Sewe en twintig

2020

Woensdag 1 April

Vywerbaai

Marilyn

“Hoe gaan dit nou met jou en Mêddempie?” vra Marilyn toe Lira se jeremiades oor haar swangerskap en vrese vir moederskap opdroog.

“Beter. Ons moes seker besef het dit sal vir haar ’n groot skok wees. Ons het net nie gedink sy gaan so dwars wees nie. Amper asof sy weer terugverander het in die ou Celeste.”

“Solank sy geborge voel, behoort sy oukei te wees. Julle sal maar die balle in die lug moet hou al is dit hoe moeilik.”

Sy hoor Lira oor die foon sug asof hulle langs mekaar staan. “Ek weet, maar soms raak alles net te veel vir my. Die skok dat ek verwag, ná die wonderlike wittebrood. Die afsondering gedurende selfisolasie. Vrese vir Covid. Nou die lockdown. Fynn wat die bouwerk aan die ontwikkeling moes staak. Sy beleggings wat wipplank ry. Die Vywervrou wat moes toemaak. Mirre en Boeta wat finansieel sukkel. En die kothuis is te klein vir hulle almal. Net Henri is by Alet en Raymond. En dan is daar Beulah-hulle in daardie klein plekkie van hulle met soveel bure wat, volgens haar, hulle nie steur aan maskers of sanitering nie. En dan nog Celeste se reaksie op die swangerskap daarby.”

“Lira, jy kan nie almal se heil help uitsorteer nie. Konsentreer op jou, Fynn en Celeste. Dis moeilike tye, maar dit sal weer beter gaan.” Marilyn dink ’n oomblik na. “Kan Beulah-hulle nie in die vertrekke bo die Vywervrou intrek nie?”

“Ons het aangebied, maar Beulah wil nie. Sy wil tussen haar eie mense wees. Sê sy kan haar mense nie versaak nie. En Mirre-hulle het ook geen nut daarvan nie, want hulle wil nie die gesin verdeel nie. Daaf en Pieter kry elkeen ’n week in die tweede slaapkamer en moet vir ’n week in die woonkamer slaap. Marli is by Boeta-hulle in die slaapkamer, wat ook nie ideaal is nie.

“Alles was oukei terwyl hulle die vooruitsig van die nuwe huis gehad het, maar die bouery staan nou ook stil en daar is in elk geval nie geld om voort te gaan tot Fynn en Boeta se ontwikkeling weer aan die gang kom nie. Die verkoop van Boeta se ou huis is nog nie deur nie, want die voornemende kopers het daarop aangedring dat die dak vervang word. Nou staan die huis gedeeltelik sonder dak en Boeta het uiteraard nog nie sy geld gekry nie en kan ook nie daarheen terugtrek nie. Met die boumateriaalwinkels gesluit, kan hy nie eens skelm gaan werk daaraan nie aangesien die sinkplate nog nie afgelewer is nie.

“Fynn het aangebied om te help, geld voor te skiet, maar Boeta weier. Sê hulle raak dan net nog dieper in die skuld by Fynn. Raymond wou ook al help, maar Boeta is te trots om geld van sy eks se man te aanvaar.”

“Shit,” mompel Marilyn. Geen wonder Mirre bel so selde nie. Wil natuurlik nie kla nie.

“Presies. En nou voel ek sommer weer van nuuts af skuldig dat ek kla terwyl Mirre-hulle baie swaarder kry.”

“Een se sukkel is nie erger as ’n ander s’n nie. Net anders.” Sy dink ’n oomblik na. “Mirre-hulle ly darem seker nie broodgebrek nie?”

“Nee. Nie sover ek weet nie. Boeta tref glo reëlings vir paaiementverminderings en/of uitstel op allerhande goed sodat hy sy drie topmanne steeds kan aanhou betaal, al is dit net ’n gedeelte van elkeen se salaris.”

Tipies Boeta. “En Corali-hulle?”

“Net gefrustreerd omdat die galery nou moet wag. Gelukkig is Corali finansieel sterk. Sy sê net sy kry nie geskilder nie, haar creative juices het nou met die Covid-ding opgedroog. Doen darem ’n bietjie mosaïekwerk. Thomas sukkel glo ook om kreatief te wees. En ek moet bieg, ek ook. Ek kry niks gemaak nie. Dis asof my hande dom geraak het. My idees opgedroog het.”

