2020
Sondag 23 Februarie
Vywerbaai
Marilyn
Nog amper ’n week oor voor Fynn-hulle van hulle wittebrood af terugkom en dit sal nie ’n dag te vroeg wees nie. Celeste is die ene tienerhormone. Sy kom swem elke middag ’n paar lengtes terwyl hulle nog nie ’n swembad by die nuwe huis het nie. Die een dag is sy ’n opgewekte Duracell-hasie en die volgende sleepvoet en tranerig.
Vandag is dit laasgenoemde. Marilyn sien dit sommer dadelik toe sy ná middagete ingeslenter kom van Mirre-hulle af en haar op een van die lêstoele in die binnehof neergooi.
“Wat is dit, Celeste?” Sy probeer die irritasie uit haar stem hou.
“Daar is vandag net te veel seuns in daardie huis.”
“Maar ek dag dan net Pieter is daar terwyl jy daar bly, dat Daaf en Henri by Alet en Raymond bly tot jou pa-hulle terugkom?” Seker weer Daaf, Boeta se oudste, wat die doring in haar vlees is.
“Tannie Alet het die twee sommer vir die hele naweek weggejaag al sou hulle net gistermiddag oorgekom het. Oor oom Boeta gister verjaar en ons almal vir pizzas gevat het. Maar tannie Alet sê sy het alleentyd nodig saam met oom Raymond en Raylet. Oom Boeta en Mirre moet maar sien kom klaar oor die naweek.”
Trust Alet. Boeta se eerste vrou sal selfs die kaivrou van Zuurbraak kan ore aansit.
Die arme Mirre. Met Celeste daar, slaap die seuns seker op matrasse in die woonkamer. En sy kon nie eens vir Pieter na Corali-hulle toe oorstuur nie omdat Thomas se ma hulle vir die naweek uitgenooi het om vandag Corali se verjaardag te vier.
Eugenie hang seker weer behoorlik uit. Die vrou kán onthaal. Dit was duidelik met Thomas se verjaardag verlede jaar. Mirre het heelwat van die kos versorg, maar Eugenie het die res gedoen. Die versierings was ’n lus vir die oog. Dit was behoorlik ’n feestafel.
“Ek het gesê jy kan weer hier by my kom bly.” Nie dat dit voorheen so goed uitgewerk het nie, maar hulle kon seker die maand oorleef het.
“Ek weet, maar dis lekkerder by Mirre-hulle. Dis nou as Daaf-hulle nie daar is nie.”
Marilyn gee haar ’n kyk. “Ek het ook ’n binneste, jy weet.”
Celeste grinnik suurderig. “Sou nie kon raai nie. Maar jy wil my anyway nie regtig hier hê nie. Want dan moet jy regte kos maak en sorg dat ek elke dag ’n kosblik kry. En as ek hier is, mag jy net buite rook.”
“Dis ook weer waar.” Celeste hoef nie te weet van haar reëling met Mirre om weekliks gevriesde disse vir haar af te lewer nie. Vandat sy desjare ’n kafeteria bestuur het omdat sy nie ander werk kon kry nie, haat sy enigiets wat met kosmaak te doen het.
Celeste se oë rek. “Hei, jy is my ouma. Jy is nie veronderstel om saam te stem nie.”
“Lieg oumas dan?” Sy hou haar gesig die ene onskuld.
Celeste grom. “Gewone oumas het nie rede om te lieg nie. Hulle is lief vir hulle kleinkinders.”
“Net omdat ek en jy nie goed klaarkom in een huis nie en ek nie hou van kosmaak nie, beteken nie ek is nie lief vir jou nie.”
Die astrante uitdrukking in Celeste se blik versag, raak onseker. “Is jy dan lief vir my?”
“Ek is.” En dis die heilige waarheid, besef Marilyn, self ietwat verbaas. Daar was tye sedert sy amper twee jaar gelede hier ingetrek en Celeste aanvanklik by haar kom bly het dat sy haar kleinkind sonder gewetenswroeging kon verwurg. “Baie.”
