2020
Vrydag 27 Maart
Vogelbaai
Marilyn
Anna gee haar net ’n kyk toe Marilyn nie eens ’n beskuit wil eet nie en haar koppie koffie skaars halfpad drink. Die hol kol op haar maag kan sy nie meer verduur nie.
Vir Leah kry sy oortuig sy is heeltemal daartoe in staat om self te bestuur. Dat Leah haar net onnodig aan die donnerse virus sal blootstel as sy haar dokter toe sou neem.
Maar eintlik wil sy graag ’n rukkie alleen wees. Selfs weg van die twee vroue wat op hierdie oomblik vir haar steunpilare is.
Die wagkamer is leeg toe sy vroegoggend by ontvangs aanmeld. Sy spuit haar hande, maak seker haar masker bedek neus en mond. Praktiese Anna het gister vir hulle elkeen twee gaan koop by ’n leerling se ma wat goed is met naaldwerk en die geleentheid vir ’n ekstra geldjie nou benut.
Sy sal haar testament moet aanpas, slaan die gedagte Marilyn toe sy gaan sit nadat sy ingelig is daar is ’n pasiënt voor haar wat reeds “by dokter” is. Voor daardie beroerte haar tref. Of Covid. Maar hoe stel ’n mens ’n testament op as jy van dag tot dag nie weet hoeveel jy werd is nie?
Die huis is maklik. Dit gaan na Celeste toe. Maar hoe sorg sy vir Marli se toekoms? Mirre en Boeta s’n? Die ander is welaf genoeg, maar nie hulle nie. En Boeta gaan nou geen inkomste hê nie. Mirre ook nie.
En daar is Beulah. Sy het nou wel onderneem om die Ankers gedurende die inperking te onderhou, maar sê nou sy gaan dood? Beulah-hulle moet ook in haar testament versorg word. Shirley is skrander en ’n goeie atleet. Dit sal ’n sonde wees as sy nie universiteit toe kan gaan nie. Die twee kleinseuns het ook talente wat bevorder moet word.
Marilyn sug. Vader behoede dat enigeen van haar erfgename nie die pandemie oorleef nie. Sy kan maar gaan, sy is oud, maar tog net nie hulle nie. As selfs een van haar mense moet doodgaan, het sy ook niks meer uit te rig op hierdie blou bal wat deur die ruimte tol nie.
’n Lang, maer man met ’n toiingsnor kom verby haar gestap. Die res van die wagkamer is steeds leeg.
“Mevrou Murray? Jy kan maar deurkom.” Die ontvangsdame staan met Marilyn se lêer in haar hand. Nie dat daar veel in is nie. Sy was een keer hier toe haar griep wou-wou oorslaan in brongitis en dis dit.
“Dokter Louise is nie vandag aan diens nie, maar dokter Jacques sal na jou omsien. Hy is dokter Louise se nuwe vennoot.”
Tipies platteland, vanne is nie belangrik nie. Sy het haar sielkundig voorberei om met ’n vrou te praat, nie ’n man nie, maar dit help seker nie sy skop teen die prikkels nie.
Sy maak seker haar masker sit reg en volg die ontvangsdame spreekkamer toe nadat haar hande eers weer ontsmet is.
Agter die lessenaar kom ’n aantreklike man van ongeveer Fynn se ouderdom orent, trek sy masker oor sy neus en mond voor hy groet.
Is almal op die hele wye wêreld wat nou soos ’n maskerbal gone wrong lyk, dan deesdae jonger as sy?
Die ontvangsdame sit die lêer op die lessenaar neer en trek die deur agter haar toe.
“Ek slaan net hier neer as jy my gaan mevrou-Murray. Ek is Marilyn. En nie getroud nie.” Haar skalkse glimlag gaan natuurlik agter die masker verlore. Hemel, mens kan nie eens meer flirt nie. En flirtasie was nog altyd haar redding wanneer sy senuagtig voel. Of sommer net ’n bietjie af voel. Of sommer net vir die lekker.
Die plooitjies om sy oë kreukel nietemin.
“Kom sit, Marilyn. Ek is Jacques en wel getroud. Waarmee kan ek help?”
Haar oë begin ineens brand. “Ek dink ek is aan die doodgaan.”
Die wenkbroue wip op. “Dit kan ons nie toelaat nie. Vertel my wat skort.”
Sy vertel wat daar op die hoek van die straat gebeur het. Hoe sy gevoel het. Van ’n aptekersassistent wat haar gehelp en gesê het sy moet by ’n dokter uitkom.
Jacques ondersoek haar. Bloeddruk. Effens hoog, moet sy hoor. Stetoskoop. Geen kommentaar daarop nie. Klop teen haar knie. Sy skop hom amper raak. Vat hier, druk daar, voel haar pols. Vra dat sy haar masker afhaal en neem haar koors nog met ’n outydse koorspen. Sê hy vertrou nie die elektroniese goed nie.
