13

Die volgende oggend is dit oopgetrek.

Toe Gustaf die blindings voor sy venster oopskuif, skyn die son. Orals lê waterplasse. Die modderige glymerke van sy gehuurde motor se bande kerf nog deur die parkeerterrein. Die res van sy motorspore is toe onder morsige plasse water en blare.

Sy gedagtes spring van die een gruwel na ’n ander. In ’n stadium is hulle so wanordelik dat hy te bang is om sy kamerdeur oop te maak. Maar hy skraap uiteindelik genoeg moed bymekaar om dit te doen.

Die rivier het gesak, sien hy deur die deure wat na die dek toe lei vanaf die spa.

Hy draai links en kyk na die leë spa-bad, vind die regte kraan en begin die bad voltap. As daar een ding is wat hy nou nodig het, is dit ’n spa-bad.

Hy sien ’n sauna in die hoek van die vertrek en dink dat dit sal maak dat hy al die duiwels uit hom uit sweet. Maar eers later.

Hy voel weer die dowwe pyn aan sy toon waar hy op die by getrap het. “Sal nog salf moet aansmeer,” herinner hy homself. En terwyl hy so met homself praat, dink hy aan Elisma se waarskuwing, al was dit half spottend.

“Om met jouself te praat is nog cool, Gustawus. Dit is wanneer jy met jouself begin baklei dat jy uithaak!”

Elisma. As sy net saam met hom hier was. Maar sy is te vasgevang in haar eie wêreld, te besig met haar eie situasie om hoegenaamd aan hom te dink, laat staan nog om hierheen te kom.

Die woord kom weer by hom op: moord. En hy dink weer aan die klimaks van Adrenalien, toe hy maar net tegnies geskryf het sonder om te verstaan hoe dit voel of om deur dieselfde emosies as die protagonis te gaan.

En sy protagonis wat wegkom met die moord. Daaroor het hy en Anton ’n lang gesprek gevoer. Maar die lesers het daarvan gehou dat die held nie gevang word nie. Geregtigheid seëvier nie altyd nie.

Sy Astrid-draaiboek stuur uit die aard van die saak op dieselfde moord af. Die volmaakte moord. En gisteraand, terwyl hy so gekarnuffel is deur hallusinasies en geeste en skimme, het die moontlikheid van selfdood hom skielik voorgedoen. Vlietend, maar dit was daar. Die inspring in die rivier, die afdryf met die water, die verdwyn van alles en almal af.

In sy onderbewuste huiwer die waarskuwing, ook indirek van Elisma: “Oppas dat jou vrees jou onderkry. Dan was jou lewe nutteloos.”

“’n Bietjie koffie vir jou, Vrees?” vra hy hardop en begin te lag. “Melk en suiker? Of swart soos jou kleed?”

Die draaiboek kan baat vind by galgehumor.

Terwyl die spa-bad vol loop, stap hy kombuis toe. Hy weifel net ’n oomblik voordat hy instap. Hy verwag drie skoongeëete papborde soos toe Gouelokkies die drie bere se huis binnegegaan het. Sal dit nie histeries snaaks wees nie!

Maar daar is niks.

Is hy teleurgesteld? Voel hy gefop? In die gesig gevat?

Oppas waarvoor jy wens …

Hy maak die kasdeur oop. Die borde wat gisteraand gewas is, staan steeds netjies opgestapel nes hy dit gepak het.

Hy stap na die yskas toe. Die deur kraak oop soos in ’n tipiese spookhuis. Kraa-aa-aak.

Geen afgekapte kop op die yskasrak nie, net spek en eiers asook melk, vleis en ander kos.

Hy berei ontbyt saam met ’n gebraaide piesang, jogurt en van die mango’s en lietsjies wat hy by die Old Trading Post langs die Olifantsrivier se drieboogbrug gekoop het.

Dan onthou hy van die spa-bad.

