2020
Saterdag 18 April
Suiderbaai
Paul
Hy onthou daardie dag op die lughawe, sewe jaar gelede, soos gister. Nee, nie die hele dag nie. Net vanaf daardie oomblik toe hy Maria sien staan het langs die Amerikaner wat luidrugtig oor iets gekla het, tot hy en Drieka op die vliegtuig was.
Paul onthou die man was baie ouer as Maria, maar al sou hy oor hom val, sou hy hom nooit daarna herken het nie. Sy volle aandag was op Maria toegespits.
Haar toffieblonde hare, deurspek van ligter blonde sonstrepies, het perfek gesny om haar perfek gegrimeerde gesig gevou en oor haar skouers getuimel.
Hy het tot stilstand geruk. Drieka se uitroep toe die rolstoel te vinnig stop, het hy skaars gehoor, maar dit moes Maria se aandag getrek het. Haar oë het wyd gerek voor sy breed begin glimlag het. Sy het die Amerikaner se hand gelos, na hom en Drieka toe beweeg.
“Paul!” het sy uitgeroep.
In ’n oogwink het hy die opvallendste aspekte ingeneem. Die eksotiese rok wat net uit ’n baie duur boetiek kon gekom het. Die Rolex aan haar linkerarm. Die knoets van ’n diamant aan haar ringvinger.
Voor hom het sy vasgesteek. “Dis ’n verrassing!”
Onmiddellik het hy gevoel hoe hy week word. Hoe daardie iets wat sy uitstraal, daardie iets waarvoor hy so ontvanklik is, hom weer in sy greep vastrek.
Tot hy onthou van sy pa. Van Melinda. Van die ander.
Hy het haar net ’n minagtende kyk gegee en Drieka se rolstoel weer in die rigting van die toegangsbeheer na die internasionale vertreksaal begin stoot. Botsende emosies het in hom geklots soos seestrome wat uit verskillende rigtings bymekaarkom. Die sterkste was die kulminasie van jare se bitterheid oor wat sy aan sy ouers en die ander s’n gedoen het. Maar daar was ook die weekheid, en daaroor het hy homself verfoei.
Saggrys spring op die tafel en stippel sy behoefte aan ’n vryfie al spinnende uit.
Paul gehoorsaam, maar sy gedagtes is nie by die kat nie.
As Marilyn werklik nie deel was van die afpersing nie – wat hy nie kan sien moontlik is nie – moes sy optrede vir haar raaiselagtig gewees het. Toe en sedertdien.
Maar as dit nie sy was nie, wie sou daarby gebaat het? Het hy haar dalk al die jare ongeregverdig vervloek? Nee, kan nie wees nie. Toe hy sy pa se huis gaan opruim het nadat Awie gevat het wat hy wou, het hy sy pa se bankstate onder oë gehad. Van die telegramme waarin sy pa afgepers is, was nog in sy lessenaarlaai. Die naam onderaan was onteenseglik Maria Marais.
Is dit hoekom Maria Marais nou as Marilyn Murray bekendstaan? Sodat sy nie nagespoor kon word nie?
Vywerbaai
Marilyn
Leah en Anna is gelukkig nog nie op toe Marilyn afstap en die motorhuis binnegaan nie. Sy skakel die lig aan en trek die deur agter haar toe.
Sy moet lank soek voor sy Gwen se koekblik in een van die onuitgepakte bokse opspoor wat sy nog van San Diego laat aanstuur het. Al die jare het die blik waarin sy allerhande sentimentele goed bewaar het, saam met haar getrek. Waarom, weet sy nie.
Sy sif deur ou foto’s, briewe van verskillende mense uit die dae toe mense nog briewe geskryf het, vergeelde koerantuitknipsels, ou paspoorte, ’n oorbel sonder maat, die eerste melktand wat Fynn gewissel het en wat nog. Haar ma se brief en Geerts s’n – steeds in die oorspronklike koeverte – is heel onder in saam met die posspaarbankboekie.
