2020
Woensdag 18 Maart
Vywerbaai
Marilyn
Ses dae sedert haar en Anna se gesprek en dis asof hulle à la Alice deur ’n erdvarkgat geval en in ’n ander dimensie beland het. Een waar die president met ongekende somberheid die strengste moontlike maatreëls afgekondig het om die pandemie te probeer beperk.
Die skole word vandag gesluit. Geen byeenkoms van meer as ’n honderd mense word toegelaat nie. Bye-bye KKNK, Suidoosterfees, Franschhoek Literary Fair en omtrent elke liewe vorm van vermaak. Die Epic, Twee Oseane, die ZCC-saamtrek, noem maar op, bly ook in die slag. Selfs troues word afgestel of uitgestel. En boonop is Mirre se kookboek nou op die ys gesit aangesien die foto’s nie geneem kan word nie.
Dis asof die hele wêreld in ’n Dean Koontz-boek beland het.
’n Nuwe wêreld waarin paniekaankope gister met mening posgevat het. Selfs hier op Vywerbaai is daar nêrens ’n enkele bottel alkoholgebaseerde handreiniger oor nie. Ook nie op Vogelbaai nie.
Op Netwerk24 is foto’s en video’s van die pandemonium in groot afdelingswinkels. Mense wag twee ure in die ry na die kassiere. Meer as ’n honderd mense op ’n slag, sekerlik.
Hier is die impak minder, maar tog is daar besluite wat geneem moet word.
Corali en Thomas het besluit om voorlopig werk aan die galery te staak.
Boeta bou op sy eentjie nog voort aan sy en Mirre se nuwe huis langs Fynn-hulle, maar by die ontwikkeling in Vogelbaai het die bouwerk reeds tot stilstand gekom.
Vanaand koukus die meisiekinders of hulle die Vywervrou naweke gesluit moet hou. En dit net voor die Menseregte-langnaweek. Vir haar is reeds gesê sy is persona non grata by die Vywervrou om haar te beskerm.
Twee dinge gee haar ’n bietjie moed. Fynn en Lira is so gesond soos kan kom en beurtkrag is eers afgeskaal en toe tydelik opgehef. Met die klem op tydelik, maar nietemin.
Die probleem met te veel tyd op hande hê en te min plekke om heen te gaan, is dat haar gedagtes al hoe meer terugneuk na die verlede.
Sy droom ook al hoe meer oor mense uit daardie vergange tye. Paul. Awie. Selfs Geerts. Nee, nie selfs nie, natuurlik Geerts. As dit nie vir hom was nie ...
Daar is soveel dinge waaraan sy al vir meer as veertig jaar weier om te dink. Werklik te dink. Selfs aan Margie, haar sielkundige, het sy bloot die feite verskaf. Nie grondig daarop ingegaan nie. En nou borrel alles deur wat aanvanklik net ’n gaatjie in die dyk was. Bedags as herinneringe, snags as drome.
Dis behoorlik asof die virus die sleutel is wat die deur na die verlede oopgesluit het. ’n Deur wat weier om hom weer te laat toesluit.
Ouderdom speel egter seker ook ’n rol. Vandat sy die groot ses geslaan het, besef sy al hoe meer dat sestig die hek na bejaardheid is. Dat haar lewe vorentoe aansienlik korter is as agtertoe. Natuurlik weet mens dit voor jy sestig word, maar dis asof jy dit nie besef voor die klok twaalfuur slaan nie. En daardie slag boul jou om. Laat mens terugdink aan wat agter jou lê. En wonder oor wat moontlik nog voorlê.
En nou kan ’n donnerse virus selfs daardie bietjie tyd wat oor is, drasties laat inkrimp.
Wil sy na haar graf gaan met soveel leuens op haar gewete? Wil sy haar aardse lewe aflê sonder dat sy Fynn die waarheid vertel? Sonder dat sy weet waarom Paul haar sewe jaar gelede, vyf en dertig jaar nadat sy hom die laaste keer gesien het, daar in die lughawegebou met soveel minagting aangekyk het?
