2020
Donderdag 26 Maart
Bredasdorp
Paul
Nie Maria of die vrou wat om hulp kom vra het, is êrens te sien toe Paul weer by die apteek uitstorm nie.
Hy sien wel die vrou wat saam met die een met die kleuter was waar sy vir die verkeer wag om oor die straat te stap, ’n selfoon teen haar oor. Hy drafstap na haar toe.
“Oukei. Ek is nou daar,” hoor hy haar sê net voor sy die straat oorsteek. Hy haal haar in toe sy haastig koers kies na die sentrum toe.
“Ekskuus?” probeer hy haar aandag trek.
Sy kyk op, herken hom klaarblyklik en gaan staan.
“Die vrou vir wie julle gehelp het, weet jy dalk in watter rigting sy geloop het?”
“Sy is by die Wimpy, Meneer. Ek moet haar netnou gaan roep wanneer Patricia se trollie vol is en sy derde van voor in die ry staan, Meneer.”
“Dankie.” Hy het vrede met hulle reëlings, hy wil net weet hoe hy haar in die vervolg kan vermy.
Hy stap haastig Wimpy toe. Hy laat sy hande spuit en kyk rond. Niemand met grys dreadlocks nie.
“Soek Meneer iemand?” vra die kelner.
Hy beskryf haar vlugtig.
“Rookafdeling, Meneer. Daar agter die glas.”
Sy sit in die hoek, sien hy toe hy die glasdeur oopmaak. Die reuk van rook hang swaar in die lug al is sy die enigste in die vertrekkie. Die vars rook pla hom nie, die reuk van ou rook, ’n reuk waarvan mens nooit heeltemal binnenshuis ontslae kan raak nie, wel.
Haar oë rek toe sy hom sien binnekom. Daardie oë. Plooitjies daar rondom, maar steeds daardie Sophia Loren-oë, net blou. Verder lyk sy tien jaar jonger as wat hy weet sy is.
Hy gaan sit oorkant haar, vou sy arms. “Marilyn Murray, sê jy?”
Sy trek net diep aan haar sigaret en blaas die rook die lug in.
“En wat de fok soek jy op Bredasdorp van alle plekke?”
“Ek dag jy stel nie belang nie.”
“Ek het my bedink. Ek sal moet weet as ons mekaar wil vermy.”
“Moenie bekommerd wees nie. Ek weet nou ek moet Bredasdorp vermy. Selfs ná die lockdown.”
“Ek bly nie in Bredasdorp nie. Ek het ’n huis in Suiderbaai. En ek wil weet waar jy bly. Net om seker te maak.”
Sy haal haar skouers traak-my-nieagtig op en druk haar sigaret dood. “No skin off my nose. Ek woon in Vywerbaai.”
Hy sit terug in sy stoel. “Van alle plekke, hoekom daar?”
Sy kyk hom so stip aan dat hy amper wegkyk. “Omdat my seun daar woon. En my kleindogter.”
Sy lig haar ken terwyl haar blik strak op hom bly. “My seun wat hierdie jaar twee en veertig word.” Sy druk haar sigarette in haar handsak, sit ’n noot onder die piering en skuif uit die bankie. “Maak jou eie somme, Paul Avenant.”
Sy is by die deur uit voor hy ’n woord kan uitkry.
Dit voel asof yswater deur sy are en elke bloedvat inpomp. Dis onmoontlik. Sy is na ’n huis vir ongehude moeders gestuur. Die kind sal aangeneem word. Dis wat haar pa gesê het. Dis wat hy al meer as vier dekades lank glo.
1978
Woensdag 22 Februarie
Potchefstroom
Paul
Hy wil amper omdraai toe hy sien Fred Vosloo staan in die kombuis ’n toebroodjie en maak. Hulle kry dit meesal reg om mekaar grotendeels te vermy en verder te ignoreer. Dit was nie eens moeilik nie. Fred slaap omtrent net hier – ook nie eens dikwels nie – en Paul kom self maar min in die huis. Hy eet selfs in sy kamer.
Die enigste ou met wie hy sou kon vriende maak, is Geerts, maar dié sien hy selde. Geerts het klaarblyklik besef persoonlike sake is taboe, dus bly dinge gemoedelik wanneer hulle mekaar wel raakloop. Merendeels gesels hulle oor Geerts se belangstelling in medisinale plante wat weer aansluit by Paul s’n in moderne geneesmiddele.
“Yes-ja,” groet Fred.
“Ek kom haal net my wasgoed uit die masjien.” Waarom hy verduidelik, weet nugter.
