Agt en twintig

2020

Vrydag 10 April

Suiderbaai

Paul

Vyf en sestig vandag. Waar de hel is die jare heen? En hoe de hel het dit gebeur dat hy stoksielalleen midde-in ’n pandemie sy vyf-en-sestigste verjaardag moet vier?

Vier? Hoe vier ’n mens iets as jy alleen is? Hoe vier jy ’n mylpaal in jou lewe sonder iemand by jou?

Dis amper soos daardie filosofiese vraag. As ’n boom in ’n verlate woud val en daar is geen diere om dit te hoor nie, maak dit ’n geluid? Filosofies is dit debatteerbaar, maar tegnies gesproke, is die antwoord nee. Klank is vibrasie wat oorgedra word deur die meganisme van die oor. Die val van die boom sal ’n vibrasie van lug veroorsaak, maar as daar geen ore is om die vibrasie op te vang en om te skakel na klank nie, is daar nie ’n geluid nie.

Hy voel soos daardie boom. Een wat laas nag om twaalfuur geluidloos oor ’n kritieke ouderdomsgrens geval het. Die grens tussen optrede en aftrede.

Maar soos Einstein vir een van sy kwantumteorie-pelle gevra het: Glo jy werklik die maan bestaan net wanneer jy daarna kyk?

Geen mens is hier om hom te sien of te hoor nie, maar hy bestaan. Daarvan getuig die katte se kwispelende sterte en die honde se kwylende bekke terwyl hy hulle kos regkry.

Here be animals, therefore I am. Met apologie aan Descartes. Was dit die Moody Blues wat die ander nuanse daaraan gegee het? I know I am, at least, I think I must be.

“My honde en katte is al om my. Daarom bestaan ek. Basta!” sê hy hardop.

Koki kyk hom skewekop aan. Raka gee ’n blaffie. Albei katte miaau gelyk, net op verskillende toonhoogtes.

Hy vryf koppe en ore voor hy die kosbakke neersit. Al vier val weg – die katte op die vensterbank, die honde by hulle gewone plek langs die stoof.

Cogito, ergo sum.

Ja, hy bestaan. Hy het immers ore wat geluide opvang. Die geknars van die korrels tussen die honde se tande, die gedruis van die see, selfs die sagte geluid van Saggrys wat sy melk delikaat oplek.

Maar leef hy?

Vrydag 10 April

Vywerbaai

Marilyn

Dat ’n mens nou moet skype na iemand wat ’n paar honderd treë van jou af bly. Maar dit is darem beter as bel. Om te kan sien hoe haar lyf voller geraak het van ’n kind wat in liefde ontvang is en gebore sal word. Die einde van die eerste trimester het darem vir Lira verligting gebring. Die naarheid is baie minder en sy het baie meer energie.

“Het julle al ’n sonar laat doen?”

Lira skud haar kop. “Ons wil wag tot agtien weke. Die ginekoloog stem saam dat dit beter is om net na hom toe te gaan wanneer dit werklik noodsaaklik is. As ek moes Covid kry ...” Sy skud haar kop. “Ek wil nie eens daaraan dink nie. Maar omdat ek al sewe en dertig is, moet ons die sonar laat doen. Ingeval ... Jy weet.” Lira se oë begin blink, maar sy knipper die trane weg.

Downsindroom. Of een of ander gebrek. Marilyn wil dit nie eens dink nie, laat staan hardop sê.

“Wel, volg maar net die ginekoloog se leiding. En pas jouself op.”

“Ek probeer my bes. Buitendien, Fynn is soos ’n broeis hen. Al om my.” Sy glimlag flouerig.

“En Celeste?”

“Beter. Net buierig. Fynn homeschool haar soggens. En Mirre vir Daaf en Pieter. Mirre en Fynn werk so saam-saam deur die lesse met stemboodskappe en per e-pos. Maar die middae sukkel bietjie. Celeste mis haar buitemuurse bedrywighede. Veral die surf en swem, maar ook die dramaklasse.”

“Sy het nie klasse nodig om ’n drama queen te wees nie. Vir haar kom dit natuurlik.”

“Marilyn!” Lira probeer betigtend lyk, maar kry dit nie reg nie.

“En dit sal in elk geval binnekort te koud wees vir swem en surf.”

“Maar dit is nog nie en dit frustreer haar juis dat die winter aan die kom is en sy nie die laaste paar weke in die water kan benut nie.”

“Lira, moet jou nie deur die mêddempie laat ontstel nie. Jy kry nou voorkeur. Solank sy nie uitgesluit of verstote voel nie, sal sy maar net oor haar buie moet kom.”

Lira sug. “Ek wens so hierdie grendeltyd wil net verbykom. Ek dink Celeste mis Mirre baie. En ek mis die coven. En dis Paasnaweek. Ons sou so lekker besig gewees het in die Vywervrou. Dis die eerste keer vandat ek hier is dat dit nie Paasnaweek reën nie. In hierdie lekker weer sou ons gekook het.”