Die vloer is koud onder Gustaf se voete. Hy loop selde kaalvoet, maar die bysteek was op so ’n gevoelige plek dat hy nie skoene wil aantrek nie. Hy loop haastig soontoe, nog effens hinkepink. Verdomde by.

Die bad is so te sê volgetap en na ’n paar oomblikke draai Gustaf die kraan toe. Hy skakel die bad aan sodat die water kan verhit.

Terug in die kombuis neem hy ’n mes en ’n mango en wag vir die drie beenderiges wat hier gesit en eet het, maar nou onsigbaar is: “Hoekom het julle nie my blerrie mango’s geskil nie? Weet julle hoe ’n moerse job is dit?”

’n Bord tuimel van ’n rak af en val aan skerwe. Gustaf sny sy duim met die vrugtemes raak en daar is onmiddellik bloed oor die mango. Hy staar na die skerwe op die vloer, sy asem vlak in sy keel.

“Maak vriende met …” Hy sluk, maar hy kan nie die woord, die náám “Vrees” uitkry nie.

Uiteindelik sê hy: “Ek is jammer.” En hy is onseker of hy dit vir die kombuis of die boosheid in die gange, of Vrees, sy ewige metgesel, of selfs vir die Edgar-pop sê.

En hy het gedink hy is alleen hier.

Nota 4 aan self: Moenie die geeste tart nie.

Hy druk sy duim onder die kraan, maar die bloed hou aan loop. Hy is genoodsaak om ’n waslap daarom te draai en na sy toiletsak toe te stap om salf te kry.

Die room voel koel teen die snyplek, en die bloed hou na ’n rukkie op loop. Die sny is gelukkig aan sy linkerduim, wat hy selde op die rekenaartoetsbord gebruik.

Duiseligheid. Al weer! Maar dié slag bring hy die vrees onder beheer.

Dalk sal dit daardie einste Vrees wees wat hom van nuuts af laat skryf. Dalk skryf Vrees die nuwe weergawe van die draaiboek vir hom …

Terug in die kombuis is alles nog soos hy dit gelaat het. Hy vee die glasstukke op en gooi dit versigtig in die vullisdrom sodat dít hom nie ook nog sny nie.

Elke keer wanneer hy omdraai, voel dit asof hy die teenwoordigheid, die boosheid, die geeste, dalk sy eie verbeelding, tart. “Respek!” kom Elisma se woorde na hom toe terug. “Respekteer vrees!”

Vier stoele om die kombuistafel. Al vier netjies gerangskik, gereed vir wie ook al hier wil kom sit. Die lappies op die tafel netjies geplaas, reg vir ’n bord.

Daar is ’n vlek op een van die lappies. Hy stap nader en bekyk dit.

Dit is ’n vars kosvlek. ’n Stukkie aartappel.

Hy raak daaraan, lig dit op, kyk daarna. Hy beskou die rak met die groente wat Astrid saamgestuur het. Daar is aartappels in ’n sakkie. Die sakkie is oopgesny. En hy het dit beslis nie gedoen nie.

Die spoke hou van aartappels … Ha-ha-ha. Maar hy slaag nie daarin om regtig te lag nie.

Spoke … wat eet? Hoe werk dit?

Terug by die lessenaar plaas hy die geheuestokkie onder die opskrif Adrenalien: Die Waarheid in sy skootrekenaar en open die dokument wat in Final Draft 7 geskryf is.

Dieselfde opskrif, dieselfde woorde, staan nog steeds daar.

Hy beweeg terug na die titelbladsy, want die eerste reëls staan op bladsy 2. Adrenalien: Die Waarheid deur Gustaf Prinsloo. Oorspronklike konsep en idee: Gustaf Prinsloo.

Hy sien deur die venster hoe die rivier bruin verbydryf en sien twee seekoeie op die eiland. Seker die twee wat gisteraand soos donderbusse teen die houtmuur gestamp het.

Sonder notas of enige beplanning skryf hy verder. En hy mis nie eers die notaboekie waarin die beplanning vir sy roman so noukeurig uiteengesit was nie.

