2020
Vrydag 24 April
Suiderbaai
Marilyn
Sy klap die toilet se deksel toe en gaan sit daarop, laat sak haar gesig in haar hande.
Natuurlik het hy rede om haar te veroordeel. Terwyl sy praat oor die dinge wat sy aangevang het, besef sy eers werklik hoe impulsief, hoe roekeloos sy was. Hoe doelloos haar lewe was.
Wat het sy bereik? Fynn in die wêreld gebring. Dis haar enigste claim to fame. En dis nou nie eintlik asof sy ’n keuse gehad het nie. Boonop weet sy nou nog nie of sy hom ’n guns bewys het toe sy besluit het om hom self groot te maak nie. Hy kon ’n bestendige lewe by twee liefderike aanneemouers geniet het. ’n Pa-figuur in sy lewe gehad het.
Geen wonder hy het haar ná matriek selde opgesoek nie. Gereeld gebel en ja, bedags het hy gewerk en saans en naweke studeer. Dit was egter nie die enigste rede waarom sy hom so min gesien het nie. Die enkele naweke wat hy gedurende sy eerste jaar wel huis toe gekom het, was die spanning tussen hom en Sean ondraaglik. Praat van ’n clash of personalities.
Of miskien het hy aangevoel dat die vent gewelddadig was al was Sean sy skynheilige self voor Fynn. Dieselfde soort skynheiligheid wat hy aanvanklik teenoor haar gehandhaaf het.
So vrygewig met geskenke en komplimente. So bewonderend oor die feit dat sy haar seun vir alle praktiese doeleindes alleen grootgemaak het. So mal oor haar lyf. Sy is vir hom die hoogtepunt van vrouwees, het hy meer as een keer gesê.
Hy was ’n uitstekende minnaar. Het haar soos ’n godin laat voel, haar inderdaad sy goddess genoem. Vir die eerste keer was dit nie nodig om te maak asof sy seks geniet nie. Sean het haar liggaam soos ’n harp gespeel.
En toe maak sy die fout om by hom in te trek en – op sy aandrang – uit haar werk te bedank. Hy sal vir haar sorg.
Geleidelik het hy al hardhandiger begin raak tydens die liefdespel. Later het hy haar ook begin rondstamp wanneer hulle ’n woordewisseling gehad het. Een aand het sy hom uitgeskel vir ’n boelie. Hulle het soos agtertangers op mekaar begin skree. En toe kom die klap. En nog een.
Die volgende dag het hy haar nie om verskoning gevra nie. Net gevra dat sy hom nie moet uittart nie. Hy sorg vir haar, help haar om Fynn op universiteit te hou en hy reken hy kan ten minste verwag dat sy hom respekteer.
Maande lank het sy dit reggekry om nie sy humeur te laat ontwaak nie, telkens die minste gebly, sy hardhandigheid verduur, maar natuurlik kon sy dit nie volhou nie.
Dié keer het die vuiste teen haar lyf geklap – natuurlik waar die kneusmerke nie wys nie.
Sy het ’n beangste muis geword – alle bevele, opdragte uitgevoer en voorskrifte gevolg. Fynn se universiteitsfooie vir sy tweede jaar was immers op die spel.
Sy wou weer begin aansoek doen vir werk, maar hy het haar verbied. Uiteraard sou hy. Hoe afhankliker sy van hom was, hoe groter was die beheervraat se mag oor haar.
Fynn was in sy derde jaar toe Sean haar tot ’n uitbarsting gedryf het. Haar beloning was ’n gesig wat soos ’n bloukaaspizza gelyk het. Dis toe dat sy vir hom die hoender gemaak het. En toe hy weer redelik compos mentis was vir hom gesê het as hy haar ooit weer slaan of hardhandig behandel, sal hy sy lewe nooit weer seker wees nie.
Sy het gewag tot Fynn se universiteitsfooie vir sy honneursgraad betaal is voor sy haar planne gemaak het om te ontsnap. Dit het fyn beplanning geverg, maar sy het dit reggekry om te verdwyn. Kaap toe. Leah het haar gehelp toe hy die Rolex, verloofring met ’n driekaraatdiamant en ’n paar ander juweliersware wat hy vir haar gegee het, wou terugeis.
