En dit was aand, en dit was môre. So onthou Gustaf die woorde wat sy eerste Sondagskool-onderwyseres hom geleer het.
Hy het gehou van die ritme, die kort en bondige manier waarop die verandering van nag na dag gestel is, en die eenvoudige woorde. Dalk het die skrywer in hom toe reeds wortelgeskiet. Al probleem was om ’n storie te kry.
Hy het van die skryfproses gehou, die gaan haal van woorde, die uitroei van clichés, die waak teen mooiskrywery of purple prose, die gestoei met styl en die manier om op so ’n manier van ’n insident te vertel dat die leser dit voor hom kan sien afspeel.
Maar om die storie te kry – dit was die probleem, veral toe hy ’n donker riller wou skryf soos die grillerflieks wat hy altyd sien, maar telkens moes erken dat al die beste stories, die “plots” waarvan Anton so graag praat, reeds gevat was.
En nou was dit oggend en is dit byna aand hier in die bosveld langs die Olifantsrivier. Vanaand sal moontlik een van die langstes in sy lewe wees, want hy is bang hier.
Hy het ten minste die pop om hom geselskap te hou.
Edgar sit kiertsregop langs sy rekenaar in sy slaapkamer wat oor die rivier afkyk.
Hoe mis hy Elisma nie.
Nou staan hy alleen hier op die dek van Die Bosveld Spa. Die dek wat uit die sitkamer mond, is darem veilig. Hy kan hier enige plek rondloop, anders as op die spa-kamer s’n.
Hy het later ’n stoel nader getrek, twee dik kussings geneem en daarin weggesak terwyl hy na die gedreun van die rivier geluister het.
Maar nou word dit aand.
En dit was dag, en dit was laatmiddag – en nou word dit nag.
Die wolke hang steeds oor Mica, maar hy besluit om tog ’n vuurtjie aan te pak. Daar is gelukkig braaihout, vuursteen en vuurhoutjies in die vuurmaakplek, hoewel dit duidelik lank laas gebruik is. En hierdie hout het nie swamme op nie.
Sy rekenaar wag op die voltooiing van die eerste toneel. Hy het die opskrif al geskryf: Adrenalien. Draaiboek deur Gustaf Prinsloo. Gegrond op die roman Adrenalien deur Gustaf Prinsloo. Kopiereg: Gustaf Prinsloo.
“Overkill!” sou Elisma gelag het. “Hoe seker wil jy maak dat niemand jou draaiboek steel nie?”
En toe tik hy op bladsy 1, streng volgens die formaat van Final Draft 7:
EXT. BOSVELD – DAY
’n Motor jaag verbete met ’n grondpad langs.
Toe skrap hy “verbete”.
En later:
’n Motor ry op ’n grondpad. LOURENS YSSEL klou aan die stuurwiel. Skielik staan daar ’n BOBBEJAAN in die pad.
En daar het hy opgehou.
Noudat hy tegnies daaroor moet dink, wil die woorde nie kom nie. En maak nie saak hoe hy sy skok en afgryse probeer beskryf nie, hy weet nie hoe dit op kamera sal lees nie, laat staan nog hoe Astrid daarop sou reageer. Hy verbreek dalk weer die een of ander draaiboekreël, en hy wil haar so min moontlik rede gee om hom te kritiseer.
Maklik om die storie, wat reeds uitgedink was, as roman te skryf wanneer die gegewens in ’n stapel papiere langs hom lê. Maar nie al die tonele sal in draaiboekvorm werk nie, wat sal beteken hy moet ’n paar nuwe idees uitdink, “subplots” om Anton se woord te gebruik. Sekondêre stories. En dit is waar die probleem lê. Niks wil kom nie.
Waar Adrenalien se romanweergawe deurentyd vanuit sy protagonis se oogpunt geskryf is en feitlik alles in sy kop, in sy gedagtes, in sy “innerlike landskap” plaasvind (’n resensent se beskrywing daarvan), is daar nou nie genoeg storie om ’n hele draaiboek te vul nie. Want daar moet iets daadwerkliks in elke toneel gebeur. Dit besef hy nou eers toe hy die tonele begin orden en neerskryf wat in elkeen plaasvind.
Hy kort ’n stewige stuk nuwe storie om die hoofstorie te ondersteun. Maar wat? Storie uitdink is sy heel swakste punt, anders was daar lankal ’n tweede roman!
