Sewe en dertig

2020

Vrydag 24 April

Suiderbaai

Paul

Ná sy rustelose nag kom hy aan niks nie. Kan aan niks anders dink as Marilyn en daardie posspaarbankboekie nie.

Liewe hemel, hoe het sy as enkelma sonder kwalifikasies oorleef? Daardie geld, min soos dit selfs toe was, moes soos manna uit die hemel vir haar gewees het. Ten minste het Geerts haar gehelp, al was die afpersing veragtelik.

En wat het Paul Avenant gedoen? Ná een probeerslag om uit te vind waar sy is, net mooi boggherol. Hy het geglo sy gaan die baba afteken, gedink dit is die beste besluit wat sy kon neem. Hy het aanvaar sy sou uiteindelik die goeie man raakloop wat sy verdien, trou en kinders kry. Uiteindelik oor daardie nagmerrie-ervaring kom.

Hy was te besig om slagoffer te speel om hom werklik in haar situasie te probeer indink. Hoe jammer het hy homself nie gekry gedurende die tyd in Germiston nie. Hoe veronreg het hy nie gevoel nie en dit terwyl dit sy donnerse broer was wat Marilyn ontneem het van alles wat sy moes gewees en moes geword het. ’n Sorgvrye student, ’n gegradueerde vrou met ’n beroep, uiteindelik ’n huwelik – moontlik nog met Gideon van Rensburg. Kinders binne die eg.

Hy kry sy foon beet. Marilyn se nommer asb? tik hy en stuur dadelik vir Leah voor sy moed hom begewe.

Sekondes later het hy die nommer sonder enige verdere kommentaar van Leah se kant af.

Dankie.

Hy voeg die nommer by sy kontaklys. En net daar begewe sy moed hom toe wel. Wat sê hy immers? Dis nie ’n ding wat ’n mens met whatsapps kan aanpak nie. Dis ook nie iets wat mens oor die foon kan opklaar nie. Maar dis lockdown. En hy het daardie waarskuwing van Bruintjies weg. Al mag hy winkels toe gaan, is hy in groot moeilikheid as Bruintjies hom by Marilyn se huis vang. Buitendien is Leah en Anna daar. Dis nie ’n gesprek wat hy ten aanhoor van hulle wil voer nie. Die uiteinde is net te onvoorspelbaar.

Hy begin tik, vee uit, tik weer. Marilyn, ons moet die ding uitpraat. Van aangesig tot aangesig. Ek wil graag weet wat die waarheid is. Kan jy na my plek toe kom? Hier is veel minder lockdown-polisiëring as in die dorpe. Paul.

Vywerbaai

Marilyn

Sy sit in die kombuis en hou Leah en Anna se gewerskaf dop, haar gedagtes by alles wat Ramaphosa gisteraand kwytgeraak het. Sy kon die man soen toe hy aangekondig het hulle kan van volgende Donderdag af weer sigarette koop. Nou hoef sy ten minste nie meer daaroor te stres nie. Sy hoop net daar is betyds voorraad by die winkels. Noudat sy minder rook, het sy darem nog genoeg vir so twee weke.

Haar hand gaan outomaties na haar foon toe dit pieng. Sy lees die whatsapp twee keer voor sy kan inneem wat daar staan.

“Oukei, wie het my nommer vir Paul gegee?”

Anna skud haar kop.

“Leah?”

Leah draai stadig om waar sy staan en hande was. “Mea culpa. Hy het daarvoor gevra.”

Marilyn gluur haar aan. “Wat de donner het jou besiel?”

“Ek is nie lus om tussenganger te speel nie. Julle moet julle eie gemors opruim. Wat sê hy?”

“Dat ons die ding moet uitpraat. By sy huis. Bleddie vermetelheid. Dink hy regtig ek gaan agter hom aanry?”

“Wil jy eerder hê hy moet hierheen kom? Ek sal dit natuurlik verkies, dan kan ek afluister.”

“Ek wil nie met hom praat nie, punt.”

“Jy weet, Marilyn, partykeer voel ek lus en kry jou aan die skouers beet en skud jou. Jy is hardkoppig en eiewys. Goed om vir ander mense te sê doen ’n ding en kry hom klaar, maar is dan self te bleddie papbroekig, te lamsakkig om jou eie raad te volg.” Leah pluk die Prado se sleutels van die haak af en klap dit voor Marilyn neer. “Toe, ry nou. Voertsek. Ons het werk om te doen.”