Dit was ook danksy Leah dat hy uiteindelik die aftog geblaas en nooit weer van hom laat hoor het nie. Sy het met ’n draai gehoor van sy volgende slagoffer en sy dood.
Sy het weer werk gekry as sekretaresse vir prokureurs, maar die betaling was swak. Sy is terug Pretoria toe, waar sy dieselfde werk teen beter besoldiging gekry het. Selfs nadat sy al Sean se duur geskenke verkoop het, was dit egter nie genoeg om Fynn te help om sy meestersgraad voltyds te doen nie. Dis toe dat sy haar plan met Fynn se boepensbaas bedink het.
Daarna is sy na die buitewyke van Johannesburg toe. Daar het sy ontvangsdame geword by die veearts se spreekkamer. Hulle huwelik was redelik kortstondig. Die seks was vrek vervelig, maar sy het gedink hy is ’n goeie, standvastige man op wie sy kan vertrou. Hy was, maar daar was ook ’n ander sy aan hom. Sy perfeksionisme het uit die kas gekruip eers nadat hulle getroud is. Sy mag nie in die huis of sy kar of selfs haar eie kar rook nie. Geen onnetheid is geduld nie en tot sy handdoeke moes met presisie gestryk word, sy sokkies net só gerol word. En hy glo nie in huishulpe nie. Hallo?
Ná hulle blitsige egskeiding is sy weer terug Pretoria toe. Die firma waarvan die stalker die besturende direkteur was, het ook ’n kafeteria besit in die gebou waar hulle kantore was. Sy was die suksesvolle kandidaat vir die pos om die kafeteria te bestuur. Paul lag hom sweerlik ’n papie as hy hoor sy het enigiets bestuur wat met kosmaak te doen het. Maar waar dink hy kom haar teensin in kosmaak vandaan?
Paul wat met ’n string grade agter sy naam sit ondanks haar pa. Ondanks die feit dat hy ’n brandarm student was. Vir ’n ruk stoker moes word.
En sy? Die meeste van die tyd het sy op haar lovers en mans geteer. En sy het mooi gekies. Almal het geld gehad. Sommige meer as ander, maar nie een was armgat soos sy nie. Sy het haar bydrae op ander maniere gemaak, maar uiteindelik is dit so dat geld altyd ’n rol gespeel het.
Maar geld en gerief kon haar nie geluk bied nie. Van die hele spul was die stalker die skrikwekkendste. Selfs erger as Sean-die-vroueslaner. Selfs lank ná sy hulle verhouding verbreek en uit haar werk bedank het, het hy haar oral gevolg en oor die foon geteister. Hy kon nie onderskei tussen liefde, besitlikheid en jaloesie nie. Vir hom was dit deel van dieselfde pakket wat hy liefde genoem het. Hoe hy gedink het hy kan haar terugwen deur haar lewe hel te maak, weet nugter. Dit was eers toe sy Kaap toe gevlug en hy iemand ontmoet het wat sy jaloesie kon verduur dat hy haar uiteindelik uitgelos het.
En nou is sy ’n ou vrou met ’n paar miljoen in die bank danksy ’n voordelige egskeiding wat in dollars afgehandel is. Syself het in twee en sestig jaar net mooi niks bereik nie. Behalwe om ’n gebroke hart of twee agter te laat en ’n verskeidenheid mense se lewens op te foeter. Ja, ’n ware kaivrou.
“Marilyn? Is jy oukei?” Paul se stem kom dof deur die soliede greinhoutdeur.
“Fine.”
“Ek kry jou kamer solank reg.”
“Dankie.”
Hemel, hoe gaan sy deur hierdie twee weke kom? Saam met ’n man wat onwetend die leeueaandeel daarin gehad het dat sy haar lewe opgefok het juis omdat sy hom nooit kon vergeet nie. Nie kon vergeet hoe hy haar een bliksemse aand kon laat voel nie. Omdat sy bly smag het daarna om weer so te voel. Telkens gedink het sy ervaar dit weer, en telkens ontnugter is. Wat natuurlik nie sy skuld is nie. Dis sy wat die idioot was en steeds is.
