Outeursnota

Ongeveer ’n jaar gelede is ek oorval met versoeke van my lesers om ná die Vywervrou-trilogie ook ’n boek oor Marilyn te skryf. Nou ja, the tribe has spoken en ek het gehoorsaam. Ek hoop Marilyn voldoen aan julle verwagtinge en dat julle lekker gelees het.

Dit was ’n moeilike reis tot hier. Nie net om in moedswillige Marilyn se kop te kom nie. Die feit dat die storie in 2020 moes afspeel om aan te sluit by die Vywervroue, het dit nou nie juis makliker gemaak nie.

Ek het skaars begin skryf aan Marilyn toe die Covid-chaos die wêreld getref het. Ek kon my nie indink hoe om ’n storie te laat verloop as ek nie eens weet wat volgende week gaan gebeur nie. Dit was asof die pandemie my gestroop het van kreatiwiteit en ook die lus om te skryf.

Uiteindelik het ek dit net dag vir dag en paragraaf vir paragraaf geneem. Ek het aanvaar ek kan nie met dieselfde oorgawe as gewoonlik skryf nie en myself vergewe wanneer die woorde net nie wou vloei nie.

En uiteindelik het die manuskrip toe tog klaargekom. Met baie hulp en begrip het dit uiteindelik tog tot boek gekom.

Soos altyd is daar dus ’n hele rits mense wat ek moet bedank.

Madri Victor wat met entoesiasme, geduld en insig as my nuwe uitgewer moes gewoond raak aan my vertwyfelinge en paniekaanvalle. Dankie dat jy my gehelp het om koers te hou deur die rowwe jaar van 2020.

Wilna Adriaanse, my uitstekende keurder wat weet hoe stories behoort te werk, kan raaksien waar leemtes is en altyd eerlik is oor waar ek drooggemaak het. Waar die storie steeds mank gaan, is dit omdat ek nie in elke opsig na haar geluister het nie.

My redigeerder, Annamarie Steenekamp, die omslagontwerpers wat sulke mooi omslae maak, en die hele span by LAPA Uitgewers wat so mooi sorg vir elke boek wat uit hulle stal kom. Dankie vir julle insig en kundigheid, entoesiasme en harde werk.

My verdraagsame vriende en Blom se familie wat my ondersteun wanneer ek hulle nodig het en vergewe wanneer ek nie kan saamkuier nie. Dankie dat julle nie moed opgee met my nie!

Medeskrywers wat ’n mens onderskraag, inspireer en weer moed gee om aan te hou. Julle is ysters!

Soos altyd, Ernie Blommaert, nou my verloofde (!), wat ná sewentien jaar steeds geduldig bly as ek soms nie in die gees aanwesig is terwyl my kop met storiedinge besig is nie. Dankie, Blom, dat jy my deur die grendeltyd heen so bederf het in soveel opsigte. Dankie vir jou geduld met my pyne, skete en buie. En dankie dat jy my steeds jou vrou wil maak.

En natuurlik, dankie aan my wonderlike lesers. Dankie vir julle entoesiasme, lojaliteit en vir julle vertroue in my as skrywer. Sonder julle sou daar geen sin in wees om te skryf nie. In hierdie geval ook dankie dat julle my so half en half in Marilyn se storie ingedwing het. My lewe en oeuvre sou armer gewees het sonder haar.