“Tu casa, mi casa.” Fred druk die toebroodjie plat en sny dit in twee. “By the way, die mooie Maria is glo nie meer ’n maagd nie.” Hy hap in die toebroodjie en begin oopmond kou.
Paul kry die plastiekmandjie van die rak af en buk by die wasmasjien se bek. Hy gaan hom moet inhou al kners hy so hard op sy tande dat sy kake daarvan pyn. Fred saai sekerlik net gif om hom terug te kry vir die opstopper van destyds.
“Gideon het glo Sondagoggend geblom en toe sy pel vra wat hom so gelukkig maak, was sy woorde: ‘Al wat ek kan sê, is my ballas is aansienlik ligter.’” Fred lag dat die krummels in alle rigtings spat.
Paul probeer die woede afsluk. Wat Maria doen, is haar eie saak en sy moet seker al twintig wees, maar wat de bliksem het dié Gideon gedink doen hy toe hy daardie uitspraak gemaak het? Dat varke soos Fred uitvind en haar deel van hulle vernederende gedagtes maak, is skreiend.
“Dit vat nie ’n Einstein om twee en twee bymekaar te tel nie.” Fred vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Daai broer van jou gaan kraam as hy dit hoor. Hy het sy plannetjies agtermekaar gehad om haar tot in sy bed te soft-soap voor hy army toe gaan.”
“Werklik?” Paul ys van binne. Daardie brief. Hy moes dit nooit vir Maria gegee het nie. Wat ook al daarin staan. Maar hy het en toe trek hy boonop kleinkoppie en vra iemand anders om dit vir haar te gee. Al wou hy haar hoe graag weer sien.
Dêmmit, hy moes eers die brief oopgestoom en gelees het, maar hy het aanvaar Awie wil regtig dinge tussen hom en Maria regmaak voor hy weggaan.
Hopelik sal Maria nie so onnosel wees om Awie weer te vertrou nie. Buitendien, sy en dié Gideon moet definitief ernstig oor mekaar wees as hulle bereid is om professor Joost Marais se toorn te trotseer indien hy sou uitvind sy dogter is nie so kuis soos hy van haar verwag om te wees nie.
Eintlik kan hy nie glo dat sy haar kon laat ompraat nie. Alhoewel, sy was baie passievol in sy arms. Jaloesie skiet soos ’n pyn deur hom. Spyt haal jaloesie in.
Fred se lag klink weer op toe Paul orent kom met die mandjie wasgoed. “Ek was toe reg, nè. Ek kon reeds op daardie kenmekaar sien sy is ’n warm enetjie.” Hy gee Paul ’n vermakerige kyk. “Jy kon jouself daardie poging tot ridderlikheid gerus gespaar het.”
Paul stap wasgoeddraad toe en hang sy handdoek, jeans en hemde op. Dit hou sy hande gelukkig besig genoeg sodat hy nie weer een beseer teen Fred se kaak voor sy woede bedaar het nie.
2020
Donderdag 26 Maart
Vywerbaai
Marilyn
Sy volg Patricia se aanwysings na haar woonplek in ’n beswyming en is steeds in ’n beswyming toe dié haar met trane in die oë vir die soveelste keer bedank nadat sy die horde supermarksakke uitgelaai het.
Uiteindelik ry Marilyn in dieselfde beswyming daar weg, Vywerbaai toe.
“Marilyn? Is jy siek of wat? Jy is lykbleek,” begroet Anna haar bekommerd.
Leah kyk op van waar sy aartappels aan die skil is. Sy sit die skiller haastig neer en vee haar hande aan ’n vadoek af. “Marilyn?”
“Net ’n hoofpyn,” mompel sy en is op met die trap na haar kamer voor hulle enigiets verder kan sê. Hulle moet maar self daaraan dink dat daar goed in haar kattebak sal wees.
Sy pluk die gordyne toe en gaan lê op die bed. Miskien is sy op pad om “die real thing” te kry. Sy voel naar en bewerig. ’n Hoofpyn dawer inderdaad deur haar kop.
Beroerte. Sê nou sy gaan dood?
Eintlik sal dit op hierdie tydstip oukei wees, dan spring sy hierdie Covid-gemors vry. Hoef sy nooit weer vir Paul te sien nie? Maar sê nou sy gaan nie dood nie en word ’n vegetable? Of raak verlam?
Sy maak haar oë toe en dwing haarself om diep uit haar diafragma asem te haal. In en uit. In en uit.
1978
Vrydag 24 Februarie
Potchefstroom
Maria
Sy kan nie glo Paul en Awie bly nog al die tyd in so ’n aaklige plek nie. Dit lyk asof iemand begin verbou het, toe moeg geraak en alles net so gelos het. Die tuin is ’n woesteny en die stoep toe onder die stof en besaai van blare.