En nog twee weke van grendeltyd lê voor. Oor die eenduisend driehonderd mense is al positief getoets. Driehonderd vyf en twintig in die Kaap, maar darem nog niemand binne die Kaap Agulhas-munisipale distrik nie. “Lira, dit sal weer beter gaan. Trust my. Dit gaan altyd weer beter.” Maar sy weet ook, dit voel nie so wanneer jy ontstig is nie. En dit is so dat dit altyd ook nog slegter kan gaan.

“Ja, Skoonma.” Dit klink darem asof daar ’n bietjie humor in Lira oorgebly het. “Terloops, jou seun is aan die tuinmaak. Hy steel oral steggies wanneer hy supermark toe stap.” Lira sug weer, maar dis ’n ligte sug wat klink asof daar ’n sweem van ’n glimlag daaragter sit. “Ek weet nie wat ek sonder hom sou gedoen het nie. Hy bly so positief oor alles, dis soms irriterend.”

“That’s my boy.”

Lank nadat hulle gegroet en afgelui het, bly Marilyn sit en staar na die fonteintjie in die plaspoelgedeelte van die swembad. Trots oor alles wat Fynn bereik het, oor die mens wat hy is, gloei in haar. Om te dink iemand anders kon hom grootgemaak het as sy hom vir aanneming afgeteken het. Sy was dalk nie altyd die beste ma nie, maar Fynn is die beste seun waarvoor sy kon wens. Maak nie saak of Awie, Fred of Gideon sy pa is nie, hy is háár seun en hy is wonderlik. Al het sy hom soms ’n poephol genoem toe hy so gesukkel het om vir Lira aan te keer.

En toe kry sy boonop die beste skoondogter ever, ná ’n skoondogter uit die hel. En die kleinkind het dalk haar streke, maar sy sit deesdae diep in haar ouma se hart. En dan is daar nog Mirre wat soos ’n dogter vir haar voel eerder as ’n vriendin, Boeta en natuurlik Marli. Om nie van Corali en Thomas te vergeet nie.

Sy is ’n geseënde vrou. Al verdien sy dit seker nie. Al sou sy seker uiteindelik ingegee en daardie verdomde dokumente geteken het.

Dank vader vir Gwen.

1978

Vrydag 15 September

Vrystaat

Maria

Haar rug wil breek waar sy in die benoude waskamer staan en stryk, en haar boep stamp elke keer teen die strykplank. Met haar hand in haar lae rug leun sy agteroor. Buite hoor sy ’n kardeur toeslaan en oomblikke later voetstappe op die sementpaadjie wat na die voordeur lei.

Daar word ongeduldig aangeklop. Die slae dawer in die gang af.

Net Matrone mag die voordeur oopmaak. Dis ’n voorsorgmaatreël wat al vele onderonsies tussen die meisies en boyfriends of familielede voorkom het.

Nuuskierigheid laat Maria naderbeweeg aan die strykkamer se deur wat in die gang uitloop.

“Gwen Murray. I told you I am fetching my niece soon and here I am.” Nogal ’n formidabele stem.

Sy kan nie hoor wat Matrone antwoord nie, maar dit sal in Afrikaans wees. Engels is nie haar sterkpunt nie.

“Listen dearie, you might mean well, but don’t test my patience. I’ve come a long way. Not only have I been in my car since yesterday, I have been searching for my niece for months now. Even if I had any patience to start with, I’m right out of it now.”

Weer ’n onhoorbare antwoord van die matrone wat met haar rug na Maria staan.

“I couldn’t give a shit about what that dog turd said. I’m taking her out of this hovel and with me. She’ll be well looked after. I can send you references if need be.”

’n Oomblik later kom ’n buksie van ’n vrou met kort grys krulle verbygestap. Deftig aangetrek, pêrels om die nek. Maria probeer wegkoes, maar die vrou het haar gesien. Haar oë gaan dadelik na Maria se boep. “Who might you be?”

“Maria. Maria Marais,” stotter sy net voor Matrone aangestoom kom, veel stadiger met haar groot lyf as die vrou op haar klakkende polvye.

“Jy kan nie net hier inkom en een van die meisies wegvat nie!” Matrone is rooi in die gesig.

