Twee en veertig

2020

Sondag 26 April

Suiderbaai

Marilyn

Sy moes seker iets verkeerd gesê of gedoen het, maar sy weet waaragtig nie wat nie.

Ná hulle gesprek gisteroggend het Paul die res van die dag buite deurgebring en toe hy uiteindelik inkom, was hy stil en teruggetrokke. Selfs terwyl hy vir hulle ’n murgsagte filet saam met groente in foeliepakkies in die kookkaggel gebraai het.

Wel, sy gat as hy wil buierig wees.

Sy geniet die uitpak en organisering van die boeke. Miskien was sy al die jare ’n closet librarian. Die woonkamer is egter nog in chaos gedompel. Stapeltjies boeke staan op die vloer rond. Sy alfabetiseer en sorteer fiksie en niefiksie terwyl sy uitpak, maar dis eintlik omdat sy heeltyd sit en agterbladtekste lees dat sy so stadig vorder.

Paul moes weer met die honde gaan stap het. Die kombuis is opgeruim en langs die koffiemasjien is ’n boksie met ’n verskeidenheid koffiekapsules.

Sy tel haar pakkie sigarette op en is verras om te sien hoe min sy gister deur die dag gerook het. Miskien is dit omdat haar hande nooit besig genoeg is met iets wat sy geniet nie, dat sy dit die afgelope jare oordoen het.

Die termometer lê ook langs die koffiemasjien, sien sy toe sy haar beker onder die tuit wil uitlig.

Sy mik dit na haar pols. Ses en dertig punt nege. Steeds bietjie hoog as sy dit nie mis het nie. En sy kom nie uit ’n warm bad nie. Sy het gisteraand van Paul se uitnodiging gebruik gemaak om in sy badkamer al die boekestof te gaan afspoel en haar hare te was – iets wat soveel makliker is vandat sy van die dreadlocks ontslae geraak het.

Die geratel van die skuifvenster see se kant toe laat haar buitetoe kyk. Dis bewolk en die wind ruk aan die fynbos. Die see is grou en vol witperdjies.

Paul is laf om in sulke weer te gaan stap.

Saggrys spring op die tafel toe sy gaan sit. “Ja, sleeping partner, het jy al kos gehad?” Die katlyf so teen haar deur die nag is vir haar ’n lekkerte.

Hy miaau saggies asof hy antwoord, maar die ware antwoord staan op die vensterbank in die vorm van ’n halfleë bakkie korrels.

Dis so huislik hier met die diere en sy hou van die plek se ouderwetse gevoel. Haar eie huis is nie gesellig nie. Fiona se stempel is te deeglik daarop afgedruk. Dis luuks en alles is perfek, maar dis kil. Sy het dit nie eens voorheen besef nie. Sy het wel korte mette gemaak van Fiona se beheptheid met gedrapeerde gordyne, maar nog nie die duur, deftige meubels vervang met iets geselliger nie. Hoog tyd dat sy iets daaraan begin doen. Miskien moet sy Corali vra om die mure ook bont te verf soos in dié se huis. Ja, Corali sal weet hoe om warmte in die huis te bring. Ná die grendeltyd natuurlik. Donnerse grendeltyd. Donnerse virus.

In die woonkamer gaan sit sy op die kussing wat sy tussen die gesorteerde stapels boeke op die vloer gegooi het. Dis beter as om op ’n stoel te sit en af te buk. Net moeilik om regop te kom, maar sy het nou al die truuk onder die knie.

Teen die tyd dat haar lus vir nog koffie en ’n sigaret haar weer kombuis toe jaag, is Paul steeds nie terug nie. In hierdie weer?

Sy gaan staan voor die venster terwyl die koffiemasjien sy ding doen. Kommer kry vastrapplek in haar. Sê nou hy is gearresteer omdat hy op die strand gestap het? Of het dalk ’n hartaanval gekry of iets? Dit gebeur selfs met fikse mans wat veel jonger as hy is. Maar wat van die honde? Sou hulle nie teruggehardloop het huis toe nie?