1976
Saterdag 20 Maart
Potchefstroom
Maria
Sy weet nie wat om daarvan te dink dat sy nog nie weer van Paul gehoor het nie. Ook nie van Awie nie, maar sy stilswye hinder haar nie. Sy wil verkieslik nooit weer iets met hom te doen hê nie. Veral nie noudat sy weet hoe ’n man veronderstel is om ’n meisie te behandel nie.
Maar sy sukkel om te verwerk dat Paul sonder ’n verdere boe of ba in die niet verdwyn het. Het hy dit nie bedoel toe hy gesê het hy wil haar weer uitneem nie? Wil haar meer van wyn leer? Het daardie soen vir hom niks beteken nie? Het dit nie in hom ook wonderlike sensasies wakker gemaak nie?
’n Hele week het verbygegaan asof in ’n waas gehul. Sy het klas gedraf, werkstukke ingehandig, met mense gesels en tog is dit asof daar ’n dik glasmuur tussen haar en die wêreld is.
Al waaraan sy kan dink, is die aand saam met Paul. Aan Paul. Aan Paul se soen. En aan sy woorde. Ek sal graag weer so wil maak.
En toe gebeur niks nie.
Dit maak seerder as wat sy gedink het enigiets kan maak. Vir dae al draal Eric Carmen se “All by myself” in haar kop. Veral die refrein het ’n oorwurm geword. “Don’t wanna be all by myself anymore.”
Maar sy wil ook nie by enigiemand anders as Paul wees nie. Hoe dit gebeur het, weet sy wraggies nie. Awie is net ’n herinnering. ’n Aangename herinnering wat bederf is deur die laaste twee keer wat sy hom gesien het.
Hoe sy ooit kon dink hy is die man van haar drome, kan sy nie nou begryp nie. Sy soene het wel sensuele sensasies in haar laat ontwaak, maar dis Paul wat die vrou in haar uit haar diep slaap van onskuld wakker geskud het.
Sy sit met verlangens wat sy skaars verstaan. Behoeftes wat sy nog glad nie begryp nie. Al wat sy weet, is dat sy by Paul wil wees. Sy arms om haar wil voel. Na sy diep stem wil luister. Die slootjie in sy wang wil dophou terwyl hy praat en ’n kuiltjie word wanneer hy glimlag.
Sy wil sy hand om hare voel vou. Die gewig van sy arm om haar skouers voel. Sy mond weer op hare. Sy vingers in haar hare. Sy wil hom weer sag hoor kreun. Weer sy oë sien verdonker, amper koorsig raak.
Die feit dat hy haar nie weer gekontak het nie, beteken net een ding. Hy het spyt oor hulle aand saam en is terug by Gretha. Of kan dit dalk beteken dat hy haar heimlik sit en uitlag omdat sy maklike prooi was? Nee, dit kan sy nie van Paul glo nie.
Maar kyk hoe het sy haar met Awie misgis.
Verskeurd, dis hoe sy voel. Gedisoriënteerd. Pendelende tussen die hemel van herinneringe aan daardie aand en die hel van nie weet wat aangaan nie.
2020
Woensdag 18 Maart
Stellenbosch
Paul
Leah de Wit is nie heeltemal so vreesaanjaend as wat hy gedink het nie. Sy luister stilweg na sy weergawe van die saak.
“En wat is u bereid om aan te bied?” vra sy heel kalm toe hy klaar gepraat het.
“Waar Sabine kan bewys lewer van uitgawes wat direk op die troue, die onthaal self betrekking het, sal ek haar daarvoor vergoed, maar nie vir ander aankope nie. Ek sal haar motor klaar betaal en ’n miljoen rand bewillig vir verblyf.”
“Dit sal nie eens genoeg wees vir ’n deposito op haar huidige meenthuis nie,” protesteer Leah.
“Natuurlik nie, maar saam met die motor en die verloofring, reken ek dis ruim vergoeding ná drie jaar. En dit is sy wat die verlowing verbreek het, nie ek nie.”
Leah skud haar kop. “Ek sal Sabine inlig, maar ek sal haar nie aanraai om jou aanbod te aanvaar nie.”