Hy skryf nou oor ’n pa en ’n ma en ’n seun wat ’n geheim probeer besweer en dan bladsye lank argumenteer en baklei. (Hy sal die tonele later verkort.) Maar hy is nog onseker waaroor hulle baklei en hoekom hulle in die spa is, laat staan nog hoekom hulle so skielik weg is.

Skryf, skryf, skryf, sodat daar net meer en meer letters en aanwysings op die skerm verskyn. Letters, dialoog (te veel), kamerabeskrywings (onnodig), formaat (lastig), Scene heading, Dialogue, Cont’d, V/O, woorde, letters, Autocorrect, Autosave, name wat vanself verskyn as hy net die eerste letter druk, aksie wat soms as dialoog geskryf word, toneelopskrifte wat dikwels aanwysings in hakies word.

Meer en meer en meer en te veel met ’n oormaat en chaos wat hom gek maak.

Hy gaan terug, skryf oor, kyk na die onvriendelike rekenaarskerm, voel asof die rekenaar nie hierdie storie wil akkommodeer nie, weet nie behoorlik waarnatoe hy werk nie. Niks is gemotiveer nie, niks pas inmekaar nie, niks werk nie.

Gustaf gaan lê later op die bed en dommel in.

Wanneer hy wakker word, gaan sit hy weer agter die rekenaar. Hy lees wat hy so pas geskryf het.

Liewe heilige hemel, wat gaan aan? Die dialoog het verander! Dis vereenvoudig … gestroop. Maar wie het dit verander? Is hier die een of ander gees in die rekenaar?

Hoe verder hy skryf, hoe hoër styg sy bloeddruk, hoe meer gekruie raak sy taalgebruik. Hy gebruik selfs vloektaal in die dialoog wat hy nie geweet het hy ken nie en wat soos bloed uit sy duimwond stroom. Asof die woorde vanself gevorm word en hy nie beheer het oor wat hy skryf nie.

Die pa (hy noem die karakter PA) en die ma (MA) haal al hul woede en frustrasie op mekaar uit, maar in woorde, terwyl die seun as outsider-figuur alles waarneem – vol negatiewe energie. Die spanning, die vrees bou op en op en op soos die karakters die monsters in hulleself beveg.

By toneel 9 stop hy, haal diep asem, skud sy kop en kan amper nie onthou hoe hy tot hier gevorder het nie. Hy moet asem kry, uitgaan, oefening kry, wegkom van hierdie rekenaar wat voel of dit ’n lewe, ’n wil van sy eie het!

Hy kyk deur die venster. Na die son wat die bome buite warm bak. Daardie verdomde bobbejaan moet net nie weer hier iewers wees nie.

“Ek is nie bang nie. Nie vir jou nie en vir niemand nie!” verseker hy homself. “Nota aan self nommer 5.” Hy sug. “Dêmmit! Dit is nie ’n tienerroman dié nie! Geen notas aan self meer nie!”

Hy tik nog ’n paar reëls, beëindig die toneel en stap uit.

Dit neem hom ’n rukkie om die swaar houtdeur oop te sluit. En hy kan sweer dat die rekenaar nog ’n paar woorde tik.

Maar dit kan seker ook die outomatiese draaiboekformaat wees …

Hy ruk die deur oop.

Die reuk van water, vars lug, frangipani’s en nat blare hang in die lug. Hy is nie gewoond aan al hierdie skoonheid nie. Hy dink aan die televisie-advertensie van ’n vrou wat wakker word, haar arms in die lug gooi en die dag verwelkom. Hoe het hy en Elisma nie altyd daarvoor gelag nie!

Maar tog voel hy nou so – al die spinnerakke en drek en dreinwater uit sy kop.

Hy kyk na die seekoeipaadjie, merk die diep spore in die modder wat tot by die seekoeihek lei, sien allerhande nuwe spore tussenin. Hy kniel. Seker bokkiespore.

Bokant hom bobbejane wat hom koggel, en vir ’n oomblik soek sy oë na die bobbejaanmannetjie met die geel slagtande. Maar hy het seker lankal gevrek, veral in daardie dol toestand.