“Mag ek jou daaraan herinner dat dit mý huis is waaruit jy my wegjaag?”

“Jy mag. Jy het so pas. Skoert nou. Anna, roer daai bredie. Dit gaan aanbrand.” Leah draai haar rug op hulle albei en begin verwoed kap en sny aan wat ook al op die snyplank lê.

“Pasop jou vingers,” maan Anna, kry ’n houtlepel uit en roer die brousel in die yslike kastrol. “Bye, Marilyn.”

Lafhartigheid is een ding, papbroekigheid en lamsakkigheid ’n perd van ’n ander kleur.

Marilyn gryp haar sigarette en selfoon, smyt die binnedeur na die motorhuis agter haar toe. Sy is nie ’n donnerse lamsak of papbroek nie. Sy het van Mirre verwag om haar demons te face. En uiteindelik het sy. Nou moet Marilyn Murray bewys sy is nie net ’n prater nie, maar staan by dit waarin sy glo. Doen wat reg is.

Sy sal Paul donnerse Avenant gaan vertel waar Dawid die wortels gegrawe het en klaarkry.

Sy wag nog dat die elektroniese motorhuisdeur ooprol toe Leah met ’n A4-koevert langs haar verskyn. Sy tik teen die venster en Marilyn laat dit oopgly.

“Jou bewyse. Ek het alles vir jou bymekaargesit. En jy rook nie in my kar nie, nè?”

Marilyn het ineens die onbedaarlike drang om vir Leah tong uit te steek, maar besef net betyds hoe kinderagtig dit sal wees. Leah probeer haar help. Dis net ... Hulle verstaan nie.

“Versigtig oor die grondpad.” Leah se stemtoon het versag. “En sterkte.”

Marilyn knik net. Die knop in haar keel laat nie meer as dit toe nie.

Suiderbaai

Paul

M is op pad. As jy haar moeilikheid gee, sal jy dit tot in lengte van dae berou.

Leah se whatsapp trek soos ’n elektriese skok deur hom. Hy het wraggies nie gedink Marilyn sal instem nie. Hy ruim inderhaas sy ontbytskottelgoed op en gaan trek ’n skoon hemp aan om die T-hemp waarin hy wou tuinwerk doen te vervang.

Hy begin sweet. Hoe vra ’n mens om verskoning ná jy iemand behandel het soos hy Marilyn behandel het? Waar begin hy? Wat sê hy? Hoe steek hy Leah se aandeel weg?

Hy probeer sy pyp aan die brand kry, maar sy hande bewe te veel.

Sy mond is droog. Hy drink sommer met ’n bakhand onder die kraan ’n paar slukke water. Probeer weer die pyp brand kry, maar nou bewe sy hande nog meer.

Jy gaan haar net vra wat werklik gebeur het. Maak asof jy van geen sout of water weet nie en dan innig en opreg om verskoning vra.

En dan? Dan het hy nie meer ’n rede om vir haar kwaad te wees nie, maar sy sal alle rede hê om woedend te wees vir hom.

Die oomblik van waarheid het aangebreek, besef hy toe hy die motorenjin hoor. Raka begin blaf. O hel, die honde.

Hy gaan op die stoep uit en roep die twee na hom toe. Beveel hulle om te sit en te bly voor hy afstap na die motor toe.

Marilyn het reeds uitgeklim toe hy by haar kom. Sy is weer in jeans. Skeur op die knie en bont blomme om die uitklokpype geborduur. Wit, lospassende top. Lae hals raai hy, al hou sy ’n koevert styf teen haar bolyf vas.

“Hallo, Marilyn. Dankie dat jy ...”

“Dè.” Sy druk die koevert in sy hande. “Lees en word wys.” Sy begin weer in die kar klim.

Hy gryp haar aan die arm. “Ons moet praat.”

Marilyn ruk los en vou haar arms om haar middel. “Ek het niemand afgepers nie. Daar. Ons het klaar gepraat.”

“Gaaf. Ek neem aan die bewyse van jou onskuld is in die koevert. Kom drink darem net eers koffie saam met my.”

“Ek het koffie by die huis.”

“Ek bedoel terwyl ek deur jou bewyse gaan. Ek het dalk vrae. Jy is nou hier.”