“Dit is nie ’n goeie tyd om mense te druk nie, mevrou De Wit. Ons leef midde-in ’n pandemie. Dit gaan nie ’n maklike jaar wees nie. Die meeste van my beleggings is in aandele. Ek reken ek is reeds net driekwart soveel werd as ’n paar maande gelede. Hoe gouer Sabine my aanbod aanvaar, hoe minder kans is daar dat ek selfs dit nie meer sal kan bekostig nie.”
“Jy het by Drieka de Villiers geërf, doktor Avenant, en ons almal weet die De Villiers’s staan nie ver agter die Ruperts en Hertzogs nie. Ek dink nie dit sal slim wees om armoede by my te pleit nie.”
“Ek pleit nie armoede nie. Ek is net nie so welaf soos Sabine, en klaarblyklik die res van Stellenbosch, dink nie. Die huis is in ’n familietrust soos die meeste van die De Villiers’s se bates. Ek het nie by my vrou geërf nie, ek kry net die dividende van sekere aandele en die helfte van die opbrengs van die gastehuis. Eulalie wat die gastehuis bestuur, kry die ander helfte. En nou moet die gastehuis vir wie weet hoe lank toemaak. Ek sal Eulalie moet onderhou. Dis net regverdig. En ek tree einde April af by my werk. My inkomste sal dus drasties verminder. Gooi dit saam in die hutspot waar Covid-19 aan die prut is, en dit is duidelik dat Sabine haar gelukkig kan ag. En terloops, ek soek die stel huissleutels wat sy in haar besit het terug. Sy kan dit by die sekuriteitsfirma gaan ingee.”
“Ek sal dit so aan haar oordra.” Leah de Wit se lippe is styf toe sy hom groet.
Hy is beslis nie ’n uitsondering op haar lys van mans wat sy haat nie, besef hy terwyl hy terugstap huis toe.
Tog verstaan hy dat vroue soms, dalk dikwels, rede het om mans te haat.
1976
Saterdag 20 Maart
Potchefstroom
Paul
Die biblioteek is stil. Nie net wat geluide betref nie, daar is ook min studente.
Hy sit met boeke voor hom uitgesprei, maar die eksamenblokblad voor hom is leeg en sy pen is bewegingloos in sy hand.
Dis asof sy binneste by die dag rouer raak. Asof sy gesonde verstand in spinnekopwebbe toegespin is. Sy brein ’n afsluitingsfunksie bereik het. Hy in ’n dwaal is.
Al waaraan hy die hele week kon dink, is Maria. Is hy wreed om haar nie te kontak nie? Of is sy dalk heimlik verlig dat hy nie haar lewe verder kompliseer nie?
Dink sy ooit terug aan daardie deurmekaar, maar wonderlike aand?
Vir hom is dit asof hy die agt dae sedertdien in ’n beswyming deurgebring het. ’n Beswyming waar die werklikheid in ’n ander dimensie gebeur. Al wat hy regtig voel en ervaar, is die verlange na Maria. Maar dit kan tog nie.
Vir Awie het hy sover moontlik vermy en hy dink Awie vir hom ook. Die paar keer wat hulle mekaar wel in die kommune raakgeloop het, het Awie hom met ’n bedonderde uitdrukking op sy gesig geïgnoreer.
Gretha is kil, duidelik nie in haar noppies met hom nie, al het hy weer om verskoning gevra dat hy die aand vir haar bederf het. Vergifnis kom klaarblyklik nie vir haar maklik nie. Dis nogal ’n nuwe sy van haar wat hy nou ontdek. Maar kan hy haar kwalik neem? As sy moet weet wat onder daardie boom gebeur het, het sy hom sweerlik gelos. Met goeie rede.
Die feit dat hy vir haar lieg deur haar nie te vertel nie, vreet aan hom, maar dit kan tog niks goeds afgee as hy haar wel vertel nie. Dit sal haar oneindig seermaak. En niks vir enigiemand beter maak nie.
Hy kyk op sy horlosie. Hy kan maar net so wel oppak al het hy nog net mooi niks uitgerig nie.
Maria bly die botoon in sy gedagtes voer terwyl hy terugry huis toe. Die drang om haar te kontak raak daagliks net al sterker, maar hy moet realisties wees. Waarop sal dit uitloop?