Die vensters kyk al drie blind na haar – toegeverf. Spaar seker gordyne.
Maria klop huiwerig aan. Dit lyk nie of daar lewe is nie. Sy hoor ook nie stemme of voetstappe nie. Sy klop weer, harder dié keer.
Een van die vensters, ’n hele ent regs van die voordeur, kraak oop. “Die deur is nie gesluit nie, dêmmit.” Die volmaangesig van een van Awie se pelle loer uit. Doepie, as sy reg onthou.
“O, dis jy.” Hy kyk haar op en af en grinnik. “Awie is in sy kamer. Hy slaap seker weer sy roes af. Gaan maar net in. Eerste deur links in die gang.”
Sy roes? Hy het belowe hy sal nugter wees. As hy slaap of enigsins onder die invloed lyk, draai sy net daar om, neem sy haar voor toe sy by die voordeur ingaan.
Die deur links is toe. Regs is nog ’n deur. Oop. Fred Vosloo lê op sy bed en rook. Die deel van sy kamer wat sy kan sien, lyk asof ’n orkaan dit getref het.
Vinnig keer sy haar rug op hom en klop aan die deur oorkant Fred s’n.
“Kom in.” Awie se stem.
Verlig druk sy die deur oop, maar steek dan vas. Dis donker in die kamer. Net ’n paar kerse en ’n bedlampie brand. Dit ruik na wierook. Musiek speel sag in die agtergrond. “Stairway to heaven”. Dit weet sy omdat Gideon die Led Zeppelin-tape het.
“Kom in, Meraai. Pasop net vir die trappie.”
Sy bly staan waar sy is. “Kan jy die lig aansit, asseblief?”
“Die globe het gebars. Kom, jou oë sal gou gewoond raak.”
“Kan jy nie net die vensters oopmaak nie?”
“Sorrie, vasgeroes. Maar ons kan die deur oophou as jy wil.”
Sy kyk om. Fred sit nou regop op sy bed, ’n skewe glimlag om sy mond, sy oë sonder skroom op hulle gerig.
“Kan ons nie êrens anders heen gaan nie?” Sy vervies haar vir die pleitende noot in haar stem.
“Die kombuis. Maar ek dink Geerts sit soos gewoonlik daar en bier drink.” Hy vat haar hand. “Ek sal nie byt nie, Meraai. Ek wil net dinge uitpraat. Probeer verduidelik waarom ek so onnosel was. Verkieslik privaat. Asseblief?” Hy klink nugter en werklik boetvaardig.
Sy laat toe dat hy haar teen die trappie afhelp. Dit laat haar beter voel dat Geerts ook in die huis is. Sy loop hom soms op die kampus of in die dorp raak en hy knoop altyd ’n geselsie aan.
Awie trek die deur toe. Nou is dit nog donkerder, maar haar oë raak geleidelik gewoond aan die sterk skemerte. ’n Driekwartbed, ’n tafel en stoel en ’n hangkas is die somtotaal van die meubels.
“Ou Kobus, dis nou die eienaar van die huis, is ’n suinige bliksem. Ek het hom gevra om die gloeilamp te vervang, maar hy reken die volgende inwoner kan dit doen aangesien vanaand my laaste aand hier is. En ek kerm al hoe lank oor die vensters wat nie kan oopmaak nie, maar dit val op dowe ore. Maar kom sit.”
Hy wys na die bed, maar sy kies die stoel. Sy gaan sit op die puntjie daarvan.
Awie beduie na ’n bottel en twee waterglase op die tafel. “Kan ek vir jou ’n glasie skink?”
Sy skud haar kop. “Ek het net kom groet, Awie. En net ter wille van wat tussen ons was. Dis nie nodig dat jy enigiets verduidelik nie. Jy het om verskoning gevra en dis genoeg. Maar as jy nog iets wil sê, moet jy dit nou sê. Ek moet by die huis kom.”
“Oukei, maar ek het ’n bietjie jenewermoed nodig.” Hy skink vir hom ’n sopie in. Dis beslis nie wyn nie, maar sy kan nie uitmaak wat op die bottel staan nie.
“Wat is dit?” kan sy nie help om te vra nie.
“Doepie het vir my ’n bottel perskemampoer gegee as ’n afskeidsgeskenk.”
Sy ril. “Dit moet seker baie sterk wees.”
“Nie so erg soos wat almal dit maak nie. Proe.” Hy hou die glas na haar toe uit.
Maria skud haar kop.
“Net lippe natmaak, man. Net om die smaak te kry. Mens drink dit soos likeur.”
