2020
Vrydag 15 Mei
Suiderbaai
Marilyn
Big-girl panties, Marilyn, big-girl panties. You’ve learned to be strong.
Die verlede moet nou finaal tot rus kom, het sy gisteraand besluit. As sy hierdie laaste skof van haar lewe sonder bagasie tegemoet wil gaan, dalk nog saam met Paul, moet sy afsluiting kry en Paul ook. En voor dit kan gebeur, moet sy alles weet wat sy te wete kan kom. Voor Paul terugkom.
Die legkaart sal seker nooit heeltemal voltooi wees nie, maar daar is een stukkie wat sy moet vind om meer betekenis aan die geheel te gee. Wat het Lizelle werklik besiel om mense se lewens in die naam van Maria Marais te verwoes?
Sy haal diep asem voor sy die landlynnommer bel.
“Suzette, hallo?” Dis ’n opgewekte stem.
Haar moed begewe haar amper.
“Hallo?”
“Hallo, Suzette. Dis Maria Marais wat praat.”
Daar is ’n uitgerekte stilte.
“Of ten minste, ek was Maria Marais. Ek staan nou bekend as Marilyn.”
“Ek het geweet dit gaan my eendag inhaal,” kom dit dié keer hees. “Ek wou nie, maar Lizelle het my omgepraat. Sy was my ousus. Ek sou enigiets vir haar doen. Sy het my altyd beskerm.”
Dit raak weer stil aan die ander kant. “Beskerm?”
“Ja. Teen ons pa. Hy ... Hy was ...” Marilyn hoor haar sluk. “Vatterig.”
“Hy het julle gemolesteer?”
“Vir Lizelle. Sy het gekeer dat dit met my gebeur. Vir my ma vertel. Wat haar eers nie wou glo nie, maar later tog van my pa geskei is. En so is ek gespaar van alles waardeur sy moes gaan.”
Marilyn weet nie mooi wat om te sê nie. Die wete dat Lizelle en Suzette se pa dieselfde teennatuurlike neiging as hare gehad het, betrap haar heeltemal onkant.
Miskien is dit juis omdat sy niks sê nie dat Suzette verder praat.
“Lizelle ... Dit het haar ... Sy het ... Op universiteit het sy baie rondgeslaap, maar ek sweer, Maria, daardie laaste ses maande voor sy uitgevind het sy is verwagtend, het sy net by Awie geslaap. Dit wás sy kind. Maar almal het geweet van haar geskiedenis en niemand wou haar glo nie. En toe gebeur daardie verskriklike ding met jou. Dit het haar finaal van Awie genees, maar met ’n bitter hart agtergelaat.”
Marilyn se hand gaan na haar keel toe. “Hoe het sy uitgevind wat met my gebeur het?”
“Geerts het haar vertel. ’n Hele ruk nadat dit gebeur het. Hy het jou gesoek, maar jy het spoorloos verdwyn. Sy gewete het hom só gery, hy het voorgestel dat Lizelle met hom trou. Lizelle het geweet dis net omdat hy skuldig voel, besluit het dat hy ten minste een van Awie se slagoffers kan help al is dit nou nie vir jou nie, maar sy het ingestem. En toe ... toe ...” Haar stem breek. “Kan ek jou terugbel?”
“Sal jy?”
“Ek sal.”
Die foon raak stil onmiddellik nadat Marilyn haar selnommer gegee het.
Die honde volg haar toe sy buitetoe stap. Teen dié tyd het hulle haar as surrogaat vir Paul aanvaar. Sy gaan stap elke oggend met hulle en hulle gehoorsaam selfs haar opdragte.
Sy vryf ingedagte oor Raka se kop. Niks kan die afpersing of dat hulle haar naam daarvoor gebruik het regverdig nie, maar noudat sy meer weet van die twee susters se agtergrond, kan sy nie help om empatie te voel nie.
En dis nie die enigste nuwe insig nie. Haar pa mag gewees het wie en wat hy was, en hy mag haar vleeslik begeer het, maar ten minste het hy teen sy begeerte gestry. Hy het nooit só aan haar geraak of eens probeer nie. Om die waarheid te sê, vandat sy hoërskool toe is, het hy glad nie aan haar geraak nie.