Ja, daar is chemistry tussen hulle. Dit het daardie soen bewys. Maar chemistry alleen is soos vlindervlerke sonder ’n lyfie. Die vlerkies is mooi, maar kan sonder die lyfie nooit vlieg nie.
Dit het sy uit haar verhouding met die man wat toe nooit weer hoender geëet het nie geleer. Volop chemistry, wat sy met liefde verwar het, maar toe allesbehalwe liefde was. So bleddie ironies dat dit juis hy was wat haar die plesiere van seks geleer het, haar gehelp het om oor haar aversie van die lyflike te kom. Aanvanklik, in elk geval.
Andersom is egter ook waar. Sonder vlerke bly die vlinder se lyfie bloot ’n wurm. Of wat dit ook al is. Die punt is, dis wat sy vir sowel Rick as die veearts gevoel het. ’n Soort liefde, maar geen chemistry nie.
En Gerald? Ja, daar was chemistry, maar dit was ’n geneuk en ’n gesukkel vir hom om die chemistry waar te maak. Eers toe hy die befaamde blou pilletjies begin gebruik het, kon die chemistry op iets uitloop. Maar ook daar het liefde ontbreek. Sy het van hom gehou. Baie. Was selfs verlief op hom. Maar werklike, diepgaande liefde was dit nie. Hulle het net te veel verskil. Veral wat lewensuitkyk betref.
Marilyn staan met ’n sug op. Sy sal seker een of ander tyd uit die badkamer moet kom. Sy kan nie twee weke lank hier sit nie. En sy moet in elk geval daardie lys begin maak. Anna-hulle wonder seker al wat gaan aan.
Sy was haar hande uit pure gewoonte, maar vermy die spieël. Sy wil nie sien wat ’n gevoel van ontreddering aan haar doen nie.
Paul
Die toilet word nie getrek voor hy die badkamerdeur hoor oopgaan nie. Sy het dus gaan wegkruip.
Hy gooi die kwilt wat Triena, Eulalie se tante, nog vir hom gemaak het oor die bed en bekyk die res van die gastekamer. Hy het lanklaas afgestof en dit wys. Die gordyne kort ook ’n was. Verder lyk dit oukei en buitendien, hy is nie Marilyn se bleddie butler nie.
Sy sit doodluiters by die kombuistafel, aan die tik op haar foon. Maak seker die lys vir Leah-hulle. Saggrys lê op haar skoot. Verraaier wat hy is.
“Jou bed is opgemaak.”
Sy kyk op. “Dankie. Dit was nie nodig nie. Ek kon dit maar self gedoen het.”
“Sê sy noudat dit reeds gedoen is,” brom hy onderlangs.
“Sê die een wat my met ’n donnerse virus besmet het,” kaats sy die bal blitsig terug.
“Daar bestaan ’n moontlikheid. Dis nie ’n feit nie. En dit maak my steeds nie jou slaaf nie, nè.”
“Jy hoef regtig nie uit jou pad te gaan vir my onthalwe nie. Moet net nie van my verwag om kos te maak nie.”
“Ná jou hoenderstorie verbied ek jou in elk geval.”
Sy gee hom ’n ekstra breë skynglimlag. “Dan verstaan ons mekaar.”
“Nee, ons verstaan mekaar nog nie.” Hy gaan sit oorkant haar. “Jy is reg. Ek het nie die reg om vraagtekens te plaas agter die manier waarop jy jou lewe lei of gelei het nie. Ek was inderdaad nie in jou skoene nie. En ek was ook nie hoogheilig nie. Daar is baie dinge wat ek anders sou gedoen het as ek die ervaring en kennis wat ek nou het, toe gehad het. Maar dis die punt. Kennis kry juis swaartekrag deur ervaring, en ervaring is nie iets waarmee ’n mens gebore word nie. Mens moet juis leef – en foute maak – om kennis en ervaring op te doen.”
Marilyn vou haar arms. “En teen daardie tyd is jy oud en oor die muur en wat help die kennis en ervaring jou dan? Die lewe is ’n absurde, dalk sadistiese eksperiment en ons is die guinea pigs.”
“Dis darem ’n baie nihilistiese siening.” Sê hy wat baie onlangs gespekuleer het of hy bestaan.
