling van onskuld is nie meer van toepassing nie.”

Regter Kgomo sê dit lyk of die seun die wapen sonder toestemming gehad het.

“Dit lyk nie of hy ooit berou oor die moorde toon nie. Hy gaan nooit vertel wat gebeur het nie.”

Adv. Cloete sê hulle gaan vir ’n swaar straf vra.

Regter Kgomo vra aan adv. Cloete: “Hoe goed ken u die seun?”

“Hy is ’n koelbloedige moordenaar. Al wat u moet weet, is dat hy die Steenkamps uitgewis het. Kyk na die manier hoe hy dit gedoen het. Nou het hy steeds toegang tot wapens. Daar is die foto’s. Dit kan nie in belang van geregtigheid wees nie. Ek versoek dat hy nie borgtog kry nie. Streng borgwaardes gaan nie werk nie. Hy kan nie kort-­kort by die polisiekantoor aanmeld nie. Die voog se wapens kan ook nie gekonfiskeer word nie.” 

Die seun byt op sy lippe.

Die regter vra dat hy moet opstaan.

“Ek gaan borgtog nie toestaan nie. Die seun gaan ook nie na ’n plek van veilige aanhouding nie. Hy sal na die gevangenis gaan.”

Die seun is woedend. Hy slaan rooi in sy gesig uit, en draai na die voog en dié se gesinslede. Een knipoog vir hom. Soos vroeër vandag word hy weer na onder, na die selle, geneem.

Hy sal nie gou weer terugkeer nie …

* * *

Die verhoor word uitgestel tot Mei 2014, van die 13de tot die 16de, vir voorvonnisverslae. Regterpresident Kgomo sal daaroor besin voordat hy vonnis oplê. As die seun ná vonnisoplegging appèl teen die uitspraak en/of vonnis wil aanteken, sal hy by regter Kgomo aansoek om verlof tot appèl moet doen.

Die verdediging sal moet aanvoer hoekom hulle meen ’n ander hof sal met dieselfde feite tot ’n ander beslissing kom of dat regter Kgomo ’n regsbeginsel verkeerdelik toegepas het. As verlof tot appèl toegestaan word, kan die seun na óf ’n volbank van die hoogge­regs­hof óf die appèlhof appelleer. Indien verlof tot appèl geweier word, kan hy ’n peti­sie stuur na die regterpresident om verlof tot appèl (ook regter Kgomo).

Die media sal moontlik aansoek by regter Kgomo moet doen om die kind se identiteit bekend te maak wanneer hy in Augustus 2014 18 word.