Haar hand huiwer oor haar foon. Wil sy regtig agter hom aan bel? Nee wat. Dalk probeer hy haar juis so lank moontlik vermy.

Paul

Hy het hopeloos te ver gestap. En toe vang die gety hom boonop en moes hy met ’n ompad oor die duine stap voor hy weer op die strand kon uitkom.

Maar hy moes buite wees. Moes so lank moontlik wegbly. Sy kop herkalibreer. Ekwilibrium in homself vind.

Die besef wat hom gister geslaan het, dat hy veel meer vir Marilyn begin voel as net fisieke aangetrokkenheid, het hom heeltemal onkant betrap. Die redes en verskonings wat hy aangevoer het, klink al hoe flouer hoe langer hy pieker.

Hy gaan die waarheid in die oë moet kyk. Dat die gat in sy binneste waar daar deur die jare woede jeens haar gesit het, nou geleidelik gevul word deur iets heel anders. Deernis. Empatie. Teensinnige respek.

Tesame met lyflike begeerte is dit behoorlik ’n heksebrousel van emosies.

Boonop begin die weer nou ook teen hom draai – word die soort weer wat mens binne hou. En waar is Marilyn? Binne. Waar hy haar kan hoor beweeg, sien, ruik. Haar lippe weer wil proe. Aan haar wil raak. Haar vel onder sy vingers wil voel. En wil uitvind wie sy onder haar harde dop is.

Hy hoop nie sy is dalk bekommerd oor hom nie. Dit sal nogal lekker wees om te dink sy gee genoeg om, maar hy wil darem ook nie hê sy moet haar onnodig kwel nie.

“Kom honne!” Hy begin draf. Koki en Raka val weerskante langs hom in.

Toe hy die donker misbank op die verre horison sien, begin hy spoed optel. Mis is nie jou speelmaat hier by die see nie. Hy het al in die huis gesit dat die mis so dig was, hy kon nie eens die fynbos sien nie, laat staan die see.

’n Honderd meter verder moet hy eers asemskep. Toe hy weer wegtrek, dink die honde dis ’n speletjie. Hulle hardloop ente voor hom uit voor hulle terugdraai en weer op hom afstorm. Of probeer hulle hom dalk aanmoedig om vinniger te hardloop?

Hy moet minstens die rotsbank naaste aan die huis haal voor hy weer kan rus.

Paul versnel sy pas nog ’n bietjie, maar die volgende oomblik tol die aarde om hom.

Marilyn

Teen die tyd dat sy haar koffie gedrink het, is sy werklik bekommerd.

Uiteindelik kan sy dit nie meer hou nie en bel Paul. Dadelik hoor sy die klank van sy selfoon êrens in die huis opklink. Bleddie onverantwoordelik om sonder sel te gaan stap. Dêmmit. Wat nou?

Wel, sy kan nie net hier sit en knies nie. Sy gaan trek ’n baadjie en stapskoene aan voor sy die wind buite trotseer. Waar die erf aan die strand grens, gaan staan sy. Links of regs?

As daar spore was, is dié lankal toegewaai. Bo haar skree ’n seemeeu asof hy die wind uitskel omdat hy so sukkel om te vorder. Branders kap teen die rotse aan, ruis oor die spoelklippe van die klipstrand en kabbel wanneer die skuimende water terugtrek.

Regs word die klipstrand sanderig en ’n duin vorm ’n konkawe boog seewaarts. Sy sal tot by die punt van die duin moet stap om te kan sien wat om die draai lê.

Links strek die spoelklippe so ver as wat sy kan sien. Rotse strek lang arms die see in en van daar af kan sy ook nie verder sien nie.

Die wind kom skuins van die seekant af en haar hare waai oor haar oë toe sy links draai. Sy moes die spul vasgemaak het. En ’n sonbril opgesit het. Al is dit bewolk, is die lig skerp en die skerpheid word vermenigvuldig deur die piouter blikkering op die see.

Toe sy eers op die sand is, trek sy haar skoene uit. Dit vergemaklik haar gang, maar sy word gou moeg. Sy is regtig vrek onfiks.