Masker terug. Gaan sit weer aan die ander kant van sy lessenaar. Hy vra haar uit.
Ja, sy rook. Min of meer vyf en twintig per dag. Ja, sy drink. Minstens ’n bottel wyn per dag. Sy het ’n histerektomie gehad. Op een en veertig. Vergroeisels. Ja, ’n algehele een. Ja, sy gebruik ’n jel as hormoonvervanging.
Dis waaragtig nie die soort goed wat sy aan hierdie mooi kind wil erken nie, maar voor ’n dokter verpulwer ydelheid en trots. Word jou ouderdom en skete blootgelê. Jou broosheid. En swakhede. Die skade wat jy jou liggaam te lank aangedoen het.
“Ek stem saam met die assistentapteker. Dit was vermoedelik ’n transiënt iskemiese aanval. Oftewel ’n miniberoerte,” kom die uitsluitsel ’n ewigheid later. “En ja, dit is dikwels ’n voorloper van ’n volbloedberoerte. Die goeie nuus is, ek kan jou behandel. Die slegte nuus is dat jy gaan moet ophou rook en baie matiger drink.”
“Dalk net minder rook?” vra sy pleitend.
Hy skud sy kop. “Of jy een of dertig rook, die resultaat is dieselfde.”
Marilyn skud haar kop. “Minder rook, kan ek. Ophou? Nee. Ek leef eerder korter op my eie gelukkige manier, as langer en is permanent miserabel.”
“Dis jou keuse, Marilyn. Intussen gaan ons ’n bloedmonster neem en ’n paar toetse laat doen. Wanneer laas het jy ete en drinke gehad?”
“Gisteraand geëet en vanoggend water en ’n halwe koppie koffie gedrink. Watse toetse?”
“Lewer en dies meer. En aangesien jy nie vanoggend geëet het nie, kan ons toets vir cholesterol ook. Reg so?”
Sy knik al haat sy dit om te laat bloed trek. Sy voel altyd of sy wil flou word as sy haar bloed so in die flessie sien tap. Trouens, die sig van enige bloed laat haar naar voel.
Hy begin ’n voorskrif uitkrabbel. “Ek gaan vir jou ’n ligte antidepressant voorskryf saam met ’n paar ander goed.”
Marilyn frons. “Vir wat?”
“Jy is geweldig gespanne. Kyk hoe wit staan jou kneukels. En jy haal onreëlmatig asem. Baie naby aan hiperventilasie. Dis nie goed vir jou nie. En ek weet dis nou moeilik, maar jy moet oefening kry. Elke dag. Stap sal al help. Swem as jy kan. Fietsry is ook goed. Wanneer ons weer mag.”
“Dit klink na harde werk.” Sy probeer flirtasie intoneer, maar slaag nie daarin nie.
“Marilyn, ek kon dit skaars glo toe jy sê jy is twee en sestig. Jy lyk veel, veel jonger. Maar jou liggaam weet hoe oud jy is en hoe goed jy ook al van buite lyk, ek vermoed jy het die binnekant redelik goed opgefoeter.”
“As dit nie vir die bedekte kompliment was nie, het ek jou onmiddellik as my dokter gefire.”
“Dit staan jou vry.” Die waaiertjies om sy oë verklap sy glimlag. Hy stoot die voorskrif oor die lessenaar na haar toe en dan ook ’n papier wat blykbaar iets met die bloedtoetse te doen het.
Hy kom orent. “Ek sal jou bel sodra ons die uitslae kry. Pas jouself mooi op,” word sy verdaag.
Marilyn gee ’n onderlangse grom. “Ek hou donnerswil nie op rook nie.”
Hy stap om die lessenaar en hou die deur oop. “You live by the sword, you die by the sword.” Hy sê dit met simpatie in sy stem.
“Dis my swaard, en ek kan daarmee maak wat ek wil.” Dit kom maar flouerig uit.
“Jy kan. Bye, Marilyn. Dit was ’n plesier om jou te ontmoet.”
Sy knipoog vir hom net voor hy die deur met ’n laggie toestoot.
Jacques-sonder-van herken onskuldige flirtasie, maar gaan seker vanaand by sy vrou kla oor ou vrouens wat te orig vir hulle eie beswil is.
So be it.
Toe sy in die kabriolet klim, voel sy ineens doodmoeg. Sy sit terug, ruk die masker tot onder haar ken en maak haar oë toe.
Flirtasie en moedswilligheid was nog altyd haar breekwater teen aanslae van die lewe. Nie dat haar flirtasies altyd onskuldig was nie. Soms was daar ’n baie definitiewe doel daaragter. Dikwels slinkse manipulering.
