Vyf en veertig

2020

Woensdag 29 April

Suiderbaai

Paul

“Ek kan dit nie glo nie! Die bleddie Zuma-bitch! Wie is die president? Sy of Ramaphosa? Hy het dan gesê ...” Marilyn stik amper waar hulle albei in die sitkamer vasgenael voor hulle skootrekenaars se skerms sit.

Paul kan self nie sy ore glo nie. Geen sigarette of drank mag verkoop word gedurende vlak vier nie. Ondanks Ramaphosa se aankondiging ’n week gelede.

Hy skud sy kop. “Praat van irrasionele reëls. En die beperkte oefentye maak nog minder sin. Dit gaan net beteken dat almal tegelyk buite gaan wees. Net gister nog het Netwerk24 berig die VN reken Suid-Afrika se inperking is toksies en menseregte word vertrap. Maar hoor is min. Die vrou ly sweerlik aan ’n grootheidswaan.”

“Magsbehepte feeks!” Marilyn spring op. “Paul, dis ’n krisis. Ek het nog net so vier, dalk vyf pakkies sigarette oor.”

Hy volg haar kombuis toe waar sy met bewende hande ’n sigaret opsteek. “Hei, jy moet jou nie so ontstel nie. Ons sal ’n plan maak. Hoor waar mens smokkelsigarette in die hande kan kry.” Hoe sleg haar rookgewoonte ook al vir haar is, ontsteltenis is ook sleg vir haar. En die onttrekkingsimptome sal hel wees.

“Oor my dooie liggaam koop ek enigiets wat geld in ’n Zuma se sak kan laat beland. Sy is heeltemal te cushy-cushy met daai Mazotti-karakter wat in beheer is van swartmarksigarette, en haar seun of stiefseun of wat ook al het ook ’n vinger in die paai.”

“Wel, of daar nou waarheid in die bewerings steek of nie, wettig gaan jy nie sigarette bekom nie.”

“Ek het geen gewetenswroeging om wettige sigarette onwettig te koop nie, al kom dit teen watter prys, maar nié onwettige junk wat tien teen een vol ander gifstowwe en minderwaardige tabak is nie. En in die proses boonop ’n Zuma verryk? No fucking way.”

“Marilyn, dis nie goed vir jou om jou so te ontstel nie. Komaan.” Hy weet nie of sy hart dit sal hou as sy weer ’n TI-aanval kry nie.

“Wyn, Paul. Nou.” Sy haal diep asem. “Asseblief.”

Hy skink vir hulle in. Hulle sal baie stadig oor dié klippers ook moet gaan, maar daaroor sal hy hom môre eers bekommer. As hy in Stellenbosch was, was dit nie ’n probleem nie, maar sy voorraad hier het aansienlik gekrimp vandat hulle twee mense in die huis is wat lief is vir hulle wyn.

“En nou kan ek nie eens self gaan soek vir iemand wat my genadig sal wees nie. Daar is ’n kafee in Vogelbaai waar ek altyd my sigarette gekoop het. Ek sweer die eienaar sal vir my gee as ek op my knieë gaan.”

“As hy nog het en bereid is om dalk uitgevang te raak.”

“Hy moet nog voorraad hê. Boeta! Boeta het by die kafee aangebou. Hy sal die man kan oortuig.” Marilyn gryp haar foon. Klaarblyklik antwoord Boeta nie, want Marilyn klik haar tong en bel ’n ander nommer.

“Mirre? Is Boeta daar? Ekskuus, ek kan nie hoor nie? Wat makeer Marli? Hoekom huil sy so?” Sy bly lank stil, luister net. “Oukei, bel my terug wanneer jy kan.” Sy sit haar foon neer en kyk na hom. “Hier sit ek en kerm oor sigarette en Mirre gaan deur hel.”

“Wat skort?”

“Boeta het drie seuns by sy eerste vrou, Alet. Henri, die middelste een, bly meesal by sy ma en dié se nuwe man, Raymond. Maar hulle het ook ’n baba, Raylet, wat net twee weke ouer as Marli is. Vanoggend het Alet besluit Henri moet die res van die tyd by Mirre en Boeta bly, want sy kan nie die tuisonderrig én die baba hanteer nie. En haar man kan nie help met tuisonderrig nie, want sy Afrikaans laat veel te wense oor.

