Vyf

2020

Sondag 1 Maart

Stellenbosch

Paul

Hulle sit weer by die swembad. Terwyl hy ’n vis op die kole gaargemaak het, was Sabine heeltyd in die kombuis doenig. Gedurende die ete het hulle skaars gepraat. Hy verwag onmin en staal hom toe Sabine haar vingers om die wynglas se steel inmekaar vleg en hom in die oë kyk. “’n Ruk nadat ons mekaar ontmoet het, het jy vir my gesê die ouderdomsverskil is te groot en ons persoonlikhede te verskillend. Dat ons dalk moet halt roep voor dinge te ernstig raak.”

Paul onthou dit goed. Sabine het in trane uitgebars. Hy het haar probeer troos en dis net mooi toe dat hulle vir die eerste keer die Rubikon oorgesteek het. Hy knik.

“Dalk was jy reg.” Sy kyk hom aan op daardie onleesbare manier wat hom altyd onseker laat oor wat haar bui behels.

Dreig sy om die verlowing te verbreek as hy haar nie haar sin gee nie? Dink Sabine sy kan hom só afpers? Dis alteveel hoe dit vir hom klink. En afpersing is vir hom ’n baie teer saak.

Hy bly lank stil. “Ek dink ek was reg.”

“Fine!” Haar stem is laag, maar bitsig. “Jy sien, ek reken nou weer dis my goeie reg om te leef soos ek dit voorsien het. En die dag toe ons verloof geraak het, het jy jou verbind tot ’n toekoms saam met my. Ek sal so gou doenlik hoor wat Leah de Wit daaroor te sê het. Laat ons kyk hoe jy afgetree gaan kry nadat sy met jou klaar is.” Sy staan op, vat haar Gucci-handsak en stap ken in die lug uit.

Hy sit met ’n sug terug in sy stoel en neem ’n lang sluk wyn. Hy moes van beter geweet het as om laas week oor sy aftrede te praat.

Maar hy moes al van beter geweet het die dag toe hy haar ontmoet het by ’n braai aan huis van een van Suid-Afrika se rykstes. ’n Geleentheid waarheen hy eintlik nie wou gaan nie, maar hy kon die uitnodiging nie weier nie. Phillip de Villiers is immers sy swaer.

En daar is hy toe so gevlei dat ’n mooi, gesofistikeerde vrou sewentien jaar sy junior in hom belangstel dat hy waaragtig vir haar val.

Eintlik het hy geweet dit kan nie uitwerk nie. Dié dat hy aanvanklik nie wou byt toe Sabine begin skimp het om verloof te raak nie. Dié dat hy al menigmaal wou kop uittrek toe die troureëlings ter sprake gekom het. Uiteindelik kon hy dit nie oor sy hart kry om dit aan Sabine te doen nie en hy het bly hoop dinge werk tog uit. Dat hulle aan die ruwe rande en kante van hulle verhouding sal kan skaaf.

Hy sug. Leah de Wit. Natuurlik, wie anders. Hy gaan sy ouma vir ’n eendvoël aansien as sy reken Sabine staan ’n kans, en dit nadat hy so fyn beplan het vir sy toekoms. Sy en Drieka s’n. Sy was net een keer voor haar dood daar, maar was ook mal oor Suiderbaai. Die amper onherbergsame ongereptheid daarvan, die pretensielose mense van die Strandveld.

Drieka. Sou Sabine ooit in hom belanggestel het as hy nie Drieka de Villiers-Avenant se wewenaar was nie? Nie gewoon het waar hy woon nie?

Die Victoriaanse huis met sy toring en die sjarme van vervloë dae was Drieka se mondigwordingsgeskenk. Sy het dit stelselmatig in ’n luukse gastehuis omskep en ná hulle getroud is die ekstra vleuel aangebou. Deels ter wille van hulle privaatheid en deels omdat hulle geweet het Drieka sal een of ander tyd ’n rolstoelvriendelike omgewing benodig.

Sabine was nooit meer as ’n gereelde gas wanneer sy by hom oorgebly het nie. Al het sy drome gehad om sy woongedeelte na haar smaak oor te doen. Dis nou toe sy nog gedink het hy gaan vir altyd in Stellenbosch bly.