“Watch me. Maria, this is good coincidence. I’ve come to take you away from this shithole. I’m your auntie Gwen. Dear Margaret’s sister. Follow me.”

Haar ma se suster? Die een wat haar pa haar ma verbied het om ooit weer te kontak ná een besoek? Sy was nog ’n baba en onthou niks daarvan nie, maar toe sy ouer was, het sy haar ma gevra of sy dan ook ’n enigste kind was. Haar ma het erken sy het ’n suster, haar naam mag egter nie in die huis genoem word nie.

Gwen kyk om waar sy al ’n paar treë in die gang af is. “Maria, get a move on!”

“But my stuff?”

“Anything that’s precious to you?”

“Some books. My clothes. Toiletries.”

“We’ll buy new ones. Anything else?”

Maria skud haar kop.

Gwen moet opkyk na die groot vrou wat nou hande in die sye hulle weg probeer versper. “Out of the way. Now!”

Matrone se hele gesig is opgepof. “Jy kan nie ...”

“Kyk, skatlam, jy het dit nou al drie keer repeat. Ingeval jy nie Engels verstaan nie. Maria kom saam met my. Finish en klaar.”

“Maar haar pa ...”

“Haar pa se agterent.” Gwen gryp Maria se hand en sleep haar verby Matrone. Maria draf agterna, hou net haar boep vas.

“Dis ontvoering!” gil Matrone agterna.

Gwen draai om. “No, dearie. It is called a rescue operation.”

“Nou maar vat haar! Sy is in elk geval ’n luigat!”

“I rest my case.” Gwen gee ’n buiginkie voor sy Maria verder hek toe sleep.

Voor die hek staan ’n ouerige, ligblou Mercedes.

“Get in.”

Maria gehoorsaam. Die kar ruik na rook en leer en parfuum. Die sitplekke is sag en die gemaklikste sitding wat sy in maande onder haar blaker gevoel het.

Gwen klim agter die stuur in en draai na Maria toe. “Is jy oukei hiermee? Ek vat jou na my huis in Gordon’s Bay. If you want to stay here, moet jy nou vir my sê.”

“You are my aunt?”

“Yes. Gwendolyn Murray. Margaret, bless her tortured soul, was my youngest sister. My condolences on your mother’s passing. I’m sure she is better off where she is now.”

“Hulle wou nie eens gehad het ek moet haar begrafnis bywoon nie.” Maria se stem raak al heser hoe verder sy praat.

“‘Hulle’ couldn’t give a shit. Dit was jou pa wat jou nie daar wou hê nie. Hy wou my ook verbied, maar ek laat my nie verbied nie.” Gwen skakel die enjin aan. “Now, yay or nay? Coming with me or not?”

As die duiwel haar kom haal het, sou sy saam met dié ook gegaan het. “Yay. With you. Thank you.”

“Oh, darn, we’ll have to work on that horrid accent of yours. Praat maar liewer Afrikaans. Ek verstaan dit honderd persent al fail die woorde my often.”

Toe sy wegtrek, voel dit vir Marilyn asof sy in ’n wens wat waar geword het, inry. Wie het ridders op wit perde nodig as ’n fairy godmother jou kan kom red?

2020

Woensdag 1 April

Vywerbaai

Marilyn

Sy kan net kopskud vir die naïewe jongeling wat sy was. Die lewe is nie ’n sprokie nie. Ridders op wit perde is ’n lugkasteel in die verbeelding van romantiese fools, maar fairy godmothers is ook nie altyd wat ’n mens sou dink hulle behoort te wees nie.

Maar Gwen hét haar gered. Net nie op die manier wat fairy godmothers prinsesse in sprokies red nie. Die enigste ding wat naastenby sprokiesagtig was, was Gwen se huis in Gordonsbaai met sy uitsig oor Valsbaai, Bikini Beach en die hawe waar een afdeling toe nog aan die vloot behoort het.

Dit was die eerste keer dat sy die see gesien het. Sy kon dit amper nie inneem nie al het haar maats kiekies gewys en vertel van hulle seevakansies. Meesal Margate of Hartenbos. Sy was altyd so jaloers. Die Marais’s se vakansies was altyd in die binneland en bitter kort. Wildtuin toe in die winter en in die somer na een of ander Rondalia-oord. Nooit meer as ’n week nie.