Om die rand van die duin wat haar uitsig versper het, is daar nog ’n inham en nog ’n punt van ’n duin. Selfs deur die denim voel sy hoe die sand teen haar kuite slaan. Haar oë wat aanvanklik net gebrand het van die skerp lig, traan nou so dat sy skaars deur die waas kan sien. Net tot om die hoek van die volgende duin en dan het sy haar plig gedoen.

Ook daardie punt lewer egter net nog ’n baaitjie en nog ’n duinpunt op. Sy ril ineens, ’n gevoel van ongemak laat haar rondkyk. Dis ’n eensame strand. Dit moet haar verbeelding wees, maar dit voel al of iemand haar dophou.

Sy draai om en begin vinnig terugstap. Nou waai die wind haar hare uit haar oë, maar die sand piets haar gesig. Donnerse Paul wat sy donnerse foon by sy donnerse huis gelos het.

Dit voel soos ’n ewigheid voor sy weer op die plek is waar sy links gedraai het.

Marilyn kyk huis se kant toe. Nog geen teken van Paul of die honde nie. Tensy die honde saam met hom in die huis is, maar sy sien geen beweging agter die vensters nie.

Sy is eintlik lus en gaan terug huis toe waar sy haar kan toesluit, weg van daardie ongemaklikheid wat haar tot hier agtervolg het. Kommer oor Paul laat haar egter tog koers kies oor die spoelklippe. Dis ongemaklik om daaroor te loop, al het sy weer haar seilskoene aangetrek. Die klippe skuif onder haar sole en dit voel asof sy met elke tree gevaar loop om haar enkel te swik.

Te hel daarmee. Sy sal net stap tot waar die eerste rotse haar uitsig op die res van die strand versper. As Paul dan nog nie in sig is nie, moet hy maar sien kom klaar.

Die rotse lê uiteindelik verder as wat sy vermoed het en bult hoër as wat sy geskat het. Sy klim handeviervoet daarteen op, te bang sy gly.

Bo gekom, treiter die wind haar behoorlik en sy moet aan ’n rotspunt vashou om haar balans te behou.

“Paul!” roep sy so hard sy kan, maar die wind slinger die klank terug oor haar skouer.

Sy leun versigtig met haar heup teen die rotspunt, kry haar balans en vorm met haar hande ’n luidspreker voor haar mond. “Paul! Koki! Raka!” gil sy dit dié keer uit.

Veraf verbeel sy haar sy hoor ’n hond tjank.

Weer gil sy die drie name uit.

Ja, dis definitief ’n hond se tjank wat saam met die wind by haar uitkom.

Marilyn strompel met die rotsbank af. Dié baaitjie is weer sanderig.

Sy begin hardloop, maar moet gou rus om haar asem terug te kry. “Koki! Raka!” Haar stem begin sy krag verloor.

Met haar asem terug, stap sy verder. Hardloop maak haar net gouer moeg en sy beweeg nie veel vinniger nie.

Dit raak dynserig om haar. Eers toe sy see toe kyk, besef sy mis is aan die inrol.

Net toe dit voel asof sy dit nie verder kan waag nie, sien sy ’n bewegende spikkel. Die spikkel word ’n dier. ’n Hond. Dis Raka wat na haar toe op pad is.

Sy dwing haar moeë bene weer aan die gang. Haar kuite brand. Die hond tjank-blaf nog voor hy by haar is. Toe hy haar bereik, hardloop hy al tjankend in sirkels om haar, draai dan om in die rigting waarvandaan hy gekom het en hardloop vooruit.

Elke keer as sy asemskep, kom hy weer aangehardloop en herhaal die ritueel voor hy weer koers kry.

Die sig raak al swakker.

En dan hoor sy ’n tweede hond tjank-blaf. “Paul!” roep sy weer.

Geen antwoord nie. Of dis vir mense-ore te flou teen die gedreun van die see en die geloei van die wind.