Haar ma se brief is al voos oop en toe gevou, maar die skrif is nog duidelik leesbaar al lyk dit bewerig. Dit begin met My dearest Gwen. In die eerste paragrawe vra sy hoe Gwen met haar projek vorder en erken daarna dat dinge tuis beroerd gaan.
Gwen was klaarblyklik toe alreeds ingelig oor die swangerskap, maar Marilyn twyfel of Margaret geweet het wat presies Gwen se projek behels.
Margaret skryf dat sy verskriklik skuldig voel oor hoe Maria deur haar pa, en by implikasie haarself, behandel is. Dat sy neerslagtig is en skaars haar aandag by haar werk kan bepaal. Dat sy haar doodbekommer oor Maria se welsyn, maar ook oor Joost s’n.
Daarna volg die deel wat Marilyn tot in haar siel geskok het. Die een waarin Margaret sê dis egter tog beter dat Maria uit die huis is. Dat Joost erken het hy is in ’n ernstige geloofstryd gewikkel omdat hy lyflike begeerte na sy eie dogter ervaar sedert sy sestien was. Dat dit is waarom hy so streng met Maria was. Hy kon nie die gedagte verduur dat enige jong man na Maria kyk nie. Hy het geglo hulle koester ieder en elk dieselfde begeertes as hy. Hy het geglo Gideon van Rensburg is die enigste wat sy drange sou kon bedwing en glo dit steeds. Hy is immers ’n diaken in die studentekerk. Dis asof Joost Gideon gesien het as ’n buffer tussen Maria en sy nie-so-vaderlike begeertes.
Margaret herhaal telkens dat dinge nie so kan aangaan nie. Dat sy voel asof sy van haar verstand af raak.
In die laaste paragraaf sê sy dat sy die brief insluit van die man wat Maria van verdere kwaad gered het. Hy wil graag vir Maria help, al is dit net moed inpraat. Sy stuur dit vir Gwen aan, ingeval sy kontak met Maria wil maak. Sy self het nie die moed om met haar dogter in aanraking te kom nie.
Sy sluit die brief af met: Pray for me, my dearest sister. And if you have it in your heart, pray for Joost too. His suffering must be unbearable. Love, Margaret.
Selfs nou, meer as vier dekades later, begryp sy steeds nie dat Joost vir Margaret altyd belangriker as haar dogter was nie. Dat sy hom jammer gekry het oor sy teennatuurlike gevoelens vir sy dogter. Dat sy hom meer simpatiek gesind was as vir Maria.
Die datum van die posstempel is nou nie meer leesbaar nie, maar destyds het sy gesien dit is gepos tien dae voor Margaret Potch-dam ingestap en ’n einde aan haar lewe gemaak het.
Gwen het in ’n stadium vir haar gesê dat sy ná Margaret se dood weke lank rondgebel het om die tehuis op te spoor. Al wat sy geweet het, is dat Maria na ’n tehuis in die Vrystaat gestuur is. En toe sy by die regte plek uitgekom het, het sy die volgende dag in haar kar geklim en daarheen gery.
Marilyn vou die brief met ’n sug toe. Sy moes dit nie weer gelees het nie. Nie weer gaan staan en karring het aan ’n wond wat nooit genees het nie. Dis in elk geval Geerts se brief wat nou van belang is.
Sy het eers later verstaan waarom Gwen nie daardie brief vir haar gegee het nie. Gwen het geweet haar protégé sal wil weet hoe sy daaraan kom. Sal besef dit moes van Margaret af gekom het aangesien dit aan die Potch-adres geadresseer was. Sou wou weet wat in haar ma se brief staan. En Gwen was wys genoeg om dit eerder van haar te weerhou.
Geerts se brief is besaai van die Nederlandse woorde en spelling, maar dis nie moeilik om te volg nie. Hy het geweldig naberou dat hy nie haar verkragters aan die polisie uitgelewer het nie, dat hy hom laat ompraat het omdat hy gedink het Paul verstaan die situasie beter as hy wat net Nederland ken.