Gwen se huis was ’n imposante plek genaamd Camelot.

Sy het dadelik aan dié huis gedink toe Leah vertel het van Drieka de Villiers se mansion met die Victoriaanse toring. Camelot het ook met ’n toring gespog – groot genoeg om ruim slaapkamers te huisves. Nie Victoriaans nie – as sy moet skat, is die huis in die vroeë veertigs gebou – maar nietemin baie karaktervol en ja, kasteelagtig waar dit in drie vlakke teen die berg gebou is.

Die kamer waar sy kon bly, was nie in die huis self nie. Dit was ’n klipgeboutjie hoër op teen die berg as die hoofhuis. Die luuksheid van die huis se interieur het hier ontbreek, maar dit was heel gerieflik en sy het haar eie badkamer gehad en ook ’n miniatuurkombuisie onder meer toegerus met ’n yskas, tweeplaatstofie en elektriese ketel. Mikrogolfoonde was daar waarskynlik toe nog nie. Ook nie koordlose ketels nie for that matter, maar ’n mens mis nie wat jy nie ken nie.

Sy kon kom en gaan soos sy wou solank sy nie ongenooid in die hoofhuis inkom nie. Gwen het gesorg dat sy altyd volop vrugte het, asook ontbytkos en alles wat sy benodig vir toebroodjies. Saans het ’n Xhosa-vrou vir haar ’n bord warm kos gebring. Dié was ’n bietjie Engels magtig, maar nie van nature spraaksaam nie. Hulle gesprekke het nooit meer as ’n paar sinne behels nie.

Af en toe, wanneer sy nie gaste gehad het nie, het Gwen haar na die huis toe genooi en dan is sy soos ’n prinses onthaal.

Reeds van die eerste dag af het dit haar opgeval hoeveel gaste Gwen feitlik elke dag kry. Meesal paartjies, maar redelik dikwels ook twee mans op ’n slag en soms twee vroue. Baie selde enkelpersone. Soms het hulle net vir ’n middag gebly, ander kere oorgeslaap. Soms sommer vir ’n hele naweek. Dit kan wees dat Gwen net ’n enorme vriendekring het, maar êrens, het Maria geweet, is ’n slang in die gras, want nie al die gaste was wit nie. En dit was destyds baie ongewoon en natuurlik teen die wet.

Tussen haar gaste deur het Gwen minstens een keer per dag by haar kom inloer. Sy het haar ook na haar ginekoloog geneem wanneer dit nodig was.

In vergelyking met die maande in die Vrystaat was dit asof sy in die hemel beland het, maar sy was ook dikwels eensaam. Sy het haar tyd verwyl met lees. Haar redding was ’n yslike boekrak vol bestsellers. Van die soort wat haar pa haar ten strengste verbied het om te lees. Slapbandgemors wat jou brein besoedel, het hy dit genoem.

Sy het haar egter verlustig in die boeke wat haar weggeneem het uit die werklikheid. Stephen King, Ken Follet, James Michener, Jonathan Kellerman, Ayn Rand, Leon Uris, Wilbur Smith, Jeffrey Archer, Alex Haley, Agatha Christie, Danielle Steele, Erica Young en vele ander. Maar die een boek wat haar tot in haar diepste siel ontroer het, was Fynn se Mister God, this is Anna. Veel meer nog as The little prince.

In die openingsinne het sy onmiddellik vir Gwen geëien. “The difference from a person and an angel is easy. Most of an angel is on the inside and most of a person is on the outside.” Gwen was ’n engel. Die astrante, bekkige buitekant het net die engel aan die binnekant gekamoefleer.

Selfs toe sy uitgevind het waarvoor Gwen haar huis gebruik en hoe sy haar inkomste genereer, het haar opinie nie verander nie.

Marilyn skrik op uit haar gedagtes toe haar foon lui. Mirre.

“Dis ’n lekker verrassing!”

“Ek is jammer ek bel so min.” Die stemmetjie is maar yl.

“Wat skort, Mirre?”

’n Rukkerige sug is hoorbaar. “Alet. Sy het Boeta van ’n dizzy height uitgedinges omdat ons van Raylet se eerste verjaardag vandag vergeet het. Omdat ons nie vir Daaf en Pieter herinner het om te bel nie. Ek voel soos ’n luis. Raylet is immers hulle halfsussie.”