Dit was juis toe sy dit genoem het dat hy haar ingelig het oor sy aftreeplanne en onomwonde die idee nek omgedraai het dat sy dalk die gastehuis se bestuur kan oorneem. Asof sy Eulalie sou kon vervang. Drieka se jare lange vertroueling en oppasser bestuur die plek nou al meer as ’n dekade lank skitterend.

Hy het Sabine ewe trots sy huis in Suiderbaai, feitlik aan die soom van die see, gaan wys. Sy was, om die minste te sê, nie beïndruk nie. Die paar naweke wat hulle daar deurgebring het, was sy heeltyd miserabel.

Paul sug weer diep. Hy gaan waaragtig nie sy laaste jare gebruik om iemand anders te probeer plesier net omdat hy gevlei voel en die seks oukei is nie. Dis erg genoeg dat hy die laaste byna drie jaar vermors het deur aan Sabine se grille te probeer voldoen.

Hy het hom nog altyd te maklik laat ompraat. Te maklik dinge teen sy beterwete in gedoen. Nie meer nie. Daarvoor is sy geloof in die opregtheid van die mens al te dikwels geskok. Hy is nie meer die idioot wat hom destyds so dikwels laat manipuleer het nie. Deur sy broer veral, maar daardie een keer ook deur sy pa. Tot sy innige spyt.

1976

Maandag 1 Maart

Potchefstroom

Paul

“Awie wil nie aan huis bly nie. Hy kan glo ’n kamer te huur kry in ’n studentehuis waar daar reeds drie manstudente bly. Hulle verdeel die huur eweredig, maar dis steeds te veel vir vier. Hulle soek ’n vyfde huismaat. Uiteraard ’n man. Toe wonder ek en tannie Melinda of jy nie bereid sal wees nie. Jy betaal in elk geval huur hier by ons ook, en dit sal nie veel meer wees nie.”

Paul kners op sy tande toe sy pa se woorde tot hom deurdring. “Ek moet ’n huis deel met Awie? Dis nou nadat hy so rinkink het op Tuks dat hy sy eerste jaar gepluk het?”

“Hy het hard probeer met die hereksamens, maar kon ongelukkig nie die mas opkom nie. Ek glo hy het sy les geleer. En dit sal my gemoedsrus gee as jy daar is om ’n oog oor hom te hou.”

“Hoeveel vakke het hy deurgekom?”

“Net een, maar hy sê hy wou in elk geval nie voortgaan met BSc nie.”

“Pa, ek kan nie ’n enkele sent meer betaal as wat ek hier betaal nie.”

Sy pa knik. Sy onberispelike onderwyserhande met die kort spierwit naels knoop in mekaar. Paul weet hy het dit ook nie te breed nie, selfs nie nadat hy visehoof van die laerskool geword het nie. Melinda is die een met geld. ’n Polis wat uitbetaal het ná haar eerste man se dood. Nie dat sy skatryk is nie, maar dis geld waarmee sy Awie kan laat studeer waar hy wil en hom ruim sakgeld kan gee.

“Ek en tannie Melinda het gesels. Ek is bereid om die verskil vir jou in te betaal. Awie se koshuisgeld het baie meer beloop as wat sy huur plus die oorblywende bedrag vir jou ons sal kos.”

“Maar dan kan julle mos net meer vir Awie betaal?”

Sy pa se wange raak rooierig en hy kyk af.

“Ek sien,” daag dit by Paul. “Benewens ’n hoeder vir Awie, wil julle jul privaatheid terughê.” Dis iets wat hy lankal vermoed.

“Paul, gaan kyk net na die plek. As dit jou regtig nie aanstaan nie, sal ek jou nie dwing nie. Maar dis baie nader aan die universiteit as ons huis. Jy sal klas toe kan stap en hoef net jou fiets dorp toe te gebruik. Of vir Awie ’n geleentheid vra.”

Paul frons.

“Tannie Melinda het die Morris vir Awie gegee. Ons het ’n ander tweedehandse motortjie vir haar gekoop.”

Ons. Sy pa het dus bygedra. Maar in alle regverdigheid, Melinda het ’n motor van haar eie gehad toe sy met sy pa getroud is en dit tot dusver self elke paar jaar vervang.

“Gaan kyk net, toe? Tannie Melinda sal nog steeds jou was- en strykgoed doen.”