Is dit hoekom haar ma aan sy kant was? Omdat sy geweet het hoe swaar hy kry? Nie noodwendig op fisieke vlak nie, maar op geloofsvlak. Kan sy hom aanhou minag vir onwelkome gevoelens, sondige gevoelens as dit moet, as hy nie daarvoor gevra het nie? En tog met mag en krag daarteen gestry het? Was dit die rede waarom hy haar weggestuur en verwerp het? Die rede waarom hy sy kerk gestig het? Was die kerk sy boetedoening aan die God waarin hy so eng geglo het?
Die manier waarop hy opgetree het, kan sy veroordeel. Dit was wreed teenoor haar. En hy was wreed teenoor haar ma ook. Dit moet ’n verskriklike wete wees vir ’n ma en vrou om mee saam te leef. Maar as die rede was dat hy haar op so ’n verworde manier teen homself wou beskerm, kan sy dalk ’n klein bietjie begrip hê. Kan sy hom en haar ma dalk eendag selfs vergewe.
Marilyn asem die seelug diep in. Weer en weer en weer. Vandag kan mens die seewier ruik. Dit gebeur net soms. Paul sal kan verklaar waarom. Sy het geen idee nie.
Sy mis haar wandelende ensiklopedie verskriklik. Al bel hy gereeld, is hulle gesprekke te kort en dit wakker eerder verlange aan as om dit te verlig.
Marilyn gaan weer binnetoe. Maak koffie en rook ’n kosbare sigaret. Sy het pas doodgedruk toe haar foon lui. Sy laat val amper die foon in haar haas om te antwoord.
“Jammer, Maria, dit was net ’n bietjie te veel van ’n skok. Ek moes net my kop bymekaarkry.” Die stem het sy opgewektheid verloor en klink nasaal. Dis wat huil aan mens doen.
“Dis in die haak. Ek verstaan.”
“Gaan jy ... gaan jy my laat vervolg?”
“Selfs al wou ek, is dit te lank terug. Jy kan dus maar doodeerlik wees.”
“Oukei. Wat ek wou sê, is dat die baba toe gebore is ’n rukkie nadat hulle in Holland aangekom het. Dit was dadelik duidelik iets is fout. Dit was haar hartjie. Daar was ’n aangebore defek.”
Hemel, soveel ellende en dan nog geboorte skenk aan ’n kind met ’n defekte hart? En sy dink sý het swaar gehad?
“Lizelle se bitterheid het in haat verander. Sy wou Awie straf. Vir alles.
“Net om jou nog ’n bietjie agtergrond te gee, in al die maande wat sy met Awie deurmekaar was, het hy haar heeltyd met jou vergelyk. Jy was perfek en sy was ’n hoer. Jy was so mooi, so sexy. Sy was ordinêr. Daardie soort ding. Hy was wreed, Maria, maar sy was nog steeds mal oor hom. En sy het jou toe al gehaat.
“In elk geval, so kom sy toe op die plan om Awie te begin afpers en jou naam te gebruik. Jy het immers rede gehad om wraak te neem. Ek het haar probeer keer. Gesê hy sal dadelik weet dis sy. Daarvoor het sy ook ’n oplossing gehad. Om dit meer geloofwaardig te maak, sal sy sommer die ander ook afpers.”
“Maar hoekom Gideon?”
“Omdat Awie haar vertel het Gideon brag by sy pelle oor hy by jou geslaap het. Haar redenasie was, as dit regtig jy was wat die spul wil straf, jy nie vir Gideon sal uitsluit nie. Bowendien, dit het meer geld beteken. Omdat die baba so siek was, kon Lizelle nie werk nie. Hulle het finansieel gesukkel.”
“Het Geerts hiervan geweet?”
“Hy het eers uitgevind toe hy agterkom hulle lewe geriefliker. Hy het haar gekonfronteer en sy het hom vertel. Aanvanklik was hy geskok en wou hê sy moet dadelik ophou, maar sy het geweier. Mettertyd het hy ook tot ander insigte gekom. Vir hom het dit nie oor die inkomste gegaan nie, maar hy het gevoel dit wat jou en Lizelle aangedoen is, word ten minste op dié manier gewreek.”
“Het Lizelle geweet dat hy vir my geld oorbetaal het?”
“Het hy? Nee, ek het dit ook nie geweet nie. Ek het die geld in haar spaarrekening oorgeplaas. Hy het nie toegang daartoe gehad nie. Hy moes jou uit sy eie sak betaal het. Lizelle sou woedend gewees het as sy dit uitgevind het.”