Raymond wou nog walgooi, maar Alet is nie een wat haar laat keer nie. Nou sit Mirre en Boeta, drie seuns en ’n baba in ’n kothuis met twee klein slaapkamers en een badkamer ingehok. Mirre het ongeduldig geraak met Marli en dié ken nie haar ma so nie. Nou wil sy nie ophou huil nie en Mirre is in ’n toestand.”

“Maar was die jongste seun nie by jou ander vriendin nie?”

“Hy is gister terug na Mirre-hulle toe en Mirre sê sy kan hom nie weer wegstuur nie. Hy het lekker gebly by Corali-hulle, maar wil liewer by die huis wees.” Marilyn lyk self na aan trane.

“Maar hoe het hulle voorheen reggekom?”

“Oukei, want dit was omtrent net saans wat hulle almal saam was en Henri was meesal by Alet-hulle. Buitendien, dit sou net tydelik wees. Boeta bou aan hulle nuwe huis langs Fynn-hulle. Maar toe kom die pandemie. En hulle kon ook nie na sy ou huis toe trek nie. Boeta het reeds kopers daarvoor, maar hulle wou hê die dak moet eers vervang word. Nou staan Boeta se ou huis gedeeltelik sonder dak en is onbewoonbaar en die nuwe huis is nou eers dakhoogte.”

“Wat ’n gemors.”

Marilyn knik en neem ’n groot sluk wyn. “En die donnerse Alet en Raymond sit met ’n huis groter as myne.”

En hare is groot. ’n Vierslaapkamerhuis met vier en ’n half badkamers waarin twee vroue bly. Die oplossing is eintlik voor die hand liggend. “Marilyn, hoekom ruil Mirre-hulle nie huise met Anna en Leah nie? Jy kan hier bly.”

Sy kyk hom doodstil aan voor sy begin glimlag. “Jy weet, Paul, jy is waaragtig ’n genie. Ek hoop nou net nie Anna en Leah sal omgee nie. En dis nie eens nodig dat ek hier bly nie. Ek kan in Lira se woongedeelte bo die Vywervrou intrek sodra ek uit isolasie kom.”

Toe Marilyn doenig raak op haar foon, stap hy woon–kamer toe.

Genie? Bleddie idioot. Want ’n paar minute lank het hy regtig gedink sy sal hier wil bly. Gehoop sy wens ook heimlik dat hulle langer saam kan wees. Omdat hulle wil, nie omdat hulle moet nie.

Marilyn

Sy moes lankal daaraan gedink het om aan te bied dat Mirre-hulle haar huis gebruik. Maar toe sy en Anna en Leah besluit het om saam te lockdown sou dit in elk geval nie gewerk het nie. Nou, met Henri ook by, is dit egter ’n krisis.

Sy bel Leah eerste.

“As jy jou toys uit die cot gaan gooi omdat ek te min sigarette vir jou gebring het, sit ek neer.”

“Geen toys uit die cot uit nie. Ek gaan jou wel laat kielhaal sodra bote weer mag vaar.”

“Dan sit ek van nou af nie my voet op ’n boot nie. Hoe gaan dit daar?”

“Oukei. Ek het Paul se boeke nou finaal uitgesorteer en wil begin met sy CD’s. Maar ek het gister eers ’n bietjie huis skoongemaak en wasgoed gewas. Gelukkig is hier darem ’n outomatiese wasmasjien en Paul het gehelp met die moeiliker take.” En tussendeur het hulle gesels. Veral oor almal op Vywerbaai. Dis asof Paul alles wil weet oor haar en die mense in haar nuwe lewe.

“Jý? Huis skoonmaak? Marilyn, is jy seker jy is nie koorsig nie?”

Sy lag eerder net oor die laaste vraag. Haar temperatuur bly om en by sewe en dertig, maar het darem nog lank nie agt en dertig grade gehaal nie.