“Eerder eksistensialisties. Ek glo ’n mens kan betekenis aan jou lewe gee al is jy ’n guinea pig in die hande van ’n onverskillige wetenskaplike.”
“Wat gee betekenis aan jou lewe?”
“Ek het die lewe geskenk aan ’n seun wat ’n goeie man geword het ondanks sy ma. Ek het die afgelope twee jaar wonderlike vriendskappe gesluit. Maar eintlik was ek in alle opsigte die ontvanger. Fynn is aan my gegee. My vriendinne ook. Hulle gee betekenis aan my bestaan, ek nie veel aan hulle s’n nie. Hulle sal sonder my kan klaarkom. Ek nie sonder hulle nie.”
Paul sit terug in sy stoel. “Sjoe. Dink jy nie jy doen jouself ’n bietjie te kort nie?”
Sy leun op die tafel, vou haar hande om haar elmboë. “Nee, Paul. As ek aan Covid moet doodgaan, sal die spulletjie oor my treur en daarna aangaan met hulle lewe. Nou en dan sal hulle oor my praat. My seker mis. Maar dis die somtotaal van die verskil wat ek gemaak het aan die proefprojek wat ons die aardse bestaan noem.”
“As jy reg is, het ek nog minder van ’n verskil gemaak. Ek het nie kinders nie. Wel kollegas en aangetroude familie met wie ek op vriendskaplike voet is, maar ek kan nie sê ek het ’n vriend soos jy vriendinne het nie. En voor jy die sogenaamde akkolades noem, ek was deel van ’n span wat ’n nuwe soort medikasie ontwikkel het wat lyding verlig. Ek was die hoofnavorser, maar sonder my span sou ek nie daar uitgekom het nie. En buitendien, as ons nie daardie medikasie ontwikkel het nie, sou iemand anders – dalk net ’n bietjie later. Sê nou vir my, hoeveel betekenis het ek aan enigiemand anders se lewe behalwe my eie gegee?”
“Jy het ’n lang en waarskynlik gelukkige huwelik gehad. Al het dit tragies geëindig, moes jy baie vir jou vrou beteken het. Maar elke mens moet self uitwerk hoe betekenisvol jou lewe was, Paul. Ek het vrede gemaak met hoe min ek beteken. Hoe min ek bygedra het tot die mensdom. Maar ek kan nie soos Édith Piaf sê ek het no regrets nie.”
Hy sien dadelik ’n gaping om die gesprek weg te stuur van die neerdrukkende ondertoon. “Dit was nie Piaf wat dit gesê het nie. Dit was die liriekskrywer, Michel Vaucaire. Charles Dumont was die komponis. Ken jy die storie van hoe Piaf hulle ontvang het toe hulle die liedjie aan haar wou voorlê?”
Sy skud haar kop. “Vertel?”
“Uiters onhoflik. Eintlik heeltemal onbeskof. Haar huishoudster het die ontmoeting met Dumont en Vaucaire gereël sonder om Édith in te lig. Sy was woedend. Dumont het glo voorheen al van sy komposisies by haar aangedra, maar sy het sy werk altyd as minderwaardig beskou.
“Ná sy hulle ’n uur laat wag het, het sy bedonnerd vir hulle gesê sy sal net na een liedjie luister en dan moet hulle waai. Dumont het voor die klavier gaan sit, begin speel en sag saamgesing. Toe hy klaar was, het Édith kortaf gesê hy moet dit weer sing. Hy was skaars halfpad toe sy hom keer. ‘Formidable!’ het sy uitgeroep.
“Sy het dadelik geweet dis die liedjie wat haar roem sal besorg. En dit het. Sy het die opname daarvan aan die Franse Vreemdelingelegioen opgedra en dit word steeds gespeel wanneer hulle op parade is.”
Sy lyk ingedagte. “Maar hoe kan ’n mens nie spyt hê as jy so verskriklik drooggemaak het nie?”
“Ken jy die woorde?”
Sy skud haar kop.
“As ek eers my CD’s uitgepak het, sal ek die Engelse weergawe vir jou speel, dan luister jy mooi. Dis nou wel nie ’n presiese vertaling van die Franse lirieke nie, maar die basiese betekenis bly dieselfde.”