Hy oorweeg om Elisma te bel, om vir haar te sê hoe hy haar mis en dat hy net ’n halwe mens is sonder haar en dat hy ’n ekstra stuk storie soek.
En dat hy net ’n halwe skrywer sonder haar is.
Maar toe hy netnou weer die foon wou gebruik, was dit dood. En hier is steeds geen selfoonontvangs nie.
Na ’n kwartier raak hy versadig van die skoonheid om hom. ’n Mens kan net so lank na ’n magtige rivier staar en die bome bewonder en probeer om krokodille en seekoeie in die vloed raak te sien. Hy soek iets ongewoons, iets wat hom stimuleer of aanhits of inspireer. Enigiets anders – iets uit sy gemaksone-tyd.
Dit is halfses. Amper skemer. Seker nog net so ’n uur en ’n half voordat die groot donker oor Die Bosveld Spa en Lodge toesak. Durf hy dit waag om ’n entjie te gaan stap? Want daar was nog nie weer ’n teken van die bobbejaan nie.
Hy kan tog nie die hele tyd wat hy hier is gekluister in die gebou bly nie! Dit is tog nie die volle doel van sy besoek nie. Hy durf nie paranoïes op die dek ineengekrimp sit met die een glas whiskey na die ander nie. Hy probeer hoeka om minder te drink.
Gustaf kyk rond na ’n wapen – iets om hom mee te verdedig sou hy ’n wilde dier teëkom.
Maar wat gebruik ’n mens teen ’n dol bobbejaan? Skiet jy hom met ’n kettie? Gooi jy hom met ’n klip? Slaan jy hom met ’n bofbalkolf? En skiet kan hy nie, mág hy seker nie eers hier nie.
Gustaf spring op. Hy loop voordeur toe en maak dit oop. Dit is nou windstil asof die hele omgewing asem ophou voor die volgende sondvloed.
Die een wat sy sondes moet wegspoel.
Die wolke hang steeds dik van die reën, uitgeswel soos ’n klomp boepens rugbymal ooms langs ’n braaivleisvuur wat hul mae net dikker en voller wil suip terwyl hulle luidkeels die middag se lynstaan en die stand van korrupsie in die regering bespreek.
Hy loop blindelings ’n rigting in na waar ’n stroom oor klippe vloei op pad Olifantsrivier toe. Dit is duidelik dat die stroom maar net tydelik is as gevolg van die baie reën, en nie gewoonlik hier vloei nie.
Wanneer hy sy plakkies uittrek, is die water yskoud, krimp sy voetsole ineen van die gevoel van die skerp klippe en die gruis tussen die boomwortels waaroor die water stroom.
Om hom merk hy die een groot boom na die ander op – almal genommer. Huilboerboon, jakkalsbessie, lekkerbreek, kiaat, lees hy terwyl hy stap.
Teen ’n sandwal groei struikblomme met digte stamme. Die wit blare het rooi strepe soos aartjies in bloedbelope oë. Impalalelies, lees hy. En verder aan weer bobbejaantoue wat uit die bome hang. Al wat hy nou nodig het, is Tarzan wat hom van sy voete af swiep en uit hierdie gevaarlike bosse red.
Dit herinner hom weer aan die bobbejaan en hy gaan staan. Is hy mal om sommer so ongewapen hier rond te loop? Wie sê hier is nie dalk leeus nie? Daardie karkas wat die bobbejaanmannetjie gevreet het, was dit nie dalk ’n oorblyfsel van ’n leeuvangs nie? Is hier dalk hiënas?
Hy luister. Die rivier dreun veraf. Maar hier waar hy staan, hoor hy eintlik net die eentonige geluid van ’n groenvlekduifie: “My ma is dood, my pa is dood, my kinders is dood en my hart huil,” sing dit.
“Ja, broer. Ek verstaan,” sê hy in die rigting van die geluid.
Sy kop is so chaoties soos Poe se maalstroom – vol impulse wat rondmaal. ’n Warboel feite en temas, soos vuishoue wat hom tref, die een na die ander.
Toe hy om ’n draai stap, sien Gustaf ’n klomp langwerpige rubberstroke wat aan weerskante van hekpale hang. Hy stap nader. Is dit ’n soort hek waardeur mense kan stap, maar wat diere keer?