Sy kan nou omtrent nie meer tien tree voor haar sien nie, maar uiteindelik eien sy Koki ’n entjie voor haar. Hy spring op, tjank en gaan sit weer langs ’n lae rots.

Nee, nie ’n rots nie, sien sy toe sy nadergaan. Paul in ’n donker baadjie en broek.

Raka hardloop al om hom. Kyk na haar en blaf asof hy wil sê: doen iets!

Hemel, as Paul dood is, slaan sy ook dood neer. Sy is in elk geval moeg genoeg om dood neer te slaan.

“Paul!” skree sy weer al is sy feitlik by hom. Hy roer. Dankie tog. Nie dood nie.

Sy sak langs hom neer.

Hy kreun en rol om. Bloed drup teen sy slaap af, oor sy oor en trek strepe teen sy nek. Waar sy kop gerus het, is ’n rotspunt wat net-net onder die sand uitsteek.

“Paul, wat de fok het gebeur?”

Paul se oë flikker oop. “Wat maak jy hier?” Hy lyk verward.

“Ek kom soek jou, wat de fok dink jy maak ek hier? Wat het gebeur?”

Hy sit stadig orent, gryp na sy slaap, sy gesig van pyn vertrek.

“Ons het gehardloop. Ek en die honde. En toe hardloop Raka voor my in. Dis al wat ek onthou.”

“Hoe lank terug is dit?” Hy kon tog sekerlik nie so lank bewusteloos gewees het nie?

Hy kyk om hom rond, seker om te bepaal waar hulle is. “Nie lank nie.”

Marilyn kry haar foon uit haar baadjie se sak.

“Wat maak jy nou?”

“Ek gaan die ambulans bel.”

“Is jy laf? Hulle sal nie hier kan uitkom nie en buitendien kan ons hulle aansteek.”

“Oukei, jy klink ten minste ’n bietjie meer compos mentis, maar kan jy stap?”

“Help my op?”

Sy sit die foon terug. Dis ’n gesukkel, maar uiteindelik is hy regop.

“En?”

“Net ’n bietjie dronkerig.” Hy knipper sy oë ’n paar maal. “Ek dink ek sal oukei wees.”

Hulle vorder bitter stadig. Die mis raak al digter. Die honde verdwyn kort-kort in die grysheid, kom dan weer teruggedraf.

Uiteindelik kom hulle voor die rotsversperring te staan.

“Sal jy hier kan uitklim?”

“Net ’n bietjie rus.” Hy gaan sit op een van die meer eweredige rotse.

Marilyn gaan staan voor hom, haar hande in haar sye. “Wat het jou besiel om sonder selfoon te gaan stap?”

“Ek het vergeet. Ek was haastig om weg te kom.”

“Wat was so dringend?”

“Moes net wegkom.” Hy kyk af en vryf oor die agterkant van sy nek.

“Van my af.” Sy vra nie eens nie.

Hy kyk op na haar. “Ja.”

“Wat het ek verkeerd gedoen of gesê?”

“Niks, absoluut niks nie.”

“Nou wat het jou dan uitgejaag? Gisteraand so stil laat word?”

Paul skud sy kop, gryp dan na sy slaap. “Marilyn, kan jy later inkwisisie hou? My kop wil bars.”

Sy sug. “Sorrie. Hoe kry ons jou oor hierdie rotse?”

“Stadig.”

Die mis maak alles glibberig en ’n keer of wat is dit Paul wat na haar moet gryp wanneer sy gly. Dit voel inderdaad soos ’n ewigheid voor hulle oor is. Die klipstrand vergemaklik hulle gang geensins nie, maar uiteindelik is hulle by die grens van sy erf. Hulle rus vir oulaas en pak dan die laaste entjie huis toe aan waar die honde hulle reeds met uithangtonge inwag.

Marilyn trek haar baadjie uit toe hulle binne is. “Kom sit sodat ek jou wond kan skoonmaak.” Nie dat sy weet hoe sy dit gaan regkry nie. Sy en bloed is nie maats nie. Waar is Anna wanneer mens haar nodig het.