“Ek onthou Drieka was ’n pianis. Is dit hoe jy van hierdie episode weet?”
“Drieka moes my behoorlik opvoed wat musiek betref. En nie net ten opsigte van musiek nie. Die De Villiers’s is ’n baie gekultiveerde familie. Ek het baie gehad om te leer. En ek moet nog steeds leer wat hulle al vergeet het. Maar ek het van hierdie Piaf-episode gelees in ’n boek oor Édith se lewe.”
Sy bly ’n rukkie stil. “Jy was bevoorreg om Drieka as vrou te hê.”
“Ek was. Hoe weet jy sy was ’n pianis? Sy was nie só bekend nie.”
“Die veearts was mal oor klassieke musiek.” Marilyn se foon pieng. Sy kyk af na die skerm. “Leah is amper hier om die Prado te kom haal.”
Hy staan haastig op. “Die honde. Ek gaan maak hulle gou toe.”
Marilyn
Deur die venster langs die voordeur sien Marilyn hoe Leah die binnekant van die Prado bespuit asof sy ’n reuseperdebynes probeer uitroei. Wat eintlik onnodig is. Ná die soen het sy net haar selfoon en sigarette uitgehaal. Die sleutels is steeds in die motor, onaangeraak deur Covid-hand.
Bisar. Dis wat hierdie jaar is. Absurde teater is nie ’n patch daarop nie. Dit sal haar nie eens verbaas as marsmannetjies hierdie jaar kies om reg voor haar te kom land nie.
Sy waai vir Leah toe dié huis se kant toe kyk. Leah stuur ’n lugsoen voor sy inklim.
Marilyn kyk haar verlangend agterna. Leah en Anna span nie doelbewus saam teen haar nie, besef sy nou. Sy is ’n misoes en hulle vergewe haar daarvoor. Vat haar soos sy kom. Anders as Paul wat haar laat onthou van elke verkeerde tree wat sy in haar lewe gegee het. En daar was baie. ’n Ellelange kronkelpad se verkeerde treë met net ’n paar reguit stukkies in.
Nabetragting is ’n euwel. Karma is ’n bitch.
Traag stap sy terug kombuis toe, gaan sit by die kombuistafel. Eienaardig dat kombuise dikwels die lekkerste kuierplek is. In haar huis ook, maar hierdie kombuis met sy ouwêreldse sjarme is gewis die hart van die huis.
Die wit-en-grys langhaarkat wip op die tafel, streel Marilyn se wang met sy pluimstert en spin. Sy streel oor sy rug wat onder haar hand skoon boggel maak van lekkerkry. Die kat val op sy sy en lek haar hand met sy skurwe tong.
Sy het al vergeet hoeveel ’n liefderike kat vir ’n mens kan beteken.
As sy hierdie nagmerrie oorleef, gaan sy vir haar ook ’n kat kry, neem sy haar voor.
En sommer een vir Celeste ook. Dalk trek dit die kind se aandag af van die baba wat op pad is.
Paul kom van buite af ingestap. “Lyk my jy het Saggrys se hart verower.”
“Ek dink eerder hy het myne verower. Die naam pas by hom.”
Hy knik. “Twee g’s. Omdat hy sag en grys is.”
“En die honde?”
“Raka en Koki. Die donkerder een is Koki.”
“Laat my dink aan matriek. ‘Die vroue het hom die eerste gewaar in die loom namiddag toe die arbeid klaar was’.”
Paul grinnik. “‘Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink, wat swart en donker is, van been en spier ’n lenige boog, en enkeld dier.’ Dis die enigste stukkie wat ek onthou. En ook maar net omdat dit die stuk is wat ek in die spreekkoor alleen moes opsê. Ek verbeel my jy was ook daar? In die spreekkoor, bedoel ek?”
Sy knik. Dit klink onmoontlik, maar hier sit sy in isolasie by ’n man saam met wie sy onwetend in ’n spreekkoor was. Baie naby aan ’n halfeeu gelede. Op planeet Potch, wat nou deel is van ’n ander sterrestelsel.
Buite klink een skerp toet op.
Marilyn stap op die stoep uit. Leah en Anna waai deur die vensters. Langs die Prado staan haar pers tas en ’n spul ander goed.