“Regtig-egtig?”
Marilyn knik. “Regtig-egtig.”
Celeste gee haar ’n klapsoen op die wang, huppel swembad toe en duik in. Die kind is behoorlik soos ’n vis in die water en om haar op ’n branderplank in die see te sien, is “sheer poetry”, soos Raymond nou die dag gesê het. Hy rig ’n hele klompie kinders hier rond af in branderplankry, maar Celeste is beslis die ster onder hulle en sy witbroodjie.
Marilyn maak haar oë toe. Ineens moeg. Sy kan nie ’n ouma en oupa onthou nie. Hulle is al vier dood nog voor sy skool toe is. Sy kan net onthou dat daar in haar ouerhuis nie veel bewys was van liefde nie. Sy kan haar nie indink dat sy haar ma of pa ooit spontaan op die wang gesoen het nie. Of eens oor gevoelens vir mekaar gepraat het nie. Sy het, soos almal waarvan sy weet, op eiers getrap rondom haar pa.
Sy kan nie glo sy het gisteraand al weer van Joost Marais gedroom nie. Dis asof hy ineens besluit het om haar teister. Sy weet nie eens of hy nog leef nie, maar dis duidelik dat hy steeds geesdriftig voortbestaan in haar onderbewussyn.
1976
Maandag 23 Februarie
Potchefstroom
Maria
Uiteindelik! Die oriëntering is afgesluit met die ontheffingsdinee waar die rektor die eerstejaars formeel welkom geheet het. Daarna het die Four Jacks and a Jill opgetree. Glenys Lynn het haar gelukkig min gesteur aan die paar idiote wat hulle so ongeskik gedra het in die eerste helfte. Nie dat sy nie ook dink varser musiek sou dalk groter byval by die studente gevind het nie, maar niks verkeerd met Glenys nie.
Self vrek sy natuurlik oor die Bee Gees en Barry Manilow, ABBA en The Carpenters. Cliff Richard ook.
Awie maak dit af as bubblegum-musiek en het in sy ma se Morris vir haar iets op die tape gespeel wat haar enersyds aangetrek het en andersyds laat wonder het of dit nie lastering is nie. “Bohemian rhapsody”. Wat is die groep se naam nou weer? O ja, Queen.
Awie het die dubbel-LP Hot August night van Neil Diamond ook oorgetape om in die kar te kan speel. Daarvan hou sy baie meer, maar haar pa het dit as duiwels afgemaak toe een van die liedjies oor die radio gespeel het terwyl hy na Radio Suid-Afrika se stasie gesoek het om die nuus te luister. Toevallig Awie se absolute gunsteling. Of sy dink ten minste so. “Girl, you’ll be a woman soon”. Dis die snit wat hy die heel meeste speel.
Maar vir Awie sal sy nou eers weer in die Aprilvakansie sien. En hulle kon nie juis baie bymekaar wees oor Desember nie. Hy moes leer vir die vakke wat hy in Januarie geher het. Hopelik het dit goed gegaan. Sy het nog nie weer van hom gehoor nie. Huis toe kan Awie nie bel nie. Haar pa sal beroerte kry as hy weet Awie is nog in haar lewe nadat hy haar aan die begin van matriek verbied het om hom weer te sien.
“Dis nou tyd om jou aandag aan jou studie te gee, Maria. Dis nie die tyd vir muisneste nie,” het hy streng gesê. “’n Goeie matriek is onontbeerlik as jy iets van jou lewe wil maak.”
Wel, sy het Awie gesien en steeds vier onderskeidings gekry en vir die ander twee B-plusse. Wat natuurlik volgens haar pa steeds ’n teleurstelling was. Veral aangesien een van sy medeprofessore se seun ses onderskeidings gekry het. Maar dis haar pa se probleem as hy alles altyd as ’n kompetisie wil sien. Sy het hard gewerk en is heel gelukkig met haar uitslae.