Sy skud haar kop. Die silwer hare glinster in die sonlig. “Ek is al deur baie verhoudings, Paul. Drie huwelike. Ek is al deur een van die mans in my lewe gemoer en ’n ander gestalk. Maar niemand, niemand het my nog ooit so verneder laat voel soos jy nie. Nou die aand, maar ook die dag op die lughawe. Ons het niks vir mekaar te sê nie. Glo wat in daardie koevert is of nie, I don’t give a fuck.”

“Ek is jammer ek het jou te na gekom, Marilyn.” Hy sukkel om die woorde uit te kry. “Jy sal nooit weet hoe jammer nie.”

Haar onderlip begin bewe en haar oë raak te blink.

Hy reageer op instink. Laat val die koevert, vou sy hande om haar gesig en soen haar.

Wonder bo wonder ruk sy nie haar kop terug nie. Sy staan net doodstil. Hy trek haar teen hom vas, verdiep die soen met ’n ligte, onwillekeurige kreun. Verwonderd voel hy hoe haar arms om sy middellyf gaan en sy die soen begin beantwoord.

Hy is skoon lighoofdig toe hy haar uiteindelik laat gaan. Sy hart skop soos ’n dol esel teen sy borskas.

Haar oë is donker, lyk amper verskrik. “Wat de hel dink jy doen jy?” prewel sy.

“Begin uitsien na die volgende een?”

Haar mond beweeg komieklik. Asof sy eintlik wil lag, maar haar bedink.

Hy staan terug. “Marilyn, asseblief. Kan ons nie net binnetoe gaan en praat nie? Ek belowe ek sal nie weer aan jou raak nie, maar ek het nou ’n glas wyn eerder as koffie nodig.”

Sy lig ’n wenkbrou. “Wyn? Wel, as jy dit só stel ...” Sy leun sywaarts en kry haar sigarette en selfoon uit die motor. “Maar dis net omdat ons wyn min raak. Niks anders nie.”

Hy buk en tel die koevert op. Hopelik sien sy nie sy glimlag nie.

Sy laat die honde eers aan haar hande ruik voor sy oor hulle koppe vryf en toe tussen hulle deurstap. Hulle sterte raak kwispelende swepe.

O, were I a dog’s head beneath that hand.

Suiderbaai

Marilyn

Sy moet haar kop laat lees. Waarom de hel het sy ingestem? En dit ná daardie onverwagse, aardskuddende soen? Want sy wil verduidelik. Seker maak Paul verstaan waarom sy geld van Geerts aanvaar het. Nie bevraagteken het waar dit vandaan kom nie omdat dit net te welkom was.

En jy hoop hy soen jou weer.

Twak!

Is.

Shaddap, Leah.

Marilyn vra nie eens of sy in sy huis mag rook nie, steek net ’n sigaret aan en gaan sit by die kombuistafel.

Paul stoot ’n asbak nader, skink wyn en steek ’n pyp op.

“En dit?”

Hy haal sy skouers op. “Die ouens op die Spoorweë het almal gerook. Dis nogal aansteeklik. Ek het net op ’n pyp besluit omdat dit goedkoper was. Maar ek rook net wanneer ek senuagtig is.”

“En jy is op die oomblik senuagtig?” Sy neem ’n slukkie wyn.

“Baie.”

“Hoekom?”

“Daar is ’n lys redes, maar veral omdat ek jou gesoen het sonder jou toestemming.”

Dít moet sy liefs laat verbygaan. Hy weet bleddie goed hoe sy daarop gereageer het. Wat in sigself toestemming was. “Wanneer het jy op die Spoorweë gewerk?”

“Ná ... Potch.”

“Kelner op die Bloutrein?”

Hy skud sy kop. “Stoker.”

Dit moes hel gewees het. “En daarna word jy ’n mediese rep. Toe kry jy ’n beurs, swot jou in ’n professorskap in en trou so tussendeur met een van die rykste vroue in Stellenbosch.”

“Lyk my Leah het haar werk deeglik gedoen.”

Marilyn knik.

“Maar ek weet nie hoe jou lewe verloop het nie.”

“Kind gekry, sekretaresse geword, getrou, geskei, baie verhoudings, getrou, geskei, baie verhoudings, getrou en geskei, Vywerbaai toe gekom.”

“Laaste egskeiding van ’n skatryk Amerikaanse movie-mogul.”

“Leah?”

Hy knik. “Ek neem aan dit was die Amerikaner daar op die lughawe?”

Sy knik. “Gerald Connaught is nie exactly ’n movie-mogul nie, maar ja, skatryk. Dit was jou vrou in die rolstoel?”

