2020
Maandag 27 April
Suiderbaai
Marilyn
Van haar aanval, of wat dit ook al was, het sy niks oorgehou nie. Sy het net seker gemaak sy drink al haar pille soos sy moet. Maar sy het sleg geslaap. Dit karring aan haar gewete dat Paul haar besluit om Fynn in die duister te hou bevraagteken. Veral noudat daar goeie rede is om te glo Gideon is sy pa. Meer as goeie rede. Paul is honderd persent oortuig.
Dit weet sy al het hulle nie weer daaroor gepraat nie. Hulle het net vir die res van die dag hulle eie gang gegaan. Die aand was hulle albei stillerig terwyl hy potjie gemaak het. Maar bose gedagtes bekruip mens mos in die nag.
Sy glo sy het die regte besluit geneem, maar moet dit nie Fynn se besluit wees of hy wil weet of nie? Maar dan erken sy sy weet wie dit is. Of kan sy dalk nog ’n leuen vertel en sê sy weet nou hoe om uit te vind as hy wil weet?
In een opsig was Paul sonder twyfel reg. Sy is tog verlig dit is Gideon en nie een van die ander nie. Sy het lankal besef Doepie kan nie Fynn se pa wees nie. Behalwe dat Geerts hom betyds van haar afgeruk het, is hy kort en dik terwyl Fynn lank en atleties gebou is. Wat Awie en Fred ook was. Gideon was korter as hulle, maar ook atleties. Fynn moes sy lengte van sy rysige, imposante oupa gekry het.
Sy wou egter nooit te veel herinneringe oor Gideon, Awie en Fred se voorkoms opdiep nie. Sy wou veral nie enigiets van Awie of Fred in hom sien nie.
In die kombuis kry sy ’n briefie van Paul. Hy het sy selfoon by hom en hy sal waarskynlik ’n hele ruk weg wees. Dis donkermaan en hy wil gaan alikreukels uithaal. Sy moenie bekommerd wees nie.
Bedagsaam van hom.
Buite is dit nog bewolk, maar die wind het aansienlik bedaar. Nie dat dit windstil is nie, maar ’n mens kan darem buitetoe gaan sonder om weggewaai te word.
Sy begin sommer dadelik met die boeke in die woonkamer. Die plek moet nou netjies kom. En ja, die boeke trek haar aandag af van onwelkome selfbevraagtekening.
Gedurende haar smoke break blaai sy weer deur die vetplantboek. Hier en daar is ’n merker geplak. Onder meer by ’n afdeling oor Stapelias. Aasblomme. Die slangghaap se blom veral stink na verrotte vleis, lees sy, en lok so vlieë en brommers om hulle eiers daar te lê, vas onder die indruk dat hulle nageslag ’n voedselbron het wanneer die eiers uitbroei. Wat natuurlik nie die geval is nie. Dis die aasblom wat sy eie voedselbron skep.
Dat ’n mens nou waaragtig kaiplante ook kry. Paul se plan vir ’n vetplanttuin begin al hoe interessanter klink.
Dis drie sigarette later toe Paul haar betrap waar sy steeds in die boek sit en lees.
“Hei, het jy nie werk om te doen nie?” Hy glimlag van oor tot oor. Met sy wange rooierig van die wind en sy hare deurmekaar gewaai, lyk hy lewenskragtig en vrek sexy.
“En as jy die ene Solly Sunshine is?” Sy maak die boek toe.
“Middagete gekry.” Sy foon begin pieng. “Vang weer die hotspot op,” verduidelik hy, maar kyk nie van wie die boodskap kom nie. “Ek hoop jy eet alikreukels?”
“Nog nie geëet nie. Boeta haal gereeld uit saam met die seuns, maar daar is nooit te spaar met daardie lotjie se eetlus nie. Maar ek is mal oor perlemoen, al kom dit deesdae van perlemoenplase af pleks van natuurlike bronne.”
“Volgens my is allies nog lekkerder as perlemoen. Ek het ’n bietjie gekroek. Tien uitgehaal pleks van die kwota van vyf per dag. Gereken ek kan maar môre s’n vandag oes.”
“Baie wetsgehoorsaam is jy nie, but I like the way you’re thinking.”
“Nou maar toe, laat ek die spulletjie geskrop en aan die kook kry.”
Klink vir haar na bra baie werk. “Waar is die arme slagoffers?”