“Nog net ses dae. Volgende Donderdag hoor ons,” probeer sy troos. Daardie ses dae kan nie vinnig genoeg verbykom nie.

“H’m. Dis die enigste ding waaroor Fynn nie positief is nie. Hy reken daar sal hoogstens verligting van ’n paar regulasies wees.”

Sy wil nie eens dink aan ’n moontlik verlenging van die grendeltyd nie. Hulle het voorsiening getref, maar hulle wynvoorraad gaan nie vir ewig hou nie. En haar sigaretvoorraad nog minder. “Kom ons hoop hy is verkeerd.”

“Jip. Marilyn, lekker om met jou te praat, maar dit voel asof ek enige oomblik aan die slaap gaan raak.”

Haar oë hang halfmas, sien Marilyn. “Nou gaan lê. En skype my net wanneer jy wil, oukei?”

“Jy ook. Baai, Skoonma.” Lira glimlag daardie beeldskone glimlag van haar.

“Grrrr,” grom Marilyn kastig, maar glimlag en stuur ’n lugsoen voor die beeld op haar rekenaar verdwyn.

Sy sit terug in haar stoel. Dertien weke. Op dertien weke was sy nog in die tehuis. Gwen het haar eers op sewe en twintig weke kom red. Destyds was daar nie sonars en dinge nie. Of dalk was daar, maar sy het nie een ondergaan nie.

Eers toe Fynn gebore is, het sy uitgevind haar gebede vir ’n dogtertjie wat sy teen daardie tyd Gwen wou noem, is nie verhoor nie. Maar teen daardie tyd was sy meer ontsteld oor haar tante se planne om haar by Camelot weg te kry as die geslag van haar kind.

Sy was in haar ses en dertigste week toe sy mondig geword het. Dit was die eerste keer dat die vrees dat haar pa haar nog kan dwing om die baba af te teken, haar verlaat het.

Nie dat sy teen daardie tyd al vas besluit het wat sy gaan doen nie. Sy en Gwen het so tussen Gwen se gaste deur baie ure lank daaroor gepraat, maar nooit by ’n finale antwoord uitgekom nie. Vir haar mondigwording het Gwen haar uitgeneem vir middagete by die Van Riebeeck Hotel al was dit ’n Maandag.

1978

Maandag 23 Oktober

Gordonsbaai

Maria

“You are officially an adult now, darling. It’s time we discuss your future after the birth,” kondig Gwen aan ná die nagereg terwyl hulle wag vir koffie. Gwen steek een van haar lang, dun mentolsigarette aan en blaas die rook in die lug in.

“Eerstens moet jy besluit of jy die adoption-ding gaan doen. If so, moet ons deur die regte kanale gaan. I’ll go and see Welsyn to find out the ins and outs. If not, wat is jou planne?”

“Ek weet nie. Ek weet nie wat om te doen nie, auntie Gwen.”

“Jy is mondig. Drop die auntie. Noem my op die naam. Jy laat my oud voel.”

Maria glimlag. “Jy sal nooit oud voel nie ... Gwen. Jy is te bedrywig.”

“Nietemin. Wat wíl jy doen?”

Haar glimlag verflou. Teruggaan na die begin van die jaar voor al die dinge gebeur het, is seker nie ’n goeie antwoord nie. “Dit voel verkeerd om ’n baba net so weg te gee.”

“But he’ll find good parents. Mense wat hom beter kan versorg as jy. Selfs met my hulp. En ek moet eerlik wees. Ek kan probeer om jou finansieel te ondersteun tot jy jou voete gevind het, but my guests feel uncomfortable with you on the premises. And a baby there is out of the question.”

Maria kyk haar onaangenaam verras aan. “Hoekom? Ek bly uit almal se pad uit.”

“En as die baba eers daar is? You can’t stay jailed in the studio with a crying infant. Jy sal mal word. En darling, ek het gedink jy sal jou eie afleidings maak, but apparently you haven’t. What I offer my guests isn’t exactly legal.”

“Maar hulle is mos net kuiergaste?”

Gwen rol haar oë. “You’re such an innocent. No, you’re a naive idiot, actually. Hoe dink jy maak ek geld?”

Maria haal haar skouers op. “Ek het gedink jy het seker geërf of iets? Dalk geld by jou gewese man gekry.”

Nou eers besef sy hoe min sy van Gwen weet. Margaret en Gwen se pa was ’n Metodistepredikant in Rhodesië, Gwen die rebel wat van die familie weggebreek het. Haar eie potjie wou krap. Sy was getroud, maar het enkele jare later geskei. O, die skande! Haar familie wou toe al lankal niks meer van haar weet nie. Gwen het net met Margaret kontak gehad en selfs dit moes skelm geskied. Dis eintlik al wat Maria weet.

“No, my darling. Life isn’t that easy. Trust me on that one.”