“Ag, dit was nie so erg nie. Ek en Paul hou in elk geval elkeen ons eie kamers en badkamers skoon en netjies. Ek is darem nie heeltemal useless nie.”

“Aparte slaapkamers?”

“Natuurlik!”

“H’m. By the way, Anna sal jou nog bel, maar ons het vanaand nog voor Cyril se toespraak gesels. Anna wil teruggaan na haar woonstel toe. Sy is nou feitlik permanent aan die zoom en whatnot met haar personeel en sy het haar admin-stuff nodig wat beteken sy sal eerder van haar kantoor af wil werk en haar woonstel is mos feitlik langs die skool.”

Een probleem opgelos. “En jy?”

“Ek is verlig. Anna laat my skuldig voel oor ek gatvol is vir die kosmakery wat nou grotendeels my verpligting geword het. Ek gaan net al die voorraad môre opgebruik en dan moet ander barmhartige samaritane maar oorneem. Anna se agterent.”

Klink asof daar dalk ’n onderonsie tussen die twee was. “Julle het al klaar meer gedoen as wat mens van julle kan verwag. Maar ek het eintlik bedoel, wil jy teruggaan Stellenbosch toe?”

“Nee. Ek hou baie lekker vakansie. En as iets werksgewys opduik, is daar niks wat ek nie elektronies van hier af kan doen nie. Ek sal graag hier wil bly. As jy oukei is daarmee.”

“Sal jy omgee om dalk van huis te verander?”

“Gooi jy my uit jou huis uit?”

“Soort van.” Sy verduidelik van Mirre-hulle se dilemma en die moontlike oplossing. “Ek het nog nie met haar gepraat nie, ek wou eers by julle hoor. Met Anna terug na haar eie plek toe, maak dit net nog meer sin. Ek en jy kan die kothuis deel. Dis nou wanneer die isolasietyd verby is.”

Leah bly ’n rukkie stil. “Die afgelope maand of wat was vir ons almal stresvol. Dis buitengewone omstandighede. Ons vriendskap is vir my kosbaar, ek sal dit liefs nie verder wil toets nie. Die kothuis is lieflik. Ek sal dit eintlik verkies om daar te bly. Makliker om skoon te hou en als, maar ek sien nie kans om saam met jou daar te bly nie. Daar is nie plek om heen te ontsnap soos in jou huis as ons op mekaar se nerwe begin werk nie.”

“Kyk hoe vat jy my nou in die gesig.”

“Sorrie, maar dis hoe dit is.”

“Dis oukei. Jy is eintlik reg. Ek is seker ek sal in Lira se ou plek kan intrek.” Waar die woonruimte nog kleiner is as die kothuis al is die huis self groot. Die winkel en bistro neem die hele onderste verdieping in beslag. “Raait. Laat ek eers vir Mirre bel en hoor of hulle ooit sal wil ruil. Ek laat weet jou.”

“Is reg. Ek wag dan om van jou te hoor. En Marilyn, jy kan soms ’n beproewing wees, maar ek laaik jou nog steeds.”

“Ditto.” Dis nou maar van ou vriendskappe. ’n Mens kan net soveel eerliker met mekaar wees.

Die foon lui lank toe sy Mirre bel.

“Mirre se foon?” kom dit op die nippertjie.

“O, hallo, Boeta.” In die agtergrond hoor sy seunstemme en dit klink nie na vriendelike stemme nie.

“Hei, Marilyn. Mirre probeer Marli aan die slaap kry. Kan sy jou terugbel?”

“Nee wat, ek praat sommer met jou.” Marilyn verduidelik vinnig wat haar voorstel is. “Maar dis heeltemal up to you.”

Boeta antwoord nie dadelik nie, asof hy eers verwerk wat sy gesê het. “Marilyn, ek sal met Mirre praat, maar as dit kan werk ... Ek sweer ek soen jou oopbek.”

“Onthou daardie woorde, Boeta,” lag sy.

“Wel, by wyse van spreke natuurlik. Maar ernstig nou, ons sukkel regtig. Ons het al probeer dink hoe ons die Vywervrou kan oorneem, maar met al die voorraad daar is daar nog minder plek as hier in die kothuis.”