“In die trog hier buite waar ek vis en goed skoonmaak. En moenie worry nie, ek kook hulle buite op ’n gasstoof. Ek weet die reuk sit baie mense af.”
“Raait. Ek sal maar weer die boeke takel. Jy het nie dalk nog boekrakke nie?”
“In die spaarkamer. Dis net planke en stene, maar dit sal die triek doen. Ek sal ná ete vir jou kom bou.”
“Dit sal werk. Dankie.” Sy vlug amper uit die kombuis uit. Die man moes êrens in ’n plas feromone geval het.
Paul
Eers toe die alikreukels in die pot is en hy die gasstoof aangesteek het, onthou hy van die boodskappe wat op sy foon deurgekom het. Hy ignoreer SMS’e van Vodacom en een of ander leningsmaatskappy af en sug toe hy Sabine se naam by die whatsapps sien.
Jy het my die Vitara en ’n miljoen rand plus my trou-uitgawes belowe. Gaan jy daardie belofte ook verbreek?
Ergerlikheid swiep deur hom. Ek het dit onder ander omstandighede aangebied, nie belowe nie. Jy het die aanbod verwerp. En gelieg oor die trou-uitgawes. Wat jou vorige vraag betref, nee, ek het jou nooit verneuk nie. Ek beskou die saak nou as afgehandel. Moet my asb nie weer kontak nie.
Hy is nog op soek na die funksie om haar nommer te blokkeer toe haar antwoord deurkom. Bewys van betaling van ’n miljoen rand in my rekening moet my voor Vrydag bereik. Ook die amptelike onderneming om die Vitara af te betaal. Indien nie, gaan jy sooo spyt wees.
Dink sy nou waaragtig hy kan binne ’n paar dae ’n miljoen rand losmaak? Selfs al sou hy wou, wat beslis nie die geval is nie. Nie op grond van dreigemente nie, dis vir seker.
Die hele dag is skielik vir hom bederf. Waarmee dreig sy hom nou eintlik? ’n Ander prokureur? Wat sy waar kry gedurende grendeltyd? En wat sy waarmee gaan betaal? Of het sy kniebrekers in gedagte? Sekerlik darem nie. Miskien ’n liegstorie aan ’n skindertydskrif verkoop?
Hy stuur die twee boodskappe en sy antwoord na Leah toe en voeg net by dis van Sabine af.
Die vrou is gek, laat weet Leah kort daarna.
Sal jy kans sien om namens my op te tree as dit moet? Jy ken immers reeds die omstandighede.
Dié keer neem dit langer. Asof sy eers goed nadink. Ek verteenwoordig eintlik net vroue, maar sal dit oorweeg om dié keer ’n uitsondering maak. Of iemand anders aanbeveel. Kom ons kyk maar eers wat sy in die mou voer. Het haar reeds amptelik laat weet ek onttrek en skryf haar skuld af op voorwaarde dat sy my nie weer kontak nie.
Dankie! Gaan haar nommer nou blokkeer.
Nee, moenie. Hoe meer bewyse van haar onredelikheid, hoe beter.
Oukei. Hy sug. Dit maak seker sin, maar die boodskappe ontstel hom en hy wil nie ontsteld wees nie. Hy wil kan ontspan.
Hy kry dit net halfpad reg om sy goeie bui te herwin voor hy binnetoe gaan.
In die spaarkamer kry hy die planke uit wat voorheen in hierdie kamer ’n boekrak was. Die stene is in die houtskuurtjie waar hy sy tuin- en ander gereedskap bêre, onthou hy nou. Dit sal hy gaan kry terwyl hy wag dat die alikreukels afkoel.
Hy dra die planke sitkamer toe en is verras om te sien hoe ver Marilyn gevorder het. Die rugkante van die meeste van sy boeke staan reeds in gelid in die boekrak uitgepak. Daar is nog ’n paar stapeltjies op die vloer, maar nie meer rakruimte nie.
“Dit lyk goed!” Hy stut die planke teen die muur en vee sy hand aan sy sitvlak af.
Sy druk nog ’n boek tussen ander in. “Fiksie alfabeties volgens skrywer se van. Niefiksie volgens onderwerp. Musiek. Tuinmaak. Kookboeke. Voël-, vis-, skulp- en ander gidse. Waarin stel jy nié belang nie?”
Hy grinnik. “Daar is darem ’n paar boeke tussenin wat aan die oorspronklike eienaars behoort het ook. Hulle is hiervandaan na ’n oord vir bejaardes toe en moes afskaal. Ek kon kry wat hulle nie kon saamneem nie. ’n Paar meubelstukke, ’n yskas en dies meer ook oorgekoop.”