Marilyn stuur met albei hande ’n lugsoen. Nog ’n toet voor hulle draai en wegry.
Nou is sy regtig aan Paul uitgelewer. Sy het nie eens donnerse vervoer nie.
Dit kos hulle albei drie keer se loop om alles binne te kry.
Marilyn pak eers haar badkamergoed uit voor sy die koffer oopmaak. Bo-op lê ’n koevert. Voor op is ’n nota in Leah se handskrif. Sy moet eers haar bril uit haar handsak kry om te kan lees.
Hi Marilyn. Hoop ons het alles gekry wat jy gaan nodig hê. Ek het al die vonkelwyn saamgestuur, maar jy moet maar verder van Paul se wyn drink. (Ha-ha-ha.)
In die koevert is daar, danksy my klerk, kontakinligting vir Lizelle se jonger suster, Suzette.
Pas jouself op.
En Marilyn, moenounie staan en pregnant terugkom nie, nè. (Ha-ha-ha.)
Liefde
Leah
“Ha-de-bleddie-ha-ha,” mompel Marilyn.
Paul
Me Murray het ver gevorder van haar Autumn Harvest Crackling-dae af, sien hy toe hy die kis vonkelwyn begin uitpak nadat hy die groente en ander yskasgoed gebêre het. Daar is selfs twee bottels Franse sjampanje tussenin. Nogal Veuve Clicquot.
Hy wonder of Leah-hulle besef hulle het ’n moerse kans gevat om die drank te vervoer. Om te dink dis nou teen die wet om selfs jou eie drank van een huis na ’n ander te neem. En dit terwyl smokkelaars heerlik handeldryf. Belaglik.
Die span in beheer van die regulasies het waaragtig die hol uit die hoender geruk. Sowat van oordrewe het hy lanklaas gesien.
As mense net kan aanleer om verantwoordelik op te tree, sal daar selfs sonder Covid baie minder regulasies en wette nodig wees. En as hulle kan leer om eerbaar te leef, hoef daar feitlik geen wette te wees nie. Dis immers waaroor die Tien Gebooie gaan: basiese eerbaarheid en opregtheid. In een sin opgesom: Moenie aan ’n ander doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. Hoe bleddie moeilik is dit nou?
Maar as is verbrande hout. Dis hoekom die Tien Gebooie destyds al nodig was. Die mens is nie van nature eerbaar, eerlik en opreg nie. Die mens is net van sy genesis af gewikkel in die stryd tussen goed en kwaad. En dit voel vir hom deesdae al hoe meer asof kwaad die oorhand kry.
Hy swaai om toe hy Marilyn se ligte voetval agter hom hoor.
Sy sit ’n drukstuk wat in die helfte gevou is op die tafel neer. “Leah se klerk het Lizelle se jonger suster, Suzette, opgespoor. Die adres en ’n landlynnommer is daarop. Nou kan jy jou finaal vergewis van wat destyds gebeur het.”
Hy skud sy kop. “Dit gaan nie enigiets verander nie. Wat gebeur het, het gebeur. Dit was nie jy nie en dis eintlik al wat ons hoef te weet.”
“Laat alles net daar?”
Paul knik.
“Met ander woorde, dis oukei om my vir dertig jaar te haat oor iets wat ek nie gedoen het nie, maar wanneer jy uitvind wie die regte culprit is, hoef jy nie te weet hoekom jou ouers en die res geruïneer is nie.”
Hoe verduidelik hy dat dit hom gepas het om haar te haat? Dat dit hom ná soveel jare van selfverwyt gehelp het om verweer op te bou teen die herinneringe. Die goeies en die verskriklikes. En die verskriklikste is dat dit sy broer is wat verantwoordelik was daarvoor dat haar lewe so sleg skeefgeloop het. En nie net hare nie, Lizelle s’n ook en wie weet hoeveel ander. Maar Marilyn s’n veral.
En dit omdat Awie nooit geleer het om verantwoordelik op te tree of verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar nie. Hom waarskynlik nooit eens bekommer het oor die gevolge van sy dade nie.