Hy wens hy kon die wetters laat boet, maar dis nou vir hom belangriker om haar te probeer ondersteun. Hy vra uit hoe dit met haar gaan, of sy goed versorg is. Hy lig haar in oor wat met hom gebeur het sedert hy van die kampus af weg is. Dat hy in Utrecht woon en getroud is – nogal met ’n Afrikaanse meisie – en dat dié hom help om oor sy selfverwyt te kom. Hom moed inpraat wanneer hy terneergedruk voel.
Sy was nie seker of hy steeds by die adres agter op die koevert was nie, maar het ’n ruk ná sy die brief ontdek het ’n lang brief teruggeskryf. Vertel van die tehuis, van Gwen, van haar ma, van Fynn. Dat sy werk gekry het, maar die betaling is maar min. Dat sy die meevaller van Gwen gekry het, maar dat dit nie vir ewig sal hou nie al kom dit nou baie handig te pas. Sy het daarmee vir Fynn ’n paar noodsaaklikhede asook ’n stootwaentjie gekoop, maar sal verder versigtig daarmee te werk gaan en hoop sy kry ’n werk met beter besoldiging.
Weke later het sy ’n lugposbrief van Geerts gekry waarin hy haar onder meer vir haar bankrekeningnommer gevra het. Hy wil graag ’n klein bydrae vir haar telegrafeer om haar te help, maar veral omdat dit hom net soveel beter sal laat voel.
Sy het dadelik geskryf sy waardeer dit, maar dis nie nodig nie. In sy volgende brief het hy aangedring, weer op grond daarvan dat dit hom beter sal laat voel. Uiteindelik het sy vir hom die nommer van haar posspaarbankboekie gestuur – nog in die naam van M. Marais.
Daarna het sy elke maand ’n inbetaling ontvang – soms meer, soms minder – maar nie een van die briewe wat sy vir Geerts gestuur het om dankie te sê, is ooit beantwoord nie.
Ook nie die brief waarin sy hom meegedeel het sy gaan met Rick trou en sy is nou relatief oukei nie. Die bedrae het bly inkom. Bedrae waarvan sy die helfte weggesit het vir Fynn se toekoms.
Marilyn skud haar kop. Maar as dit afpersgeld was wat hy na haar toe gekanaliseer het, hoe is dit moontlik dat daardie bedrae families finansieel kon ruïneer? Dit was baie handig en het haar lewe heelwat makliker gemaak, maar dit was nie naastenby genoeg om die vier gesinne finansieel te ruïneer nie.
Sou Geerts dalk die room afgeskep het? Sy toekoms het immers ook, ná hy weg is uit Potch, anders daar uitgesien as wat hy beplan het. Hy kon nie sy MSc op die PUK klaarmaak nie, maar het wel werk gekry in die botaniese tuin in Utrecht. Dit het hy in sy tweede brief geskryf.
Die hele ding bly vir haar ’n raaisel. En wat het in 1990 gebeur dat die bedrae opgedroog het? Paul sal haar moontlik kan help om die saak uit te pluis, maar hy is die laaste mens in die hele wye wêreld met wie sy daaroor wil praat.
Die ideaal sal wees as sy Geerts kan opspoor, hom reguit vra.
Destyds was daar nie Google of sosiale media nie en vandat sy beide begin gebruik het, het dit nooit eens by haar opgekom om mense uit die aakligste deel van haar lewe op te spoor nie.
“Geerts Geertsema” lewer ’n hele paar resultate op toe sy op haar selfoon begin google, maar merendeels Geert as naam, nie die afkorting van sy van nie. Cornelius Geertsema het twee trefslae, maar die een is al in 1963 oorlede en die ander is nege en tagtig jaar oud.