Geerts wou sorg dat sy ook vergoed word terwyl hulle in elk geval wraak neem, besef sy. “Het hulle ooit uitgevind wat haar dogter se hartdefek veroorsaak het?” Sy verbeel haar Paul het gesê sy pa is aan ’n hartaanval dood. Sou Paul dalk ook hartprobleme hê? Maar aangebore is nie noodwendig oorerflik nie. “Was dit ’n oorerflike ding?”
Suzette bly weer ’n rukkie stil asof sy terugdink. “Sover ek weet, nie oorerflik nie, nee. Ek het altyd gewonder of dit nie dalk iets te doen gehad het met haar pogings om ... om die baba af te dryf nie. Onthou, aborsies was nog nie wettig nie. Sy het allerhande ouvroustories probeer. Jy weet, die warm bad en die gin, ’n breinaald ... sulke goed.”
Marilyn voel naar. Sy wil nie eens weet wat die breinaald met die saak te doen het nie.
“In elk geval, Lize was elf toe sy oorlede is. Lizelle was gebroke. Sy het Holland gehaat en Geerts het boonop ’n rukkie later erken hy het net by haar gebly oor Lize se siekte. Dat sy nou vry was om haar lewe te hervat wanneer sy gereed is.
“Dit het haar finaal geknak. Sy het ’n paar maande later ’n oordosis pille gedrink en is twee dae daarna dood. Ons het nooit weer van Geerts gehoor nie. Ek was Lizelle se enigste erfgenaam. Daar was net ’n paar honderd rand in haar spaarrekening. Verder niks wat die moeite werd was om van Holland af hier te probeer kry nie.”
Nog ’n selfmoord. Nog ’n gees wat geknak het. Soos haar ma s’n. “Het jy ooit probeer uitvind wat van julle slagoffers geword het? Hoe die afpersing hulle affekteer het?”
“Nee. Ek het net ingestem om ’n rekening te skep, en die geld wat daarin gedeponeer word elke maand in Lizelle s’n oor te betaal. Ek het geweier om op enige ander manier betrokke te raak.”
“Wie het die telegramme met die eise gestuur?”
“My ma, in opdrag van Lizelle. Lizelle het elke maand besluit hoeveel en wie. Jy moet weet my ma was ook ’n verbitterde vrou ná haar egskeiding. Sy is nooit weer getroud nie. En sy het Awie gehaat vir wat hy aan Lizelle gedoen het en dat hy toe boonop veroorsaak het dat sy Holland toe is. Met Lize so siek, kon sy ons nooit weer kom besoek nie.”
“En wat het van jou geword?”
Suzette gee ’n verrasde laggie. “Hoekom wil jy weet?”
“Belangstelling.”
“My pa het ’n goeie pos by ’n myn gehad het, dus kon ek met ’n beurs van die myn gaan studeer. Ek het as geoloog gekwalifiseer en werk steeds in die mynindustrie. Ek is later met ’n myningenieur getroud. Drie kinders. Twee seuns en ’n dogter en nou ouma van vier kleinkinders.”
“En jou pa? Het julle ooit vrede gemaak?”
“Nee, maar hy het my en Lizelle ten minste laat studeer en daarvoor is ek hom dankbaar. Dis net jammer Lizelle het nie daardie geleentheid reg benut nie, maar sy was soveel stukkender as ek.”
“Het jy ’n goeie lewe gehad tot dusver?”
“Behalwe vir my skuldgevoelens oor my aandeel aan die afpersing en die routydperk ná Lizelle en Lize, en later my ma se dood, ja. Ek en my man is nog gelukkig bymekaar en sien uit na ons aftrede oor vier of vyf jaar. Ons kinders en kleinkinders doen goed. Dit was ’n moeilike jaar, maar in vergelyking met ander mense is ons baie geseënd. En jy?”
“Dit gaan goed met my, dankie. En dankie vir jou openhartigheid.”
“Ek is jammer, Maria, as ek jou dalk te na gekom het. Ek het nie gedink jy sal ooit daarvan uitvind nie.”
Sy kan Suzette seker vertel wat die effek op haar lewe was, maar wat sal dit enigiemand baat? Hulle groet strammerig.