Hy druk sy pad oop tussen die rubberstroke, sien spore, verstaan nie waaroor dit gaan nie. Sou ’n bobbejaan hom aan so iets steur? Waarvoor is dit?
Die spa se geboue het nou agter die bome verdwyn. Hy moet net nie verdwaal nie! Stel jou voor hy raak hier verlore soos Rooikappie in die bos, of Hansie en Grietjie, en daar is nie eers ’n boontjierank waarteen Jan kan uitklim om van sy lot te ontsnap nie. En hy onthou weer hoeveel brutaliteit en geweld in sprokies verberg word, wat hom hoeka as kind reeds aangemoedig het om wrede opstelle te skryf.
Dan skryf die onderwyser in groot rooi letters: Nooit geweet iemand kan Jan se boontjierank lewend maak nie! of: Daar is al soveel weergawes van die Rooikappie-storie vertel. Probeer bietjie iets meer oorspronkliks as dat die wolf met Rooikappie trou.
Hy gaan sit op ’n rots en was die modder van sy voete af, sy toonnaels bruin van die nat grond. Daar is ’n sny onder sy regtervoetsool waar hy op ’n stok getrap het wat uit die grond gesteek het en wat hy nie onder die water kon sien nie.
Sesuur. Hy moet terug. Hy kan ’n slaai aanmekaarslaan, om te gaan saam met die vleisie op die kole.
Hô-hô-hô! hoor hy veraf in die klowe. Vir ’n oomblik gryp die vrees hom weer, verlaat die bloed sy kop en wil hy begin hardloop. Maar wie het destyds gewaarsku dat ’n mens onder geen omstandighede van ’n aanvaller moet weghardloop nie?
Makliker gesê as gedaan. Of moet jy kniel sodat jy nie hoër as ’n hond vertoon nie en dus geen bedreiging inhou nie? Dis wat hy op skool geleer het. Was dit bloot ’n mite? Een van daardie kampvuurstories wat oupas vir hul kleinseuns vertel wanneer hulle oor oorlewing in die wildernis praat? “In my dae …”
’n Dik, blink lyf krul om ’n wildevy se stam. Gustaf gaan staan. ’n Luislang kinkel om die boom, die kop verborge agter die dik stam.
Hy loop agteruit, trap in die yskoue water, voel die skerpsny-klippies onder sy voetsole. Daar skarrel iets oor sy voet, swem weg. Dalk ’n padda of ’n vis. Maar sy oë is vasgenael op die slang. Die lyf glim in die nattigheid en die spiere kabbel en krul onder die dik vel.
Dan kom die kop te voorskyn.
Daar is iets onwerklik moois aan die slang. En dit was aand en dit was môre, die dertiende dag, toe die slang Eva verlei het. Hoe ’n lang tyd het verloop tussen die skepping van die eerste twee mense en die sondeval? Hy het nog altyd gewonder – deel van die nuttelose inligting in sy kop wat hom verhoed om ordentlike stories uit te dink, want dit word verstop deur bog. Elisma se woorde.
Die slang moes hom seker al gewaar het, maar die reptiel gaan voort met sy reis teen die stam op asof Gustaf nie bestaan nie. Hier is ’n slagoffer wat hy vir later bêre.
Die lang lyf krul en gly om die stam, die dik spiere vol beweging en krag.
Gustaf kyk nog ’n oomblik na die reptiel. Hier is ’n oomblik, besef hy. Iets gebeur hier met hom. Hy staan voor ’n soort oerprentjie, moontlik soos Eva dit gesien het. G’n wonder sy was so betower deur die slang dat sy dadelik gehoorsaam het en die vrug geëet het nie.
Hy voel ’n diep ontsag in hom, ’n respek vir wat hy sien. En hy wonder hoe dit moet voel indien ’n mens in die bos aan die slaap raak en jy word wakker van hierdie kabels wat die lewe uit jou pers dat jou ribbes begin kraak.
Hoe voel dit om te sterf?
Hoe voel dit om ’n lewe te neem?
Dieselfde gedagtes, dieselfde damwal waarteen sy verbeeldingstroom stuit.
Hy stap haastig met die stroompie af en hoor tiptolle wat skreeu asof hulle vermoor word. Hulle het natuurlik die luislang gewaar. En veraf reageer bobbejane verskrik – die koggels verander in ’n soort tjankblaf.
Hy loop deur die rubberstroke wat oor die opening hang en ’n soort hek vorm, oor die klipperige grond en tussen die bloederige impalalelies deur.