Geerts was ouer as sy. Maklik vyf of ses jaar, dalk selfs meer, maar hy sal hoogstens baie diep in sy sestigs wees. Vir ’n oomblik kan sy nie sy middelnaam onthou nie, maar toe sien sy ’n Cornelius Adriaan Geertsema raak terwyl sy ondertoe rol op die blad en weet sy is op die punt om uit te vind wat van hom geword het.
Haar moed begewe haar en sy maak Google toe.
Watter nut kan dit tog hê? Geerts het haar gehelp toe sy dit nodig gehad het. Daarvoor sal sy hom ewig dankbaar bly. Sy wil nie uitvind as hy dalk minder edele motiewe gehad het nie. Sy wil nie weet of hy werklik soveel ellende vir die betrokke families veroorsaak het nie. Sy wil nie haar beskermengel se vlerke sien afval nie.
In die kombuis sit Leah nog in haar nagklere by die ontbyttoonbank. Anna is al aangetrek en maak koffie.
Leah kyk verskrik op toe Marilyn die deur na die motorhuis toetrek. “Magtag, Marilyn. Skrik ek my nou amper in ’n ander dimensie in. Wat maak jy in die garage dié tyd van die oggend?”
“Sorrie. Iets gesoek. Môre, Leah. Anna. Koffie vir my ook, asseblief?”
Anna haal nog ’n beker uit die kas. “En toe? Kon jy darem geslaap kry?”
“Uiteindelik, ja.” Sy gaan haal haar sigarette en kry haar sit in haar hoek.
Leah kyk haar ondersoekend aan. “Gaan jy ons vertel wat gisteraand tussen jou en Paul gebeur het?”
Sy knik terwyl sy die eerste teug aan haar sigaret neem. Sy blaas dit behaaglik uit. “Ek sal, maar eers koffie, asseblief. En ek sal die storie ver moet gaan haal.”
Toe hulle elkeen met ’n beker om die toonbank sit, begin sy vertel. Van Fred en Doepie en ook van Geerts.
“Fok, Marilyn, dis verskriklik.” Leah skud haar kop. “Maar ek is de moer in dat jy geweier het dat hulle die polisie laat kom het. Daardie varke hoort agter tralies!”
“Sommer lewenslank,” beaam Anna met woede in haar blik.
Marilyn haal net haar skouers op en vertel verder. Van Gideon se verraad en die tehuis. Van Gwen. Rick.
Anna en Leah luister in stilte, maar sy kan hulle meelewing aanvoel. Hulle onthutsing en verontwaardiging afgewissel met misnoeë en simpatie.
Uiteindelik vertel sy hulle van Paul se beskuldiging.
Marilyn trek die posspaarbankboekie uit die agtersak van haar jeans. “Hier is my bewys dat ek daardie mense nie leeggesuig het nie.”
“Dank die hemel jy het die ding gehou.” Anna gaan kry die koffiemasjien weer aan die gang. “Ek kan nie glo dat jy deur soveel ellende is nie, Marilyn. En dat jy boonop staande gebly het, is bewonderenswaardig.”
“Ek het nie ’n moerse keuse gehad nie. Ek het ’n kind gehad om aan te dink. En as dit nie vir Gwen was nie, weet ek nie wat van my sou geword het nie.”
“Moenie jouself so cheap vat nie. Min ander vroue van daardie ouderdom sou kon gecope het – met of sonder ’n tante se hulp.” Leah vat die boekie by haar, blaai daardeur en skud haar kop. “’n Pakkie van my sigarillo’s kos nou vier keer soveel as wat maandeliks hier inbetaal is.”
“Jou eie skuld as jy sulke duur goed wil rook, maar ek weet wat jy bedoel.” Anna kry die melk uit die yskas. “Ek het nou die dag ’n ou tjekboek uit my studentedae opgediep terwyl ek iets anders gesoek het. Kan jy glo ons het in die sewentigs tjeks uitgeskryf vir een rand enige sente? En ’n ander keer het ek op ’n restaurantrekening van 1980 afgekom. Twee bottels wyn en twee crayfish thermidors. Net oor die twintig rand en dit het ’n fooitjie ingesluit!”