Paul skud hom ook uit sy baadjie. Sand spat die wêreld vol. “Nie nodig nie. Ek sal regkom. Het alles in my badkamer.”

“Oukei, maar roep maar as jy hulp nodig kry.” Sy skeur ’n servet van die handdoekrol af en vee oor haar natgeswete gesig. Sy was haar hande tot bo haar elmboë. Hoe kan ’n mens so sweet terwyl dit buite so koud is?

Dis paniek wat so maak, weet sy, al wil sy dit nie erken nie. Wie raak nou paniekerig oor ’n man wat jy eintlik skaars ken al boer hy al oor die veertig jaar in jou kop?

Paul

Dit was nou ’n onnosel ding om te staan en aanvang. Eerstens om te val, maar veral ook om sy bleddie selfoon te vergeet. Dié lê nog en laai op sy bedkassie.

As hy alleen hier was en sy besering ernstiger, kon hy daar op die strand gelê en doodgaan het. Niemand sou dit eens agtergekom het nie. ’n Hengelaar sou dalk ná die grendeltyd op hom afgekom het, maar dit sou hopeloos te laat gewees het.

Sal hom leer om te dink hy is nog ’n jong man.

Sy gesig vertrek terwyl hy die sand uit die wond was. Dis nie ’n diep wond nie, maar dis bliksems seer en hy sukkel om die bloed gestol te kry. Die ontsmettingsmiddel laat hom behoorlik ronddans. Die goed brand soos vuur. Uiteindelik het hy darem ’n waterdigte pleister op.

In die stort ruik hy Marilyn se sjampoe en seep nog van gisteraand af. Hy maak haastig klaar, versigtig om nie die pleister nat te kry nie, en trek skoon aan.

Sy sit kruisbeen op ’n kussing op die vloer tussen die stapels boeke, haar kop oor een gebuig.

“Hoe vorder jy?” vra hy al kan hy sien dit gaan nie alte vinnig nie.

Sy kyk op. “Stadig maar seker. Hier is te veel lekker boeke tussen jou nuwes wat my aandag trek.” Sy hou die boek in haar hand op. “Ek het nooit geweet soveel vetplante maak sulke mooi blomme nie.”

“A, ek is bly jy het daardie een opgespoor. Ek wil hoeka ’n vetplanttuin hier vestig. Hou dit vir my eenkant wanneer jy klaar gekyk het, asseblief?”

Sy hou die boek na hom toe uit. “Vat solank, maar ek wil graag verder kyk as ek ’n break vat. Hoe voel jou kop?”

Hy vat die boek by haar. “Ek het nou net ’n pynpil gedrink. Dit sal seker binnekort inskop. Sodra dit gebeur, maak ek vir ons brunch.”

“Sal jy oukei wees? Ek kan darem ’n toebroodjie aanmekaarslaan. En scrambled eggs is ook nie bo my vuurmaakplek nie.”

“Ek sal oukei wees.”

“Maar jy was uit soos ’n kers. Jy moet harsingskudding hê.”

“Marilyn, ek makeer niks behalwe vir ’n moerse hoofpyn nie. Ek gooi nie op nie en voel nie lighoofdig nie. My sig is ook perfek. ’n Mens se slaap is maar net ’n sensitiewe plek. Dis die dunste deel van die skedel. Dis al hoekom ek my bewussyn kortstondig verloor het.”

Sy haal haar skouers op en haal nog ’n boek uit die boks langs haar. “Suit yourself, machoman.”

“Maar jy kan my later vanmiddag help met groente skil en so. Ek wil ’n potjie vir vanaand maak.”

Sy rol haar oë. “Moenie jou besering misbruik nie, nè.”

Hy grinnik. “Dis my besering, ek kan hom inspan soos ek wil.”

Sy gee net ’n snorkie sonder om weer op te kyk.

In die kombuis kyk hy eers of hy boodskappe het.

Net Marilyn se oproep en ’n whatsapp. Sabine.

Te lafhartig om te antwoord op my vraag? Hoe lank al verneuk jy my? Dit sal jou soooo berou.

Fok tog.