Hy stap met ’n digbegroeide paadjie af tot waar nog ’n stroompie tussen klippies deurkabbel. Hy kyk op na die bome. Vaderlandswilg staan in groen op ’n plaatjie op die boom geskryf.

’n Loerie koggelroep van bo af, die klanke hard en skel deur die stilte. En oomblikke later, doer anderkant, dieselfde geroep. Die voël hier bokant hom draai sy kop in die rigting van die geluid, vlieg op en verdwyn soontoe.

“Jy het jou maat gekry!” roep hy die voël agterna en is bly niemand kan hom hoor nie.

Die paadjie verdeel in twee en Gustaf kies die regterkantse vurk. Langs die paadjie is die gras platgetrap en enkele struike selfs ontwortel. ’n Platgetrapte boomtak versper sy paadjie. “Struikelblokke in jou karakters se paaie na vervulling!” spot hy met homself. “Dink só daaraan!”

Apies laat spaander voor hom en ’n ystervark se penne wys soos ’n pou wat pronk hier naby hom. Sy eerste instink is om te vlug en hy wil begin hardloop, maar besef dan dat die ystervark hom hopelik geen skade sal aandoen nie. En dat hulle nie hul penne uitskiet soos sommige mense beweer nie.

Hy beskou die ystervark, neem sy selfoon en kiek die dier. Dan draai Gustaf om.

Die olifant staan téén hom. Gustaf vries. En onmiddellik is al die waarskuwings, die raad, die opdragte wat wildbewaarders en vriende en natuurstudie-onderwysers gegee het weg. Hy staan teen ’n reuse-olifant.

Gustaf begin sweet, maar hy onthou een waarskuwing: “’n Dier ruik vrees en dit antagoniseer hom. Moenie jou vrees wys nie!” Hoe de hel moet hy sy vrees besweer as ’n olifant vlak teen hom staan? Die dier kan hom binne twee sekondes plattrap of met sy slurp optel en sy rug breek.

Beheer jou vrees. Hy sê dit vir homself, maar sy lippe beweeg nie, want hy is te bang om ’n geluid te maak. Beheer jou vrees. Moenie oorgee daaraan nie. Moenie paniekerig raak nie.

Die olifant bring sy oog nader tot dig teen Gustaf s’n. Hy sien die oog wat hom nuuskierig beskou. Gustaf probeer rustiger asemhaal sodat die bewerigheid uit sy arms en bene en nek en kop moet verdwyn. En steeds die sweet wat op sy voorkop uitslaan.

Die oog is teen syne, kyk diep in hom na die paniek, priem deur sy masker van die kamtige beheersing van vrees, kyk in sy siel en sien … Wat? ’n Slagoffer? ’n Vyand? ’n Prooi?

Gustaf ruik die dier hier teen hom. Die oog bly kyk. Stip, soos ’n ding uit die graf. Soos een van die monsters uit sy onderbewussyn wat alles sien en dan orde uit die chaos skep voordat hy platgetrap word.

Respekteer die olifant. Respekteer jou vrees. Wys jou ontsag vir die dier. Maak maats met jou vrees, skiet die woorde deur sy kop.

Gustaf is nou bewus dat sy T-hemp papnat aan sy rug kleef, en dat die sweet teen sy boude af en oor sy bene stroom. En hy weet dat hy homself ook pas benat het. Die olifant moet bewus van daardie vrees wees.

Die slurp beweeg en Gustaf wag dat die dier hom óf met een klap doodslaan óf oor sy rug gooi. Die slurp raak-raak aan sy skouer, ruk-voel oor sy arm, kom tot stilstand waar die sweet hom aftap, beweeg weer op, raak aan sy nek, soek na sy gesig. Dan lig die olifant sy slurp.

Die bek gaan oop en Gustaf sien die tong, is bewus van die yslike ivoortande hier by hom wat hom kan deurboor en kyk steeds na die oog wat hom bespied.