“Daar het jy dit, Saggrys,” sê sy toe die kat daardie oomblik kies om op die tafel te spring. “It’s a strange, strange world.”
Vrydag 22 Mei
Suiderbaai
Marilyn
Haar ore is so gespits om te luister of sy die Fortuner hoor aankom dat haar kop skoon begin suis.
Dis asof die gediertes haar ongedurigheid aanvoel. Saggrys is al om haar voete, Roes sit hom ná ’n vinnige jagtog op die vensterbank en lek, en die honde hol kort-kort buitetoe net om skielik weer om te draai en in hulle mandjies neer te plof.
En skielik is dit daar. Die geluid van ’n naderende voertuig. Sy vlieg by die badkamer in. Kam haar hare en spuit nog ’n bietjie parfuum aan. Vee dit dadelik weer af, bang die geur is te sterk.
Van die voorstoep af sien sy die viertrek nadergewaggel kom. “Raka, Koki, sit!” beveel sy toe die honde uit die huis gestorm kom. Hulle gaan sit weerskante van haar, maar tjank-blaf skril.
Toe Paul stilhou, is haar eerste instink om na hom toe te hardloop, maar op die nippertjie begewe haar moed haar. Hy het elke dag gebel, maar nooit weer enigiets van ’n lang klip of die toekoms gesê nie. Meer gepraat oor sy buurman by wie hy die afgelope paar dae gebly het voor die dokter hom die groen lig gegee het om te bestuur. Hoe hy die ouddominee en sy vrou nou eers beter leer ken. Hoe wonderlik gaaf hulle is en hoe goed hulle hom versorg.
En sy het nie die moed gehad om die kwessie te opper nie. Te bang vir die antwoord as sy sou vra hoe sien hy die toekoms. Net twee oumense wat mekaar se eensaamheid verlig?
Daarvoor sien sy nie kans nie.
Maar durf sy hoop dis ’n nuwe begin vir twee mense wat mekaar liefgekry het? En dit meer as veertig jaar nadat die vonk die eerste keer tussen hulle ontbrand het. Dit klink net onmoontlik dat hy vir haar kan lief wees noudat hy soveel van haar weet. Beleef het hoe eiesinnig sy is.
“Oukei, gaan groet maar.” Sy wys die honde hulle kan gaan.
Die twee spring Paul amper om toe hy uitklim. Hy vryf ore, praat met hulle voor hy opkyk na waar sy staan. Sy gesig verhelder en dan kan sy dit nie meer hou nie.
Soos ’n jong meisiekind hardloop sy die trappe af. Hy hou sy arms vir haar oop en toe sy by hom kom, vou hy haar toe en trek haar teen hom vas asof hy haar nooit weer wil laat gaan nie.
“Ek was nog nooit in my lewe blyer om enigiemand te sien nie,” fluister hy by haar oor voor hy haar gesig na hom toe lig. In sy oë kan sy sien, ja, sy durf hoop.
Die tyd vir speletjies en voorgee is verby, weet sy en gee haar oor soos sy haar nog net een keer in haar lewe oorgegee het – daardie keer onder die boom.
Paul
Hy kyk verwonderd af na haar ontspanne gesig. Die sonstrale wat deur die venster kom, blink silwer in haar hare, speel oor haar toe ooglede. Hy kan nie glo sy lê uiteindelik in sy arms nie, haar hare natgesweet en deurmekaar, haar maskara effens gesmeer, lipglans vergete al daarmee heen.
Om te dink Sabine kon hulle hiervan ontneem het. Van hierdie kosbaarste oomblikke in sy lewe.
Dit was asof al hulle voorbehoude, al hulle emosionele bagasie in die niet verdwyn toe hulle liggame oorneem. Asof die drie en veertig jaar tussenin net weggeval het. Asof hulle weer in hulle twintigs is. Jonk en energiek en ongebreidel. Geen wonder hulle het albei ingesluimer nie.
Haar oë gaan oop, dieper blou as ooit.
“Jy staar.” Haar glimlag is so sag, so intiem.
“Nee, ek neem in.”
“Elke plooi en ouderdomsvlek?”
“Ek dink hulle is weggesoen.”
“H’m, dalk nog nie almal nie.” Sy trek sy kop nader, streel met haar lippe teen syne.
“Dan sal ek maar weer moet probeer,” fluister hy voor die passie hulle nogmaals in sy tregter intrek.