“As dit vir julle werk, sal dit oukei wees as Leah in die kothuis intrek tot sy teruggaan Stellenbosch toe?”

“Natuurlik.”

Ná alles wat Leah vir Mirre gedoen het, het sy nie ’n ander antwoord verwag nie. “Nou maar goed, praat met Mirre en laat weet my so gou moontlik sodat ek vir Leah kan sê.”

“Great. En Marilyn, as hierdie gemors verby is, is ek vir ewig jou slaaf.”

“Jy kan jou skuld net op een manier afbetaal.”

“En dit is?”

“Sigarette. Binne die volgende week.”

“O, fok.”

Marilyn grinnik. “Jy weet wat ek rook, maar enigiets anders behalwe smokkelsigarette sal gaaf wees.”

“Nie smokkelsigarette nie?”

Sy herhaal haar redenasie.

“Dit gaan têre, maar ek sal kyk wat ek kan doen.”

“Probeer Faraz se kafee in Vogelbaai.”

“Ek maak so. Hier kom Mirre nou net. Praat later weer. En dankie. Jy is ’n skat. Nee, ’n skatkis vol skatte.”

“H’m. Nou toe, ek wag.”

Sy hoef nie lank te wag nie. Boeta bel van sy eie foon af.

“Mirre huil nog – nou van verligting. Ons aanvaar jou aanbod met groot dankbaarheid. Ons sal môre die logistiek uitwerk. In oorleg met Leah natuurlik. Ek dink jy het broedermoord voorkom. Henri en Daaf is al heeldag aan die rusie maak – so erg dat Pieter met alle geweld wou teruggaan na Thomas-hulle toe.”

“Raait. Ek sal Lira vra oor die Vywervrou, maar ek kan nie enige probleme voorsien nie. Die plek staan tog net leeg.”

“Daar is die huis waar Lira en Thomas hulle studio’s het ook. Die woongedeelte bo Lira s’n is mos onbewoon. Weer eens nie veel groter as die kothuis nie, dus kon dit nie vir ons werk nie, maar meer as groot genoeg vir een persoon.”

“Skoon vergeet daarvan. Die punt is, ek sal wel ’n gaatjie kry.” Dalk is die plek langs Corali-hulle nog beter. Fynn en Celeste het so ’n ruk terug heel gerieflik daar gewoon.

“Uitgesorteer?” vra Paul toe sy weer die kombuis binnekom.

“Jip.” Sy verduidelik vlugtig hoe hulle voorsien dit gaan werk.

“Jy het dus ’n keuse van twee plekke om heen te gaan.”

Sy knik. “Jy kan nou maar daardie sug van verligting slaak. Maar dankie vir die aanbod om aan te bly.”

Hy glimlag net skewerig.

“Wat nou?”

“Hoe bedoel jy, wat nou?”

“Jy lyk ... ek weet nie ... Snaaks.”

Hy hou sy kop skuins. “Snaaks? Snaaks hoe?”

Sy kan sweer hy lyk teleurgesteld, maar dit kan nie wees nie. Hy kan sekerlik nie wag om weer sy plek net vir homself te hê nie. “Never mind. Is jy al op pad bed toe of kan ek gou gaan stort? Ek sien dit het al ’n bietjie laat geword.”

“Honderd persent. Ek loop intussen ’n draai met die honde.”

“Dankie. Ek sal gou maak.”

“Vat gerus jou tyd.” Die honde spring op uit hulle mandjies toe hy nog skaars aan die sydeur se handvatsel raak. Paul kyk terug na haar. “Jy is regtig welkom om hier te bly ook. As jy wil. Ek bedoel wanneer die twee weke om is.”

“Dankie, Paul. Dis baie gentlemanly van jou, maar ek sal jou nie verder verontrief nie.”

Die honde begin tjank-blaf om uit te gaan. Hy druk die deur oop. Die wind swiep binnetoe en doof die klank van sy woorde, maar sy kan sweer hy het gesê “Ek wil regtig graag hê jy moet bly” voor hy die deur agter hom toegetrek het.

Nee, sy moes verkeerd gehoor het.