Die kelner bring die skinkbord met hulle koffie. Gwen skink vir hulle in.

“Nou, hoe maak jy ’n bestaan?” vra Maria verleë toe hulle weer alleen is. Sy is seker maar ’n idioot.

“Hoe minder jy weet, hoe beter. Nevertheless, the fact is, you can’t stay in that room with a baby. Dit sal nie goed wees vir jou nie, en frankly, dit sal my glad nie pas nie.” Sy steek nog ’n sigaret op. “Wat wil jy met die res van jou lewe doen? In what kind of career are you interested?”

“Ek het geen kwalifikasies nie.”

“My dear, matric is a qualification. Dis net snobs soos jou pa wat reken ’n mens beteken niks sonder universiteitsopleiding nie. You’ll have to be able to look after yourself. That means you’ll have to get a job. Which means you’ll have to look at childcare if you keep the baby.”

“Maar wat kan ek doen?”

“Dis wat ek probeer uitvind.” Gwen sug. “Waarin stel jy belang?”

Maria skud haar kop. “Ek weet nie. Ek wou Regte geswot het, maar my pa wou my nie toelaat nie.”

“Law! Heaven forbid. Maar goed, dis ’n beginpunt. Is daar iets waarin jy belangstel wat jy kan doen sonder ’n graad?”

Maria probeer dink, maar haar verstand staan stil.

“Kan jy tik? Do you know shorthand?”

Sy skud haar kop.

Gwen sug.

“Auntie Gwen, I mean Gwen ...” Maria huiwer. “Gaan jy my op straat sit?”

“Good heavens, no! Maar jy kan nie vir altyd by my bly nie. Vir ons albei se onthalwe. Ons moet aan jou toekoms dink en ek aan myne. Oor vyf, ses, sewe weke word jy ma. En daarom moet ons aan jou kind ook dink.”

“Ek kan nie my kind weggee nie.” Die oomblik toe sy dit sê, weet sy dis die waarheid. Sy haat waar hy vandaan kom, maak nie saak wie die pa is nie, maar die kind kan sy nie haat nie. Die kind het geen skuld aan die manier waarop hy of sy verwek is nie.

“Fine. Dan het ons een ding opgeklaar al dink ek nie dis die regte besluit nie.” Gwen tik met die teelepel teen haar mond. “A flat. We must find you a reasonably priced flat. In die Kaap. Daar is meer werk daar as hier. Better paid too. En ek sal bietjie hoor oor jobs beskikbaar by lawyer firms. Dalk kan ons jou inskryf vir ’n secretarial course. Just as a start. At Damelin or Lyceum. Jy kan deur die pos by een van die twee studeer. Sekretaresses kry altyd werk. Ek was jare lank self een. En ek het ’n tikmasjien waarop jy kan leer.”

Maria dink aan die soort meisies wat op skool tik geneem het. Die dommes. Die los meisies. Maar nou dink sy nes haar pa, besef sy. Het sy ooit een probeer bevriend? Nee. Nou hoe kon sy weet of hulle dom en/of los was? ’n Snob, dis wat sy was.

“And darling, you are not going to go anywhere with a dowdy name like Maria Marais. You will be categorized by the name even before your skills or lack thereof come into account. Veral in die Kaap. Jy lyk in elk geval nie soos ’n Maria nie. As jy eers van die boep ontslae is, gaan jou looks jou baie kan help to find a job. If your boss is male, anyway.”

Maria frons. “Maar ’n mens word mos nie aangestel op grond van hoe jy lyk of wat jou naam is nie?”

Gwen rol weer haar oë. “Darling, you have a lot to learn. As ek jou looks gehad het ... Never mind. Just trust me... Choose a name.”

“Maar ...”

“Selfs Mary sal beter wees.”

“Nee.” Maria dink ’n oomblik na. Onthou dan wat Paul eendag ’n duisend jaar gelede vir haar gesê het. “Marilyn?”

“Perfect. And you take your mum’s maiden name. Marais sal in Stellenbosch werk, maar die Kaap is allesbehalwe Hollands. In die besigheidswêreld is die Kaap Engels. Marilyn Murray. Yes. That works well. Maar goed jy het nog nie ’n identiteitskaart nie.”

“Maar my geboortesertifikaat ...” Nie dat sy eens weet waar dié is nie.

“Leave that up to me. En nog ’n ding. Sodra die kind daar is, moet jy leer bestuur. Ek sal kyk of ek êrens vir jou ’n jalopy in die hande kan kry. Een van my custome... gaste besit ’n garage en het ’n goeie mechanic. Rick hou my kar in orde.”

“Maar waar kom al die geld vandaan?”

“Ek leen dit vir jou. Ek sal nie rente vra nie, maar jy sal moet terugbetaal. Elke maand ’n bedraggie. Geld groei nie op my rug nie.”

Maar sy bly in ’n paleis van ’n huis? Maria vra liewer nie.