Twaalf

2020

Saterdag 14 Maart

Vywerbaai

Marilyn

Sy het waaragtig vergeet om haar witwyn betyds in die yskas te sit. En nou is die verdomde krag weer af. En die krag was nie lank genoeg aan om ys te maak nadat sy vanoggend die ysbakkies vol water gemaak het nie.

Shit!

Dan maar rooiwyn, al drink sy dit net by uitsondering. Leah het vir haar ’n kissie van ses bottels gegee toe sy hier oorgebly het ná hulle Valentynsdagete. Sy haal een uit. Kleine Zalze Cabernet Sauvignon, Vineyard Selection, 2017, lees sy op die elegante swart etiket. Volgens Leah het dit vyf sterre in die John Platter-wyngids gekry.

Eintlik is dit vermors op haar. Corali ken haar rooiwyne. Voor Thomas weer ná twintig jaar teruggekom het in Corali se lewe, sou sy haar nou dadelik gebel het. Gesê het sy moet kom saamdrink en haar vertel van die neus en die smaak en wat nog. Sommer opgevang het met alles wat op Vywerbaai aangaan ook. Maar sy sal waarskynlik vir Thomas saambring. En so mal as wat Marilyn oor Thomas is, is dit net nie dieselfde as hy by is nie.

Dieselfde geld Lira en Mirre. Al drie die meisiekinders lei nou ander lewens as voor hulle liefdesake uitgewerk het. Nie dat sy hulle dit misgun nie, maar sy voel deesdae soos ’n vyfde wiel aan die wa. Sy wil hulle nie pla nie. Hulle het al drie so baie projekte en dinge waaraan sy nie deel het nie.

En dan is daar nog die Covid-gemors ook.

Anna is seker ’n opsie, maar sy drink nie rooiwyn nie. Sy is seker ook te besig noudat sy kallers uit putte moet red met die skool wat gesluit is. Al is dit Saterdag. En Leah sit in Stellenbosch.

Met ’n sug maak sy die wyn oop.

Die enigste vriendin wat sy op hierdie oomblik kan optower terwyl die wyn asemhaal, is Miss Google.

H’m. Dit het in 2019 goud gekry by die Michelangelo International Wine & Spirits Awards, sien sy.

A very classic Stellenbosch Cabernet. The bouquet is a typical one filled with layers of dark fruits and just the slightest hint of herbaceous freshness. A dense palate which is packed with svelte tannins that are beautifully balanced by the cassis and blackberry fruit notes which linger seductively on the back palate. This wine combines the best of new world fruit and old world elegance!

Wat de donner dit ook al alles beteken. En biedêm met asemhaal. Sy skink haar glas ongeskik vol en gaan sit in haar gunstelingstoel van waar sy die see kan sien.

Nou toe. Sy neem ’n slukkie en rol dit in haar mond rond. H’m. Nie sleg nie. Miskien sou sy meer van die kompleksiteit verstaan en waardeer het as Paul haar destyds wel meer van wyn geleer het soos hy daardie aand belowe het.

Maar nou het hy nie. Al wat hy gedoen het, is om haar ... Nee, sy wil nie aan daardie aand dink nie.

Die herinneringe steur hulle egter nie aan wat sy wil nie, spoel net onkeerbaar terug.

1976

Vrydag 12 Maart

Potchefstroom

Maria

Hulle gesels land en sand dwarsdeur die ete. Vergeet van die tyd tot Paul net ná tien verskrik op sy horlosie kyk.

In die Morris is hulle egter albei stil.

Sy wens die aand kon dubbel so lank geduur het. Sy kan haar verkyk aan die gleufie in sy wang wat so kan duikel as hy lag. Aan die manier waarop hy met sy hande beduie. Hande wat vir haar so mooi is. Soos sy glimlag. Sy oë. Die baie effense duikie in sy ken.

En nou is die aand verby. Iets wat nooit weer herhaal sal kan word nie.

Sy kyk verras na Paul toe hy kort nadat hulle in Postmastraat ingedraai het onder ’n reuseboom stilhou. ’n Straatlamp se lig sif deur die blare.

Hy sluit die enjin af en draai na haar toe. “Maria, ek het lanklaas ’n aand so geniet.” Sy stem is grinterig.

Sy laat sak haar blik. “Ek ook, Paul,” erken sy. Maar eintlik is dit nie waar nie. Sy het nog nooit ’n aand so geniet nie.

“Maria ...”

Sy kyk weer op.

Hy leun oor na haar toe. “Gaan jy my verskriklik kwalik neem as ek jou soen?”

Sy kyk hom ’n oomblik verstar aan. Skud haar kop.

Sy hand vou om haar wang, sy gesig kom nader. Sy lippe is sag en tog ook ferm. Aanvanklik is dit net ’n langerige toemondsoen voor hy haar met ’n kreun teen hom vastrek en regtig soen. Iets ontplof in haar lyf. Die tinteling wat Awie se soene in haar ontlok, is niks teen hierdie verwoestende aanslag op haar sinne nie.