Hy staan teen die olifant en voel hoe die vrees bietjie vir bietjie uit sy liggaam getap word soos die sweet hom afstroom. Maar die adrenalien hou hom staande, verhoed dat hy inmekaarsak. As hy sou val, sou die dier seker bloot oor hom loop en hom plattrap.

Vrees. Nou voel hy dit. In hom, teen hom, oor hom, onder hom, in sy sweet, in sy bewings, in sy hare wat orent staan – in sy nek, op sy arms, orals. Begin hy een word daarmee. Nou, vir die eerste keer, kan hy sluk, want sy keel was toegetrek.

Die slurp skuur teen hom en hy voel die grofheid oor sy vel. Die dier beskou en betas hom met sy slurp. En op ’n vreemde manier begin hy dit geniet, hierdie oomblik op die rand van die dood, iewers tussen vrees en gruwelskok. Haal hy weer diep asem. Probeer hy die rukkings in sy maag beheer, want sy ontbyt wil uitkom en hy kan hom net indink wat sal gebeur as hy sy kos in die olifant se gesig spoeg.

Uiteindelik het hy beheer oor sy asem terug, begin die rukkings effens bedaar, voel hy nie meer die warm natheid van sy broek wat aan sy bene kleef nie. Kyk hy saam met die vrees, déúr die vrees na die olifant. Wag hy vir die finale doodtrap. Die trompetter, of wat ook al na sy kant toe moet kom.

Gustaf maak sy oë toe. Die vrees het soos ’n woeste reënbui dwarsdeur hom gedring. Dit is nie meer iets waarteen hy baklei nie. Dit infiltreer hom, raak deel van hom. Bring daarmee saam ’n wonderlike vrede. Dit is dalk hoe baie mense voel voordat hulle selfdood kies as laaste uitweg.

Hy het al vantevore selfdood oorweeg, veral voordat Adrenalien gebeur het. Nou is sy kans. Dit sal gou en maklik wees. Maar die vrees het skielik weer lewe gebring. Hom bewus gemaak van die bloed wat deur sy are vloei, van die lug wat hy inasem, van die reuke om hom, van die natheid onder sy voete, van die straaltjies wat oor sy rug teen sy boude afloop, van die natuur, die voëlgeluide, die reuk van frangipani. En van sy hart wat vinnig en oneweredig klop.

Wanneer hy sy oë oopmaak, stap die olifant weg. Die dier gaan staan een keer, kyk om asof hy wil besluit of al die gesnuffel en geruik die moeite werd was, en verdwyn tussen die bosse.

Gustaf sak op sy knieë neer, kyk na die diep spore wat die groot pote getrap het, probeer die gebewe in sy kuite onder beheer bring, maar niks help nie.

Hy sit seker tien minute so, nie in staat om te beweeg nie.

Hy sukkel uiteindelik terug spa toe, waar hy op die veilige dek gaan staan en na die rivier kyk. Die vloed het ’n groot stomp op die eiland gegooi en ’n arend sit nou daarop. Die voël sprei sy vlerke asof hy wil opvlieg, maar sak dan terug, sy oë op iets op die oewer aan die spa se kant. Die kop is nou doodstil en die snawel gedraai in die rigting van die opening tussen die spa en die eerste kamer.

Die arend vlieg soos blits op en duik op ’n dassie af wat op ’n klip die son probeer vang wat deurkom. Die voël gryp die diertjie en verdwyn daarmee oor die spa se dak, die pootjies hulpeloos grypend terwyl die ysterkloue in die vleis inslaan wat binnekort verorber gaan word.

Gustaf loop tot by die spa-bad en voel met sy tone daarin. Nét die regte temperatuur.

Hy het darem opgehou met bewe.

Nou, al sy klere uit. Sommer in ’n bondeltjie op die vloer. Elisma is nie hier om te kla nie.