Maar toe sy nog Maria Marais was, het sy van flirtasie niks geweet nie. Sy het wel op die moeilike manier uitgevind van die onkeerbaarheid van mans se drange en hulle minagting vir vroue. Hulle dierlike lus agter die vroulike liggaam aan sonder inagneming dat ’n vrou meer as ’n liggaam is. En dat die skade aan die gees, siel as mens wil, groter is as aan die liggaam. Veel, veel groter. Onmeetbaar – selfs drie en veertig jaar later.
1978
Vrydag 24 Februarie
Potchefstroom
Maria
Awie se brute hardhandigheid skok haar, maar dis genadiglik vinnig verby. Sy voel van onder oopgeskeur toe hy van haar af opstaan en die gulp van sy jeans toetrek.
“Jy sien, Meraaitjie, mens speel nie cockteaser met ’n man nie. Jy los nie sommer ’n man net omdat hy nie hoogheilig is nie. Laat dit vir jou ’n les wees.”
Sy kan net gewalg na hom opkyk, steeds verbyster deur wat so pas gebeur het.
“En as jy dink jy kan by iemand gaan klik, dink weer. Jy was in my kamer. Vrywillig. Wie gaan jou glo dat die res dalk nie heeltemal so gewillig was nie. Alhoewel, ek dink jy het in elk geval daarvoor gevra. Wou hê dit moet gebeur. Dis hoe julle vroumense is. Kastig vroom, maar vra met julle lywe. En as mens dan vat wat julle aanbied, is dit skielik ook nie goed nie.”
Sy kan steeds nie ’n woord uitkry nie.
Awie kry die bottel mampoer aan die nek beet, skroef die prop af en vat ’n diep teug. Hy vee sy mond met die agterkant van sy hand af. “Satisfaksie ná die aksie. Baai, Meraai. Ek skoert nou. Things to see and do, jy weet.”
Steeds stom, sien sy hoe hy by die deur uitgaan en dit agter hom toeklap.
Dofweg hoor sy Fred se stem en Awie se lag.
Sy maak haar oë toe, laat die trane stroom waar hulle wil. Sy voel so vuil. So besmet. Fisiek en geestelik. Sy weet sy moet hier wegkom, maar hoe? Alles aan haar pyn. En waarheen? Waar sal sy Awie se vieslikheid kan gaan afwas?
Dis eerder die lig wat ineens van die gang af inkom as die geluid van die deur wat haar oë laat oopvlieg. Die lig verdwyn, die deur klik toe. Sy sien ’n figuur naderkom, hoe hy sy broek haastig laat sak en ’n enorme ereksie vrylaat. En toe is Fred op haar.
Sy sit haar verbete teë, maar hy is te sterk vir haar. Sy probeer skree, maar sy hand verfrommel haar mond terwyl hy in en uit haar lyf beweeg. Dit voel asof hy ’n besemstok in haar opdruk, uittrek. Opdruk, uittrek.
Hy gee ’n kreun en uiteindelik is dit verby.
“Nou weet jy hoe ’n regte man voel, maagd Maria.” Sy stem is skor. “En die grootste voël op die kampus.”
Sy knyp haar oë toe en begin gil, maar dis net ’n kermgeluid wat uitkom. Haar hele lyf pyn. Sy voel rou van binne. Haar kop wil bars.
Haar oë vlieg oop toe die deur weer oopgaan. Fred gaan uit en die volgende oomblik is Doepie daar. Hy is bo-op haar voor sy regop kan kom.
“Fok, fok, fok,” kreun hy terwyl hy haar probeer binnedring, maar dit nie regkry nie. Sy voel net iets slap en nat teen haar lies.
Hy lê nog op haar en vryf hom teen haar toe die deur weer oopgaan.
Die hooflig flikker aan en Geerts staan die kosyn vol.
“Godsverdomme!” ’n Streep Hollands volg. Vir Doepie tel hy met een hand van haar af op en smyt hom behoorlik in die hoek waar hy opgekrul bly lê en kreun.
Geerts gaan sit langs haar op die bed en tel haar op sy skoot. Hy hou haar beskermend teen hom vas, wieg haar soos ’n kind.
“Mariatje, lief Mariatje. Wat het die hondebraaksel met jou gemaak?”
“Hulle het my seergemaak, Geerts. Baie seer.” Die huil neem oor by haar skor woorde.
“Hulle?” Sy sien die skok in sy oë. “Paul!” bulder hy oor haar kop. “Paul!”
Oomblikke later staan Paul in die deur. Hy word lykwit. “Wat de fok ...?”
“Daardie slakslym in die hoek. Vra hom wat aangaan. Nee, vat hom polisie toe. Iets, doen iets.”
Paul kyk verward van Geerts na Maria. Herken haar klaarblyklik toe eers. “Liewe fok! Maria?”
Die volskoot van sy geskokte bont oë is die laaste beeld wat sy sien voor alle lig uitdoof.