Wat haar pa nou eintlik teen Awie het, behalwe dat hy ’n jaar ouer is as sy, weet nugter. Nou is dit gelukkig nie meer ’n kwessie van ’n matriekmeisie wat nie met ’n student moet deurmekaar raak nie. Hulle is mos nou albei studente. Ongelukkig net aan verskillende universiteite. Potch is dalk nie so ver van Pretoria af nie, maar nie een van hulle het ’n kar nie. Awie leen net sy ma s’n wanneer hy hier is.
Afsprake om mekaar na tiekiebokse toe te bel, werk meesal nie uit nie.
So af en toe kry sy darem ’n briefie van hom, maar dis gewoonlik kort. Gelukkig is sy die een wat altyd die pos inbring van die straatposbus af. Anders het haar pa seker die briewe onderskep. Dis nou nadat hy die aapstuipe onder beheer gekry het.
Maria laai haar boeke op die drarak van haar fiets, maak dit vas met die seekatrekke en sit haar skouersak in die mandjie bo die voorwiel voor sy koers kry kampus toe. Dis vrek warm. Sy gaan weer natgesweet wees wanneer sy daar aankom. As sy in ’n koshuis gebly het, sou sy net oral heen kon gestap het. Nou voel dit asof sy nog maar steeds op skool is. Sy hoef net later te ry want die eerste klasse begin eers negeuur.
Soos altyd bewonder sy die roostuin van die rektor se huis waarby sy al vir jare elke oggend en middag verby ry. Wat ’n mansion is die huis nie. Tudor-styl. En op so ’n yslike lap aarde. Akkers en akkers grasperke. Boomryk. In die studeerkamer is daar glo panele met houtsnywerk wat deur Italiaanse krygsgevangenes gemaak is.
Nou die dag het sy gehoor daar is sprake dat die rektor volgende jaar aftree. Sou haar pa aspirasies hê om hom op te volg? As sy net daaraan dink dat daardie herehuis dalk haar ouerhuis kan word, raak sy skoon benoud. Dit sal haar nog meer na die periferie van die studentelewe stuur as wat nou die geval is. En die huidige situasie is al erg genoeg.
Sondag 23 Februarie
Stellenbosch
Paul 2020
Die kraaie gaap selfs waar hulle hier in die tuin in die koelte van die yslike akkerboom met ’n uitsig op die swembad sit. Sabine lyk besonder bekoorlik in haar geel sonrok, maar haar gesigsuitdrukking spreek boekdele – en dis duidelik nie die soort dele van boeke wat hy graag wil lees nie.
“Ek verstaan jou nie, Paul. Jy het al hierdie gesiene mense in jou lewe wat jou op die naam noem, presies weet wie en wat jy is, maar nou wil jy hulle nie na jou troue toe nooi nie.” Sy laat die lys wat hy uitgedruk en waarop hy name doodgetrek het oor die tuintafel skuur.
“Ek weet nie hoe om my beter uit te druk as wat ek reeds het nie, Sabine. Ek nooi nie mense wat blote kennisse is nie. Veral nie net om dusdanig luister aan die troue te verleen nie. En ek het jou tegemoet gekom. Honderd en vyftig gaste, dus vyftig meer as waarvoor ek begroot het. Ek wil regtig nie verder hieroor praat nie.”
“Dus is die saak volgens jou afgehandel?”
“Dit is.”
“En gaan jy so maak met jou aftrede ook? Net doen wat jy wil en basta met my?”
“Ek was nog altyd baie openlik oor wat ek beplan ná my uittrede.”
Sy gee hom ’n grimmige kyk. “Maar jy het nie vir my gesê jy wil gaan aftree op so ’n agtertangse plek nie.”
“Jy het nog altyd geweet dat ek die strandhuis naby die suidelikste punt van Afrika het, Sabine, selfs voor ek jou daarheen geneem het. En ek hét vir jou gesê ek het die huis gekoop met die doel om daar af te tree, nie net as ’n naweek- en vakansiehuis nie.”