Marilyn ril opsigtelik.
“En nou? Iemand oor jou graf geloop?”
Sy skud haar kop. “Oord vir bejaardes. Net die gedagte daaraan gee my die heebie jeebies.”
“Hulle het ’n woonstelletjie gekry. Dis darem beter as ’n kamer in ’n ouetehuis.”
“Woonstel of te nie. Ek weier om tussen ’n spul oumense te bly.”
Hy kan nie help om te lag nie. “Ons word al beskou as oumense. My studente verwys na mense oor sestig as coffin dodgers.”
“Se moer. Sestig is die nuwe vyftig.”
“Ek hoop jy is reg. Terloops, het jy vanoggend jou koors geneem?”
“Vergeet. Sal netnou.”
“Sommer nou. Kom.”
Sy rol haar oë, maar gehoorsaam tog toe hy wys sy moet voor stap.
“Net omdat dit ’n goeie verskoning is vir nog ’n smoke break.”
Hy kry die termometer uit die buffet se laai en mik dit na haar pols wat sy uithou. “Sewe en dertig,” frons hy.
“Ek is maar net ’n hottie.”
Daarop sal hy liefs nie antwoord nie. Hy meet sy koors ook. Ses en dertig op die kop.
“Maar as ek dalk oornag siek word, bel vir Leon Rademan. My sielkundige se verloofde. Hy is ’n afgetrede dokter, maar Margie sê hy swot op oor behandeling vir die virus. Ek stuur vir jou sy nommer.” Sy raak met haar foon doenig.
Sy selfoon pieng. “Dankie, maar het jy nie ’n ander dokter nie? Die een wat jou behandel vir jou ...”
“Ek wil nie na hom toe gaan nie,” val sy hom in die rede.
“Hoekom nie?”
“Sommer.”
“Sommer is nie rede nie en skilpad het nie vere nie.”
Sy sug. “Hy kerm oor ek rook en ’n wynvlieg is. Buitendien, Leon sal meer moeite doen. Van wyn gepraat, ek dink ek verdien ’n glas ná my harde werk.”
“H’m. Ek reken so. Buitendien, alikreukel is nie dieselfde sonder ’n glas wyn nie. Ons kan maar solank ’n bottel oopmaak. Alhoewel ek op die oomblik wat sou gee vir ’n koue bier, maar dié is gedaan.”
“Toe maar, van Vrydag af behoort jy darem weer te kan kry. Ek gaan sommer vandag al ’n lys vir Anna-hulle stuur en heel bo-aan is sigarette en wyn.”
Paul kry ingedagte ’n bottel chenin uit die yskas. Moet hy haar van Sabine se boodskappe vertel? Nee, wat. Dis nie haar probleem nie. Hy en Leah sal dit maar net moet uitsorteer.
Terwyl die munisipale grense nog gesluit is, kan Sabine ten minste nie hier uitkom nie.
En as dié beperking opgehef word? Wel, dit sal hulle seker Woensdagaand uitvind.
Buitendien, wat sal dit haar in elk geval baat om hom persoonlik te kom konfronteer? Sy weet ook mos hy was in kontak met ’n Covid-positiewe persoon.
Marilyn
Enige bedenkinge wat sy gehad het oor die alikreukels verdwyn soos mis voor die son toe sy haar eerste happie inhet. “Dis inderdaad nog lekkerder as perlemoen. En die basmati is heerlik.”
“Ek is bly. En ek is nog blyer dat die Chinese nie alikreukels ook as ’n afrodisiakum of lekkerny beskou nie.”
“Ek dink nie ons moet praat oor Chinese en hulle eetgewoontes of bygelowe nie.” En veral nie oor afrodisiakums nie. “Dis genoeg dat een idioot besluit het om iets ondenkbaars te eet en die hele wêreld in ’n nagmerrie omskep het.”
Hy bly ’n oomblik lank stil. “En tog, as dit nie daarvoor was nie, sou ons nie vir twee weke saam in my huis beland het nie.”
Sy kyk hom verras aan. “En jy dink dis ’n goeie ding?”
“Nie die Covid-deel nie, maar ...”
“Maar?”
Paul sit sy vurk neer en strengel sy vingers ineen. “Ek is bly ons kon die misverstand oor die afpersing uit die weg ruim. En dis lekker om geselskap te hê.”