Gustaf gly in die modder en sien weer die groot spore wat na die vreemde hek lei. Vinniger en vinniger deur ’n plaat geel blommetjies en verby apies wat in die bome rondskarrel en iets wat voor sy voete uit hardloop.
Dan, langs sy voete, ’n miskruier wat ’n bol mis teen ’n walletjie probeer uitstoot. En muggies wat om sy oë saamkoek soos bedelaars by ’n verkeerslig in William Nicol-rylaan.
Nog verder en verder weg van die luislang en die hek en die miskruier en die bobbejane tot by die dek oor die rivier.
Hy sluit die swaar houtdeur.
Die watervlak het gestyg. Daardie dik wolke het hul inhoud hoër op in die vallei uitgestort en dit is op pad hierheen. Maar anders as in sy verbeelding laat die watermassa nie toe dat enigiets sy pad blokkeer nie. Dit druis net voort. Dalk kan hy ’n les hieruit leer. Dalk moet hy net na die water staar en hom verbeel dit is sy storie wat so aftuimel en nie gekeer mag word nie.
A subplot! A subplot! My kingdom for a subplot!
Hy maak die deur oop, kyk om hom rond asof hy verwag dat iets hom agtervolg het, maar daar is niks.
Sy rug teen die deur nadat hy dit toegedruk het.
Hy stap verby sy rekenaar in sy slaapkamer. Die merker flits aan en af, aan en af, die toneel net kwartpad geskryf. Die res van die skerm is wit en uitgestrek soos die grondpad voor hom op pad hierheen. Dit wag op aanwysings, ’n toneel wat die grilervaring van die rit opsom.
Sy vingers aarsel bo die sleutels. Dit is nou sterk skemer, die son deur die wolke ingesluk en met die digte bome wat die grou lig blokkeer. Iets! Hy moet iets skryf.
Die bobbejaan ontbloot sy slagtande. Die kwyl loop teen sy bek af, die etter drup teen sy tande af.
Te veel inligting? Dit is reg gespasieer, volgens formaat. Moet hy spring na ’n volgende paragraaf? Miskien die kamera se rol duideliker beskryf?
Die kamera zoem in op die bobbejaan se slagtande. Dit deins terug van die gruwels wat hier voorkom, raak byna verstrengel in die kwyl en wurms wat daarop drup.
So vinnig as wat sy wysvinger kan beweeg, druk hy Delete Delete Delete Delete, tot hy besef dat hy die hele toneel uitgewis het. Die vinger soek dom oor die sleutels om die toneel te herstel. Maar al wat nou boaan die bladsy verskyn, is Scene heading.
“Maar ek hét die donnerse toneel al geskryf!” roep hy uit en sy stem weerklink deur die leë sitkamer.
Autosave! Autosave! dink hy. Terwyl hy skryf, stoor die rekenaarprogram mos sy teks elke halfuur outomaties. Dit moet dus iewers in die ysterbrein wees. Maar waar?
Hierdie verdomde proses maak hom mal!
Dan hoor Gustaf dit. ’n Skerp geluid, asof ’n mes op ’n bord in die kombuis neergesit is.
Hy vryf deur sy hare asof hy die klank kan verdryf. Hy het dit nie gehoor nie. Hy kon dit nie gehoor het nie! Hy luister.
Die rivier ruis buite. Blare krap oor die dak. Iewers ver kwetter apies.
Toe ’n vurk. Hy hoor dit duidelik. Moet dit wees. Iemand het ’n vurk op ’n bord in die kombuis neergesit.
“Hallo?” Hier doen hy dit weer! Nes die dom karakters in rillerfilms. Hoekom groet hy wie ook al in die huis is? Verwag hy regtig dat iemand gaan teruggroet en sê: “Hallo, Gustaf! Gee jy om as ek net gou klaar eet?” of: “Wil jy dalk by my aansluit?”
“Hallo?”
Niks.
“Is hier iemand in die huis?”
Hy loop na die naaste deur toe en klik die skakelaar aan. Natuurlik sit dit daar. Ligte gaan orals teen die muur aan, maar dit is dof, atmosferies, soos in ’n riller.
Hier is al weer geen wapen nie, niks om hom mee te verdedig nie.
Hy tel een van die klipbeelde op. Dit is swaarder as wat hy verwag het. Met die beeld in sy hand loop hy al met die gang af in die rigting van die kombuis.