“Jip. Drieka.”

Sy rook haar sigaret klaar en druk dit dood. “Jy het nog nie na die inhoud van die koevert gekyk nie.”

Hy teug nog aan sy pyp. “Wat is daarin?”

“Inligting wat Leah nagespoor het. Ook my posspaarbankboekie wat bewys hoeveel Geerts daar inbetaal het. ’n Brief van Geerts waarin hy verduidelik hy wil my finansieel help omdat hy skuldig voel.”

“Geerts.” Hy skud sy kop. “Die gentle giant. Ateïs met ’n sterker gewete as menige gelowige. En tog pers hy mense af in bankrotskap in.”

“Ek dink nie dit was hy nie.” Sy vertel hom vlugtig wat sy weet van Lizelle, haar kind en suster.

“Maar Geerts moes geweet het van die afpersing.”

“Dalk nie hoe erg dit was nie. Maar jy moet weet, Paul, hy het my lewe aansienlik makliker gemaak. In die koevert is ’n posspaarbankboekie. Daarin sal jy kan sien hoeveel hy inbetaal het. Dit was nie baie geld op ’n slag nie, maar ontsettend welkom. En jy sal my maar net moet glo dat ek nie geweet het dis moontlik afpersgeld nie. Ek het dit werklik nie eens vermoed nie.”

“Ek glo jou.” Paul skud sy kop en klop sy pyp in die asbak uit. “En alles kan teruggelei word na Awie. Die punt van die passer.”

Marilyn bly ’n oomblik lank stil. “Jy het gesê hy is in ’n motorongeluk dood?”

Hy knik. “Dis nie seker of Awie die nag van sy dood moedswillig teen ’n hoë spoed kop aan kop in ’n vragmotor vasgery het en of die ongeluk net gebeur het omdat hy gesuip was nie. Die vragmotorbestuurder het ook omgekom en niemand anders kon lig werp op die omstandighede van die botsing nie.”

Sy kan nie sê sy is jammer nie, vir Awie voel sy net veragting. Maar sy is ook nie bly nie. Dit voel net asof dit half gepas is. Dat daardie motorongeluk bloot die einde is waarop Awie se hele lewe afgestuur het.

“Marilyn ...” Paul word onderbreek deur sy foon wat pieng. Hy kyk nie daarna nie, maar hy praat ook nie verder nie.

Sy maak haar wyn klaar en staan op. “Ek dink ons weet nou alles wat nodig is om van mekaar te weet.”

Hy gryp haar aan die pols. “Bly asseblief. Nog ’n glas wyn lank. Ek wil meer weet. Van jou lewe. Toe en nou.”

Sy huiwer, skud dan haar kop. “Ons het genoeg gepraat vir vandag. Ek moet net ’n draai loop voor ek ry.”

“In die gang af, regs.”

Dis ’n outydse badkamer. Bekoorlik ouderwets. Bad op pootjies. Koperkrane. Wasbak gesink in ’n lieflike wastafeltjie met blou teëls.

Nadat sy haar hande gewas het, haal Marilyn ’n paar keer diep asem en kyk in die spieël met sy vergulde raam. “Jy het moeilikheid,” fluister sy vir haar spieëlbeeld. “Groot moeilikheid. Van die wens-hy-wil-my-weer-soen-soort.” En dis hoekom sy gouer as gou hier moet wegkom.

Big-girl panties, Marilyn, big-girl panties.

Toe sy in die kombuis kom, sien sy dadelik daar is fout. Paul sit met sy hand oor sy mond en staar na sy selfoon.

“Wat?” vra sy.

“Whatsapp van die polisie af.” Hy sug diep voor hy opkyk. “Ek was nou die aand, ná ek by julle weg is, in aanraking met konstabel Bruintjies toe hy my voorgekeer en ’n waarskuwing gegee het. Hy het ’n masker gehad, maar dit het nie sy neus en hele mond bedek nie. Ek het myne by jou huis vergeet. Sy toetsuitslae het so pas gekom. Hy het positief getoets vir Covid-19.”

Sy kyk hom verward aan.

“Ek moet selfisoleer en almal wat met my in aanraking was ook.” Hy hark met sy vingers deur sy dik hare. “Ek het jou dalk die kiss of death gegee.”

“Maar ...” Marilyn sak op die stoel neer. “Wat nou?”

“Nou, Marilyn Murray, is ek en jy huismaats vir twee weke.”