Die water is wonderlik warm. Hy sien hoe sy voete, bruin van die modderwater, verdwyn, voel hoe die water sy lam kuite begin masseer, sak met sy middellyf langs een van die spuite af wat sy rug masseer en gaan lê met sy kop teen die bad se rand sodat net sy gesig uitsteek.

Die spuite masseer die spanning uit sy rug, karnuffel sy vel en dwing die stywe spiere tot oorgawe. Gustaf maak sy oë toe, sien die oog hier teen syne, die ooghare, die rowwe, grys vel, die plooie en skeurtjies in die vel, en voel weer die slurp wat oor sy nek speel.

Vrees. Hy begin vrees verstaan. Het vir die eerste keer in sy lewe daarin geslaag om paniek onder beheer te kry, want sy instink was om te hardloop en dit sou sy einde beteken het. Maar dan – die vreemde, masochistiese genot wat hy gekry het toe die adrenalien dreig om sy liggaam oor te neem. Die wyse waarop hy selfs sy swetery probeer beheer het, hoewel hy dit nie kon regkry nie. Maar daar het hy gevoel wat beheer oor die onbekende behels.

Dit was soortgelyk aan hoe hy gevoel het toe hy die drie borde op die tafel gesien het, ook toe hy die bobbejaan gewaar het, toe die borde skoongewas in die skottelgoedrak gestaan het en toe die prik van die bysteek hom ’n paar sekondes verlam het.

Hy verwonder hom aan die emosies en skokke wat deur sy liggaam geruk het. Kan ’n mens verslaaf raak aan hierdie soort adrenalien, soos die keratien wat sportmanne en gimverslaafdes afskei en waarsonder hulle later nie kan klaarkom nie? Raak hy verslaaf aan die effek van vrees wat onder beheer gebring word?

Hy sak nog laer in die water af, skuif sy rug sodat die spuite hom orals kan masseer, voel met sy voete na ander spuite en geniet die sensasie onder sy seer voetsole toe die spuite en borrels hom daar masseer. Dink aan die rukgevoel rondom sy hart asof daardie spiere netnou wou ingee. En toe die orgasmiese plesier van die vrees wat uit sy liggaam dreineer en verdwyn – slegs die sweet agterlaat. En die koelheid van die wind oor sy natgeswete rug.

Gustaf maak weer sy oë toe, gooi dan sy kop agtertoe sodat die spuite in sy nek woel en aan sy spiere peuter wat begin ontspan. En terwyl hy so daar sit, omring deur die warm water en die spuite en die naskokke van vrees wat steeds deur sy liggaam beweeg, weet hy hoe dit moet voel om in hierdie einste borrelbad te verdrink. So salig met die spuite wat jou liggaam omvou en kielie en streel tot daar niks meer oor is nie.

Hy stoot sy linkervoet vorentoe na die borrels. Laat dit dryf, afsak, trek dit tot teen sy bors op, skop dit weer voor hom uit.

Hy voel ’n ander voet. Hier is iemand by hom in die bad!

Vir die tweede keer in ’n uur sidder die vrees deur hom, maar nie soos netnou met die olifant nie. Hierdie vrees is anders. Dit is ’n bangheid vir homself, vir die dieptes van sy verbeelding wat hom nou selfs ander mense laat voel. Die oorspronklike inwoners van hierdie spa sit saam met hom in die bad!

Hy druk met sy hande teen die rand, probeer opstaan, maar die voet, die tone, beweeg teen sy kuite op, skuif oor sy knie en sak af oor sy binnebeen tot in sy lies waar dit die haartjies op sy bobeen begin trek.

Toe spring Gustaf op en skreeu.

Astrid sit oorkant hom. Haar kaal borste steek bo die water uit, haar klere in ’n hopie langs die borrelbad.

“Hallo!” glimlag sy. “Jammer, wou jou nie laat skrik nie!”

Hy spring uit die bad en gaan sit op een van die bankies. Hy laat sy kop in sy hande sak. Wanneer hy opkyk, het Astrid opgestaan en staan sy poedelkaal voor hom. Sy glimlag en knik asof sy hom toestemming gee om te kyk. Dan trek sy haar broekie oor haar nat lyf aan en ook haar T-hemp wat oor haar nat borste gly.