Pa bedoel Lena Mboweni sal, wil hy sê, maar bly liewer stil.

Hy onderdruk ’n sug. Dit sal seker lekker wees om onder sy pa en Melinda se oë uit te wees. En dis ’n goeie halfuur se ry met die fiets van hulle huis af kampus toe. Om te kan stap, sal ’n voordeel wees. Soos dit is, kan hy nie altyd die goed bywoon wat hy graag sou wou nie. Ook nie gereeld genoeg by Gretha sleep nie. Om op ’n ysige Potch-winteraand die pad met ’n fiets aan te durf, is nie ’n grap nie.

“En kos?”

“Volgens Awie is daar ’n rooster oor wie watter aand kosmaak. Die kruideniersware word weekliks aangekoop en die bedrag verdeel. Vir ontbyt en die res sorg elkeen vir homself. Maar tannie Melinda sal ook help met kruideniersware en dies meer.”

Natuurlik sal sy. Sy sal nooit toelaat dat haar hart se punt honger ly nie.

“Dit sal vir julle albei goed wees om ’n bietjie meer selfstandig te raak.”

Dié keer sug hy hardop. “Ek sal gaan kyk, Pa, maar as dit lyk asof die spul my uit my studie gaan hou, is ek uit.”

“Daar is altyd die biblioteek.”

“Wat weeksaande tienuur toemaak, Saterdae net tot tweeuur in die middag oop, en Sondae toe is. Waar swot ek die res van die tyd?”

“Ek het groot waardering vir jou toegewydheid, Paul, maar miskien kan jy maar ’n bietjie meer van jou studentelewe geniet, of hoe?”

Wat hy graag sou wou doen as hy nie geweet het hy kan nie bekostig om ’n enkele vak te sleep of te her nie. Sy somervakansiewerk as kelner op die Bloutrein en werk as stoker gedurende die wintervakansie kan net soveel geld oplewer.

“Jy kan my motor leen om te gaan kyk.”

Paul kyk verras na sy pa toe hy die motorsleutels van die haak afhaal en na hom toe uithou. Sy pa is hiperheilig op die Peugeot 404 wat hy ses jaar gelede gekoop het. Dit was die motorhandelaar se demonstrasiemodel, maar die naaste wat sy pa nog aan ’n nuwe kar gekom het. Beslis verreweg die duurste. Oor die tweeduisend rand! Hy wil nie weet hoe lank sy pa daaraan afbetaal het nie. Hy vermoed Melinda het ook bygedra.

Maar raait. Nou weet hy. Eintlik word hy omgekoop omdat hulle hom op diplomatiese wyse uit die huis wil gooi.

“Dis oukei. Ek sal met die fiets ry.” Hy is te donners bang hy stamp die Peugeot. Hy het nou wel sy bestuurderslisensie gekry terwyl hy in die weermag was, maar het nog bitter min in verkeer bestuur. “Ek het in elk geval vanmiddag ’n laat klas.”

Sy pa gee die straatnaam en nommer van die huis. “Die man wat die kamers verhuur se naam is Kobus Bredenkamp.”

“Pa weet kommunes word nie toegelaat nie, nè?”

“Ek glo nie enigiemand sal klopjagte doen nie. As julle nie die bure rede tot klagtes gee nie, behoort alles reg te wees.”

Paul knik en kry sy fiets uit die motorhuis. Hy wens hy kon een van die woonstelle in Molenstraat bekostig, maar dis sewentig rand per maand vir ’n eenslaapkamer. Dis skreiend as hy dink aan een van sy armypelle wat Kovsies toe is en ’n bachelor’s daar te huur gekry het vir agt en twintig rand ’n maand. Dis ’n bietjie ver van die kampus af en in die gopse, boonop vrek klein het hy gesien toe hy laas jaar vir die intervarsity Bloem toe is, maar nietemin.

Dis darem die een voordeel van sy vakansiewerk op die Spoorweë. Hy kan een keer ’n jaar verniet treinry. Dis nou buiten die treinritte na en van Pretoria wanneer hy moet inklok vir werk. As dit nie daarvoor was nie, sou hy nooit êrens buite die grense van Potch kon kom nie. Soms voel die dorp soos ’n benouende hok.