Selfs haar ma drink af en toe ’n kelkie likeur.
“Wag, ek skink vir jou ’n bietjie in jou eie glas. Lyk my jy is bang vir kieme.” Hy gee ’n laggie.
Dis min genoeg, sien sy toe hy die skoon glas vir haar aangee. Sy proe versigtig, maak omtrent letterlik net haar lippe nat. Die goed brand haar mond en tong, maar die nasmaak is die ene perske.
“Dis nogal toevallig,” hoor sy Awie sê toe hy op die naaste punt van die bed gaan sit. “Dis juis dié goed wat veroorsaak het dat ons uitmekaar is.”
Sy kyk op. “Hoe so?”
“Die aand toe ons sou gaan uiteet het ... Ek was so senuagtig dat Doepie my ’n dop daarvan ingejaag het. En toe nog een voor ek hier weg is. En toe moes ek so lank wag vir jou en Paul. Die bier alleen sou my nie so gevang het nie en die mampoer alleen ook nie. Die kombinasie was egter fataal. Iets wat ek glad nie voorsien het nie.”
Dis nog steeds nie ’n verskoning vir die toestand waarin hy was nie, maar dit sal sinloos wees om nou verwyte rond te slinger. Buitendien, uiteindelik was dit die wonderlikste aand van haar hele lewe – al wil sy dit nie graag erken nie en al het dit op niks behalwe ’n gevoel van verwerping uitgeloop nie. “Hoekom het jy my nooit weer daarna gekontak nie? Tot nou toe bedoel ek.” Eintlik wil sy weet waarom Paul haar daarna geïgnoreer het, maar sy sal nooit die moed hê om hóm te vra nie.
“Soos ek in die brief gesê het, ek was skaam. Ek het vermoed jy sou my nooit weer wou sien nie, maar wou jou dit nie hoor sê nie. Toe bly ek maar uit jou pad uit en hoop jy kontak my eerste wanneer jy nie meer kwaad is vir my nie. En toe dit nie gebeur nie, het ek my hardegat gehou, maar eintlik het ek geweet ek het my kanse sleg verspeel.”
Dis maar ’n bra flou verskoning, maar gelukkig is dit nie meer iets wat haar traak nie. Sy het nou vir Gideon en haar pa vertrou hom selfs. Verkeerdelik, maar dit was darem net die een keer en sy sal self sorg dat dit nie weer gebeur nie. Gideon sê nou wel dit bewys hoe lief hy haar het en dat sy ook só bewys sy is lief vir hom, maar sy voel net ... goedkoop.
“Meraai, sê asseblief net vir my jy het my vergewe?” ruk Awie haar terug uit haar nare herinneringe aan daardie middag.
Sy neem nog ’n piepklein slukkie van die mampoer. Vergewe is maklik as mens weet dis die laaste sien. Wel, seker nie die heel laaste nie. Potch is hulle albei se tuisdorp, maar vir die grootste deel van twee jaar sekerlik die laaste. “Alles reg, Awie. Ek aanvaar jou verskoning.” Sy sit die glas neer en staan op. “Ek wens jou net die beste toe. Sterkte met die army. Ek sal aan jou dink.”
Hy staan ook op en kom staan voor haar. “Kan ek vir oulaas ’n drukkie kry? Dit sal vir my baie beteken.”
“Awie ...” Sy skud haar kop.
“Net ’n susterlike drukkie. Iets om te onthou wanneer ek onder die koeëls gesteek word.” Hy vat haar polse vas en trek haar sagkens nader. Tipies Awie. Gee hom die pinkie en hy gryp die hele hand.
“Ai, Awie.” Sy probeer uit sy greep uitdraai, maar hy trek haar al vaster teen hom. “Awie! Los my!”
“Net ’n drukkie, Meraaitjie? Asseblief?”
Sy sug. Laat hy dan nou maar sy drukkie druk en klaarkry. Maar hy kry nie klaar nie, hy trek haar net al vaster teen hom vas en die volgende oomblik kantel hy haar met een beweging op die bed om.
“Awie! Nee!” Sy probeer hom van haar af wegdruk, maar hy is te swaar, sy greep te sterk. Hy pen haar onderlyf met syne vas
“Ja, Meraaitjie. Het jou ma jou nie geleer dis gevaarlik om in ’n man se slaapkamer te kom nie? Maar aan die ander kant, ek hoor ’n kar is goed genoeg vir jou.” Met een hand ruk hy haar bloesie oop. Hy pluk haar bra op. Een bors glip uit, die ander een word pynlik deur die bra vasgeknyp.
Haar gil word blitsig met ’n kussing gesmoor.