Dit is donker daar voor in die kombuis. Boomtakke krap teen die ruite. Dit is donkerder hier as in die res van die huis.
Hy verwag iemand in een van die kamers wat na hom toe uitspring. Maar dit is tog nie moontlik nie! Hy het die deur gesluit en daar is geen ander ingang na die Lodge nie.
Asof gesien deur ’n kamera wat met die hand vasgehou word, loop hy aarselend in die gang af en soek nog ligskakelaars.
Toe hy uiteindelik een raak vat, klik hy dit aan.
Niks gebeur nie. Dit bly donker.
Hy soek verder teen die muur af en verwag om aan ’n koue hand te vat.
Niks.
Tot by die kombuis.
Dit is regtig donker binne. Die klipbeeld voel swaar in sy hand. Hy klem dit vas, lig dit en maak gereed om hom te verdedig.
Agter hom! Daar is dalk iemand agter hom terwyl hy die gevaar van voor af verwag! Hy swaai om, maar die gang is leeg. Doer onder is die dowwe lig van die sitkamer en in daardie bleek lig kan hy sien dat die gang leeg is.
Gustaf draai om en soek-soek na die kombuis se ligskakelaar. Wanneer hy dit uiteindelik raak vat, moet hy twee keer klik om dit aan te skakel, want dit gly tussen sy vingers deur.
Daar staan drie vuil borde op die kombuistafel, elk met ’n mes en ’n vurk daarop asof drie mense pas daar geëet het. Die borde is blinkskoon met net hier en daar ’n vetstreep waar daar tevore kos was.
Krap-krap. Die boomtakke teen die kombuisvensters. Die groenvlekduifie buitekant. Die gedreun van die water.
En sy hart wat in sy keel klop.
Die adrenalien skiet deur sy liggaam, maak hom gereed vir enigiets. Om gevaar te trotseer, vir ’n bedreiging om van weg te hardloop. Die sweet loop teen sy slape af. Wat het Elisma eendag vir hom gesê? “Respekteer jou vrees! Moenie dit beveg nie. Maak maats daarmee. Aanvaar dit. Moenie daarteen baklei nie.”
Hy haal diep asem, maar sy keel is so toegetrek dat hy skaars vars lug in sy longe kan intrek.
Daar is niemand anders in die vertrek nie. Ook geen ander deur waar iemand kon ingekom of uitgegaan het nie. Daar is diefwering, dus kon niemand deur die venster ontsnap het nie. Die twee houtdekke front op die aanstromende rivier af met geen plek om oor te klim nie. Die kombuis het ook geen buitedeur nie.
Drie skoongeëete borde. Drie messe en drie vurke netjies langs mekaar daarop geplaas.
Sy verstand probeer sin maak uit wat hier voor hom staan, maar daar is ’n warboel gedagtes wat dreig om hom te oorweldig.
Hy sak teen die muur af en sy skouers begin ruk. Hy gee hom oor aan die vrees wat deur sy liggaam ruk. Harder en harder en harder.
Hy maak sy oë toe en prewel: “As jy jou oë oopmaak, is dit weg. As jy weer kyk, is daar niks. Geen borde, geen messe, geen vurke, niks behalwe jou kruideniersware nie!”
Eers wil hy nie sy oë oopmaak nie. Maar dan, uiteindelik, moet hy.
Die drie borde en die eetgerei is nog steeds daar.
Die adrenalien veroorsaak dat Gustaf orent spring. Hy los die klipbeeld langs die deur en loop-val na die slaapkamer toe.
Hy maak die kamerdeur toe, soek na ’n sleutel om dit te sluit (daar is nie een nie) en staan met sy rug daarteen. Hy huil van vrees. Sien rooi flitse voor sy oë asof hy deur bloed na die kamer kyk.
Dan kyk hy na sy rekenaarskerm.
INT. KOMBUIS – NIGHT
Drie benerige mense met ingevalle oë sit en eet by ’n tafel.
Gustaf skreeu. Die Edgar Allan Poe-pop sit uitdrukkingloos langs die rekenaar na hom en kyk asof hý die woorde geskryf het.
Gustaf val in ’n beswyming.
Al waarvan hy bewus is voordat die donkerte oorneem, is die klank van drie borde wat op mekaar gestapel word doer gunter in die kombuis.
En veraf die gedruis van die rivier.