Anna probeer die somber bui lig waarin hulle verval het, besef Marilyn, dankbaar dat die kollig verskuif is.
“Wys jou weer eens net hoe donners oud ons is,” brom Leah. “Ek kan nog ’n tyd onthou dat ’n brood tien sent gekos het.”
“Maar ernstig nou.” Anna hervul hulle bekers. “Hoe nou verder, Marilyn? Wat nou van Paul?”
“Niks nie.”
“Niks nie se gat!” roep Leah uit. “Jy gaan jou big-girl panties moet aantrek, hierdie boekie onder sy neus druk en hom oortuig jy is nie ’n afperser nie. Daardie bedrae kon niemand bankrot gemaak het nie. Nie eens toe nie.”
“Maar ek het dalk tog gebaat by die afpersery. Dis te sê as dit Geerts was.” Sy lig hulle in oor sy brief en wat daarop gevolg het.
Anna kom sit oorkant haar. “As ek so luister na alles wat jy vir ons van dié Geerts vertel het, klink hy nie vir my na die soort man wat so iets sal doen nie. Jy noem hom immers ’n gentle giant. En hy was die een wat die regte ding wou doen – polisie toe gaan – en onmiddellik ingesien het dat jy geen skuld aan die gebeure gehad het nie.”
Anna is reg, besef sy. Sy kan dit net eenvoudig nie met Geerts vereenselwig nie.
“Buitendien, hy sou met die mense moes gekommunikeer het. Hulle sou mos agtergekom het dis ’n Hollander, ’n man en nie jy nie? En boonop het hy in Nederland gesit.”
Daaraan het sy nog nie eens gedink nie. Marilyn sug. “Dan is ons terug by square one.”
Leah het blykbaar belangstelling verloor en sit en speel met haar foon.
Anna kou ingedagte aan haar beskuit. “Jy sê hy is destyds met ’n Afrikaanse meisie getroud?”
Marilyn knik.
“Sou sy dalk die korrespondensie kon gevoer het?
Marilyn sit regopper. “Dit kan seker wees.”
“Het dit!” Leah hou haar foon triomfantlik in die lug. “Die Geertsemas het ’n familiestamboom op ’n genealogiese website. Cornelius Adriaan Geertsema was getroud met ene Lizelle. Haar nooiensvan was Kotze.”
“Lizelle? Daar was ’n Lizelle ... Die storie op die kampus was dat Awie haar swanger gemaak het en toe ontken het hy is die pa. Sy het opgeskop, weet ek, maar ek weet nie of haar van Kotze was of wat van haar geword het nie.”
Leah kyk weer af na die foon, rol op en af met haar duim. “Wel, as dit sy is, is sy in 1990 dood.”
Marilyn kyk verras na Leah. “1990? Maar dis die jaar wat die afpersing opgehou het!”
“H’m. Ek het slegte nuus vir jou. Jou gentle giant is ook oorlede, maar eers in 2005.”
Geerts dood? So vroeg? Hy moes in sy vroeë vyftigs gewees het.
“Luister, ek gaan my klerk whatsapp en vra om alles vir my na te spoor sodat ons ’n beter prentjie kan kry. Sy is uitstekend met sulke goed. Sy het my met die hele Mirre-sage ook oneindig baie gehelp.”
Leah tik ’n lang boodskap en sit haar foon eenkant neer. “Ten minste het ons nou ’n vermoede wie die culprit is. Lizelle het self ’n aksie teen ten minste Awie gehad. En sy was Afrikaans. Sy kon haar voorgedoen het as Maria Marais. Veral destyds, toe dit veel makliker sou gewees het as nou.” Sy draai na Marilyn. “Sodra ons die inligting het, tackle jy Paul en kry jou naam skoon by hom. Reg?”
Doen ’n ding en kry dit oor en verby, was nog altyd haar motto, maar dié keer weet sy nie of sy kans sien nie. “Kom ons kyk maar eers waarmee jou klerk vorendag kom.”