Veertien

2020

Saterdag 21 Maart

Stellenbosch

Paul

Drieka se huis is so ver moontlik beveilig vir lank toestaan. Die gastehuis se kansellasies en terugbetalings afgehandel. Dit het hom ’n aardige bedraggie uit die sak gejaag, maar nou kan hy ten minste met ’n geruste hart hier weggaan en weet hy skuld niemand enigiets nie.

Alles is gepak, reg om te ry. Die sleepwaentjie tot boordens toe vol wyn en niebederfbare goed. Môre laai hy net sy badkamersakkie, die honde en katte in die Fortuner en vat die pad Suiderbaai toe. In Stellenbosch wil hy nie nou wees nie. Veral nie met Sabine ook hier nie.

Van haar of Leah de Wit het hy nog niks weer gehoor nie, maar hy neem aan die pandemie sal nou alles vertraag. Hy hoef sekerlik nie verslag te doen oor sy handel en wandel nie. Hulle kan hom per foon in die hande kry of hy hier of in Suiderbaai is. Intussen raak hy net minder en minder geld werd, maar dis hulle probleem.

Hy sien uit na sy tyd by die ongerepte stukkie kus wat hy gelukkig genoeg was om agt jaar gelede te bekom. Hy het behoefte aan seelug en ongekompliseerdheid. Gelukkig het hy opgehoopte verlof wat hy kon neem tot hy in elk geval einde April sou aftree.

Drieka was net twee keer vir ’n naweek saam met hom daar voor sy nie meer gemaklik was op langer ritte nie en hy het nog nooit langer as ’n week of twee op ’n slag daar deurgebring nie. Die paar naweke wat Sabine saam met hom daar was, was katastrofies.

Nou kan hy vir die eerste keer behoorlik gaan bestek opneem van wat alles daar gedoen moet word. Herstelwerk en onderhoud, maar ook op kosmetiese vlak. En hy wil tuinmaak. Wel, soveel tuin as wat mens in daardie omgewing kán maak. Struike sal gehard moet wees. Soutlug- en windbestand. Kruie behoort darem goed daar te doen en sukkulente behoort te floreer. Gelukkig het die vorige eienaars die fynbos grotendeels gelos soos dit is behalwe om te snoei vir uitsig. Dat daar waaragtig mense in die digter bewoonde deel is wat grasperke aanlê, gaan sy verstand te bowe. Dis nie die plek vir daardie soort watervreters nie en vir fyntuin nog minder.

Dis die plek waar die wind gebore word, is die gesegde daar rond. Die plek waar twee oseane bymekaarkom. Die plek van verwoestende storms. Daarvan getuig die wrakke van skepe wat oor die eeue heen daar in die onstuimige waters gesink het.

Dis ook die plek wat seker die naaste aan ongerep is wat mens deesdae nog kan bekom. Dis sy soort plek. Beslis nie Sabine se soort plek nie. Hy kan dit verstaan. Hy moes lankal besef het sy gaan nie daarvoor val nie. Maar miskien hét hy – êrens in sy onderbewussyn. Miskien het hy selfs geweet sy sal weier om daar te woon. Miskien het hy sy plekkie by die see gebruik om Sabine te manipuleer. Haar sover te kry om die verlowing te verbreek omdat hy te lafhartig was om dit te doen.

Dis nie ’n aangename gedagte nie, maar hy vermoed daar steek waarheid in daardie insig. Hy was nog altyd ’n lafaard wat vroue aanbetref.

1976

Vrydag 26 Maart

Potchefstroom

Paul

“... enigeen al ooit voor je gesê hoe ’n groot poephol jy is?” Geerts se dawerende stem bereik hom nog voor hy die kombuisdeur oopmaak.

Toe Paul instap, kyk nie Geerts of Awie op van waar hulle oorkant mekaar by die kombuistafel sit, elkeen met ’n Leeutjie in die hand, nie. Awie se blik is vasgepen op die Hollander, sy wange rooi van woede. Geerts sit terug in sy stoel, ’n uitdagende uitdrukking op sy gesig.

“Los my uit, Hollander.”

Paul draai sy rug op hulle en skakel die ketel aan.

“Met plezier. Nes Maria Marais, verkies ik beter geselschap, hoor.” Geerts bring ’n wind op. “Oulike mannetje saam met wie ek haar vandaag sien sit en koffie drink het. Je taktiek werkte toe niet, nè. Sy het je niet kom smeek om haar te vergewe dat ze durf te dineren met je broer.”

“Haar moer en joune ook. Ek het beter dinge om te doen as om ’n koue vis van ’n vroumens se gat te lek net omdat ek ’n dop of twee te veel ingehad het.”

Paul kyk oor sy skouer. Awie probeer nonchalant lyk, maar kry dit nie reg nie.