Hy sal ’n einde aan sy verhouding met Gretha moet maak. Sy gaan seerkry, hom heel moontlik haat.
Hy en Awie sal waarskynlik vir die res van hulle lewe vyande wees.
En dit om net nog een keer met Maria uit te gaan? Want meer sal daar seker nie wees nie. Hy kan dit net eenvoudig nie bekostig nie. Nie finansieel nie en ook nie wat sy studie betref nie. Sy studie moet op die oomblik vir hom hoofsaak wees.
Boonop is sy ’n eerstejaar. Nog nie eens negentien nie. Hoe kan hy haar vra om haar universiteitsjare deur te bring in afwagting dat hy klaar studeer en dan eers al sy banklenings terugbetaal voor hulle daaraan kan dink om bymekaar te wees?
Met Gretha is dit anders. Sy is prakties. ’n Pragmatis van formaat eintlik. En hulle swot saam. Weet wat dit verg. Is klankborde vir mekaar. Help mekaar oor en weer.
Dit moet sy verstand en sy lyf wees wat in stryd is met mekaar. Dit kan immers nie sy hart wees nie. Nie ná twee vlugtige ontmoetings en een aand uit nie. ’n Hart is sekerlik nie so onnosel nie.
2020
Vrydag 20 Maart
Vywerbaai
Marilyn
Skok trek deur Marilyn toe sy sien die getalle van Covid-19-positiewe gevalle stap nou reeds aan na ’n kwartmiljoen mense wêreldwyd. Tweehonderd en twee mense in Suid-Afrika klink soos ’n druppel in die emmer, maar dit het maar pas eers hier posgevat.
Die gelui van haar foon onderbreek genadiglik haar swartgallige gedagtes.
“Marilyn, dis Leah. Groot guns, maar jy kan nee sê.”
“Vra maar?”
“Ek sluit die praktyk se kantore vandag. Ek sal mal word as ek alleen in daardie meenthuis van my moet bly en inperking is ons voorland. Dit het ek van ’n betroubare bron verneem. Kan ek by jou kom afpak tot hierdie gekkespul verby is?”
“Natuurlik.” Leah het in Desember vir twee weke hier gebly en hulle kom goed oor die weg omdat hulle mekaar se persoonlike ruimte respekteer. En haar huis is groot genoeg om dit te kan doen. “Solank jy nie die virus saamdra nie.”
“Jy kan my koors drie keer ’n dag meet. Maar die kanse is baie gering. Het my personeel laas Vrydag al huis toe gestuur en die enigste twee kliënte wat ek gesien het, was gemasker, gesaniteer en het nooit nader as twee meter van my af gekom nie. Ek was die hele week hoofsaaklik besig met administrasie en voorbereiding vir ’n saak wat vanoggend teruggetrek is. Die vrou het besluit sy gaan eers ’n bietjie wag noudat die man se aandele en ander bates soveel minder werd is.” Leah gee ’n siniese laggie. “Ou bok, jongerige blaar. Wanneer gaan mense leer dit werk nie?”
“Nietemin ’n wyse vrou wat omsien na haar belange.”
“Nie regtig nie. Sy het anyway ’n te groot stuk uit die appel probeer hap. Maar dis haar probleem. Waar was ons?”
“Jy kom hierheen. Wanneer?”
“Vanaand?”
“Honderd persent. Ek maak solank jou bed op en kry genoeg wyn koud. Bring net kos saam. En sanitizer. En wyn. Baie wyn. Kiste, nè. En as jy van my soort sigarette kan kry, minstens twee kartonne. Ek maak later met jou reg.”
“Nie toiletpapier nie?”
Marilyn rol haar oë. “Tensy jy diarree het, nee.”
Leah gee ’n krakerige laggie. “Sal kyk wat ek in die leë rakke kan opspoor wat vars is, en my koskaste raid vir nie-bederfbare goed.”
“Raait.” Marilyn huiwer ’n oomblik. “Ek wonder nou net, as daar inperking kom, dink jy ons moet Anna vra om ook hier in te trek? Sy werk ook stoksielalleen van haar woonstel af.”