Marilyn gee hom ’n skeptiese kyk. “Al moet jy vir my kosmaak? Al drink ek jou wyn op en rook jou kombuis blou?”
“Ek hou van kosmaak en dis lekkerder om vir twee as vir een te maak. Wyn is ook lekkerder as mens dit saam met iemand anders geniet. Oor die rokery laat ek my liefs nie uit nie, maar ek waardeer dit dat jy net in die kombuis rook. En dis vir my lekker dat jy regtig luister wanneer ek brabbel oor trivia wat min ander mense interesseer.”
“Early days, Paul, early days. Ons is nog maar net sedert Vrydag hier in een huis. En selfs in dié paar dae het ons al vasgesit. Ek is nie maklik nie. Ons het albei humeure. Albei bagasie. En bagasie beteken daar is verskuilde knoppies wat nie gedruk moet word nie.” Soos Celeste gedoen het toe sy Lira ’n sloerie genoem het en dit dadelik die oordeel en vooroordeel wat syself ondervind het, opgeroep het. Dankie tog daardie dae toe sy en Celeste so haaks was, is verby.
Daar is ineens ’n vreemde warmte in sy blik. “Hopelik leer ons mekaar goed genoeg ken in dié twee weke, sodat ons sal weet waar om nie aan mekaar te karring nie. En ek hoop ...”
Marilyn is verlig toe haar foon hom onderbreek. Daar het iets net te intens, te intiem in die atmosfeer tussen hulle ingesluip. Paul moet nou nie staan en gedagtes aan onmoontlikhede in haar losmaak nie.
“Leah,” mompel sy as verskoning.
Dis ’n kort gesprek, maar verminder darem die toenemende spanning wat in haar opgebou het.
“Is hulle oukei?” vra hy toe sy aflui. Verbeel sy haar of vermy hy haar oë?
“Relatief. Anna is nou die meeste van die tyd voor die rekenaar aan die planne maak met haar onderwysers om die leerders op koers te kry. Leah is ’n bietjie dikbek omdat sy nou alleen met die kosmakery opgeskeep sit. Maar eintlik wou sy net hoor hoe dit gaan.”
Paul begin opruim.
“Los. Ek sal ná my sigaret. Jy het ’n boekrak om te bou.”
“Ook weer waar. Behoort nie lank te vat nie. Dis net stene op mekaar pak en planke opsit.”
Sy het pas klaar opgeruim toe hy terugkom in die kombuis.
“Ek sal in die houtskuurtjie wees as jy my soek. Toe ek vroeër die stene gaan haal het, het ek besef die plek kort ’n regpak sodat ek goed makliker kan opspoor. Daar is ook baie junk wat agtergebly het. Stukkende grawe en wat nog.”
“Moenie weggooi nie. Lira maak die mooiste goed van junk. Van stukkende grawe ook. En Corali kan omtrent enige ding mosaïek en ’n kunswerk daarvan maak.”
“Oukei, ek sal die goed wat ek nie nodig het nie net eenkant sit. Hulle kan kom snuffel ná die inperking.”
“Great. En nou vir die laaste boeke. Arbeid adel. Sê hulle.”
Paul grinnik net.
Sy kyk deur die venster hoe die twee honde agter hom aan tou na die skuurtjie toe. Sy kan sweer dis dié keer hy wat vlug. Miskien was hy ook verlig oor die foonoproep wat hom onderbreek het voor hy in daardie oomblik van aanvoelbare intimiteit kon sê wat dalk liefs nie gesê moet word nie.
Wat dit ook al was, dit is duidelik dat hy hom bedink het.
Paul
Dankie tog vir Leah se oproep. Dit sou hulle in ’n prekêre situasie geplaas het as hy sy mond laat oorloop het waar sy hart van vol is.
Want wat hy wou sê, is: Ek hoop ons kan mekaar help om van ons bagasie ontslae te raak. Ek hoop ons kan op ’n punt kom waar ons mekaar waarlik leer ken sonder voorbehoude.
Voorbehoude soos dat dit oneerbaar sal wees om haar teen hom vas te trek en te soen soos hy so graag wil. Haar lyf onder sy hande te voel. Haar geheime plesiersones te ontdek. Die misterie wat sy vir hom inhou laag vir laag af te skil al weet hy daar sal altyd iets onontdek aan haar wees.
Close call, Paul, close call. Jy kon alles befoeter het.