Maria snak na haar asem, die soen verdiep. Sy beland in ’n kaleidoskoop van emosies en gewaarwordinge. Dis asof sy soos Doringrosie lank geslaap het en nou wakker geskud word. En sy weet sy kan nooit weer teruggaan na die onskuld van slaap nie. Nooit weer onervaar wat sy op die oomblik in Paul se arms ervaar nie.

Êrens gee ’n kerkklok ’n enkele lui.

Halfelf! kom die besef van ver af. Aspoestertjie het ten minste tot middernag gehad, maar Maria Marais moet halfelf tuis wees as sy nie wil hê Armageddon moet losbars nie.

“Paul!” roep sy uit.

Hy lig sy mond uit haar nek, kyk haar met beswymelde oë aan.

“Dis halfelf,” fluister sy.

Dit lyk asof hy ook van ’n ver plek af terugkom. “Shit!” Hy vee deur sy hare en skakel die Morris aan. “Sorrie.”

Maria kam haar hare vinnig.

’n Minuut later hou hulle voor die huis stil net toe die deur oopgaan en haar pa in sy geruite kamerjas in die kosyn geraam staan, sy arms gevou.

2020

Saterdag 14 Maart

Stellenbosch

Paul

Hy het toe uiteindelik ’n bloubloed-Swartland-wyn gekies. Miskien omdat hy ná Sabine se truuks so effens opstandig voel jeens Stellenbosch en sy mense. ’n Leeuwenkuil, Heritage Syrah van 2017.

Dit behoort nou genoeg asemgehaal het. Hy skink ’n knertsie, skommel die glas en ruik. Speseryerig – fynbos, laventel, koljander. ’n Effense witpepergeur daaragter. Swartbessies.

Hy proe, laat rol dit oor sy tong, klits dit op in sy mond asof hy tandepasta uitspoel. Sluk langsaam. Bessies, ja. Baie bessies. En kruie. Tiemie. Bietjie boegoe.

’n Tipiese Swartlandwyn, maar ’n skitterende een.

Sou Maria ooit leer wyn proe het? Kon onderskei tussen ’n Swartlandwyn, een uit Stellenbosch of uit die Robertson-area? Deesdae ook die Overberg?

Of het sy ’n geheelonthouer soos haar pa geword?

1976

Vrydag 12 Maart

Potchefstroom

Paul

Donnerbliksemwetter! As haar pa hierdie enorme bult in sy broek sien, is daar moord.

“Ek kom maak vir jou oop,” sê hy hees toe sy haar hand na die deurhandvatsel uitsteek.

Hy dink aan dooie diere met maaiers wat aan hulle vreet terwyl hy omstap. Roep prentjies op van die binnegoed van platannas. Van kadawers. Teen die tyd dat hulle met die tuinpad en met stoeptrappe opgestap het, is daar darem al effense verligting.

“Naand, Professor,” groet hy.

“Julle het dit darem bitter fyn gesny, Avenant.”

“Ons het maar net lekker gesels, Professor.” Hy draai na Maria. “Dankie vir ’n heerlike aand. Ek hoop ons kan weer so maak?”

“Dankie vir jou, Paul. Ek het dit baie geniet. Ek sal graag wil as my pa instem.” Sy kyk na die professor.

“Ons sal sien.”

Paul steek sy hand uit. “Dankie vir die voorreg om u dogter vanaand te kon uitneem, Professor.”

Die man se handdruk is soos ’n slagyster wat toeslaan. “Volgende keer vóór halfelf, nè? Ás daar ’n volgende keer is.”

“Ek verstaan, Professor.” Sy hand pyn toe die man dit laat gaan.

“Geruste nag.” Die professor stuur Maria na binne en die laaste wat Paul van Maria sien, is die verskonende blik toe sy oor haar skouer kyk.

Paul stap terug kar toe. Hy trek weg, maar ’n blok verder hou hy weer stil.

Liewe hel! Wat het hy nóú aangevang? Sy broer se meisie gevry tot hy byna beheer verloor het. Én haar weer uitgevra. Hy wat met Gretha uitgaan. Hy wat nie ’n donnerse sent het om op ’n meisie uit te gee nie. Hy wat nog met sy broer se beursie in sy sak sit. ’n Broer wat hy in die oë gaan moet kyk.

Maar Awie verdien haar nie. Haar oë het darem sekerlik vanaand oopgegaan? Sy sal tog sekerlik insien watse kaliber skarminkel Awie is?

Maar wat sê hy vir Gretha? Sorrie, maar ek het in die bestek van ’n paar uur smoorverlief geraak op my broer se meisie? En ek wil haar veel beter leer ken? Ek dink sy kan “die een” wees en wil graag uitvind of sy is? Of sy dalk dieselfde voel?

En Awie is dalk ’n skarminkel, maar hy bly sy broer. ’n Mens vry nie jou broer se meisie af nie. Jy mag nie ’n ander se vrou begeer nie. Of sy diensmaagd. Of sy os of sy esel nie. En beslis ook nie sy meisie nie. En ’n broer is meer van ’n naaste as enigiemand anders.

Hy klem die stuurwiel met albei hande vas, laat sak sy kop tot op die bokant daarvan. Stamp sy kop drie keer hard daarteen. Onnosel, onnosel, onnosel. En nog drie keer. Sot, sot, sot.