“Ek het gedink ek wil ’n bietjie kom kyk hoe vorder ons nuutste draaiboekskrywer.”

Hy staan op, blaas sy asem uit en soek na sy hemp, maar sy kom orent, stap vorentoe en neem dit uit sy hand. “Jy gaan nie dit ook bedek nie.”

Astrid laat hom skielik dink aan die femmes fatales in film noir-rolprente. Die ene verleiding met dubbelsinnige dialoog waarmee hulle die stomme held folter en verlei en sy teenstand wegknie. Maar hy steur hom nie aan haar nie, trek sy hemp aan en knoop dit toe.

“Ouens soos jy wat met verbeelding en fantasie werk, kan nie so konserwatief wees nie! So anaal!” Sy loop tot by hom en speel met haar vingers oor sy nek.

“Wil jy my wys wat jy al gedoen het?” Haar hand streel teen sy rug af en vat kortstondig aan sy boude.

Terug in sy kamer verfris hy sy rekenaar wat in slaapmodus was en die Astrid-weergawe flikker op.

Astrid plak ’n dokument langs die rekenaar neer. “Hier is die formule waarvolgens jy die roman moet verwerk. Soos ek die roman gelees het, hou jy redelik by die reëls, al was dit miskien onbewustelik. Kyk hierso!”

Hy kyk na die bladsy waarop ’n formule uitgedruk is. Sy verbeelding, sy skryfvermoë word dus heeltemal aan bande gelê. Hy wat juis so teen resepmatigheid gekant is, word nou gedwing om volgens ’n resep te skryf.

Gustaf lees:

Back story/Exposition

Catalyst

Big event

Midpoint

Crisis

Showdown

Realisation

Gustaf

Net drie bladsye om die storie op te stel. Hierna ’n skop-op-die-gat-toneel wat teen bladsy 5 moet klaar wees. Gevolge daarvan bladsy 6. Eerste draaipunt bladsy 10. Stewige aksie tot bladsy 14. Bladsy 15 eerste groot skok, revelation.

Hy lees nie verder nie, raak oorhoeks. Blaai verder, sien:

Doelstellings. Wat my karakter soek. Wat is sy/haar flaw? Wat wil hy/sy hê? Waar kom sy/haar motivering/vrees vandaan?

En nog ’n paar bladsye vol reëls en regulasies en formules en storie-draaipunte.

“Astrid, ek weet nie of ek al hierdie …”

Sy vryf haar hande. “Laat ek lees. Wag solank buite – ek kan nie lees terwyl jy na my staan en kyk nie.”

Soos ’n goeie hond loop hy uit op die veilige dek en staan en kyk na die rivier. Maar tog draai hy sy kop kort-kort na die oop venster, probeer luister, hoor hoe haar vingers oor die sleutels spring soos sy omblaai.

Die loerie roep weer. Katlagters reageer en die ape kwetter in die bome bokant die Lodge.

Hy stap terug. Sy hart klop in sy keel.

“Uhm. Jy, uhm … het gelees en …?”

Stilte. Dan: “Dit is die grootste kak wat ek in jare gelees het.”

Sy draai terug na hom toe. Daar is nie meer ’n sweem van ’n glimlag op haar gesig nie.

Sy vlieg op.

“Dis infantiel, Gustaf. Banaal. Onbruikbaar.” Sy skop haar stoel met soveel geweld agtertoe dat dit omslaan.

“Jy het nie ’n fokken clue wat jy doen nie.” Sy is kortasem van ontsteltenis. “Skryf alles oor. Ek wil nooit, ooit weer sulke infantiele drek op jou skerm sien nie! As ek weer sulke gemors moet lees, fire ek jou!”

Sy storm by die deur uit.

“My ma is dood, my pa is dood, al my kinders is dood en my hart huil,” kla die groenvlekduifie in een van die bome.

En hy knik vir die duifie.