As hy dink aan die Maria van daardie aand wat hulle saam was en haar vergelyk met die Marilyn wat voor hom staan, sou mens dink dis onmoontlik dat dit dieselfde mens kan wees. As hy net ...
“Toe maar. As mens so lank vat om te antwoord, dink jy net liegstories uit en daarvan het ek genoeg gehad in my lewe.”
“Ek was smoorverlief op jou, Marilyn.” Dit glip net uit.
Haar mond val effens oop, maar sy ruk haar gou reg. “En dis hoekom jy my nooit weer gevra het om uit te gaan nie? Terug is na Gretha toe?”
Dit verras hom dat sy nou nog Gretha se naam onthou.
“Ek weet jy bedoel dit sarkasties, maar op ’n manier is dit inderdaad so.” Hy gaan sit skuinsweg op die hoek van die tafel en vou sy arms. “Ek het met my kop probeer dink pleks van my hart ... en ander dele van my jongmanslyf. Jy was net te mooi, te sexy. Te onskuldig. Ek was bang daardie onskuld sal nie veilig wees by my nie. Ek was ook oorbewus daarvan dat ek nie die geld het om jou uit te neem of te trakteer nie. En jy was my broer se meisie.”
Sy leun skuins teen die kosyn, kruis haar enkels en vou ook haar arms. “Dis nou jou broer vir wie ek ná daardie aand nooit weer gesien het nie tot hy my meer as ’n jaar later gerape het? Daardie broer?”
“Jy weet ek het net een broer gehad.”
“En wat het jou laat dink ek wou getrakteer word, dat jy meer geld op my sou hoef uit te gee as op Gretha?”
“Jy was ’n professor se dogter. Julle dubbelverdieping het vir my soos ’n paleis gelyk. Julle gesinsmotor was ’n Merc. Besef jy nie hoe ryk en vernaam julle vir my voorgekom het nie?”
Marilyn rol haar oë voor sy hom weer met haar blik vaspen. “Paul, ’n smoorverliefde man dink nie aan sulke dinge nie. As jy werklik smoorverlief was, sou jy ’n uitweg gevind het. Moenie vir my kom vertel perdepie is pynappelsap nie.”
“Sê nou ek het jou weer uitgevra, sou jy saam met my gegaan het? Net vir koffie nou en dan, op die Bult omdat ek nie ’n motor gehad het nie. Dalk ’n paai en gravy een keer per maand?”
“Natuurlik.”
“Hoekom?” Sy vraag betrap haar klaarblyklik onkant.
Sy ontvou haar arms en staan weer regop, lig haar hande palms na bo. “Want ... want ...”
“Want jy was ook smoorverlief op my?”
Sy vou weer haar arms en staar na die kleivloerteëls.
Hy gly van die tafel af en gaan staan voor haar.
“So verlief dat dit nie sou saak gemaak het as ek nagte en naweke om swot terwyl jy as eerstejaar minder werk en meer vrye tyd sou gehad het nie? So verlief dat jy nie afgeskeep sou gevoel het nie? So verlief dat jy jou onskuld aan my sou toevertrou het? So verlief dat jy geduldig sou wag tot ek klaar geswot het, klaar my studieskuld afbetaal het voor ons eens sou kon dink aan trou?”
Sy kyk op. Haar oë skitter soos blou diamante. “Ja, Paul Avenant. Só verlief.”
Sy mond val vanself oop. Hy kan aan niks op aarde dink om te sê nie.
Marilyn swaai om en storm in die gang af voor hy kan beweeg. Hy hoor haar slaapkamerdeur toeklap en die sleutel in die slot draai.
Hy stamp met sy palm teen sy voorkop. Idioot. Dis wat hy is.
En om te dink dis nou maar eers dag een van veertien. Hoe gaan hulle die vrede bewaar kry? En hoe gaan hy sy donnerse hande van haar afhou? En hy sal moet. Want dis die eerbare ding om te doen. En ’n eerbare man misbruik nie uitsonderlike omstandighede nie. Veral nie ná hy haar behandel het soos hy het nie. Hy het belowe hy sal nie weer aan haar raak nie. Maar dit was voor hulle uitgevind het hulle gaan vir twee weke in een huis moet bly.
Geen wonder Moses moes daardie Tien Gebooie op die berg loop haal nie.