“Net omdat sy nie ’n hoertje is soos die meisje wat jy snags hier insmokkel nie, beteken niet dat Maria ’n koue vis is nie.”

“En hoe sal jy weet, jou perdevleisvreter?”

“Kry nou end, julle twee.” Geerts se getart is allesbehalwe goedig en dit kan net op ’n gefoeter uitloop soos hy Awie ken. Eintlik is hy verbaas dat dit nie reeds in ’n vuisswaaiery ontaard het nie. Awie se lont is kort. Miskien is dit die Hollander se grootte wat hom afskrik.

“Hou jou bek, Paul. Dis jy wat haar teen my laat draai het.” Daar is gif in Awie se stem.

Geerts se lyf sidder soos hy lag. “Jou broer red je gat en dan is dit sy skuld? Nu heeft ik alles gehoor.”

Awie spring op, keer nie eens toe die stoel omkletter nie en stoom na sy kamer toe.

“Pilsje, Paul?” vra Geerts doodrustig, breek een van die biere uit die sespak en hou dit na hom toe uit.

Paul huiwer. Hy moet nog swot vanmiddag. Hy neem dit tog. Dit is immers Vrydag. “Dankie.” Hy tel die stoel op en gaan sit. “Hoekom tart jy my broer so?”

Geerts gee ’n laggie. “Want hy word toch zo heerlik kwaad. En iemand moet de ventje op zijn imbesiliteit wys.”

“Wie is die meisie wat hy insmokkel?” Eintlik wil hy weet saam met wie Maria koffie gedrink het, maar dit het niks met hom uit te waai nie. Gretha het hom nog nie heeltemal oor daardie aand vergewe nie.

“Ene Lizelle. Stomme kind. Begryp niet dat sy bloot misbruik word.” Geerts druk die bierblik met een hand inmekaar en haal nog een uit. “Je vraagt niet naar Maria se metgesel?”

Paul kyk af na die verbleikte Panelyte-tafelblad. Kyk weer op. “Oukei, ek vra.”

“Hy stelde hom voor aan my als Gideon van Rensburg. Kan sommer zien de knaap is verlore vir die res van die Eva-geslacht. Hoe gaat dit met Gretha?”

“Goed. Wat my laat dink, ons skryf Maandag toets.” Hy kom regop. “Dankie vir die bier.”

“Paul?” keer Geerts net voor hy weer uitgaan.

“H’m?”

“Jou broer ís ’n poephol. Maria verdien veel beter. Maar jy is die grootste stommerik die ek ken. Die dag ná daardie aand ... ’n Blinde kon met ’n stok aanvoelde dat je smoorverliefd was. En ik glo dat dit steeds so is.”

“Ag, bog, man. Hoe sal jy weet?” Hy maak sy bier in ’n paar slukke klaar en mik deur toe.

“Ek is ’n waarnemer, Paul. Daardie dromerige, afwesige kyk in de oge spreek daarvan. Soos die manier waarop je horende doof en siende blind hier en op kampus ronddwaal. Soos de feit dat je je broer nu nog niet behoorlik in de oge kan kyk.”

Paul swaai terug en kyk af na die Hollander. “Geerts, as ek jou raad kan gee, hou jou neus uit ander mense se sake uit. Miskien is dit in Holland oukei om betrokke te raak by ander se liefde- en ander sake. Menings uit te spreek op grond van boggherol. Hier is dit nie.”

Geerts knik stadig op en af. “Dankie vir die raad en die kultuurlesje. Maar dit verander niets aan de feit dat je verzot is op Maria. En ik vermoed dat je terugstaan voor je poephol van ’n broer. Wat net met haar sal mors as hy weer die gelegenheid kry. Pas maar op dat jy niet te lank wag. Maria is eerste prys en daar is reeds ’n hele paar deelnemers in de stryd. Als ek dachte dat ek ’n kans staat, was ek ook in die ry, maar ik ben te oud en te Hollands voor iemand zo onschuldig en konserwatief als sy.” Hy gee weer sy laggie. “Om niet te praat van wat haar vader te sê sal hê als ’n selferkende ateïs hom om sy dogter se hand zullen vragen.”

Paul kan nie help om ook te lag nie. “Dit sal iets wees om te aanskou.”

Geerts knik. “En terwyl ek nou my smoel rek, je doen Gretha ook geen guns. Ook sy verdien beter als om tweede beste te wees.”

Paul gee hom net ’n skewe kyk voor hy die deur agter hom toetrek en buitekamer toe stap.

Bleddie Hollander. Hoe de hel gaan hy nou op sy werk gekonsentreer kry?

Nie net voel hy van nuuts af skuldig teenoor Gretha nie. Die bliksem het nou weer al die herinneringe aan Maria, die smagting na haar, wreed kom staan en losruk uit die plek waar hy dit so sorgvuldig probeer bêre het.