“Hoe meer siele, hoe meer vreugde, maar moenie dink ek weet nie waar daardie voorstel vandaan kom nie.”
“Suiwer medemenslikheid,” grinnik Marilyn.
“Ja, ek glo jou. Die feit dat Anna soos ’n droom kook en van nature ’n opruimer is en jy maar redelik useless is in albei departemente, het sekerlik niks daarmee te doen nie.”
Marilyn lag. “Ciao. Sien jou later. Mooi ry.”
Natuurlik is Leah se beskuldiging nie ver van die waarheid af nie, maar dit maak tog sin dat hulle drie voorlopig saambly. Hulle is al drie oor sestig en dus in die gevaargroep. Hoekom sal hulle in elk geval elkeen alleen op hulle mishopies wil sit en kyk hoe die wêreld onherkenbaar verander? Elkeen alleen sorg vir ete en drinke?
Anna sal ook nie sommer net alles alleen doen nie, sy is goed met delegeer. Hulle kan beurte maak met alles wat gedoen moet word noudat huishulpe moet tuis bly. En haar huis is die ruimste. Vier en suite-kamers. Drie met hulle eie sithoekies. En daar is die binnehof met die swembad wat privaat is.
Dit sal so lekker wees om ten minste geselskap te hê. Sy voel al soos ’n uil op ’n kluit.
Marilyn druk die sigaret wat sy nie kan onthou sy aangesteek het nie dood en bel Anna.
“Ek moet net eers toesien dat die mense wat die skool en pendelbussie oor die naweek kom ontsmet hulle ding behoorlik doen. Maandag is ek daar,” stem Anna dadelik in toe Marilyn haar saak gestel het. “Ek sal rasend raak as ek dagin en daguit alleen in my woonstel moet bly.”
“Dan is die saak reg.” Die saak is op een manier reg, weet sy toe sy aflui, maar niks sal ooit weer ná hierdie pandemie reg wees nie. Nie op die manier waarop dinge in die verlede reg was nie. Al was so baie toe verkeerd.
1976
Vrydag 26 Maart
Potchefstroom
Maria
Nog ’n week waarin sy niks van enigeen van die Avenant-broers gehoor het nie.
Wel, sy is nie verleë oor een van die twee nie. Hulle kan albei gaan doppies blaas. Sy het vanmiddag ná klas gaan koffie drink saam met die ou wat, die dag toe sy laat was vir Deysel se klas, die pen vir haar geleen het.
Gideon is heel gaaf. Aantreklik op sy manier. Het sy eie ryding en daarom kon hulle dorp toe gaan. Hy hou van tennis en swem. Sy pa is ’n ingenieur en sy ma ’n bibliotekaresse. Hulle woon in Randburg en het ’n strandwoonstel in Margate waarheen hulle vakansies gaan. Hy het reeds sy diensplig voltooi en is ’n jaar ouer as sy.
Gideon wil ’n sielkundige word. Hulle kon lekker gesels oor Deysel en die ander Psigologie-profs.
En net toe hulle wou opstaan om uit te stap, kom die Hollander daar aan. Geerts, het sy gelukkig betyds sy naam onthou toe hy haar met ’n breë glimlag groet.
Wat haar weer aan Awie laat dink het. En aan Paul. Die vreemde ding is dat Awie se swye haar nie pla nie, sy sal net graag wil weet hoekom. Maar Paul vir wie sy nog net mooi drie keer gesien het ... Sy kan net eenvoudig nie ophou dink aan hom nie. Aan hoe spesiaal hy haar laat voel het. En natuurlik aan daardie soen.
Elke keer as sy met haar fiets onder die boom se takke deurry, kry sy rillings van lekkerkry by die herinnering. En nie net daar nie. ’n Eienaardige bewerasie trek deur haar as sy net aan Paul dink. Wat hopeloos te gereeld gebeur. Al voel sy soos ’n idioot dat hy haar net so sonder boodskap of verskoning kon afskryf.
Sy skaam haar dood as hy moet uitvind sy het hom geglo toe hy gesê het hy wil haar weer uitneem. En sy skaam haar morsdood as hy moet weet sy lê snags en verlang na hom met ’n hunkering wat amper pynlik is.