“Ja, maar dit was voor ek die aaklige plek gesien het. Ek het aanvaar jy sal my darem in ag neem, dit verkoop en eerder Hermanus toe trek.”
“Ek wil nie in Hermanus aftree nie. As my strandhuis nie goed genoeg is vir jou nie, kan ons daaraan dink om ’n ander eiendom in dieselfde omgewing te koop, selfs Vywerbaai oorweeg, maar êrens naby die suidelikste punt van Afrika is waar ek van volgende jaar af wil wees. Die ongereptheid is voedsel vir die siel.” En voedsel vir die siel is iets wat hy bitter nodig het.
Sy sit haar glas neer. “Maar daar is niks om te doen nie. Daar is nie eens ’n mall nie. Daardie verskoning van ’n winkelsentrumpie in Bredasdorp tel nie en dis buitendien vyftig kilometer van jou plek af. En dan is daar boonop nie eens ’n Woolies nie.”
“’n Mens kan oorleef en selfs heerlik eet sonder Woolies. Sowel Vywerbaai as Vogelbaai is nader en het kruideniers- en ander winkels. En vir my is daar baie om te doen. Ek wil visvang, alikreukels uithaal, baie stap. Aan die huis werk, dit opknap, mooi en gerieflik maak. Dalk laat aanbou. Tuinmaak. Nou en dan uithelp op die nabygeleë dorpe as my dienste benodig word.”
“Tel ek en my behoeftes dan niks nie, Paul?”
“Sabine, toe jy daarop aangedring het dat ons verloof raak, het ek dit baie duidelik aan jou gestel wat my planne vir die toekoms is. Jy kan regtig nie sê ek was nie eerlik met jou nie.”
“Maar ek het gedink ...” Sy bly stil, besef waarskynlik sy ondermyn haar argument.
“Dat jy my kan verander, en/of my van plan kan laat verander,” voltooi hy haar sin. Hy sug. “Het ek jou enige indikasie gegee dat ek ooit bereid sal wees om ’n living-up-to-the-Joneses-lewe te lei? Dat ek genoeg geld het om ’n Hermanus-leefstyl volgens jou standaarde te kan handhaaf?” Hermanus is seker een van die mooiste dorpe op aarde, maar hy is moeg vir besige dorpe met te veel ryk mense wat mekaar se families kan uitlê. ’n Stellenbosch-by-die-see is nie waar hy sy dae wil slyt nie.
“Jy is welaf genoeg, Paul.”
Hy skud sy kop. “Welaf genoeg om gerieflik te lewe. Nie welaf genoeg om tien miljoen vir ’n huis in Hermanus te betaal as ek naby die see wil woon nie. En Sabine, hierdie virus sál Suid-Afrika binnedring en dan gaan daar chaos wees. Ek gaan nie my finansiële posisie op die spel plaas nie, selfs al sou ek jou jou sin wou gee.”
“Maar jou huis hier in Stellies ...”
“Sabine,” val hy haar in die rede. “Die huis in Stellenbosch kan nie verkoop word nie en basta.” Hy haal diep asem om sy ergerlikheid te onderdruk. “Besef jy dat geld al is waaroor jy tot dusver vanmiddag gepraat het? Wat geld kan koop en hoeveel geld ek het?” Hy staar haar stip aan voor hy hulle glase hervul met haar gunsteling-sauvignon blanc.
Hy kyk weer na haar. “Ek het my hele lewe lank hard gewerk vir wat ek het. Ek reken dis my goeie reg om in vrede af te tree en my laaste jare te leef soos ek graag wil. En soos ek reeds voor ons verloof geraak het aan jou uitgestippel het.”
Sy drink haar wyn in stilte voor sy weer met ’n befoeterde gesigsuitdrukking na hom kyk. “Paul, dalk het ons ’n bietjie meer om oor te besin voor die troue as wat ek gedink het.”
Ná ’n verlowing van amper twee jaar, sou hy reken daar is al genoeg besin, maar miskien is sy reg.