“Ag, my hel, Mirre! Asof daar nie groter probleme in die wêreld is as ’n vergete verjaardag nie. Hemel, ons sit midde-in ’n donnerse pandemie. Pleks Alet bly is dat nie een van haar kinders die virus opgedoen het nie.”

“Ek weet, maar ek kan verstaan dat Alet ontstig is.”

“Sou jy gewees het as Henri nie Marli se verjaardag onthou nie?”

“Nee, maar Alet is Alet. Jy weet hoe fyngevoelig sy is vir enigiets wat net ruik na verwerping of veronregting.”

“Niemand hou van verwerping of veronregting nie. Sy is ook nie die enigste mens op aarde wat dit moeilik gehad het in haar jeug nie. En as volwassene was sy die argitek van haar eie probleme.” Nes syself, weet Marilyn.

“Ek mis julle so, Marilyn. Ons tye saam. Ek en jy en Lira en Corali. Dit voel vir my asof ons uitmekaar geskeur het die afgelope paar maande. Selfs voor die pandemie. En noudat Lira verwag ... Ek sal haar so graag wil moed inpraat. Probeer raadgee. Saam met haar lamenteer of lag oor alles wat swangerskap inhou. Dis net nie dieselfde oor ’n foon nie.

“En ek mis Corali se insette. Jou no-nonsense preke, moedswilligheid en roekeloosheid. Ek mis alles van wat ons gehad het en dalk nooit genoeg waardeer het nie. En ek mis die Vywervrou. Die beplanning van die spyskaart elke week. Die buzz. Beulah. Shirley. En ek mis Celeste vreeslik.”

“Dis tydelik, Mirre. Hopelik is alles oor twee weke verby.”

“Ek dink nie so nie. Nie as mens kyk na wat in die wêreld aangaan nie.”

Dit sal haar leer om goed teen haar beterwete kwyt te raak. “Mirre, ons mis mekaar almal. Maar jy het vir Boeta. Lira vir Fynn. Corali vir Thomas. En selfs Alet het vir Raymond. En ek het vir Anna en Leah. Kom ons wees dankbaar dat dinge vir julle almal voor die pandemie uitgewerk het. Ons sal weer saamkuier. Die Vywervrou sal weer oopmaak.”

Sy huiwer, maar druk dan tog deur. “En Mirre, jy laat weet my onmiddellik as julle geld nodig het. Anders gaan ek baie in die gesig gevat voel.”

“Ai, Marilyn. Ek skuld jou reeds so baie. Dankie, maar ons kom reg.”

“Mirre, ek het jou laas jaar al gesê jou sogenaamde skuld is afgeskryf. Ek het jou met die grootste liefde gehelp en dis dit. En ek wil steeds help. Dis onnodig dat julle swaarkry. Oukei?”

“Ons kom reg,” herhaal Mirre, amper asof sy haarself probeer oortuig. “Dankie dat ek met jou kon praat. Ek voel sommer al klaar beter.”

“Nou bel dan meer dikwels. Ek mis julle ook verskriklik. Ek en Anna en Leah is baie bly ons het mekaar, maar ek mis my meisiekinders. Ons hou ’n coven-meeting sodra die vlermuisgogga op sy moer gekry het. Oukei?” Vandat Fynn na hulle as ’n coven begin verwys het, is hulle half trots op die versamelnaam.

“Ek sien só daarna uit. Dankie, Marilyn. Sommer net dat jy jy is.”

“Nou toe. Gaan gee Marli ’n drukkie van my af en verlei vanaand vir Boeta. Seks help vir stres.”

Mirre se laggie klink weer soos die Mirre wat sy ken. “Jý! Baai, Marilyn.”

Marilyn glimlag ook toe sy groet, maar dis nie ’n happy smile nie. Eerder droewig. Sy mis seks. Die hele spel daar rondom, die ontlading, maar veral die cuddles. Al het sy desjare nooit kon dink dat sy ooit weer ’n man naby haar sou toelaat nie.

Sy kan nie eens meer onthou hoe lank terug sy laas seks gehad het nie. Net dat die laaste keer was voor sy uitgevind het Gerald verneuk haar. Maklik twee jaar gelede, indien nie meer nie. Sy voel ineens soos ’n verdroogde pruim.